Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 7/8 bl. 14-17
  • Kom saam met ons na die eiland Man

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kom saam met ons na die eiland Man
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Toeriste-aantreklikhede
  • Die Great Laxey-wiel
  • ’n Geskiedenis van voorspoed en teëspoed
  • Manx—die Keltiese skakel
  • Die Christelike godsdiens van vandag
  • Die eiland wat verskyn en verdwyn het
    Ontwaak!—2004
  • Instink—aangebore wysheid
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Kokos-eiland sy verhale van verborge skatte
    Ontwaak!—1997
  • ’n Eilandparadys van sand
    Ontwaak!—2006
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 7/8 bl. 14-17

Kom saam met ons na die eiland Man

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

WAAR kan jy koesterhaaie te sien kry? Een van die beste plekke is naby die eiland Man, in die Ierse See. Toeriste vaar van die eiland Man—wat omtrent ewe ver van Engeland, Ierland, Skotland en Wallis af is—om te sien hoe hierdie saggeaarde vyftonvisse plankton eet, wat hulle enigste voedselbron is. Dit is “die ideale omgewing vir ekotoerisme”, het ’n plaaslike natuurkenner, Bill Dale, gesê.

Wat van die eiland self? Dit beslaan 570 vierkante kilometer en het groen valleie, bruin moerasse, mere en strome, skilderagtige baaie, kranse en ’n ruwe kuslyn, en dit is die tuiste van 70 000 mense. Kom saam met ons en ontdek party van die skatte van hierdie deel van die Britse Eilande wat ryk aan geskiedenis is.

Toeriste-aantreklikhede

Besoekers aan die geskiedkundige eiland Man wil dikwels graag ’n Manxkat sien. Hierdie ongewone dier het die gesig van ’n kat, maar sy agterbene is aansienlik langer as sy voorbene, wat hom soos ’n haas laat lyk. Boonop het die Manxkat nie ’n stert nie. Hoewel die Manxkat se oorsprong onbekend is, meen sommige dat matrose eeue gelede katjies vanaf Asië, waar daar wel stertlose katte is, hierheen gebring het en sodoende hierdie ras op die eiland gevestig het.

Die Tourist Trophy-motorfietswedrenne wat elke jaar gehou word, lok ook besoekers. Die wedrenne word oor meer as 60 kilometer op hoofpaaie gehou. By die eerste wedren, wat in 1907 gehou is, was die hoogste gemiddelde snelheid minder as 65 kilometer per uur. Deesdae is die wenner se gemiddelde snelheid meer as 190 kilometer per uur. Dit is natuurlik ’n gevaarlike sport, en oor die jare heen het dit ’n aantal motorfietsjaers se lewe geëis.a

Die perdetrems al langs die promenade in Douglas, die eiland se hoofstad, is ’n aangename herinnering aan vergange se dae, en so ook die 24 kilometer lange Stoomspoorwegstelsel van die eiland Man, die enigste deel wat oor is van die smalspoorlyn wat vroeër jare die eiland deurkruis het. Net meer as 100 jaar gelede is die Elektriese Spoorwegstelsel van die eiland Man geopen, en van sy tremwaens klim nog steeds meer as 600 meter na die kruin van die eiland se hoogste piek, Snaefell.

Die Great Laxey-wiel

Lood, silwer en sink het ’n rol gespeel in die ontwikkeling van die eiland, veral by die Great Laxey-myn. Die Great Laxey-wiel is ’n indrukwekkende bewys van die vernuf van die Victoriaanse ingenieurs wat dit in 1854 opgerig het en van die ontwerper daarvan, Robert Casement, die seun van ’n plaaslike wielmaker. Dit het ’n deursnee van meer as 20 meter en is aangedryf deur water wat afwaarts vloei uit ’n tenk hoog bo in die vallei. Terwyl die wiel twee en ’n half omwentelings per minuut gemaak het, het dit 950 liter water vanuit ’n diepte van 360 meter gepomp en die mynskagte sodoende leeg gehou. Die kruk, wat gekoppel is aan ’n stangstelsel van sowat 180 meter, het die waterpompstelsel in die myn aan die gang gesit. Net die as van hierdie yslike wiel weeg tien ton.

Aan die suidekant van die wielhuis is daar ’n ystergietstuk van die Drie Bene van Man, wat twee meter in deursnee is. Wat is die oorsprong en die betekenis van hierdie embleem, wat vandag as ’n simbool van die eiland Man gebruik word?

Ná 1246 het die Drie Bene van Man op handvesseëls verskyn as die eiland se amptelike simbool. Die ontwerp is al op ’n Griekse vaas van die sesde eeu v.G.J. gevind en word met die Griekse kruis, of hakekruis, verbind. Daar word algemeen aanvaar dat die embleem die strale van die son afbeeld en dat dit met sonaanbidding verband hou. Hoe het dit op die eiland Man gekom? Dit het dalk vanuit die Mediterreense gebied gekom weens handel met Sisilië—’n eiland wat ook hierdie simbool gebruik het—of dit was afkomstig van die Nore, of Vikings, se munte. Die drie gepantserde bene van vandag is later deur konings van die eiland Man aangeneem.

’n Geskiedenis van voorspoed en teëspoed

Die Romeine het Engeland in 43 G.J. verower en sowat 400 jaar lank daar gebly, maar hulle het die eiland Man, wat Julius Caesar Mona genoem het, blykbaar geïgnoreer. Nore het die eiland in die 9de eeu binnegeval en tot die middel van die 13de eeu daar gebly. Vir hierdie onverskrokke Skandinawiese ontdekkingsreisigers was die eiland geskik as ’n basis waarvandaan hulle kon handeldryf en naburige lande kon inval. Gedurende hierdie jare is die Tynwald, die parlement van die eiland Man, gestig. Dit word beskou as die oudste ononderbroke nasionale parlement ter wêreld.b

Later is die eiland Man op verskillende tye deur Skotland, Wallis, Ierland, Engeland en Noorweë regeer. Toe, in 1765, het die Britse Parlement die eiland gekoop. Vandag dien die eiland se luitenant-goewerneur as die Britse Koningin se persoonlike verteenwoordiger, aangesien die eiland ’n selfregerende afhanklike staat van die Kroon is, terwyl dit as ’n buitelandse finansiële sentrum ’n mate van onafhanklikheid geniet. Die eiland druk ook hulle eie posseëls en het hulle eie munte en banknote, wat dieselfde wisselkoers as die Britse pond het.

Manx—die Keltiese skakel

Die eertydse taal van die eiland Man is Manx, ’n lid van die Keltiese groep van die uitgebreide Indo-Europese taalfamilie. Manx het voortgespruit uit Iers-Gaelies en is verwant aan Skots-Gaelies. Meer as 100 jaar gelede is daar van Manx gesê: “Dit is ’n gedoemde taal—’n ysberg wat na suidelike breedtegrade dryf.” En dit was ook so. Die laaste persoon wat Manx as moedertaal gepraat het, is in 1974 op die ouderdom van 97 oorlede; maar as deel van die eiland se erfenis word Manx nou weer in skole geleer.

Anders as Iers-Gaelies of Skots-Gaelies was Manx tot in 1610 nog uitsluitlik ’n gesproke taal. In 1707 het The Principles and Duties of Christianity die eerste boek geword wat in Manx gedruk is. Ander het kort daarna gevolg.

Teen 1763 was daar ernstige beroepe om ’n Bybelvertaling in Manx omdat twee derdes van die eilandbewoners destyds net Manx gepraat het. Met beperkte fasiliteite en min geleerdes om in hierdie behoefte te voorsien, het vertalings van verskillende Bybelboeke sedert 1748 stadigaan begin verskyn. Veertig eksemplare van ’n volledige Bybel is in 1775 gedruk vir gebruik deur die geestelikes, en in 1819 was daar ’n algemene vrystelling van 5 000 eksemplare. Wat was die reaksie? Toe ’n vrou die eerste keer hoor hoe haar seun uit die Manx-Bybel lees, het sy hierdie treffende woorde gesê: “Ons het tot nou toe in die duisternis gesit.”

Vyf-en-twintig mans het hierdie Bybel uit die Engelse King James Version van 1611 vertaal, en ’n paar van hulle kon ook die Griekse vertaling van die Hebreeuse Geskrifte, die Septuagint, raadpleeg. Die goddelike naam bly dieselfde as in Engels—Jehovah.c Soos W. T. Radcliffe in 1895 geskryf het, is hierdie Bybel waarlik “’n monument van geleerdheid waarop geen opgevoede Maneilander sal neersien nie”.

Die Christelike godsdiens van vandag

Respek vir die Bybel het nie afgeneem onder die eilandbewoners nie, en Jehovah se Getuies is plaaslik goed bekend vir Bybelstudie. Hulle nuutste Koninkryksaal, in ’n skilderagtige omgewing aan die voet van Belmont-heuwel, in Douglas, is in Mei 1999 gebou. Die Isle of Man Examiner het berig gelewer oor die feit dat dit binne net ses dae deur vrywillige werkers, wat almal Jehovah se Getuies was, voltooi is en gesê: “Dit kan as ’n klein wonderwerk beskou word.”

As jy ooit hierdie pragtige eiland besoek, kan jy seker wees dat die saggeaarde eilandbewoners jou besoek onvergeetlik en genotvol sal maak. Maar wanneer jy met ’n Maneilander praat, moet jy onthou dat die eiland Man vir hom “die vasteland” is; Engeland is “die ander eiland”.

[Voetnote]

a Vir die verhaal van die voormalige Tourist Trophy-jaer, Fred Stevens, sien die artikel “’n Groter uitdaging en groter opwinding!” in die Ontwaak! van 22 September 1988.

b Twee parlemente, die Faroëse Løgting en die Yslandse Alting, is vroeër gestig, maar nie een was ’n ononderbroke parlement nie.

c In Iers- en Skots-Gaelies is die goddelike naam Yehobhah, en in Wallies is dit Jehofah.

[Kaart op bladsy 14]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

IERLAND

SKOTLAND

ENGELAND

WALLIS

Ierse See

DIE EILAND MAN

[Prent op bladsy 15]

Tremwa van die Elektriese Spoorwegstelsel

[Prent op bladsy 15]

Die Great Laxey-wiel

[Prent op bladsy 14, 15]

Trein van die Stoomspoorweg- stelsel

[Prent op bladsy 15]

Die stertlose Manxkat

[Prent op bladsy 16]

’n Koesterhaai

[Prent op bladsy 16]

Uitsig oor die kus vanaf Peel-heuwel

[Prent op bladsy 16, 17]

Peel-hawe, met die Peel-kasteel op die agtergrond

[Foto-erkenning op bladsy 15]

Alle foto’s buiten embleem in die middel: Copyright Bill Dale, IsleOfManPhotos.com

[Foto-erkenning op bladsy 16]

Haai: The Basking Shark Society; inlasfoto regs en agtergrond: Copyright Bill Dale, IsleOfManPhotos.com

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel