Die weg terug na die paradys
MET die oog op die menslike hunkering na die Paradys en die groot sowel as klein pogings om dit te herskep, sou ’n mens dink dat die aarde teen dié tyd al ’n ware paradys sou gewees het. Maar dit is nie.
Die mens het eerder voorkeur gegee aan gierigheid, wat dikwels heers ten koste van die omgewing met sy verskeidenheid lewende dinge. Aangesien baie mense meen dat materiële rykdom sal seëvier, het hulle alle hoop laat vaar dat hierdie aarde ooit in ’n paradys soos Eden omskep sal word. Hulle stel eerder hulle vertroue in ’n hiernamaals in die hemel as hulle enigste hoop op ’n paradys. Hierdie beskouing gee eerstens te kenne dat ons menslike hunkering na Eden altyd verydel sal word en tweedens dat God hierdie planeet aan die mens se dwaasheid en gierigheid oorgelaat het. Is dit waar? Presies wat hou die toekoms in? En waar sal daardie toekoms wees?
Paradys—In die hemel of op die aarde?
Toe Jesus Christus bykans 2000 jaar gelede met ’n berouvolle dief gepraat het wat langs hom aan die paal gehang het, het hy gesê: “Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Het Jesus bedoel dat die dief saam met hom hemel toe sou gaan? Nee.
Die kwaaddoener sou nie eers aan so iets gedink het nie. Waarom nie? Want hy sou waarskynlik vertroud gewees het met gedeeltes in die Hebreeuse Geskrifte, wat in sy dag beskikbaar was, soos die eerste deel van Psalm 37:29: “Die regverdiges sal die aarde besit.” (Ons kursiveer.) Jesus het dieselfde waarheid geleer en gesê: “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf” (Matteus 5:5). Hierdie teks stem ooreen met wat algemeen bekend staan as die Onse Vader, wat sê: “Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:9, 10.
Die Bybel leer dat God die aarde, nie die hemel nie, as tuiste vir die mensdom geskep het. Sy Woord sê dat hy die aarde “nie geskape [het] om woes te wees nie, maar dit geformeer [het] om bewoon te word” (Jesaja 45:18). Hoe lank? “Hy het die aarde gegrond op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie” (Psalm 104:5). Ja, “die aarde bly vir ewig staan”.—Prediker 1:4.
Dit is God se voorneme dat die oorgrote meerderheid van die mense wat hom dien hierdie aarde hulle ewige tuiste maak. Let op wat God se Woord, die Bybel, hieroor sê. Psalm 37:11 voorspel: “Die ootmoediges . . . sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.” Hoe lank? Psalm 37:29 sê: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” (Ons kursiveer.) Dan sal die teks vervul word wat sê: “U [God] open u hand en bevredig die begeerte van al wat leef”, dit wil sê die begeerte wat in ooreenstemming met God se wil is.—Psalm 145:16, NW.
Wat van diegene wat geen begeerte het om God se wil te doen nie? Spreuke 2:21, 22 sê: “Die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.”
Die Paradys word herstel
God se oordele sal binnekort aan hierdie goddelose wêreld voltrek word (Matteus 24:3-14; 2 Timoteus 3:1-5, 13). Maar God sal “’n groot skare” mense behoue laat bly deur daardie komende vernietiging heen tot in ’n nuwe wêreld wat hy tot stand gaan bring.—Openbaring 7:9-17.
Dan sal God die vreugdevolle taak organiseer wat sy menseonderdane sal hê om die hele aarde in ’n paradystuiste vir die mensdom te omskep. Die Bybel beloof: “Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing. . . . Want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis.”—Jesaja 35:1, 6.
In daardie Paradys wat al hoe verder sal uitbrei, sal daar nie meer honger, armoede, krotbuurte, hawelose mense of misdaadgeteisterde gebiede wees nie. “Daar [sal] volheid van koring wees in die land” (Psalm 72:16). “Die bome van die veld sal hulle vrugte gee, en die land sal sy opbrings gee” (Esegiël 34:27). “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie” (Jesaja 65:21, 22). “Hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik.”—Miga 4:4.
Waarom party hemel toe gaan
Die meeste mense sal waarskynlik erken dat hulle na ’n aardse paradys smag. Dit is natuurlik, want God het nooit die begeerte in hulle gesit om hemel toe te gaan nie; hulle kan hulle nie eers voorstel hoe lewe in die hemel is nie. Toe Pat byvoorbeeld met haar Anglikaanse priester gesels het, het sy, al was sy ’n getroue kerklidmaat, gesê: “Ek het nog nooit daaraan gedink om hemel toe te gaan nie. Ek wil nie gaan nie, en wat gaan ek in elk geval daar doen?”—Vergelyk Psalm 115:16.
Die Bybel leer wel dat ’n beperkte getal mense, 144 000, hemel toe gaan (Openbaring 14:1, 4). Dit verduidelik ook waarom: “U het hulle ’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak, en hulle gaan as konings oor die aarde heers” (Openbaring 5:9, 10). Hulle en hulle Koning, Jesus Christus, maak saam die “koninkryk” uit, die aarde se nuwe hemelse regering, waarvoor Christene bid. Hierdie regering sal toesig hou oor die algehele herstel van die aarde en die mensdom.—Daniël 2:44; 2 Petrus 3:13.
Maar aangesien dit nie ’n natuurlike begeerte vir mense is om in die hemel te lewe nie, is dit ’n unieke werking van God se gees wat vir die 144 000 “getuig”, sodat hulle bewus word van hierdie spesiale “roeping na bo” (Romeine 8:16, 17; Filippense 3:14). Dit spreek egter vanself dat hierdie werking deur heilige gees nie vir die mensdom oor die algemeen nodig is nie, aangesien hulle ewige tuiste op ’n paradysaarde sal wees.
’n Geestelike paradys berei die weg
Hoe kom ’n mens in aanmerking vir die ewige lewe in die Paradys op aarde? “Dít beteken die ewige lewe”, het Jesus gesê, “dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Jesaja 11:9 verbind vreedsame menseverhoudings met ’n kennis van God en sê: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”—Vergelyk Jesaja 48:18.
Hierdie kennis is natuurlik nie net kopkennis nie. Dit beïnvloed ’n mens se persoonlikheid en bring godvrugtige eienskappe voort, soos “liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Galasiërs 5:22, 23). Jehovah se Getuies streef daarna om hierdie eienskappe aan te kweek, en daarom word hulle, selfs nou al, met ’n heilsame geestelike paradys geseën.—Jesaja 65:13, 14.
Watter kontras vorm hulle geestelike toestand tog met dié van die wêreld, wat al hoe dieper in goddeloosheid en verdorwenheid wegsink! Maar hierdie goddelose wêreld gaan binnekort deur God vernietig word. Intussen nooi Jehovah se Getuies jou uit om die geestelike paradys wat hulle geniet te kom besigtig—ja, te kom ondersoek. Kom sien self dat Jesus, die onsigbare hemelse Koning, toekomstige bewoners van daardie nuwe wêreld nou reeds vreedsaam op die nou pad na die aardse Paradys en die ewige lewe lei!—Matteus 7:13, 14; Openbaring 7:17; 21:3, 4.
[Prent op bladsy 8, 9]
Oorlewendes van hierdie wêreld se einde sal dit geniet om die aarde in ’n paradys te help omskep