Bilharzia—Is die einde daarvan in sig?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NIGERIË
ONDANKS verstommende vooruitgang op die gebied van geneeskunde en die wetenskap is die mens nie in staat om baie van sy eeue oue probleme op te los nie. Dit is die geval met pogings om bilharzia te beheer.
Dit lyk of al die middele om dit te doen beskikbaar is. Dokters verstaan die lewensiklus van die betrokke parasiet. Die siekte word maklik gediagnoseer. Daar is doeltreffende geneesmiddels beskikbaar. Regeringsleiers bevorder gretig pogings om dit te voorkom. Tog is die einde van hierdie siekte wat miljoene mense in Afrika, Asië, die Karibiese Eilande, die Midde-Ooste en Suid-Amerika teister nie in sig nie.
Bilharzia (ook genoem bilharziase of skistosomiase) teister die mens al duisende jare lank. Verkalkte eiers wat in Egiptiese mummies gevind is, bewys dat Egiptenare in die dae van die farao’s hierdie siekte gehad het. Dertig eeue later teister daardie selfde siekte Egipte steeds en word die gesondheid van miljoene inwoners van daardie land ondermyn. In sommige dorpies in die Nyldelta is 9 uit elke 10 mense daarmee besmet.
Egipte is maar net een van die 74 of meer lande waar bilharzia endemies is. Volgens statistiek van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is daar wêreldwyd 200 miljoen mense met die siekte besmet. Van die 20 miljoen chroniese lyers sterf daar elke jaar ongeveer 200 000. Bilharzia is naas malaria blykbaar die grootste tropiese parasitiese siekte wat betref die mense wat daardeur geteister word en die maatskaplike en ekonomiese skade wat dit aanrig.
Lewenskringloop van die parasiet
As jy bilharzia wil verstaan, en dus wil weet hoe om dit te voorkom en te genees, moet jy die parasiet verstaan wat dit veroorsaak. ’n Belangrike punt is: Om van geslag tot geslag te oorleef en te floreer, het hierdie parasiet twee gashere nodig, twee lewende diere waarin dit voedsel kan inneem en ontwikkel. Die een is ’n soogdier, soos ’n mens; die ander is ’n varswaterslak.
Dit is wat gebeur. Wanneer iemand wat met die parasiet besmet is in ’n poel, ’n meer, ’n stroom of ’n rivier urineer of hom ontlas, stel hy parasieteiertjies vry—moontlik tot ’n miljoen eiertjies per dag. Hierdie eiertjies is te klein om sonder ’n mikroskoop gesien te word. Wanneer die eiertjies met water in aanraking kom, broei hulle uit en word die parasiete vrygestel. Die parasiete swem met behulp van fyn haartjies op hulle liggaam na ’n varswaterslak en dring dit binne. Binne-in die slak vermeerder hulle gedurende die volgende vier tot sewe weke.
Wanneer hulle die slak verlaat, het hulle net 48 uur om ’n mens of ’n ander soogdier te vind en binne te dring. Anders sal hulle sterf. Wanneer die parasiet so ’n gasheer bereik wat in die water ingekom het, boor hy deur die vel en dring die bloedstroom binne. Dit kan die persoon laat jeuk, maar dikwels het hy geen idee van die indringing wat plaasgevind het nie. Binne-in die bloedstroom beweeg die parasiet na die bloedvate van die blaas of die ingewande, na gelang van die parasietspesie. Binne weke groei die parasiete tot volwasse manlike en vroulike wurms van tot 25 millimeter lank. Ná paring begin die wyfie eiertjies in die bloedstroom van die gasheer vrystel en voltooi sodoende die kringloop.
Ongeveer die helfte van die eiertjies verlaat die liggaam van die gasheer deur ontlasting (by ingewandsbilharzia) of in die urien (by urinêre bilharzia). Die res van die eiertjies bly in die liggaam agter en beskadig belangrike organe. Namate die siekte vererger, kan die slagoffer koors, swelling van die buik en inwendige bloeding ontwikkel. Die siekte kan uiteindelik tot kanker van die blaas of tot lewer- of nierversaking lei. Sommige slagoffers raak onvrugbaar of verlam. Ander sterf.
Oplossings en probleme
Daar kan ten minste vier dinge gedoen word om die verspreiding van die siekte te voorkom. As enige van hierdie maatreëls wêreldwyd toegepas sou word, sal dit die siekte uitwis.
’n Eerste maatreël is om die slakke uit die waterbronne te verwyder. Slakke is lewensbelangrik vir die ontwikkeling van die parasiet. Geen slakke, geen bilharzia.
Die vernaamste poging was om ’n gif te vervaardig wat sterk genoeg is om die slakke dood te maak, maar wat nie die omgewing sal besoedel nie. In die sestiger- en sewentigerjare het pogings om slakke uit te roei daartoe gelei dat alle lewe in uitgestrekte massas water uitgewis is. By Egipte se Theodor Bilharz-navorsingsinstituut is daar pogings aangewend om ’n slakdoder te vind wat nie ander lewensvorme benadeel nie. Dr. Ali Zein El Abdeen, president van die instituut, sê aangaande so ’n middel: “Dit gaan in die water gegooi word wat vir landerye gebruik word, deur mense en diere gedrink word en waarin visse leef, en daarom moet ons doodseker wees dat dit geen uitwerking op hierdie dinge sal hê nie.”
’n Tweede maatreël is om die parasiete in mense dood te maak. Tot die middel-sewentigerjare het behandeling medisyne behels wat baie newe-effekte gehad en komplikasies veroorsaak het. Behandeling het dikwels ’n reeks pynlike inspuitings vereis. Sommige het gekla dat die genesing erger as die siekte is! Sedertdien is nuwe geneesmiddels, soos praziquantel, ontwikkel wat bilharzia doeltreffend behandel, en dit kan mondeliks geneem word.
Hoewel hierdie geneesmiddels doeltreffend was in veldwerk in Afrika en Suid-Amerika, was die koste daarvan vir baie lande ’n groot probleem. Die WGO het in 1991 gesê: “Die endemiese lande is weens die hoë behandelingskoste nie in staat om met grootskaalse [bilharzia-]beheerprogramme voort te gaan nie; die koste van die medisyne in harde valuta is gewoonlik hoër as die totale per capita-begroting van die meeste Afrikalande se departement van gesondheid.”
Selfs waar die medisyne gratis aan die pasiënt beskikbaar gestel word, gaan baie mense nie vir behandeling nie. Waarom nie? Een rede is die feit dat die sterftesyfer weens die siekte relatief laag is, en daarom beskou sommige mense dit nie as ’n ernstige probleem nie. Nog ’n rede is die feit dat mense nie altyd die siekte se simptome herken nie. In sommige dele in Afrika is bloed in die urien (’n vername simptoom van die siekte) so algemeen dat dit as ’n normale deel van die grootwordproses beskou word.
’n Derde maatreël is om die eiertjies uit die waterstelsels te hou. As toilette gebou word om te voorkom dat plaaslike strome en poele besoedel word en as almal daarvan gebruik maak, sal die gevaar om bilharzia op te doen, verminder word.
Wêreldwye studies toon betekenisvolle afnames in die siekte nadat waterpype en toilette aangebring is, maar hierdie voorsienings verseker nie voorkoming nie. “As net een persoon hom in die kanaal ontlas, is dit genoeg om die kringloop voort te sit”, sê die wetenskaplike Alan Fenwick, wat bilharzia al meer as 20 jaar lank navors. Daar is ook die gevaar van gebreekte rioolpype wat besmette riool in waterbronne laat lek.
’n Vierde maatreël is om mense uit water uit te hou wat met die parasiet besmet is. Ook dit is nie so maklik as wat dit klink nie. In baie lande word mere, strome en riviere wat drinkwater voorsien, gebruik om in te bad, landerye nat te lei en ook om klere in te was. Vissers kom daagliks in aanraking met water. En in die snikhete trope kan water ’n onweerstaanbare swemplek vir kinders wees.
Watter hoop is daar vir die toekoms?
Daar bestaan geen twyfel nie dat opregte mense en organisasies ywerig werk om bilharzia te bestry en dat ontsaglike vooruitgang gemaak is. Navorsers werk selfs aan die ontwikkeling van ’n entstof daarteen.
Die moontlikheid om die siekte uit te wis, lyk nietemin skraal. Dr. M. Larivière sê in die Franse mediese tydskrif La Revue du Praticien: “Ondanks die welslae wat behaal is . . . , is die siekte nog lank nie uitgeroei nie.” Hoewel voorkoming en genesing vir individue ’n werklikheid kan wees, sal ’n wêreldwye oplossing vir die bilharzia-probleem dalk nie gevind word voordat God se nuwe wêreld hier is nie. Die Bybel belowe ons dat “geen inwoners [daar] sal sê: Ek is siek nie”.—Jesaja 33:24.
[Prent op bladsy 15]
Wanneer mense in besmette water ingaan, kan hulle met parasiete besmet word wat bilharzia veroorsaak