Die grootste mensgemaakte gat ter wêreld
’NVRIEND het vir my gesê: “As jy Salt Lake City besoek, moet jy na die Kennecott-kopermyn by Bingham-canyon gaan kyk. Jy sal verbaas wees oor wat jy sien.” Ek en my vrou het in Augustus 1992 die geleentheid gehad om dit te doen. Ons het uitgevind dat ons vriend nie oordryf het nie.
Ons het op ons tyd die 42 kilometer suidoos van Salt Lake City in die gloeiende, droë hitte van Utah gery. Terwyl ons koers gevat het na die nabygeleë Oquirrh-bergreeks het ons gou ons bestemming gesien—’n yslike strook bleekgeel oker op die horison wat ’n teenstelling met die donkerder kleur van die omliggende berge gevorm het. Dit was die enorme mynhope en terrasse van die Kennecott-kopermyn. Maar selfs daardie gesig het ons nie voorberei op wat ons kort daarna gesien het nie.
Ons het met ’n styl berghang opgekronkel. Op pad boontoe het ons by yslike wipvragmotors verbygery wat so groot soos ’n kleinerige huis is en waarvan die grootste tot 240 ton klip op ’n slag kan vervoer. Hulle is so groot dat hulle wiele, wat ’n deursnee van 3,7 meter het, bo die langste mens uittoring. Ons het uiteindelik die uitkykpunt bereik. En daar was dit—die grootste mensgemaakte gat wat ons nóg gesien het!
Toe ons oor die rand na die bodem van die myn gekyk het, het daardie enorme vragmotors soos speelgoedkarretjies gelyk. Voor ons was ’n uitgrawing wat meer as 0,8 kilometer diep is en wat ’n deursnee van 4 kilometer het. Die mynbodem is meer as 1500 meter bo seespieël, en die myn se boonste rande strek tot 2400 meter. Dit is so diep dat die wêreld se hoogste gebou, die 440 meter hoë Sears Tower in Chicago, net die helfte so hoog is as wat die myn diep is. Die maatskappy beoog om nog 260 meter dieper te gaan, en hulle reken dat hulle tot die jaar 2020 daarmee besig sal wees.
Die myn lyk soos ’n reuseamfiteater met 15 meter hoë terrasse, wat as trappe bekend staan, en hulle lei na die dieptes van die afgrond toe. Ons het gehoor dat hierdie kopermyn van die pendeltuig af gesien kan word. Maar dit het alles 130 jaar gelede ’n baie eenvoudige begin gehad toe die berg nog meer as 2400 meter hoog was.
Bespot omdat hulle daar gemyn het
Daar is in 1863 begin myn toe kolonel Patrick Connor, van Fort Douglas, kleims daar afgepen het. Daar is egter op klein skaal gemyn, en dit was nie winsgewend nie. Die Bingham-canyonmyn is eers in 1906 begin toe Daniel Jackling se Utah-kopermaatskappy en ’n mededingende maatskappy erts begin uithaal het wat net 2 persent koper bevat het. ’n Amptelike brosjure sê dat “hulle bespot is deur myners van daardie tyd wat gedink het dat hulle nooit ’n wins kon maak as hulle sulke laegraadse erts myn nie”. Wat sou hulle vandag sê, wanneer die persentasie koper tot erts net 0,6 persent is? Tog “is meer koper deur die Bingham-canyon opgelewer as enige myn in die geskiedenis. Vyfmiljard ton klip is al verplaas sedert die dagboumyn begin is.”
Koper is nie die enigste produk nie—goud, silwer en molibdeen (’n metaal wat gebruik word om staal te versterk) word ook ontgin, tot 14000000 gram goud en meer as 110 000 000 gram silwer word per jaar as byprodukte uitgehaal! Dit is geen wonder dat hierdie myn die rykste gat op aarde genoem word nie.
En as jy wonder waarom koper so belangrik is, stel jou voor wat sou gebeur as al die koper uit alle elektriese bedrading, uit alle kragopwekkers, transformators en ander stroomdraende toestelle gehaal word. Die lys kan verder ook koelkaste, vliegtuie, motors, ensovoorts insluit. Koper is onontbeerlik in die prosesse van die moderne lewe, net soos dit in vervloë tye was. Koper word 166 keer in die Bybel genoem.—Genesis 4:22; Exodus 27:1, 2.
Koperontginning—nie ’n maklike proses nie
Wat ons in daardie groot myn gesien het, is net die begin van die proses waardeur waardevolle koper voortgebring word. Die myn is waar die boorwerk, skietwerk, laaiwerk en vervoer plaasvind. Die erts word dan na ’n ertsvergruiser op die terrein geneem, waarna ’n vervoerderstelsel die vergruisde erts na ’n konsentreerder en flottasieaanleg agt kilometer daarvandaan neem. Die konsentrasiestelsel verhoog die erts se koperinhoud van 0,6 persent tot 28 persent deur onnodige stowwe te verwyder.
Daarna volg die smeltingsproses wat ontslae raak van onsuiwerhede, soos yster en swawel, en dit lewer gesmelte koper wat nou 98 persent suiwer is. Dit word gegiet in reghoekige vorms wat anodes genoem word en dan afgekoel. Die laaste stap is die affineringsproses. ’n Brosjure verduidelik: “Die anodes word blootgestel aan ’n elektrolitiese proses waar die koper geaffineer word tot ’n suiwerheid van 99,98%.” Dit is tydens hierdie proses dat goud en silwer as byprodukte herwin word. Hierdie transformasie verander die koper in groot katodes, koperplate wat 150 kilogram weeg en wat dan aan die vervaardigers van koper-, geelkoper- en bronsprodukte verkoop word.
Dit alles klink redelik eenvoudig. Maar die hele proses is eintlik baie ingewikkeld en neem baie plek in beslag. Trouens, dit neem ’n ton erts om net vyf kilogram koper op te lewer. Die volgende keer wat jy koperbedrading of ’n koperpan of -ketel sien, onthou dat dit dalk van die grootste gat kom wat die mens nóg gemaak het.—Bygedra.
[Prente op bladsy 24, 25]
Bo: Die myn is meer as 0,8 kilometer diep en vier kilometer in deursnee
Regs bo: Die smelter met een van die wêreld se hoogste skoorstene
Inlasfoto: ’n Koperkatode wat 150 kilogram weeg en gemerk is om aan te dui hoe koper persentasiegewys gebruik word
Regs onder: ’n Dieselvragmotor wat tot 240 ton erts vervoer
[Erkenning]
Photos (above and page 25 top): courtesy Kennecott Utah Copper
[Foto-erkenning op bladsy 23]
Photo courtesy Kennecott Utah Copper