Groot veranderinge aan die landskap
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DUITSLAND
“DIT het byna my vrou se hart gebreek toe ons ons huis moes verlaat”, het Dieter gesê. “Michaela, ons 11-jarige dogter, was ook na aan trane. Maar ons het geen keuse gehad nie.” Is dit die woorde van ’n gesin wat as vlugtelinge uit ’n oorlogsone moes vlug? Nee, hierdie gesin woon in een van Duitsland se mynboustreke.
Oor die afgelope 55 jaar het sowat 33 000 mense in die Duitse Rynland dieselfde lot as Dieter en sy gesin gehad. Hulle is hervestig om plek te maak vir oopgroefontginning van ligniet, of bruinkool. Weens die groeiende energiebehoefte van nywerhede word daar elke jaar in Duitsland alleen sowat 180 miljoen ton ligniet uit oopgroefmyne ontgin. Dit is ongeveer 25 keer die geskatte gewig van die Cheops-piramide in Egipte.
Watter uitwerking het dit op die landskap en op die mense wat daar woon? Brockhaus Enzyklopädie sê: “Grootskaalse oopgroefmynbou het dikwels die hervestiging van baie mense en drastiese veranderinge tot gevolg.”a Kom ons kyk na oopgroefmynbou in die Rynland en na die mense wie se lewe daardeur geraak is.
Oopgroefontginning van ligniet
Die Keulen-Aken-bekken aan die Neder-Rynrivier is die grootste lignietstreek in Europa. Hierdie gebied is byna so groot soos die groothertogdom van Luxemburg of die Yosemite- Nasionale Park in Kalifornië, VSA. Die ligniet kom onder die oppervlak voor en is met lae gruis, sand of klei bedek, wat eers weggeskraap moet word. Hierdie boonste lae word die deklaag genoem.
Die deklaag word deur skepwielgraafmasjiene weggeskraap om by die ligniet uit te kom. Een van hierdie graafmasjiene verwyder elke dag genoeg van die deklaag om 16 000 leunwaens vol te maak. Om te keer dat die wande instort namate die myn dieper en dieper word, word die myn in die vorm van terrasse of trappe uitgegrawe. Individuele werkvlakke in die myn, aan die kant wat uitgegrawe word, word banke genoem. Kyk na die skepwielgraafmasjiene wat hier aan die werk is, in die foto hierbo. Dit is van die grootste masjiene ter wêreld. Op 95 meter is hulle ongeveer twee keer so hoog soos die Vryheidstandbeeld in New York.
Sodra ’n graafmasjien die deklaag weggeskraap het, word die grond met ’n vervoerband verwyder. Probeer jou indink hoeveel materiaal verskuif moet word. Vir elke kubieke meter steenkool wat in die Duitse Rynland ontgin word, moet meer as ses kubieke meter van die deklaag verwyder word. Die materiaal beweeg vinnig met die vervoerbande; selfs al was ons op ’n fiets, sou ons nie maklik kon byhou nie. By ’n sekere punt kom die vervoerbande bymekaar. Van hier af word die verskillende materiale na steenkoolbunkers vervoer, op spoorwegwaens gelaai en na kragstasies geneem of op ’n mynhoop gestort. Die meeste van die ligniet word na kragstasies geneem waar dit gebruik word om energie op te wek.
Die deklaag word sover moontlik gebruik om plekke op te vul waar die ligniet uitgehaal is. Die masjiene wat die opvulling doen, word spreiers genoem. Hulle stort die grond, laag vir laag, in die myn in totdat die gat opgevul is. Enige afvalgrond wat oor is, word buite op mynhope gestort. Hierdie grondhope kan tot 200 meter hoog wees. Dit is ’n groot uitdaging vir landskapargitekte om hierdie hope afvalgrond by die landskap in te skakel en dit vir landbou- en bosboudoeleindes bruikbaar te maak.
Die grondwatervlak word verlaag
Oopgroefmynbou het uit die aard van die saak ’n groot impak op die landskap en op natuurlike kringlope. Om die oopgroefmyn droog te hou, word die grondwatervlak verlaag totdat dit onder die laagste vlak van die myn is. In Duitsland kan die hoeveelheid water wat jaarliks uitgepomp word, byna drie en ’n half jaar lank in die behoeftes voorsien van die inwoners van Berlyn, Duitsland se grootse stad. Die feit dat soveel water uitgepomp word, is ’n bron van kommer vir omgewingsdeskundiges, wat veral besorg is oor die bedreiging wat dit inhou vir die nabygeleë Maas-Schwalm-Nette-natuurreservaat, wat op die grens tussen Duitsland en Nederland geleë is. Hierdie park is ’n natuurlike vleigebied, wat ’n habitat vir talle plante en voëls voorsien.
Diegene wat verantwoordelik is vir die bestuur van die oopgroefmyn, het die versekering gegee dat daar geen rede tot kommer is nie. Om te vergoed vir die water wat uitgepomp word wanneer daar gemyn word, word water ’n entjie van die myn af in die grond teruggesit. Dit word onder andere deur middel van syferputte gedoen. Daar word sodoende gehoop dat die streek nie sal uitdroog nie.
’n Nuwe landskap neem vorm aan
Die aarde verander voortdurend. Sowat 25 miljard ton sediment word elke jaar in die oseane gestort, sonder dat ons dit eens agterkom. Veranderinge aan die landskap is egter opsigteliker vir iemand wat op die rand van ’n oopgroefmyn staan. Hier neem ’n nuwe landskap vorm aan. Wat het dit vir die lignietstreek van die Rynland beteken?
In die Keulen-Aken-bekken is gebiede wat voorheen gemyn is, herwin en in landbougebiede, woude en parke omskep. Verder is waterweë, paaie en spoorweë herlei. Lignite Mining in the Rhineland verduidelik: “[Herwinning] is nie ’n poging om die natuur te herskep nie. Die mens kan net aanvanklik hulp bied. Die grootste deel van die werk word deur die natuur self gedoen.” Tot dusver is meer as 65 persent van die betrokke gebied weer bruikbaar gemaak, waarvan die grootste deel vir landbou beskikbaar gestel is. Vir dié doel is vrugbare bogrond so egalig moontlik tot ’n diepte van twee meter bo-oor die deurdringbare afvalgrond versprei. Hierdie gebied was etlike jare onder die bestuur van maatskappyplase, en later is die grond vir algemene landbougebruik beskikbaar gestel.
’n Klein deel van die nuwe woude en kunsmatige mere is nou bewaringsgebiede wat deur die wet beskerm word. Sommige bedreigde spesies het hulle selfs in die herwinningsgebiede gevestig. Die delikate vlinder, Limenitis populi, en voëls soos die grootrietsanger is maar twee van hulle. Verder word plante soos die gewone blaaskruid en die soldaatorgidee hier aangetref. Inwoners van Keulen en Bonn het ontdek dat die ou oopgroefmyn nou ’n plek is waar hulle kan gaan rus en ontspan.
Hervestiging en ’n nuwe begin
Een van die moeilikste take wat met oopgroefmynbou verband hou, is die hervestiging van mense wat reg bo-op die ligniet woon. Hele gemeenskappe moet verskuif word voordat daar gemyn kan word.
Hervestiging verg groot beplanning, wat sowat 10 tot 15 jaar vooruit gedoen word. Pogings word aangewend om dorpsgemeenskappe bymekaar te hou wanneer hulle na ’n nuwe gebied verskuif word. Ondervinding toon dat ongeveer die helfte van die mense wat hierdeur geraak word, saam met hulle bure in dieselfde gemeenskap wil bly, terwyl ander die verskuiwing as ’n geleentheid sien om ’n nuwe begin elders te maak. Mense wat moet trek, word vergoed, maar dit is onmoontlik om ’n waarde aan sekere dinge te heg. Byvoorbeeld, hoe kan jy vergoed word vir die pragtige uitsig wat jy van jou sitkamervenster gehad het of vir die hegte verhouding wat jy met jou bure geniet het? In jou nuwe omgewing is alles dalk anders.
Hervestiging behels meer as om net te verhuis; mynbou verander die omgewing vir altyd. Ouers sal nooit die geleentheid hê om hulle kinders te wys waar hulle grootgeword en skoolgegaan het nie. ’n Mens se ouerhuis is vir ewig weg. Hoe hanteer mense die situasie? Ontwaak! het ’n paar van hulle gevra.
Friedhelm woon in ’n gemeenskap wat eersdaags hervestig gaan word. Op sy ouderdom is dit nie ’n aangename vooruitsig om ’n nuwe huis—in sy geval, vir die tweede keer—te bou nie. “Toe ons die eerste huis gebou het, het ons talle waardevolle lesse geleer”, sê Inge, sy vrou, “maar ons het nie meer die krag om dit weer te doen nie.” Om ’n nuwe huis te bou, wat kan beteken dat ’n mens ’n paar jaar lank op ’n bouterrein moet bly, kan ’n groot uitdaging wees.
Werner en Margarethe meen dat die meeste mense materieel daarby baat vind as hulle verskuif word. Maar sekere groepe—soos die bejaardes, boere en handelaars—word veral swaar getref. Vir sommige wat hulle eie sakeondernemings het, is dit eenvoudig te duur om op ’n nuwe plek oor te begin. Volgens een boer wat moes trek en wat sy nuwe boerdery al meer as 20 jaar op herwonne grond bedryf, het sake redelik goed vir hom uitgewerk. Sy gesindheid is: “Benut die situasie ten beste, want jy kan dit in elk geval nie verander nie.”
Hoe waar is dit tog nie! Mettertyd het Dieter en sy gesin, wat vroeër gemeld is, ook aan hulle nuwe tuiste gewoond geraak. Hulle is net drie van talle mense wat uit ondervinding kan sê dat oopgroefmynbou nie net groot veranderinge meebring wat die landskap betref nie, maar ook vir diegene wat daar woon.
[Voetnoot]
a Oopgroefmynbou en die uitwerking daarvan op die omgewing is op party plekke ’n omstrede kwessie. Ontwaak! bly neutraal wat sulke aangeleenthede betref.
[Prent op bladsy 21]
’n Skepwielgraafmasjien besig om ligniet uit te grawe
[Erkenning]
Rheinbraun AG
[Prente op bladsy 23]
’n Spreier vul die myn met vrugbare grond
’n Ou oopgroefmyn wat omskep is
[Erkenning]
Alle foto’s: Rheinbraun AG