Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 8/08 bl. 8-9
  • Die aarde se toekoms—In wie se hande?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die aarde se toekoms—In wie se hande?
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die aarde se toekoms—In goeie hande!
  • “Kyk, Ek maak alles nuut”
    “Kyk, Ek maak alles nuut”
  • Maai seëninge deur God se geesgerigte Koning!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Geloof en jou toekoms
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Die weg terug na die paradys
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 8/08 bl. 8-9

Die aarde se toekoms—In wie se hande?

“AARDVERWARMING is die grootste toets waarvoor ons as mense al ooit te staan gekom het”, het National Geographic se uitgawe van Oktober 2007 gesê. Om hierdie uitdaging met welslae die hoof te bied, sê die tydskrif, moet ons “vinnig en beslissend optree—en met ’n volwassenheid wat ons nog selde as ’n gemeenskap of ’n spesie getoon het”.

Sal die mensdom hierdie probleem met volwassenheid hanteer? Baie faktore werk daarteen: onverskilligheid, hebsug, onkunde, gevestigde belange, die naarstige strewe na rykdom in ontwikkelende lande en die gesindhede van miljoene mense wat hulle lewenstyl, wat met hoë energieverbruik gepaardgaan, wil handhaaf.

’n Eertydse profeet van God gee ons ’n realistiese beskouing van ons vermoë om ons etiese, maatskaplike en regeringsprobleme op te los. Hy het geskryf: “Aan die mens [behoort] sy weg . . . nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Die mensdom se tragiese geskiedenis bevestig hierdie woorde. En vandag, ten spyte van belangrike vooruitgang op wetenskaplike en tegnologiese gebied, staar ons voorheen ondenkbare gevare in die gesig. Hoeveel vertroue kan ons dus hê dat die toekoms beter sal wees?

Hoewel daar al baie gepraat is oor die feit dat iets omtrent klimaatsverandering en ander skadelike tendense gedoen moet word, is min uitgerig. Hoe het die nasies byvoorbeeld gereageer toe die Noordwestelike Deurvaart in 2007 vir die eerste keer bevaarbaar was? ’n Hoofartikel in die tydskrif New Scientist antwoord: “Met ’n ongepaste stormloop om beslag te lê op die ontblote dele van die kontinentale plat sodat hulle vir meer olie en gas [kon] boor.”

Die Bybel het byna 2 000 jaar gelede akkuraat voorspel dat mense die punt sou bereik waar hulle “die aarde [sou] verderf” (Openbaring 11:18). Dit is duidelik dat die wêreld ’n leier nodig het wat die wysheid en mag het om die verlangde doelwitte te bereik, sowel as onderdane wat hulle aan hom sal onderwerp. Sal ’n opregte en briljante politieke leier of wetenskaplike daardie rol kan vervul? Die Bybel antwoord: “Moenie julle vertroue in edeles stel nie, ook nie in die mensekind, aan wie geen redding behoort nie.”—Psalm 146:3.

Die aarde se toekoms—In goeie hande!

Daar is net een Leier wat die probleme wat die wêreld teister, suksesvol kan oplos. Aangaande hom het die Bybel voorspel: “Op hom sal die gees van Jehovah [God] rus, die gees van wysheid en van begrip, die gees van raad en van mag, die gees van kennis en van die vrees van Jehovah . . . Met regverdigheid sal hy die geringes oordeel, . . . en met die gees van sy lippe sal hy die goddelose doodmaak.”—Jesaja 11:2-5.

Wie is hy? Hy is niemand anders nie as Jesus Christus, wat uit liefde sy lewe ter wille van ons afgelê het (Johannes 3:16). Jesus, wat nou ’n magtige geespersoon is, het die gesag en mag van God ontvang om oor die aarde te heers.—Daniël 7:13, 14; Openbaring 11:15.

Jesus se ontsaglike kennis van God se skepping, wat hy verkry het voordat hy na die aarde toe gekom het, dra verder tot sy bekwaamheid by. Trouens, toe God tallose eeue gelede die fisiese heelal gevorm het, was Jesus sy “meesterwerker” (Spreuke 8:22-31). Dink daaraan: Jesus, die een wat gehelp het om die aarde en alle lewende dinge te maak, sal die leiding daarin neem om die skade wat deur menslike dwaasheid aangerig is, ongedaan te maak.

Wie sal Christus se onderdane wees? Hulle sal mense wees wat werklik sagmoedig en regverdig is, en wat die ware God, Jehovah, ken en Jesus Christus as Heerser gehoorsaam (Psalm 37:11, 29; 2 Tessalonisense 1:7, 8). Jesus het gesê dat hulle “die aarde [sal] beërf”, wat in ’n paradys omskep sal word.—Matteus 5:5; Jesaja 11:6-9; Lukas 23:43.

Hoe kan jy daarvoor in aanmerking kom om die vervulling van die Bybel se beloftes te sien? Jesus antwoord self: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.

Ja, ons planeet lyk dalk asof dit in groot gevaar verkeer, maar daar bestaan geen twyfel dat dit as ’n tuiste vir die mensdom sal voortbestaan nie. Groot gevaar wag eerder op dié wat aanhou om ’n gebrek aan respek vir God se skepping te toon en wat weier om Jesus Christus te gehoorsaam. Daarom moedig Jehovah se Getuies jou aan om die kennis in te neem wat tot die ewige lewe lei.

[Venster op bladsy 8]

BUITE DIE BEREIK VAN DIE WETENSKAP

Al is mense deeglik bewus van die gevare, gebruik miljoene mense dwelms, misbruik hulle alkohol en rook hulle tabak, wat hulle verstand en liggaam skade aandoen. Vir hulle is die lewe allesbehalwe ’n heilige gawe van God af (Psalm 36:9; 2 Korintiërs 7:1). Ongelukkig het ’n soortgelyke goddelose gesindheid teenoor die aarde tot die probleme daarop bygedra.

Wat is dan die oplossing? Is die wetenskap en sekulêre opvoeding dalk die antwoord? Nie werklik nie. Dit is in werklikheid ’n geestelike probleem, en daarom vereis dit ’n geestelike oplossing. Die Bybel erken hierdie feit. Daarom belowe dit dat die tyd sal aanbreek wanneer mense “geen kwaad [sal] doen of enige verderf [sal] aanrig” op die aarde nie, want dit sal “vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek”.—Jesaja 11:9.

[Prent op bladsy 8, 9]

Onder Christus se heerskappy sal die regverdiges ’n aandeel daaraan hê om die hele aarde in ’n paradys te omskep

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel