Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 7/06 bl. 23-25
  • Wat moet ek met my lewe doen?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat moet ek met my lewe doen?
  • Ontwaak!—2006
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Weet waarheen jy op pad is”
  • “Dink aan jou Skepper”
  • Vra hulp
  • Wat sal ek met my lewe doen?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Dink aan diegene in die voltydse diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Jongmense—Wat gaan julle met julle lewe doen?
    Jongmense—Wat gaan julle met julle lewe doen?
  • Kan jy jou beskikbaar stel?
    Ons Koninkryksbediening—2001
Sien nog
Ontwaak!—2006
g 7/06 bl. 23-25

Jongmense vra . . .

Wat moet ek met my lewe doen?

“Ek was eers nie bekommerd oor die toekoms nie. Maar toe die einde van my skoolloopbaan nader gekom het, het ek besef dat ek met die regte wêreld te doen gaan kry, met regte werk. En regte uitgawes.”—Alex, 17.

HET jy as kind gedroom oor wat jy sou wees wanneer jy groot is? Hoe voel jy nou oor daardie ambisies? Is jy onseker oor hoe jy jou as ’n volwassene gaan onderhou? Indien wel, is jy nie alleen nie. “Loopbaanbesluite is een van die grootste uitdagings waarvoor jongmense te staan kom”, sê die boek Career Coaching Your Kids.

Aan die ander kant is ’n loopbaan dalk die laaste ding waaraan jy nou dink. Miskien stel jy meer daarin belang om jou lewe te geniet. Daar is niks mee verkeerd om pret te hê nie, want die Bybel sê dat jy ‘jou jong dae ten volle moet geniet’ (Prediker 11:9, Die Bybel, 1983). Dit is nietemin nou ’n gepaste tyd om te begin dink aan wat jy met jou lewe wil doen. Spreuke 14:15 sê: “Die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe.” Hoe kan jy ag gee op joune?

“Weet waarheen jy op pad is”

Stel jou voor jy beplan ’n reis van honderde kilometers. Jy sal moontlik eers ’n kaart raadpleeg om te sien wat die beste roete is. Dit is min of meer dieselfde wanneer jy jou toekoms beplan. “Jy het ’n groot verskeidenheid opsies”, sê Michael, ’n jong man wat nou by een van die takkantore van Jehovah se Getuies dien. Hoe kies jy een onder almal van hulle uit? “Dit gaan alles oor ’n mens se doelwitte”, sê Michael.

Dink aan ’n doelwit as ’n eindbestemming. Jy sal dit waarskynlik nie bereik as jy doelloos ronddwaal nie. Dit is veel beter om, figuurlik gesproke, ’n kaart te gebruik en jou koers te beplan. Op dié manier sal jy die raad in Spreuke 4:26 volg: “Maak die pad van jou voet gelyk.” Die Contemporary English Version sê: “Jy moet weet waarheen jy op pad is.”

In die komende jare sal jy talle belangrike besluite oor aanbidding, werk, die huwelik, ’n gesin en ander belangrike sake neem. Dit sal makliker wees om wyse keuses te maak as jy reeds weet waarheen jy op pad is. En terwyl jy jou koers deur die lewe beplan, is daar een faktor wat jy nie kan ignoreer nie.

“Dink aan jou Skepper”

As jy werklik gelukkig wil wees, moet jy die woorde van die wyse koning Salomo ter harte neem: “Dink aan jou Skepper in jou jong dae” (Prediker 12:1, Die Bybel, 1983). Die weë wat jy in die lewe kies, moet beïnvloed word deur ’n begeerte om God te behaag.

Waarom is dit belangrik? Die Bybel sê in Openbaring 4:11: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.” Ja, alle lewende wesens in die hemel en op die aarde is dank aan die Skepper verskuldig. Is jy dankbaar dat hy vir jou “lewe en asem en alles” gegee het? (Handelinge 17:25). Voel jy nie verplig om iets vir Jehovah God terug te gee om waardering te toon vir alles wat hy vir jou gegee het nie?

Omdat hulle aan hulle Skepper dink, het talle jongmense onder Jehovah se Getuies besluit om die voltydse bediening te betree. Die feit is dat die voltydse bediening ’n eerbare doelwit is, en dit bring tallose seëninge mee (Maleagi 3:10). Maar vooruitbeplanning is nodig. Vra jou byvoorbeeld af: ‘Watter vermoëns en vaardighede het ek wat ek kan gebruik om my in die voltydse bediening te onderhou?’

Kelly, wat nou 27 is, het vroeg in haar lewe ’n plan uitgewerk. Sy het ’n duidelike doelwit gehad om die voltydse bediening te betree. In haar laat tienerjare het Kelly begin om “haar koers te beplan” wat werk betref. “Ek moes iets kies wat my in staat sou stel om my in my bediening te onderhou”, sê sy.

Kelly het geleer om ’n tandheelkundige assistent te wees deur middel van ’n program van beroepsopleiding op hoërskool. Sy het selfs ’n staatskompetisie gewen. Maar haar sukses het nie veroorsaak dat sy haar hoofdoelwit uit die oog verloor nie. “Die voltydse bediening was wat ek wou doen”, sê Kelly. “Alle ander dinge het tweede gekom.” Kelly geniet nog steeds die voltydse bediening. “Ek dink my besluit was die beste wat ek kon gemaak het”, sê sy.

Vra hulp

As jy deur ’n onbekende gebied reis, sal jy waarskynlik een of ander tyd moet hulp vra—al het jy ’n kaart. Jy kan dieselfde doen wanneer jy jou toekoms beplan. Vra ander wat hulle dink. Spreuke 20:18 sê: “Deur raad word planne stewig bevestig.” Jou ouers is natuurlik ’n baie belangrike bron van raad. Jy kan ook die raad vra van ryp Christene wie se lewe van goddelike wysheid getuig. “Kyk na volwassenes in jou gemeente of nabygeleë gebiede wat ’n goeie voorbeeld stel”, stel Roberto voor. “Hulle kan jou ’n paar dinge vertel wat jou nogal sal verbaas.”

Jehovah God wil, meer as enigiemand anders, jou help om keuses in jou lewe te maak wat jou die grootste geluk sal verskaf. Vra hom dus in gebed om jou te help ‘om voort te gaan om te begryp wat sy wil is’ in verband met jou toekoms (Efesiërs 5:17). As jy met jou hele hart op Jehovah vertrou, ‘sal hy jou paaie reguit maak’.—Spreuke 3:5, 6.

Nog artikels uit die “Jongmense vra . . . ”-reeks kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ypa

DINGE OM OOR TE DINK

◼ Watter vermoëns en vaardighede het jy?

◼ Kan jy aan maniere dink waarop daardie vermoëns gebruik kan word om Jehovah te loof?

◼ Watter vorm van die voltydse diens wat in hierdie artikel genoem word, is vir jou aantreklik?

[Venster op bladsy 23]

’N DOODLOOPSTRAAT

Die Bybel sê: “Dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort.” Die weg na rykdom is besaai met slaggate! Dit kan uiteindelik ’n doodloopstraat wees, vol skuld, angs en geestelike ineenstorting.—1 Timoteus 6:9, 10.

[Venster/Prente op bladsy 24, 25]

DIE PIONIERDIENS

’n Pionierverkondiger is ’n voorbeeldige, gedoopte Christen wat sake so gereël het dat hy minstens 70 uur elke maand aan die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk kan bestee. Deur middel van opleiding en ondervinding slyp pioniers hulle vaardighede as Bybelonderrigters.

BETHELDIENS

Lede van die Bethelgesin dien in takkantore van Jehovah se Getuies, waar hulle help met die voorbereiding, vervaardiging en versending van Bybellektuur. Alle toewysings by Bethel is heilige diensvoorregte.

DIENS WAAR HULP NODIG IS

Party pioniers is in die posisie dat hulle na gebiede kan trek waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Ander leer ’n vreemde taal en dien in ’n ander land of in ’n gemeente waar daardie taal gepraat word.

INTERNASIONALE DIENS

Internasionale dienaars reis na ander lande om met die bou van Koninkryksale en takkantore te help. Dit is ’n vorm van heilige diens wat soortgelyk is aan die werk van diegene wat Salomo se tempel gebou het.—1 Konings 8:13-18.

BEDIENINGSOPLEIDINGSKOOL

Hierdie kursus van agt weke lei bekwame ongetroude ouer manne en bedieningsknegte op in organisatoriese sake en die openbare spreekkuns. Party word na plekke in hulle eie land gestuur; ander word gevra om in die buiteland te dien.

SENDINGDIENS

Bekwame pioniers met goeie gesondheid en stamina word opgelei vir diens in ander lande. Sendelinge geniet ’n opwindende, sinvolle lewe.

[Venster/Prent op bladsy 24]

“WHAT WILL I DO WITH MY LIFE?”

Hierdie program, wat deur Jehovah se Getuies vervaardig is, bevat openhartige onderhoude met jongmense uit Brasilië, Brittanje, Duitsland en die Verenigde State. Dit sal binnekort in ’n aantal tale beskikbaar wees.

[Prent op bladsy 23]

“Dit gaan alles oor ’n mens se doelwitte.”—Michael, ’n lid van die Bethelgesin

[Prent op bladsy 24]

‘Dit was die beste besluit wat ek kon gemaak het.’—Kelly, wat al ses jaar lank ’n pionier is

[Prent op bladsy 25]

‘Kyk na diegene wat ’n goeie voorbeeld stel.’—Roberto, ’n lid van die Bethelgesin

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel