Ons beskou die wêreld
◼ In 2006 het “167 joernaliste en ondersteuningspersoneel”, soos voertuigbestuurders en tolke, “gesterf terwyl hulle die nuus probeer dek het”. Die meeste was besig om verslag te lewer oor misdaad, korrupsie of plaaslike konflikte. Sowat 133 is vermoor.—INTERNASIONALE NUUSVEILIGHEIDSINSTITUUT, BELGIË.
◼ Tussen 10 en 14 miljard patrone word elke jaar vervaardig, “genoeg om elke persoon ter wêreld twee keer dood te skiet”.—MELBOURNE SE KONINKLIKE INSTITUUT VIR TEGNOLOGIE, AUSTRALIË.
Mensgemaakte aardbewings?
Sedert die 19de eeu het mensebedrywighede meer as 200 hewige aardbewings veroorsaak, sê ’n berig in die Duitse koerant Die Zeit. Mynbou het die helfte van hierdie aardbewings veroorsaak. Ander oorsake is blykbaar die ontginning van gas, olie of water; vloeistofinspuiting en die bou van reservoirs. ’n Aardbewing in 1989 in Newcastle, Australië, wat wetenskaplikes aan ondergrondse bedrywighede in ’n steenkoolmyn toegeskryf het, het 13 lewens geëis, 165 beseer en R25 miljard se skade aangerig. Daar word geraam dat die verliese as gevolg van daardie aardbewing die totale opbrengste oorskry het van mynbou in Newcastle sedert mynbedrywighede twee eeue gelede daar begin het.
Die stand van Franse Katolisisme
In 1994 het 67 persent van mense in Frankryk beweer dat hulle Katoliek is. Vandag is daardie syfer 51 persent, sê die tydskrif Le Monde des Religions. ’n Opname het aan die lig gebring dat die helfte van Franse Katolieke slegs vir spesiale geleenthede, soos troues, kerk toe gaan. Hoewel 88 persent beweer dat hulle die Onse Vader uit die kop ken, bid 30 persent nooit nie. Daar is ’n Bybel in byna die helfte van Katolieke huise, maar dit beteken nie noodwendig dat dit gelees word nie.
Spraakversteurings onder kinders
“Al hoe meer kinders begin eers laat praat en gebruik ’n baie beperkte woordeskat”, sê die Poolse tydskrif Wprost, “omdat volwassenes nie met hulle praat nie.” Moeders bring gemiddeld 30 minute per dag saam met hulle kinders deur, en vaders ’n “skamele sewe minute”. Gevolglik ly byna 1 uit elke 5 kinders “aan sekere spraakontwikkelingversteurings wat alleenlik aan ouers se versuim toegeskryf kan word”. Michał Bitniok, ’n spraakterapeut en taalkundige aan die Universiteit van Silesië, waarsku: “As sulke kinders nie vroeg genoeg behandeling kry nie en niks gedoen word om hulle te help nie, kan hulle spraakversteurings aanleiding gee tot probleme by die skool en in hulle volwasse lewe.”
Bygeloof word benut in Japan
Onwettige rommelstorting op munisipale grond is ’n kopseer in Japan. Sekuriteitspatrollies gedurende die dag kan dit nie keer nie. Mense kom eenvoudig snags om hulle rommel te stort. Maar nou gebruik plaaslike owerhede bygeloof as ’n afskrikmiddel deur torii op te rig, rooi houtdeure wat ontwerp is om soos die ingang van ’n Sjinto-heiligdom te lyk. “Die konsep is heel eenvoudig”, verduidelik die koerant IHT Asahi Shimbun. “Oor die algemeen beskou mense die torii as heilig, en as iemand rommel naby een sou stort, sou dit teëspoed vir hom beteken.” Soos verwag is, stort mense nie meer afval naby die torii nie. “’n Entjie daarvandaan”, sê die koerant, “is dit ’n ander saak.”