Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 7/06 bl. 26-28
  • Brittanje se “vergete genie”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Brittanje se “vergete genie”
  • Ontwaak!—2006
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hooke se nalatenskap
  • Hy help om Londen te herbou
  • Waarom is hy vergeet?
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2006
  • Sien die onsigbare—die wetenskap van die optika
    Ontwaak!—1991
  • Valse godsdiens se skaamtelose hoerery
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Kurk—Selletjies wat jou tot groot nut strek
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—2006
g 7/06 bl. 26-28

Brittanje se “vergete genie”

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

ROBERT HOOKE, wat deur sy tydgenote beskryf is as “die vindingrykste man wat nog geleef het”, word vandag beskou as Engeland se Leonardo da Vinci.a Hooke is in 1635 gebore; in 1662 is hy aangestel as die kurator van eksperimente by die Koninklike Vereniging van Londen en in 1677 het hy die sekretaris daarvan geword. Hy is in 1703 oorlede. Maar ondanks sy wetenskaplike status is sy oorskot in ’n onbekende graf iewers in die noorde van Londen begrawe.

In onlangse jare het wetenskaplikes en geskiedkundiges hard gewerk om die reputasie te herstel van hierdie “vergete genie”, soos Hooke deur die biograaf Stephen Inwood genoem word. Om die 300ste jaar van Hooke se dood te herdenk, het Londen se Greenwich- Koninklike Sterrewag in 2003 ’n paar van sy uitsonderlike uitvindings en ontdekkings uitgestal. Wie was Robert Hooke, en waarom was hy so lank byna heeltemal vergete?

Hooke se nalatenskap

Hooke was ’n geleerde man en ’n briljante uitvinder. Die kruiskoppeling, wat vandag in motors gebruik word; die irisdiafragma, wat die lensopening van ’n kamera reguleer; en die balansveer in die skakelrat van horlosies is ’n paar van sy talle uitvindings. Hy het die wet van Hooke geformuleer, ’n vergelyking wat vandag nog gebruik word om die elastisiteit van vere te beskryf. Hy het ook ’n lugpomp ontwikkel vir Robert Boyle, ’n vooraanstaande Britse fisikus en skeikundige.

Een van Hooke se grootste prestasies was egter sy ontwerp van ’n saamgestelde mikroskoop, wat later deur Christopher Cock gebou is, ’n beroemde instrumentmaker in Londen. Hooke het daarna die woord “sel” uitgedink om die holtes in kurk te beskryf, wat soos dié van ’n heuningkoek lyk en wat hy met sy mikroskoop kon ondersoek. Die woord “sel” is later gebruik om die basiese boustene van lewende dinge te beskryf.

Hooke se boek Micrographia (Klein tekeninge), wat in 1665 gepubliseer is, het hom gou beroemd gemaak. Dit bevat akkurate, pragtige prente van insekte wat Hooke self geteken het soos hy hulle deur sy mikroskoop gesien het. Sy beroemdste tekening is dié van ’n vlooi. Die gravure, wat ongeveer 30 sentimeter by 45 sentimeter groot is, toon die vlooi se kloue, stekels en gepantserde lyf. Die feit dat hierdie klein insek dikwels op mense leef, het destyds welgestelde lesers geskok. Dames het na bewering flou geval toe hulle die prent sien!

Nadat Hooke die punt van ’n mensgemaakte naald onder sy mikroskoop vergelyk het met dinge wat in die natuur voorkom, het hy geskryf: “Die mikroskoop kan ons honderde voorbeelde wys van punte wat duisende kere skerper is” as die van ’n naald. Hy het verwys na die hare, steekhare en kloue van insekte sowel as die dorings, hake en hare van blare. Hierdie “werke van die natuur”, het hy gemeen, verkondig die almag van hulle Maker. “Vir die eerste keer”, sê die Encyclopædia Britannica, het die mikroskoop “’n wêreld [ontsluit] waarin lewende organismes ’n byna ongelooflike kompleksiteit toon”.

Hooke was die eerste persoon wat fossiele onder ’n mikroskoop bestudeer het, wat hom tot die slotsom laat kom het dat dit die oorblyfsels of spore van organismes is wat al lank dood is. Micrographia bevat nog talle fassinerende wetenskaplike waarnemings. Trouens, die bekende dagboekskrywer Samuel Pepys, ’n tydgenoot van Hooke, het gesê dat Micrographia “die vindingrykste boek [is] wat ek nog gelees het”. Allan Chapman, ’n wetenskaphistorikus by die Universiteit van Oxford, het die boek beskryf as “een van die formatiewe boeke van die moderne wêreld”.

Hy help om Londen te herbou

Ná die Groot Brand wat in 1666 in Londen uitgebreek het, is Hooke as landmeter aangestel. Hy het ten nouste saamgewerk met sy vriend Christopher Wren, ’n medewetenskaplike en die koning se landmeter, om die stad te herbou. Een van Hooke se talle ontwerpe is Londen se 62 meter hoë Monument, wat opgerig is om die brand te herdenk. Hooke het beplan om die Monument, die hoogste vrystaande klipkolom in die wêreld, te gebruik om sy teorieë oor swaartekrag te toets.

Hoewel die Greenwich- Koninklike Sterrewag aan Wren toegeskryf word, het Hooke ’n belangrike rol in die ontwerp daarvan gespeel. Montague-huis, die eerste tuiste van die Britse Museum, was nog een van Hooke se talle projekte.

Hooke het uitgeblink as ’n sterrekundige en was een van die eerstes wat ’n spieëlteleskoop gebou het, wat hy na die Skotse wiskundige en sterrekundige James Gregory vernoem het. Hooke het opgemerk dat die planeet Jupiter om sy as draai, en sy sketse van Mars is twee eeue later gebruik om die planeet se rotasiespoed vas te stel.

Waarom is hy vergeet?

In 1687 het Isaac Newton Mathematical Principles of Natural Philosophy gepubliseer. Dit is 22 jaar ná Hooke se Micrographia vrygestel, en Newton se werk het die wette van beweging, insluitende die wet van swaartekrag, beskryf. Maar soos Allan Chapman sê, het Hooke “baie van die komponente van die swaartekragteorie voor Newton ontwikkel”. Dit was ook Hooke se werk wat Newton beweeg het om navorsing oor die aard van lig te doen.

Ongelukkig het argumente oor die optika en swaartekrag die verhouding tussen die twee mans versuur. Newton het selfs verwysings na Hooke uit Mathematical Principles verwyder. Volgens een bron het Newton ook probeer om Hooke se bydraes tot die wetenskap van die rekord te skrap. Daarbenewens het Hooke se instrumente—waarvan talle handgemaak was—’n aantal van sy verhandelings en die enigste oorspronklike portret van hom verdwyn kort nadat Newton die president van die Koninklike Vereniging geword het. As gevolg van hierdie verwikkelinge was Hooke meer as twee eeue lank amper heeltemal onbekend.

Dit was, ironies genoeg, in ’n brief aan Hooke, gedateer 5 Februarie 1675, dat Newton sy beroemde woorde geskryf het: “As ek verder gesien het, was dit omdat ek op die skouers van reuse gestaan het.” As ’n argitek, sterrekundige, eksperimentele wetenskaplike, uitvinder en landmeter was Robert Hooke ’n reus van sy dag.

[Voetnoot]

a Da Vinci was ’n Italiaanse skilder, beeldhouer, ingenieur en uitvinder wat in die laat 15de en vroeë 16de eeu gelewe het.

[Prente op bladsy 26]

Hooke se tekeninge van sneeuvlokkies en ryppatrone

[Prent op bladsy 26]

Hooke se ontwerp van ’n mikroskoop

[Prent op bladsy 27]

Hooke het die woord “sel” uitgedink om die holtes in kurk te beskryf

[Prent op bladsy 27]

Hooke se boek “Micrographia” het uitgebeeld wat hy deur sy mikroskoop gesien het

[Prente op bladsy 27]

Ongeveer die grootte van ’n vlooi

Dames het na bewering flou geval toe hulle Hooke se tekening van ’n vlooi sien

[Prent op bladsy 28]

Montague-huis was een van Hooke se talle boukundige ontwerpe

[Prent op bladsy 28]

’n Tekening deur Hooke wat sy wet van elastisiteit toelig

[Prent op bladsy 28]

Londen se Memorial-toring is die hoogste vrystaande klipkolom ter wêreld

[Prent op bladsy 28]

Die Koninklike Sterrewag

[Foto-erkenning op bladsy 26]

Veer, mikroskoop en sneeuvlokkies: Images courtesy of the Posner Memorial Collection, Carnegie Mellon University Libraries

[Foto-erkenning op bladsy 27]

Images courtesy of the Posner Memorial Collection, Carnegie Mellon University Libraries

[Foto-erkennings op bladsy 28]

Tekening van ’n veer: Image courtesy of the Posner Memorial Collection, Carnegie Mellon University Libraries; Londen se Memorial-toring: Matt Bridger/DHD Multimedia Gallery; Koninklike Sterrewag: © National Maritime Museum, London

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel