Praat jy die “suiwer taal” vlot?
“Ek [sal] volke tot ’n suiwer taal laat oorgaan, sodat hulle almal die naam van Jehovah sal aanroep.”—SEF. 3:9.
1. Watter wonderlike gawe het Jehovah ons gegee?
DIE gawe van taal het nie sy oorsprong by die mens nie, maar eerder by die mens se Skepper, Jehovah God (Eks. 4:11, 12). Hy het die eerste mens, Adam, nie net die vermoë gegee om te praat nie, maar ook om nuwe woorde te skep en sodoende sy woordeskat uit te brei (Gen. 2:19, 20, 23). Wat ’n wonderlike gawe is dit tog! Dit het die mensdom selfs in staat gestel om met hulle hemelse Vader te kommunikeer en sy glorieryke naam te loof.
2. Waarom praat mense nie meer een gemeenskaplike taal nie?
2 Gedurende die eerste 17 eeue van die mens se bestaan het almal net een taal gepraat, “een stel woorde gehad” (Gen. 11:1). Toe het die opstand van Nimrod se dag plaasgevind. In stryd met Jehovah se instruksies het ongehoorsame mense bymekaargekom by wat later Babel genoem is, vasbeslote om op een plek te bly. Hulle het ’n massiewe toring begin bou, nie om Jehovah te verheerlik nie, maar om vir hulle “’n roemryke naam [te] maak”. Jehovah het dus die oorspronklike taal van daardie opstandelinge verwar en hulle verskillende tale laat praat. Gevolglik is hulle oor die hele oppervlak van die aarde verstrooi.—Lees Genesis 11:4-8.
3. Wat het gebeur toe Jehovah die taal van die opstandelinge by Babel verwar het?
3 Vandag word daar letterlik duisende tale—party sê meer as 6 800—in die wêreld gepraat. Elkeen van hierdie tale vereis ’n ander denkpatroon. Dit wil dus voorkom of Jehovah God, toe hy die taal van daardie opstandelinge verwar het, hulle vorige gemeenskaplike taal heeltemal uit hulle geheue gewis het. Hy het nie net nuwe woordeskatte in hulle verstande geplaas nie, maar ook hulle denkpatrone verander en vir hulle nuwe grammatikas gegee. Geen wonder dat die plek waar daardie toring gebou is, later “Verwarring”, of Babel, genoem is nie! (Gen. 11:9, vtn. in NW). Dit is interessant dat net die Bybel ’n bevredigende verduideliking gee oor die oorsprong van die groot verskeidenheid tale wat ons vandag sien.
’n Nuwe, suiwer taal
4. Wat het Jehovah voorspel sal in ons tyd gebeur?
4 Ongeag hoe fassinerend die Bybelverslag oor God se ingryping by Babel is, iets selfs interessanter en belangriker het in ons tyd plaasgevind. Deur sy profeet Sefanja het Jehovah voorspel: “Dan sal ek volke tot ’n suiwer taal laat oorgaan, sodat hulle almal die naam van Jehovah sal aanroep, om hom skouer aan skouer te dien” (Sef. 3:9). Wat is hierdie “suiwer taal”, en hoe kan ons leer om dit vlot te praat?
5. Wat is die suiwer taal, en waartoe het hierdie verandering van taal gelei?
5 Die suiwer taal is die waarheid omtrent Jehovah God en sy voornemens soos gevind word in sy Woord, die Bybel. Hierdie “taal” sluit ’n juiste begrip in van die waarheid omtrent God se Koninkryk en hoe dit Jehovah se naam sal heilig, sy soewereiniteit sal regverdig en ewige seëninge vir getroue mense sal meebring. Wat is die gevolg van hierdie verandering van taal? Daar word vir ons gesê dat mense “die naam van Jehovah sal aanroep” en “hom skouer aan skouer [sal] dien”. In teenstelling met die gebeure by Babel het hierdie verandering na die suiwer taal daartoe gelei dat Jehovah se naam geloof word en sy volk eenheid geniet.
Hoe om die suiwer taal te leer
6, 7. (a) Wat behels dit om ’n nuwe taal te leer, en hoe is dit van toepassing wanneer die suiwer taal geleer word? (b) Wat gaan ons nou bespreek?
6 Wanneer iemand ’n ander taal begin leer, moet hy meer doen as om net nuwe woorde te memoriseer. Om ’n nuwe taal te leer, behels dat ’n mens ’n nuwe denkwyse, nuwe denkpatrone, leer. Logika en humor kan verskil van taal tot taal. Die uitspraak van nuwe klanke sal vereis dat die spraakorgane, soos die tong, op ’n ander manier gebruik word. Dieselfde geld wanneer ons die suiwer taal van Bybelwaarheid begin leer. Meer is nodig as om net ’n paar basiese Bybelleringe te leer. As ons hierdie nuwe taal wil bemeester, moet ons ons denke verander en ons verstand hervorm.—Lees Romeine 12:2; Efesiërs 4:23.
7 Wat sal ons help om die suiwer taal nie net te verstaan nie, maar dit ook vlot te praat? Net soos in die geval van enige nuwe taal wat geleer word, is daar ’n paar basiese tegnieke wat ons kan help om die taal van Bybelwaarheid goed te praat. Kom ons bespreek ’n paar basiese stappe wat mense volg om ’n ander taal te leer en kyk hoe dié stappe ons kan help om hierdie nuwe figuurlike taal te leer.
Hoe om die suiwer taal vlot te praat
8, 9. Wat moet ons doen as ons die suiwer taal wil leer, en waarom is dit so belangrik?
8 Luister noukeurig. Aanvanklik klink ’n nuwe taal dalk heeltemal vreemd vir die ongeoefende oor (Jes. 33:19). Maar as ’n persoon leer om te konsentreer op wat hy hoor, sal hy afsonderlike woorde en herhaalde spraakpatrone begin herken. Ons word dan ook aangespoor: “Dit [is] nodig dat ons meer as die gewone aandag skenk aan die dinge wat ons gehoor het, sodat ons nooit sal wegdryf nie” (Heb. 2:1). Jesus het sy volgelinge herhaaldelik vermaan: “Laat hom wat ore het, luister” (Matt. 11:15; 13:43; Mark. 4:23; Luk. 14:35). Ja, ons moet ‘luister en die sin begryp’ van wat ons hoor om ’n beter begrip van die suiwer taal te verkry.—Matt. 15:10; Mark. 7:14.
9 Om te luister, verg konsentrasie, maar die inspanning is werklik die moeite werd (Luk. 8:18). Konsentreer ons by Christelike vergaderinge op wat verduidelik word, of dwaal ons gedagtes? Dit is noodsaaklik dat ons ons bes doen om te konsentreer op wat gesê word. Andersins kan ons afgestomp word in ons gehoor.—Heb. 5:11.
10, 11. (a) Wat moet ons doen benewens om noukeurig te luister? (b) Wat anders is daarby betrokke om die suiwer taal te praat?
10 Boots vlot sprekers na. Mense wat ’n nuwe taal leer, word aangespoor om nie net noukeurig te luister nie, maar ook om die uitspraak en spraakpatrone van vlot sprekers te probeer naboots. Dit kan keer dat hulle ’n swaar aksent ontwikkel wat dit later vir hulle moeilik kan maak om te kommunikeer. Net so moet ons leer by dié wat die ‘kuns’ bemeester het om ander in die nuwe taal te ‘onderrig’ (2 Tim. 4:2). Vra hulp. Wees bereid om jou te laat reghelp wanneer jy foute maak.—Lees Hebreërs 12:5, 6, 11.
11 Om die suiwer taal te praat, behels nie net dat ons die waarheid glo en dit aan ander leer nie, maar ook dat ons ons gedrag in ooreenstemming met God se wette en beginsels bring. As ons ander naboots, sal dit ons in hierdie opsig help. Dit sluit in dat ons hulle geloof en ywer navolg. Dit sluit ook in dat ons die hele lewenswyse van Jesus navolg (1 Kor. 11:1; Heb. 12:2; 13:7). As ons hierin volhard, het dit eenheid onder God se volk tot gevolg, wat hulle in staat stel om as ’t ware met dieselfde aksent te praat.—1 Kor. 4:16, 17.
12. Hoe is memorisering daarby betrokke wanneer ’n nuwe taal geleer word?
12 Memoriseer. Taalstudente moet talle nuwe dinge memoriseer. Dit sluit nuwe woorde en uitdrukkings in. Vir Christene kan memorisering ’n kragtige hulpmiddel wees om die suiwer taal te bemeester. Dit sal beslis vir ons goed wees om die name van die Bybelboeke in hulle volgorde te memoriseer. Party het hulle dit ten doel gestel om die bewoording van ’n sekere aantal Bybelverse of om teksverwysings te memoriseer. Ander het gevind dat dit nuttig is om Koninkryksliedere te memoriseer, asook die name van die stamme van Israel en van die 12 apostels sowel as die eienskappe waaruit die vrug van die gees bestaan. In die ou tyd het baie Israeliete die psalms uit hulle kop geleer. In hedendaagse tye het een seuntjie teen die tyd dat hy ses jaar oud was, meer as 80 Bybelverse woord vir woord uit sy kop geken. Kan ons hierdie waardevolle vermoë beter benut?
13. Waarom is herhaling so belangrik?
13 Herhaling help ’n mens om te onthou, en herhaalde herinneringe is ’n integrerende deel van ons Christelike opvoeding. Die apostel Petrus het gesê: “Ek [is] geneig . . . om julle altyd aan hierdie dinge te herinner, hoewel julle hulle ken en vasstaan in die waarheid wat in julle aanwesig is” (2 Pet. 1:12). Waarom het ons herinneringe nodig? Omdat dit ons begrip verbreed, ons beskouing verruim en ons vasbeslotenheid versterk om geestelik op koers te bly (Ps. 119:129). As ons God se standaarde en beginsels voortdurend hersien, help dit ons om onsself noukeurig te ondersoek en werk dit die neiging teë om “’n vergeetagtige hoorder” te wees (Jak. 1:22-25). As ons ons nie aan die waarheid bly herinner nie, sal ander dinge ons hart beïnvloed en sal ons die suiwer taal dalk nie meer vlot praat nie.
14. Wat sal ons help wanneer ons die suiwer taal bestudeer?
14 Lees hardop (Op. 1:3). Party studente probeer ’n nuwe taal stilswyend op hulle eie leer. Dit lewer nie die beste resultate nie. Wanneer ons die suiwer taal bestudeer, moet ons soms “op gedempte toon” lees om ons te help konsentreer. (Lees Psalm 1:1, 2.) As ons dit doen, word die materiaal wat ons lees, onuitwisbaar in ons geheue ingeprent. In Hebreeus hou die uitdrukking “om op gedempte toon te lees”, ten nouste verband met bepeinsing. Net soos dit nodig is dat die voedsel wat ons eet, moet verteer as ons ten volle daarby baat wil vind, moet ons peins oor wat ons lees as ons dit ons eie wil maak. Neem ons genoeg tyd om te peins oor wat ons studeer? Nadat ons die Bybel gelees het, moet ons diep nadink oor wat ons gelees het.
15. Hoe kan ons die “grammatika” van die suiwer taal bestudeer?
15 Ontleed die grammatika. Op die een of ander stadium is dit goed om die grammatika, of sinsbou en reëls, te bestudeer van ’n nuwe taal wat ons leer. Dit stel ons in staat om die struktuur van die taal te verstaan sodat ons dit behoorlik sal kan praat. Net soos ’n taal ’n woordpatroon het, het die suiwer taal van Bybelwaarheid “die patroon van gesonde woorde” (2 Tim. 1:13). Ons moet hierdie “patroon” navolg.
16. Watter neiging moet ons oorkom, en hoe kan ons dit doen?
16 Hou aan om vordering te maak. Iemand leer dalk genoeg van ’n taal om ’n normale gesprek te voer, maar hou dan op om vordering te maak. ’n Soortgelyke probleem kan ontstaan by diegene wat die suiwer taal praat. (Lees Hebreërs 5:11-14.) Wat kan ons help om hierdie neiging te oorkom? Wees bereid om as ’t ware jou woordeskat uit te brei. “Laat ons . . . , noudat ons die grondleer oor die Christus agter ons gelaat het, tot volwassenheid voortbeur, sonder om weer ’n fondament te lê, naamlik berou oor dooie werke, en geloof in God, die leer oor dope en die handeoplegging, die opstanding van die dooies en die ewige oordeel.”—Heb. 6:1, 2.
17. Waarom is gereelde studiegewoontes belangrik? Lig toe.
17 Stel spesifieke studietye vas. Korter studieperiodes op ’n gereelde grondslag is beter as langer maar ongereelde studieperiodes. Studeer op tye wanneer jy wawyd wakker is en jou aandag nie maklik afgelei sal word nie. Om ’n nuwe taal te leer, is soos om ’n paadjie deur ’n oerwoud oop te kap. Hoe meer daar op die paadjie geloop word, hoe makliker word die tog. As die paadjie ’n ruk lank nie gebruik word nie, sal dit gou begin toegroei. Dit is dus noodsaaklik om te volhard en standvastig te bly! (Dan. 6:16, 20). Bly biddend “wakker met alle standvastigheid” in jou strewe om die suiwer taal van Bybelwaarheid te praat.—Ef. 6:18.
18. Waarom moet ons die suiwer taal by elke geleentheid praat?
18 Praat! Praat! Praat! Party wat ’n nuwe taal leer, huiwer dalk om dit te praat omdat hulle skaam is of bang is om foute te maak. Dit sal hulle vordering belemmer. Wanneer ’n nuwe taal geleer word, geld die gesegde: Oefening maak die meester. Hoe meer die student die nuwe taal praat, hoe makliker word dit vir hom om dit te gebruik. Net so moet ons die suiwer taal by elke geleentheid praat. “Met die hart beoefen ’n mens geloof tot regverdigheid, maar met die mond doen ’n mens openbare bekendmaking tot redding” (Rom. 10:10). Ons doen nie net ’n “openbare bekendmaking” wanneer ons gedoop word nie, maar ook wanneer ons by elke geleentheid, onder andere in die bediening, oor Jehovah praat (Matt. 28:19, 20; Heb. 13:15). Ons Christelike vergaderinge bied ons die geleentheid om duidelike, bondige kommentare in die suiwer taal te maak.—Lees Hebreërs 10:23-25.
Gebruik die suiwer taal eensgesind om Jehovah te loof
19, 20. (a) Wat doen Jehovah se Getuies in ons dag wat werklik verbasend is? (b) Wat is jy vasbeslote om te doen?
19 Hoe opwindend sou dit tog gewees het om Sondagoggend 6 Siwan 33 G.J. in Jerusalem te wees! Vroeg daardie oggend, net voor negeuur, het dié wat in ’n bovertrek bymekaargekom het, wonderdadig “in ander tale begin praat” (Hand. 2:4). Vandag het God se knegte nie meer die gawe van tale nie (1 Kor. 13:8). Nietemin verkondig Jehovah se Getuies die goeie nuus van die Koninkryk in meer as 430 tale.
20 Hoe dankbaar is ons tog dat ons almal, ongeag watter taal ons gewoonlik praat, die suiwer taal van Bybelwaarheid eensgesind praat! Dit is in sekere sin die teenoorgestelde van wat by Babel gebeur het. Dit is asof Jehovah se volk sy naam in een taal loof (1 Kor. 1:10). Mag ons vasbeslote wees om voort te gaan om “skouer aan skouer” saam met ons broers en susters regoor die aarde te dien, terwyl ons leer om hierdie een taal vlotter te praat, tot die heerlikheid van ons hemelse Vader, Jehovah.—Lees Psalm 150:1-6.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat is die suiwer taal?
• Wat is daarby betrokke om die suiwer taal te praat?
• Wat sal ons help om die suiwer taal vlot te praat?
[Venster op bladsy 23]
Leer om die suiwer taal vlotter te praat deur
◆ noukeurig te luister.
◆ vlot sprekers na te boots.
◆ te memoriseer en te herhaal.
◆ hardop te lees.
◆ die “grammatika” te ontleed.
◆ aan te hou om vordering te maak.
◆ spesifieke studietye vas te stel.
◆ dit te praat.
[Prente op bladsy 24]
Jehovah se volk praat die suiwer taal eensgesind