Die wonders van mielies
HARLIN was tot in onlangse jare ’n mielieboer in die Finger Lakes-streek van New York, in die Verenigde State. Hy het dit nog altyd geniet om vir vriende en besoekers van die wondere van mielies te vertel. Ontwaak! het Harlin genooi om van sy kennis met ons lesers te deel. Ons sal ook na ander aspekte van hierdie verbasende plant kyk. Byvoorbeeld, waar kom mielies vandaan? Hoe het dit oor die wêreld versprei? En watter gebruike het hierdie plant? Kom ons kyk nou na Harlin se beskrywing van sommige van die wonders van mielies.
Die plant “praat” met jou
“Vir my is mielies ’n kunswerk sowel as ’n produk van briljante wiskunde. Alles, van die blare tot die individuele pitte aan die kop, is op ’n esteties bevredigende manier en volgens ’n presiese patroon gerangskik. Wat meer is, terwyl die plant groei, ‘praat’ dit met jou. Dit sê vir jou as dit dors of ondervoed is. ’n Baba huil wanneer hy iets nodig het. ’n Groeiende mielieplant, soos baie ander plante, toon deur sigbare tekens, soos die kleur en vorm van die blare, wat dit nodig het. Die geheim is om hierdie tekens te verstaan.
“Blare met ’n rooierige-pers kleur kan ’n tekort aan fosfaat aandui. Ander simptome kan ’n tekort aan magnesium, stikstof of kaliumkarbonaat aandui. ’n Boer kan ook sien as sy mielies ’n siekte het of deur chemikalieë beskadig is.
“Soos alle mielieboere, het ek in die lente gesaai omdat die warmer grond die saad laat ontkiem. Wanneer my oes ná vier tot ses maande volgroeid was, het dit omtrent twee meter hoog gestaan.
“’n Mielieplant groei in stadiums wat bepaal kan word deur sy blare te tel. Wanneer dit die vyf-blaar-stadium bereik, kom die chemiese en “wiskundige” vermoëns daarvan werklik na vore. Eerstens maak die wortels ’n deeglike ontleding van die grond. Die inligting wat hieruit verkry word, vorm die basis van ’n groeiprogram wat die optimale dikte van die kop bepaal, wat gemeet word aan hoeveel rye pitte daar is. Dan, tussen die 12-blaar- en die 17-blaar-stadium, help verdere grondontleding die plant om die optimale hoeveelheid pitte te bepaal wat aan die kop sal groei. Kortom, elke plant werk op die een of ander manier uit hoe om die beste moontlike resultate uit die grond te verkry. Die mielie se ingewikkelde voortplantingstelsel lewer verdere bewys van verbasende ontwerp.”
Pluime, helmknoppe en sydrade
“Elke mielieplant het manlike sowel as vroulike kenmerke. Die uitgroeisel bo-op die plant wat soos ’n kwassie lyk, is die manlike deel, die pluim. Elke pluim het omtrent 6 000 helmknoppe. Hulle stel by elke plant miljoene stuifmeelkorrels vry. Die stuifmeel, wat deur die wind gedra word, bestuif die ova, of eierselle, binne-in die onontwikkelde koppe van die nabygeleë plante. Die eierselle is veilig agter die skutblare versteek.
“Hoe kom die stuifmeel by die eierselle uit, wat agter die skutblare geleë is? Hulle volg as ’t ware ’n syroete. Die sydrade is die sagte, witterige vesels wat by die punt van ’n mieliekop uithang. Elke kop het honderde sydrade. As jy ’n individuele sydraad sou volg tot waar dit begin, sal jy ’n saadknoppie (vrugbeginsel) vind, waarin die eiersel is. Daar is een sydraad vir elke eiersel. En elke eiersel bring weer een mieliepit voort.
“Die sigbare punte van die sydrade, wat in die bries vol stuifmeel waai, het fyn haartjies, of stempels, waaraan die stuifmeelkorrels vassit. Wanneer ’n stuifmeelkorrel vasgevang is, wat enige plek op die blootgestelde deel van die sydraad kan gebeur, ontkiem die korrel en stuur dit ’n buisie, soos ’n wortel, in die sydraad af om die eiersel te bevrug.
“Ontbrekende mieliepitte is ’n aanduiding dat sommige sydrade nie bestuif is nie, moontlik omdat hulle nie betyds gegroei het nie. Droë grond kan dit veroorsaak. Weer eens kan ’n boer, as hy die simptome ken, gewoonlik iets doen om die probleem reg te stel en sy opbrengs te vergroot—indien nie vir daardie oes nie, ten minste vir die volgende een. Iets wat ek gedoen het om my oeste te verbeter, was om een jaar mielies te plant en die volgende jaar sojabone. Sojabone is ’n peulplant wat die grond met stikstof verryk en wat nie deur die mielieboorder—’n vernietigende wurm—geëet kan word nie.a
“Dit verskaf altyd vir my groot vreugde om te sien hoe ’n kaal landery geleidelik groen word en dan ’n oorvloed voedsel voortbring—en die hele proses is stil, skoon en mooi. Ek is werklik daarvan oortuig dat mielies—soos alle plante—’n wonder van die skepping is. En wat ek geleer het, is maar nog bitter min.”
Het Harlin se opmerkings jou nuuskierigheid oor ander aspekte van hierdie verbasende plant geprikkel? Kom ons kyk na die geskiedenis en veelsydigheid daarvan.
Van Mexiko na die res van die wêreld!
Die verbouing van mielies het in die Amerikas, heel waarskynlik in Mexiko, begin en van daar af versprei. Voor die Inka-tydperk het Peruane ’n godin van mielies aanbid wat versier was met ’n kroon van mieliekoppe wat van haar kop af uitgestraal het soos die speke van ’n wiel. Die natuurskrywer Joseph Kastner sê dat die Indiane van die Amerikas “[mielies] aanbid het as iets wat deur die gode gemaak is en as die stof waarvan die mens self gemaak is . . . Dit was baie goedkoop om te verbou—’n enkele plant het ’n man van ’n dag se voedsel voorsien.” Maar die inboorlinge het hulle dieet met boontjies aangevul, ’n gebruik wat tot vandag toe algemeen in Latyns-Amerika is.
Die Europeërs het mielies in 1492 ontdek nadat die ontdekkingsreisiger Christophorus Columbus by die Karibiese Eilande aangekom het. Columbus se seun Ferdinand het geskryf dat sy pa ’n soort graan gesien het “wat mielies genoem word en wat heerlik smaak hetsy dit gekook, gerooster of tot ’n fyn meel gemaal word”. Columbus het saad teruggeneem huis toe, en “teen die middel-1500’s”, skryf Kastner, “het [mielies] nie net in Spanje gegroei nie, maar ook in Bulgarye en Turkye. Slawehandelaars het mielies na Afrika geneem . . . [Die Portugeesgebore, Spaanse ontdekkingsreisiger Ferdinand] Magellaan se manne het Mexikaanse saad in die Filippyne en Asië agtergelaat.” Mielies het baie gewild geword.
Vandag lewer mielies die tweede grootste graanoes in die wêreld en word dit net deur koring oortref. Rys lewer die derde grootste graanoes. Hierdie drie stapelvoedsels voorsien voedsel vir die grootste deel van die mensdom, om nie eens van vee te praat nie.
Soos in die geval van ander grasse, is daar baie mielievariëteite. Trouens, in die Verenigde State alleen is daar meer as 1 000 soorte wat al benoem is, insluitende bastersoorte. Die plante wissel in hoogte van omtrent 60 sentimeter tot ’n toringhoë ses meter! Die lengte van die koppe wissel ook. Sommige is net vyf sentimeter lank; ander ’n ongelooflike 60 sentimeter. “Sommige soorte Suid-Amerikaanse mielies wat vandag verbou word”, sê die boek Latin American Cooking, “bring yslike voetbalvormige koppe voort, met plat pitte wat een duim [2,5 sentimeter] lank en byna net so breed is.”
Mielies kom ook in ’n verskeidenheid kleure voor. Buiten geel, kan ’n kop rooi, blou, pienk of swart wees. En in sommige gevalle kan die pitte die kop ’n geringde, gespikkelde of gestreepte voorkoms gee. Dit is te verstane dat sulke kleurvolle mieliekoppe soms die kookpot vryspring en treffende ornamente word.
’n Veelsydige graansoort
Die talle mielievariëteite word in ses hoofsoorte verdeel: duikpitmielies, rondepitmielies, broodmielies, suikermielies, wasmielies en springmielies. Suikermielies maak net ’n klein deel uit van die totale mielieoes. Die soet smaak is die gevolg van ’n metaboliese defek wat veroorsaak dat minder suiker as gewoonlik in stysel omgesit word. Wêreldwyd word meer as 60 persent van die mielieoes as veevoer gebruik, en net minder as 20 persent dien as voedsel vir mense. Die res word in die nywerheid of as saad gebruik. Verhoudings verskil natuurlik van land tot land.
Mielies het tallose gebruike. Die graan of sy derivate kan gevind word in enigiets van kleefmiddels tot mayonnaise en van bier tot weggooidoeke. Mielies het selfs ’n nis in die brandstofbedryf gevind—hoewel ’n kontroversiële een—in die vervaardiging van etanol. Die verhaal van hierdie verbasende en veelsydige plant het sekerlik nog nie sy slot bereik nie.
[Voetnoot]
[Venster op bladsy 11]
Bastermielies
In baie lande verbou boere gewoonlik bastermielies omdat hulle ’n hoë opbrengs lewer. Bastervariëteite, meestal van duikpitmielies, word gekweek deur middel van beheerde kruisings en die inteelt van plante wat die gewenste eienskappe het. Maar ’n gevolg van hierdie gebruik is dat boere vir elke oes saad moet koop. Waarom? Plante wat van die saad van ’n vorige basteroes gekweek word, kan van gehalte verskil en ’n laer opbrengs lewer.
[Prente op bladsy 10]
Mielies kom wêreldwyd in honderde variëteite voor
[Erkennings]
Courtesy Sam Fentress
Courtesy Jenny Mealing/flickr.com