Ons beskou die wêreld
“Elke jaar sterf byna sesmiljoen kinders—een elke vyf sekondes— omdat hulle nie genoeg gekry het om te eet nie.”—JAMES T. MORRIS, UITVOERENDE DIREKTEUR VAN DIE WÊRELDVOEDSELPROGRAM
◼ Die amptelike dodetal van die orkaan Katrina, wat die suidelike deel van die Verenigde State in Augustus 2005 getref het, is meer as 1 300.—THE WASHINGTON POST, VSA.
◼ Die aardbewing wat die noordelike deel van Pakistan en Indië in Oktober 2005 getref het, het meer as 74 000 lewens geëis.—BBC NEWS, BRITTANJE.
◼ Een verslag dui daarop dat “byna 1,2 miljoen mense elke jaar op die wêreld se paaie sterf”.—SUID-AFRIKAANSE MEDIESE JOERNAAL, SUID-AFRIKA.
Probleemskatte
Gesaghebbendes in die Rooms-Katolieke Kerk sit met hulle hande in hulle hare oor die beskerming van kunsskatte uit die koloniale tydperk wat Peru se kerke versier. Gedurende die afgelope ses jaar het 200 kerke die teiken van diewe geword. In Cuzco alleen is sowat 5 000 kunswerke, meestal waardevolle olieverfskilderye, gedurende die afgelope 15 jaar gesteel. Niemand weet presies hoeveel kunswerke landwyd verdwyn het nie. Om plunderaars te dwarsboom, het party kerke hulle kunswerke weggesteek, maar onder ongunstige toestande. ’n Deel van een gemeente se versameling olieverfskilderye is deur knaagdiere beskadig.
Finland se arbeidsmarkkrisis
Daar bestaan ’n dringende behoefte in Finland se nywerheid- en dienstesektor aan vaardige werkers wat basiese beroepsopleiding voltooi het, soos timmermanne, loodgieters, sweisers, messelaars, werktuigkundiges, masjienwerkers en verpleegsters. Waarom? Meer klem is op hoër onderwys geplaas, verduidelik die koerant Helsingin Sanomat. “Dit is absurd om ’n hele geslag te omskep in mense met doktors- en meestersgrade in die kunste en wetenskappe”, sê Heikki Ropponen van die Federasie van Finse Kleinhandelaars. “Meer waarde moet aan beroepsopleiding geheg word.”
Gunstige hofbeslissing in Frankryk
Op 1 Desember 2005 het die Appèlhof in Parys Frankryk se Minister van Binnelandse Sake beveel om aan Jehovah se Getuies toegang te gee tot polisiedokumente wat gebruik is om hulle in 1996 as ’n “kultus” te klassifiseer. Die lys is tydens geslote verhore opgestel, en die inhoud van die dokumente is geheim gehou op grond van ‘Staats- en openbare veiligheid’. Die hof het egter bevind dat die “beoordeling ten opsigte van die uitwerking” van die Getuies se bedrywighede, soos dit in die dokumente beskryf is, “onbeduidend” was. Die lys is nietemin herhaaldelik gebruik om diskriminerende behandeling van Jehovah se Getuies in Frankryk te regverdig.
Die “groot groen muur”
Oorbeweiding, droogte, ontbossing en oorbenutting van waterbronne is besig om uitgestrekte dele van China in waaistofstreke te verander. Daarom het die Chinese owerheid begin met “die grootste ekologiese projek wat die wêreld nog ooit gesien het”, sê New Scientist. “In hierdie program, wat as die ‘groot groen muur’ bekend geword het, is bome op ’n ongeëwenaarde skaal aangeplant om ’n versperring te skep wat die stof sal keer.” Grasse en struike word ook aangeplant om fyn, los grond te stabiliseer. Die projek, wat in 1978 begin is, het byna die helfte van sy doel bereik om 35 miljoen hektaar land met bome en droogtebestande plante te bedek.