’n Koning van formaat
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KAMEROEN
IBRAHIM NJOYA was die 17de koning van die Bamoem, ’n groot etniese groep wat nog steeds die grasvlaktes van Wes-Kameroen bewoon. Hy was koning van 1889 tot sy dood in 1933, soos getoon word in die bygaande lys heersers, wie se bewinde tot die 14de eeu terugdateer. Gedurende Njoya se bewind het Frankryk en Duitsland die gebied probeer koloniseer.
Selfs as ’n jong man was Njoya ’n hoogs intelligente en intuïtiewe mens, en hy het hom omring met eendersdenkende intellektuele en kreatiewe mense wat dieselfde visie as hy gehad het. Die luisterryke paleis wat hy gebou het, in die foto hieronder, getuig van sy kundigheid in die argitektuur. Die uitvinding van ’n meul om mielies te maal, wat hier gesien kan word, word ook aan hom toegeskryf. Maar wat veral merkwaardig is, is sy ontwikkeling van ’n nuwe skryfstelsel vir die Bamoemtaal.
’n Geskrewe verslag word moontlik gemaak
Teen die einde van die 19de eeu is die geskiedenis van die Bamoemvolk hoofsaaklik deur middel van mondelinge oorlewering van een geslag na die volgende bewaar. Njoya het die gevaar besef dat besonderhede weggelaat of bygevoeg kon word. Hy het Arabies geleer nadat hy boeke in daardie taal gekry het van handelaars en reisende verkoopsmanne wat deur sy koninkryk gereis het. Hy het waarskynlik ook geweet van die vroeëre Vai-skrif wat op daardie stadium regoor die grasvlakte-gebied gebruik is. Hy het hom dus dit ten doel gestel om ’n stelsel te ontwikkel waarmee sy taal geskryf kon word.
Njoya het begin met honderde tekens, waarvan die meeste piktogramme en ideogramme was. Hierdie stelsel het vereis dat sy onderdane elke teken se betekenis moes memoriseer. Deur die jare heen het hy, met die hulp van sy vertroude howelinge, die stelsel vereenvoudig. Hulle het die hoeveelheid tekens wat nodig was, verminder deur ’n stelsel van lettergrepe te gebruik. Spesifieke woorde is gevorm deur ’n paar tekens, of letters, van sy nuwe skrif te kombineer. Die leser moes baie minder letters en hulle ooreenstemmende klanke memoriseer. Toe Njoya klaar was, het sy nuwe skryfstelsel, wat A-ka-oe-koe genoem is, 70 letters gehad.
Njoya het die gebruik van die Bamoemskrif aangemoedig deur te vereis dat dit in skole geleer word en op alle regeringsvlakke gebruik word. Hy het opdrag gegee om ’n indrukwekkende geskiedenis van sy dinastie en sy land in sy nuwe skrif te laat opteken. Vir die eerste keer kon die Bamoemvolk dus oor hulle tradisies, wette en gebruike lees. Njoya het selfs farmaseutiese resepte laat opteken in die nuwe Bamoemskrif. Meer as 8 000 van daardie oorspronklike dokumente word nog steeds in die paleisargief bewaar.
’n Voordeel van hierdie nuwe skryfstelsel het kort ná die aankoms van Duitse koloniste in 1902 duidelik geword. Hoewel Njoya munt geslaan het uit die ekonomiese ontwikkeling, het hy en die Duitse owerhede nie altyd langs dieselfde vuur gesit nie. Hy het dus sy nuwe uitvindsel gebruik, wat die Duitsers nog nie ontsyfer het nie. Hoe blywend was die Bamoemtaal?
Gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914-18) het Duitsland beheer oor Njoya se gebied verloor. Uiteindelik het die pas gestigte Volkebond die mandaat van die Bamoemgebied na Frankryk oorgedra. Hoewel Njoya bereid was om nuwe idees te aanvaar, was hy trots op sy erfenis en wou hy bitter graag die kultuur van sy volk bewaar en ontwikkel. Dit het onvermydelik daartoe gelei dat hy die Franse koloniale bewind oor sy ryk teëgestaan het. Soos in die geval van stamhoofde wat nie lojaal was teenoor die koloniste nie, is hy in 1931 deur Frankryk onttroon. Twee jaar later het Njoya in ballingskap gesterf.
Omdat daar ’n Franse verbod op die gebruik van die Bamoemskrif was en sonder Njoya om dit te bevorder, het dit kort voor lank in onbruik verval en is dit deur die meeste Bamoemsprekendes vergeet. Toe sendelinge van die Christendom op die toneel verskyn het, het hulle die gesproke taal van die Bamoemvolk bestudeer en ’n grammatikaboek saamgestel wat in hulle skole gebruik kon word. Anders as Njoya het hulle die meeste elemente daarvoor uit die bestaande Romeinse alfabet en sy fonetiek geleen.
Onlangs is pogings aangewend om weer belangstelling in die Bamoemskrif te wek. Die teenswoordige sultan, Ibrahim Mbombo Njoya, het ’n skool geopen in die paleis wat sy oupa gebou het. Hier leer plaaslike kinders weer eens om hierdie skryfstelsel te gebruik sodat dit nie uitsterf nie.
[Prent op bladsy 27]
’n Gedenkplaat met ’n uiteensetting van die Bamoemdinastie van die 14de eeu tot vandag, aan die linkerkant in die Romeinse alfabet en aan die regterkant in die Bamoemskrif
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Alle foto’s: Courtesy and permission of Sultan Ibrahim Mbombo Njoya, Foumban, Cameroon