Oberammergau se “Passiespel”—Hoe na aan die Bybel?
Deur Ontwaak!-medewerker in die Bondsrepubliek Duitsland
OBERAMMERGAU is ’n mooi bergdorpie in Beiere. Baie van sy inwoners het hulle hare en baard laat groei ter voorbereiding vir ’n opvoering waaraan hulle hierdie jaar sal deelneem. Die opvoering is ’n tradisie wat gegrond is op dit wat hulle voorouers in 1633 gedoen het.
’n Pessiekte het toe gedreig om verwoesting te saai, en die inwoners het ’n eed afgelê dat indien hulle gespaar word hulle die sogenoemde Passiespel periodiek sou opvoer. Die opvoering was ’n gebruik wat etlike eeue vroeër in die Katolieke Kerk begin het, en dit het Christus se lyding en dood uitgebeeld.
Die première is in 1634 in Oberammergau gehou. Die 350ste herdenking is gedurende 1984 daar gevier, met opvoerings wat ’n totale gehoor van 443 000, waaronder besoekers van oor die hele wêreld, getrek het. Hierdie jaar sal die spel van Mei tot September opgevoer word.
Langs die dorpie se strate staan daar hotelle en restaurante, asook houtwerkwinkels en winkels wat aandenkings verkoop. Trouens, talle inwoners maak hulle bestaan uit die spel.
Waarom kom daar so baie mense? “Vir my is dit nie ’n toneelopvoering nie”, het een besoeker gesê. “Dis ’n erediens.” Dit is hoe talle dit beskou, hoewel die plaaslike dorpie, nie die kerk nie, nou die spel opvoer.
Stel hulle die massa tevrede?
Twee geestelikes het die moderner weergawe van die opvoering geskep, die een het dit in 1810 geskryf en die ander het dit ’n halfeeu later hersien. Die Vergadering van Duitse Biskoppe het die manuskrip goedgekeur en dit “bly by die Evangelieverslae”, beweer een bron.
Met die verloop van jare het die regisseurs egter ’n kompromis aangegaan wat die Evangelies betref sodat hulle mense van ander gelowe, Jode inkluis, nie aanstoot sal gee nie. Die massa se applous skryf dus vandag in groot mate die teks voor. Gedeeltes wat toon hoe die Joodse leiers Jesus gehaat het, is byvoorbeeld uit die ou teks gesny, onder andere Mattheüs 21:43, waar Jesus vir die Joodse godsdiensleiers gesê het: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra.”
Daar is ook ’n kompromis aangegaan ten opsigte van God se naam, Jehovah, hoewel die teks Jesus se woorde aan God bevat: ‘Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My gegee het’ (Johannes 17:6). Die teks van 1960 het byvoorbeeld gesê dat Isak “deur die wil van Jehovah” geoffer moes word. Maar die teks van 1984 lees: “deur die wil van die Here”.
Nie getrou aan die Evangelies nie
Hoewel die spel die gebeure rondom Jesus se gevangeneming, skuldigbevinding en teregstelling uitbeeld, speel Bybelse akkuraatheid nie ’n hoofrol nie. Een deel beeld byvoorbeeld gebeure uit wat in Tobias beskryf word, ’n apokriewe boek wat nie eers tot God se geïnspireerde Woord behoort nie (2 Timotheüs 3:16). En die woord “Pasga” is ’n aantal kere met die verkeerde woord vertaal.
Judas Iskariot word boonop as ’n opportunis uitgebeeld wat deur Jesus se vyande oorreed is om sy Meester te verraai. Maar in werklikheid het Judas, deur hebsug aangedryf, self die inisiatief geneem om die owerpriesters te nader. (Mattheüs 26:14-16; vergelyk Johannes 12:4-6.) ’n Vergelyking van Johannes 13:21-30 met Mattheüs 26:20-29 toon ook dat Judas die vertrek moes verlaat het voordat Jesus die Aandmaal ingestel het. Dit is logies, aangesien Jesus nouliks ’n ‘verbond vir ’n koninkryk’ met sy verraaier sou sluit (Lukas 22:29, NW). Maar in Oberammergau se spel is Judas by die Aandmaal teenwoordig.
Onderskei Bybelwaarhede
’n Bybelstudent kan sekere Bybelwaarhede, of skendings daarvan, in die spel onderskei. ’n Voorbeeld is die uitdrukking: ‘Wanneer dit waardig geniet word, red die heilige brood van die nuwe verbond die siel van die dood.’ Dit strook met die Bybel se leerstelling dat die siel sterflik is. Die siel van iemand wat nie die voordele van Jesus se offerande ‘waardig geniet’ nie, sal natuurlik nie van die dood gered word nie.—Esegiël 18:20.
Jesus se ware identiteit kan onderskei word wanneer hy, na sy opstanding, vir Maria Magdalena sê: “Ek vaar op na . . . my God en julle God” (Johannes 20:17). Hieruit blyk dit dat Jesus ’n God gehad het. Hy kan derhalwe nie God wees, soos die Christendom se Drie-eenheidsleerstelling beweer nie. Wanneer die teks dus hier by Bybelterminologie bly, weerspreek dit kerkleerstellings.
Die spel maak dit moontlik om God se Koninkryk te identifiseer. Filippus sê vir Jesus: “Rig God se Koninkryk op in die hele wêreld”, waarop Jesus antwoord: “Jou wens sal op die regte tyd vervul word.” Jesus voeg later by: “Ek sal van die vrug van die wynstok nie meer drink totdat die Koninkryk van God kom nie.” En Thomas vra: “Sal elkeen sy eie domein hê?” Hierdie gesprekke toon dat die Koninkryk God se regering vir die aarde is, nie bloot ewige lewe of iets in ’n mens soos talle glo nie.—Sien Daniël 2:44; 7:13, 14; Lukas 22:18; Openbaring 5:10.
Een van die slottonele beeld die Joodse Hoë Raad uit wat onsuksesvol probeer om Jesus se lyk “in die put vir misdadigers” te laat gooi. Hierdie bewoording is interessant. Die Jode het gemeen dat misdadigers nie waardig was om in ’n graf geplaas te word waar God hulle sal onthou nie, en het hulle liggame in plaas daarvan in die dal Hinnom (Gehenna) gegooi, waar ’n vuur aanhoudend vullis verbrand het. In die Bybel het Jesus van hierdie plek naby Jerusalem as ’n simbool van algehele vernietiging gepraat, ’n toestand waaruit daar geen opstanding van die dode sal wees nie.—Mattheüs 18:8, 9.
Dit was eers later, na die afval van die ware Christelike godsdiens, dat Gehenna met die heidense idee van ’n helse vuur vereenselwig is. Die Oberammergau-spel verklap die invloed van onskriftuurlike tradisie wanneer dit sê: “Al die geeste rys uit die hel”, en haal die Here aan wat sê: “Ek sal Satan in die hel gooi.” Bybelleerstellings speel dus nie die hoofrol nie.
Bevorder nie Bybelleerstellings nie
Van Mei tot September sal inwoners van Oberammergau al 1700 rolle vertolk in die drama wat ses uur duur. Hulle sal Joodse mense, Romeinse soldate, Jesus, Judas en die apostels uitbeeld. En hulle sal die opvoering ongeveer honderd keer op die opelugverhoog in weer en wind herhaal.
Die opvoering sal weer honderdduisende besoekers lok. Maar sal dit hulle aanmoedig om die verrese Christus en God se Koninkryk, die enigste hoop om die mens se probleme op te los, te aanvaar? Nee, want al word God se Koninkryk in die spel gemeld, bly dit onduidelik. En hoewel die Duiwel twee keer in die spel as die heerser, of “Vors”, van hierdie wêreld geïdentifiseer word, word daar nie toegelig wat met hom gaan gebeur nie. Die spel bly dus nie by die Bybel se sleutelleerstellings nie, en dit weerspreek selfs ’n paar daarvan.
Die Bybel toon dat Christus Satan en sy invloed, die wortel van alle kwaad, binnekort uit menseaangeleenthede sal verwyder. Alle kwaaddoeners op aarde sal ook uit die weg geruim wees. Dan sal die Duisendjarige Heerskappy van God se hemelse Koninkryk oor die aarde begin (Openbaring 20:4, 6). Hierdie heerskappy van God se regering sal die aarde in ’n paradys verander waar gehoorsame mense vir ewig in volmaakte gesondheid en geluk sal lewe.—Psalm 37:10, 11, 29; Romeine 16:20.
[Venster op bladsy 16]
Die passiespel se oorsprong?
The World Book Encyclopedia sê aangaande passiespele:
“Passiespel is ’n dramatiese opvoering wat die dood en opstanding van ’n god uitbeeld. Die eertydse Egiptenaars het passiespele opgevoer wat aan die god Osiris gewy is. Die eertydse Grieke het soortgelyke spele opgevoer wat aan die god Dionysus gewy is.”
[Foto-erkennings op bladsy 16]
Gemeinde Oberammergau, Haag