Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 8/08 bl. 20-21
  • Moet God deur middel van beelde aanbid word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet God deur middel van beelde aanbid word?
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • God se beskouing van godsdiensbeelde
  • Waarom jou nie voor hulle neerbuig nie?
  • Die regte vorm van aanbidding
  • Kan beelde jou nader aan God bring?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Beelde
    Ontwaak!—2014
  • Die Christelike beskouing van beelde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Moet ons beelde aanbid?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 8/08 bl. 20-21

Die Bybel se beskouing

Moet God deur middel van beelde aanbid word?

“Ek is geleer dat beelde my sou help om nader aan God te voel.”—Mack.

“Ons huis was vol godsdiensikone. Ons het gedink dat dit ons huis vir God aantreklik maak.”—Herta.

“Ons het voor sekere beelde neergebuig. Ons het glad nie in ag geneem hoe hierdie daad God laat voel nie.”—Sandra.

HOE voel jy oor daardie stellings? Baie glo dat godsdiensbeelde hulle help om God te aanbid. Is hierdie beskouing reg? Nog belangriker, hoe voel God oor die saak? Kyk na wat sy geskrewe Woord, die Heilige Bybel, sê.

God se beskouing van godsdiensbeelde

Godsdiensikone en afgode is afbeeldings, of simbole, van enigiets wat as ’n voorwerp van verering dien. Dit sluit kruise, standbeelde, prente of enige ander gelykenis van dinge in die hemel of op die aarde in.a Vlae kan ook voorwerpe van verering wees.

Die gebruik van sulke voorwerpe in aanbidding bestaan al duisende jare. Toe God dus in 1513 v.G.J. die Tien Gebooie aan die nuutgestigte nasie Israel gegee het, het hy sy standpunt oor godsdiensbeelde duidelik gestel. Hy het gesê: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of ’n afbeelding van enigiets maak wat bo in die hemel is of wat onder op die aarde is of wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou nie voor hulle neerbuig of laat oorhaal om hulle te dien nie, want ek, Jehovah jou God, is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid eis.”—Eksodus 20:4, 5. 

Let op God se tweeledige verbod: Eerstens, sy volk moes nie beelde vir aanbidding maak nie, en tweedens, hulle moes hulle nie “voor hulle neerbuig” of hulle dien nie. Waarom het ons Skepper sy volk verbied om beelde te maak? Een rede waarom ons nie beelde van God mag maak nie, is dat ‘geen mens God ooit gesien het nie’. Jehovah het nie ’n liggaam wat uit materie bestaan nie, maar is ’n gees en woon in die geesteryk (Johannes 1:18; 4:24). ’n Rede waarom ’n mens nie ’n beeld van enigiets moet maak nie, is dat God “uitsluitlike toegewydheid” eis. “Aan niemand anders sal ek my heerlikheid gee nie, en ook nie my lof aan gesnede beelde nie”, sê hy (Jesaja 42:8). Om hierdie rede is dit ook verkeerd om ’n beeld te maak as ’n hulpmiddel om in aanbidding te gebruik. Toe ’n Israelitiese leier met die naam Aäron dit gedoen het, was Jehovah diep gegrief.—Eksodus 32:4-10.

Waarom jou nie voor hulle neerbuig nie?

Die Bybel sê aangaande afgode: “’n Mond het hulle, maar hulle kan nie praat nie; oë het hulle, maar hulle kan nie sien nie; ore het hulle, maar hulle kan nie hoor nie.” Dan voeg dit hierdie ernstige waarskuwing by: “Dié wat hulle maak, sal net soos hulle word”—leweloos!—Psalm 115:4-8.

Afgodediens is ook ’n daad van ongeregtigheid. Vra jou af: ‘Hoe sou ek voel as ek vir my kind ’n duur geskenk gee en hy ’n volslae vreemdeling of selfs ’n lewelose voorwerp daarvoor bedank?’ Dit sal jou dalk help om te verstaan hoe ons Skepper en Lewegewer voel wanneer ander—lewelose afgode inkluis—die erkenning en aanbidding ontvang wat hom toekom.—Openbaring 4:11.

Dink ook hoe verlagend dit is vir ’n mens—wat na God se beeld gemaak is—om aan ’n lewelose voorwerp eer te betoon! (Genesis 1:27). Die profeet Jesaja het aangaande party, wat juis dít gedoen het, geskryf: “Voor die werk van hulle hande buig hulle hulle neer, voor wat hulle vingers gemaak het. En die mens buig hom neer en die man word verlaag, en u [Jehovah God] kan hulle onmoontlik vergewe.”—Jesaja 2:8, 9. 

Wat valse aanbidding vir God selfs afstootliker maak, is dat dit in werklikheid die aanbidding van die demone, God se vyande, is. Toe die Israeliete Jehovah verlaat het om afgode te dien, “het [hulle] aan demone geoffer, nie aan God nie”, sê Deuteronomium 32:17.

Het die vroeë volgelinge van Jesus Christus beelde vereer of hulle as hulpmiddele in aanbidding gebruik? Nee! Jesus se apostel Johannes het geskryf: “Kindertjies, bewaar julle van afgode” (1 Johannes 5:21). Die boek Early Church History to the Death of Constantine sê: “Hoegenaamd niks kon vir die vroeë dissipels verfoeiliker gewees het as beeldaanbidding nie.”

Die regte vorm van aanbidding

Jesus het gesê: ‘Die ware aanbidders sal die Vader met gees en waarheid aanbid, want die Vader soek inderdaad sulke mense om hom te aanbid’ (Johannes 4:23). Ja, God wil hê dat ons hom as ’n persoon moet ken—waarvan hy hou en nie hou nie, sy standaarde en sy voorneme vir ons (Johannes 17:3). Trouens, dit is waarom hy die Bybel laat skryf het (2 Timoteus 3:16). En omdat God “nie ver van elkeen van ons af is nie”, kan ons te eniger tyd, op enige plek en sonder die hulp van godsdiensbeelde tot hom bid.—Handelinge 17:27.

“Toe ek by ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies ingestap het, het ek geen beelde vir aanbidding gesien nie”, het Sandra gesê, wat vroeër aangehaal is. “Die Getuies het die Bybel gebruik om vir my te wys wat God se eienskappe en vereistes is. Ek het dus geleer om so te bid dat God my sal verhoor. Ek voel nou dat ek ’n ware begrip van die Skepper en ’n hegte verhouding met hom het.” Ja, Sandra het geleer hoe verkwikkend en bevrydend Bybelwaarhede werklik is (Johannes 8:32). Jy kan ook.

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Het Jesus werklik aan ’n kruis gesterf?” in hierdie tydskrif se nommer van April 2006.

HET JY AL GEWONDER?

◼ Waarom moet ons alle soorte beelde in aanbidding vermy?—Psalm 115:4-8; 1 Johannes 5:21.

◼ Hoe moet die ware God aanbid word?—Johannes 4:24.

◼ Hoe kan jy die waarheid oor God leer, en hoe kan dit jou bevoordeel?—Johannes 8:32; 17:3.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel