Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 7/8 bl. 18-20
  • Jantar Mantar—’n Sterrewag sonder teleskope

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jantar Mantar—’n Sterrewag sonder teleskope
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Klipstrukture as instrumente
  • “Toegewy aan die studie van wiskundige aardrykskunde”
  • Oos en Wes ontmoet nie
  • ’n Voortdurende soeke
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2005
  • Kan mens en dier in vrede lewe?
    Ontwaak!—1991
  • Middeleeuse meesters van die sterrekunde
    Ontwaak!—2012
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2006
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 7/8 bl. 18-20

Jantar Mantar—’n Sterrewag sonder teleskope

Deur Ontwaak!-medewerker in Indië

BESOEKERS aan die Jantar Mantar in Nieu-Delhi, Indië, sal moontlik met verwondering na die strukture kyk en dink: ‘Kan dit werklik ’n sterrewag wees?’ Vir diegene wat gewoond is aan moderne geboue met hipertegnologiese sterrekundige instrumente, sal hierdie eienaardige klipstrukture wat in ’n groot park geleë is, nouliks na ’n sterrewag lyk. Maar dit is presies wat die Jantar Mantar was toe dit in die vroeë deel van die 18de eeu gebou is. Dit is merkwaardig dat hierdie sterrewag, sonder die voordeel van teleskope en ander instrumente wat in Europa ontwikkel is, breedvoerige en redelik akkurate inligting omtrent die hemelliggame voorsien het.

Jantar Mantar is die algemene benaming vir drie van die vyf sterrewagte wat deur die Radsjpoet-heerser maharadja Sawai Jai Sing II gebou is. “Jantar” kom van die Sanskritwoord “yantra” wat “instrument” beteken, en “Mantar” kom van die woord “mantra” wat “formule” beteken. As gevolg van ’n gebruik in die omgangstaal om ’n woord wat rym, vir klem by te voeg, het die naam Jantar Mantar ontstaan.

’n Gedenkplaat wat in 1910 op ’n instrument in die Jantar Mantar in Nieu-Delhi aangebring is, gee 1710 aan as die jaar toe hierdie sterrewag gebou is. Maar latere navorsing dui daarop dat die bouwerk moontlik in 1724 voltooi is. Soos ons sal sien, bevestig die biografie van Jai Sing hierdie gevolgtrekking. Maar kom ons kyk eers kortliks na die instrumente van hierdie sterrewag, wat na bewering die oudstes van hulle soort ter wêreld is.

Klipstrukture as instrumente

Die sterrewag het vier verskillende instrumente van klipmesselwerk. Die indrukwekkendste hiervan is die Samrat yantra, of Die uitsonderlikste instrument—wat “basies ’n sonwyser is wat tyd in gelyke ure verdeel het”. Dit was Jai Sing se belangrikste skepping. Dit bestaan uit ’n enorme driehoekige klipstruktuur wat ongeveer 21 meter hoog is, ’n basis van omtrent 35 meter het en ongeveer 3 meter breed is. Die skuinssy van die driehoek wat 39 meter lank is, is parallel met die aardas en wys na die Noordpool. Aan albei kante van die driehoek, of gnomon, is ’n kwadrant wat in grade verdeel is om ure, minute en sekondes te meet. Hoewel eenvoudige sonwysers al eeue lank bestaan het, het Jai Sing hierdie basiese instrument vir tydmeting in ’n presisie-apparaat verander om die deklinasie en ander verwante koördinate van die hemelliggame te bepaal.

Die ander drie strukture van die sterrewag is die Ram, die Jayaprakasj en die Misjra yantras. Hulle is noukeurig ontwerp om die deklinasie, hoogte en asimut van die son en sterre te bepaal. Die Misjra-instrument het selfs aangedui wanneer dit twaalfuur die middag in verskeie stede regoor die wêreld is.

Buiten die Misjra yantra is al die bogenoemde instrumente deur Jai Sing uitgevind. Hulle was baie komplekser en bruikbaarder as enige ander instrumente wat destyds in Indië gebruik is en het tot die ontwikkeling van akkurate almanakke en astronomiese tabelle gelei. Hulle het uitsonderlike en aantreklike ontwerpe gehad en het waardevolle inligting verskaf totdat die teleskoop en ander uitvindsels hulle in onbruik laat raak het. Maar waarom het hierdie briljante en geleerde man nie van die apparate wat in Europa beskikbaar was, waaronder die optiese teleskoop, deel van sy sterrekundige navorsing gemaak nie? Die antwoord kan gevind word in die agtergrond van die maharadja en die geskiedenis van daardie tyd.

“Toegewy aan die studie van wiskundige aardrykskunde”

Jai Sing is in 1688 in die Indiese staat Rajastan gebore. Sy vader, ’n maharadja in Amber, die hoofstad van die Katsjavaha-clan van die Radsjpoette, was onder die gesag van die Mongoolse magte in Delhi. Die jong prins is onderrig in tale soos Hindi, Sanskrit, Persies en Arabies. Hy het ook onderrig ontvang in wiskunde, sterrekunde en die verweerkuns. Maar daar was een vak wat die prins baie na aan die hart gelê het. ’n Geskrif uit sy tyd sê: “Sawai Jai Sing was vandat hy kon redeneer, en terwyl sy verstand tot volwassenheid ontwikkel het, ten volle toegewy aan die studie van wiskundige aardrykskunde (sterrekunde).”

In 1700, toe hy 11 jaar oud was, het Jai Sing ná die dood van sy vader die troon in Amber bestyg. Kort voor lank is die jong koning deur die Mongoolse keiser na sy hof in Suid-Indië genooi, waar Jai Sing Jagannātha ontmoet het, ’n man wat ’n goeie kennis van wiskunde en sterrekunde gehad het. Hierdie man het later die koning se vernaamste assistent geword. Die jong maharadja se politieke vooruitsigte was onseker tot in 1719, toe Mohammed Sjāh begin heers het. Jai Sing is toe na die hoofstad, Delhi, genooi vir ’n vergadering met die nuwe Mongoolse heerser. Tydens dié vergadering, wat in November 1720 gehou is, het Jai Sing blykbaar voorgestel dat ’n sterrewag gebou word, wat moontlik in 1724 ’n werklikheid geword het.

Wat het die maharadja beweeg om ’n sterrewag te bou? Jai Sing het besef dat die almanakke en astronomiese tabelle in Indië heeltemal onakkuraat was, en dat daar nie veel vooruitgang op die gebied van sterrekunde gemaak is nie. Hy het dus besluit om nuwe tabelle op te stel wat met die ware posisie van sigbare hemelliggame sou ooreenstem. Hy wou ook graag instrumente vir sterrekundige waarnemings beskikbaar maak vir elke persoon wat toegewy was aan die studie van sterrekunde. Jai Sing het dus ’n groot versameling boeke uit Frankryk, Engeland, Portugal en Duitsland bymekaargemaak. In sy hof het hy geleerdes van Hindoe-, Islamitiese en Europese sterrekundige skole verwelkom. Hy het selfs ’n groep uit die Ooste op die eerste feitesending na Europa gestuur om inligting oor sterrekunde te versamel, en hy het hulle die opdrag gegee om boeke en instrumente terug te bring.

Oos en Wes ontmoet nie

Waarom het Jai Sing klipstrukture gebou, terwyl die teleskoop, die mikrometer en die vernier reeds in Europa in gebruik was? En waarom was hy blykbaar onbekend met Copernicus en Galileo se ontdekkings in verband met die heliosentriese stelsel?

Dit is deels te wyte aan swak kommunikasie tussen die Ooste en die Weste. Maar dit was nie die enigste probleem nie. Die godsdiensklimaat van die tyd het ook hiertoe bygedra. Brahmaanse geleerdes het geweier om na Europa te reis omdat hulle moontlik hulle kaste kon verloor as hulle die oseaan oorgesteek het. Die Europese assistente wat Jai Sing gehelp het om inligting te versamel, was hoofsaaklik Jesuïetegeleerdes. Volgens V. N. Sjarma, wat ’n biografie oor Jai Sing geskryf het, is die Jesuïete en Katolieke leke verbied om Galileo en ander wetenskaplikes se beskouing te aanvaar dat die aarde om die son draai, anders sou hulle voor die Inkwisisie verskyn. Die kerk het dit as kettery en ateïsme beskou. Dit is geen wonder dat die gesante wat Jai Sing na Europa gestuur het, nie die werke van Copernicus en Galileo of die nuwe instrumente wat gebruik is om die heliosentriese teorie te staaf, by hulle versamelde gegewens ingesluit het nie.

’n Voortdurende soeke

Jai Sing het in ’n tydperk geleef wat deur godsdiensonverdraagsaamheid en dweepsug bederf is. Ondanks sy briljante en meesterlike werk om die kennis van die hemelruim te hersien, is daar dekades lank in Indië min vordering op hierdie gebied gemaak. En tog getuig die Jantar Mantar-sterrewag van die inspanning van ’n man wat ’n dors na kennis gehad het.

Eeue voor Jai Sing ’n belangstelling in die beweging van die hemelliggame ontwikkel het, het ander denkende mense na die hemel opgekyk om die wonders van die heelal te probeer verstaan. Die mensdom sal ongetwyfeld aanhou om ‘hulle oë in die hoogte op te slaan’ en na die hemele te kyk met die begeerte om hulle kennis omtrent die werke van God se hande te verbreed.—Jesaja 40:26; Psalm 19:1.

[Diagram/Prent op bladsy 18]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Samrat yantra was ’n akkurate sonwyser. Die skaduwee van die groot driehoek het op die geboë kwadrante (aangedui met ’n wit sirkel) geval waarop die graadverdeling aangebring is

[Diagram/Prent op bladsy 18]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Jayaprakasj yantra bestaan uit uitgeholde hemisfere met merke op die konkawe oppervlak. Kruisdrade is tussen punte op die rand gespan

Van binne die Ram yantra kon ’n waarnemer die posisie van ’n ster in lyn bring met verskillende merke of ’n venster se rand

[Diagram/Prent op bladsy 18]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Misjra yantra het aangedui wanneer dit twaalfuur die middag in verskeie stede is

[Diagram op bladsy 19]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Gesigslynwaarneming, wat die vroegste vorm van sterrekunde is, is baie akkuraat gemaak deur Jai Sing

Om die posisie van ’n ster te bepaal, moet jy die volgende weet: die hoogte (hoe hoog dit in die hemelruim is) en die asimut (hoe ver oos dit van die ware noord af is)

By die Samrat yantra was twee mense nodig om die posisie van ’n ster te bepaal en op te teken

[Erkenning]

Onder: Reproduced from the book SAWAI JAI SINGH AND HIS ASTRONOMY, published by Motilal Banarsidass Publishers (P) Ltd., Jawahar Nagar Delhi, India

[Kaart op bladsy 19]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

INDIË

Nieu-Delhi

Mathura

Jaipur

Varanasi

Ujjain

Jai Sing het vyf sterrewagte in Indië gebou, waaronder een in Nieu-Delhi

[Foto-erkenning op bladsy 18]

Portret: Courtesy Roop Kishore Goyal

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel