Labirinte en doolhowe—Waarom so fassinerend?
Deur Ontwaak!-medewerker in Brittanje
Hoewel die woorde “labirint” en “doolhof” uitruilbaar gebruik kan word, verskil die manier waarop hulle uitgelê is wel. Die paadjies van ’n labirint volg ’n kronkelroete na die middel. Daarenteen kan ’n doolhof doodlooppaadjies hê, en die regte paadjie lei gewoonlik, wanneer dit gevind word, deur die doolhof sodat ’n mens op ’n ander plek uitkom.
Labirinte en doolhowe kan diegene wat dit aandurf vreesbevange maak, verwar of frustreer. Maar antieke labirinte hou ook verband met bygelowige volksoorleweringe. Waarom het die kerkbouers van die Christendom dan labirinte deel van hulle geboue gemaak? Die antwoord is fassinerend.
WAT was die grootste bouprestasie van die antieke Egiptenaars? Volgens party skrywers was dit nie die piramides, soos algemeen gemeen word nie, maar eerder hulle enorme Labirint. Dit is gebou naby die Moerismeer, wat vandag as Qârûnmeer bekend staan, en aan die westekant van die Nylrivier en 80 kilometer suid van die hedendaagse stad Kaïro geleë is.
In die vyfde eeu v.G.J. het die Griekse geskiedskrywer Herodotus geskryf: “Ek het hierdie plek [die Labirint] besoek en gevind dat dit onbeskryflik is; want as al die mure en ander groot werke van die Grieke in een saamgevoeg kon word, sou dit nie, wat arbeid of koste betref, hierdie Labirint kon ewenaar nie.” Hy het bygevoeg: “Die Labirint oortref die piramides.” Vier eeue later het Strabo, ’n ander Griekse geskiedskrywer, gesê dat die Labirint “gelykstaande aan die Piramides” is, selfs al het dit teen daardie tyd al erg verval.
Die gebied is in 1871 deur die geskiedkundige F. Barham Zincke besoek, en die terrein is uiteindelik in 1888 deur die argeoloog Flinders Petrie geïdentifiseer. Slegs klein dele van die Labirint het toe nog bestaan, en vandag meld reisgidse dit skaars. Daar was egter ’n tyd toe die Labirint beroemd was. Hoe het dit gelyk, en waarom is dit gebou?
Beskrywing en doel
Die Labirint is baie vroeg in Egipte se geskiedenis gebou, moontlik selfs voor die Hebreërs in Egipte gewoon het (Genesis 46:1-27). Dit het glo 3 000 vertrekke gehad wat gelykop verdeel is tussen twee verdiepings—waarvan een verdieping ondergronds was. Dit het ’n totale area van ongeveer 70 000 vierkante meter beslaan.
Die Labirint se stelsel van gange, sale, kamers en rye pilare was so ingewikkeld en verbysterend dat ’n vreemdeling nooit sonder ’n gids sy weg in—of uit—sou kon vind nie. Groot dele daarvan was in algehele duisternis gehul, en wanneer party van die deure oopgemaak is, het dit glo ’n vreesaanjaende geluid, soos donder, gemaak. Ná die val van die Egiptiese wêreldryk is die Labirint se indrukwekkende rooi granietpilare, enorme klipblokke en glad gepoleerde kalksteen geplunder en weer gebruik.
Hoewel die Labirint na bewering as ’n sentrum gedien het van waar die konings van Egipte die land regeer het, was die ware funksie daarvan godsdienstig. Dit was ’n tempelkompleks waar offerandes aan al die gode van Egipte gebring is. Geen besoekers is toegelaat om die onderste verdieping van die Labirint te sien waarin die grafte van konings sowel as heilige krokodille was nie.
Die mitiese waarde van die Labirint word die beste verstaan in die konteks van die godsdienstige rituele wat verband gehou het met die Egiptiese god Osiris, wat die Egiptenaars geglo het vroeër die koning van Egipte was. Osiris was die god van die dooies, of die god van die onderwêreld.
Mitologie en onsterflikheid
Die Egiptenaars het Osiris se dood in die jaarlikse Misteriedrama uitgebeeld. Apis, ’n heilige bul, is tydens ’n seremonie in die plek van Osiris doodgemaak te midde van groot gekerm en geween. Hierdie geween het in vreugde verander wanneer die diensdoende priester die goeie nuus van Osiris se opstanding aan die volk aangekondig het. Vir die Egiptenaars was hierdie mistieke gebeure die fokuspunt van hulle hoop op lewe. Hulle het geglo dat elke mens, nie net die koning nie, soos Osiris geword het wanneer hy sterf.
Die boek The Labyrinth, geredigeer deur professor S. H. Hooke, het gesê: “In Egipte dui die vroeë mite van Osiris op die bestaan van kragte wat die lewe van die koning-god op die aarde sowel as in die hiernamaals bedreig het.” Hulle het dus geglo dat die Labirint, met sy verbysterende stelsel van gange, die god-koning teen sy vyande in hierdie lewe en die lewe hierna sou beskerm—selfs teen die dood.
Mettertyd het geloof in die onsterflikheid van die mens goed gevestig geraak in antieke Egipte en regdeur die antieke wêreld. Trouens, die leer van die onsterflikheid van die mensesiel wat oor die daaropvolgende eeue ontwikkel het, is spoedig nie net deur konings aangeneem nie, maar ook deur die hele mensdom.
Die Kretensiese labirint
Die labirint by Knossos, op die eiland Kreta, is blykbaar baie jare ná die Egiptiese een gebou. Hoewel die terrein nog nie positief geïdentifiseer is nie, toon verslae dat dit soortgelyk, maar baie kleiner, as die Egiptiese een was.a Ons woord “labirint” hou moontlik verband met laʹbrus, ’n dubbelbyl wat die twee horings van die heilige bul verteenwoordig. Hierdie bul was deel van Minoïese (Kretensiese) aanbidding, wat grootliks deur mitologie beïnvloed is.
Die Kretensiese labirint was bekend in die mitologie vir die Minotaurus—’n mitologiese man met ’n bul se kop—wat daar gewoon het. Pasifaë, die vrou van Minos, koning van Kreta, het glo geboorte gegee aan hierdie wese—vandaar sy naam, Minotaurus, wat “Bul van Minos” beteken. Volgens die mite het die stad Atene ’n oorlog teen Kreta verloor, en sy inwoners is gedwing om elke nege jaar 14 jongmense—7 seuns en 7 meisies—as offerandes aan die Minotaurus te stuur. Hierdie jongmense is in die labirint vrygelaat, waar hulle verdwaal het en kwansuis deur die Minotaurus verslind is.
Later het ’n jong man, Teseus, egter by die labirint ingegaan om hierdie mitiese monster te gaan doodmaak. Teseus het die Minotaurus gevind en hom glo met sy swaard doodgemaak. Hy het sy weg uit die labirint gevind deur ’n goue draad te volg, wat hy van die ingang van die doolhof af agter hom laat afrol het. Die draad is vir hom gegee deur Ariadne, die dogter van koning Minos.
Michael Ayrton, wat ’n model van die Kretensiese labirint gemaak het wat op gissings berus, het verduidelik: “Elke mens se lewe is ’n labirint met sy dood in die middel, en selfs ná die dood gaan hy moontlik deur ’n finale doolhof voor dit alles vir hom verby is.” In hierdie sin was die mitologiese Teseus se wonderdadige ontsnapping uit die labirint ’n simbool van sy hergeboorte, sy ontsnapping aan die dood. Die leer van die onsterflikheid van die mens kom ook hier duidelik na vore.
Griekeland en Rome
Die patroon van die klassieke Kretensiese labirint verskyn op munte wat by Knossos gevind is. Hierdie patroon is spoedig deur die Grieke en Romeine nagedoen. Plinius praat van ’n labirint op die Mediterreense eiland Samos en van ’n ander een, op die eiland Lemnos, wat beroemd was weens die prag van sy 150 pilare. Hy verwys ook na ’n ryklik versierde Etruskiese graf waaroor ’n vroeëre skrywer, Varro, geskryf het, wat glo ’n ondergrondse labirint bevat het.
Die stad Pompeji, wat in 79 G.J. deur ’n uitbarsting van berg Vesuvius vernietig is, het ten minste twee versierde labirinte gehad. Een daarvan, die Huis van die Labirint, is bekend vir sy buitengewone mosaïekvloer wat die stryd tussen Teseus en die Minotaurus uitbeeld. Die skrywer Marcel Brion voer aan dat dit “simbolies is van die mens se lewe en van die moeilike reise wat die siel in hierdie wêreld en in die volgende moet onderneem voordat dit die geseënde toestand van onsterflikheid bereik”.
Kinders in die antieke Romeinse wêreld het speletjies gespeel in labirintpatrone wat hulle in velde en op sypaadjies gemaak het. Vandag is daar regoor Europa talle oorblyfsels van mosaïekvloere met labirintpatrone in Romeinse villas en ander Romeinse munisipale geboue wat opgegrawe is. Maar die mitologiese idees het spoedig selfs verder versprei.
Na baie lande
Die tempel van Halebid, in Mysore, Indië, het ’n fries wat ’n labirint insluit. Dit is in omstreeks die 13de eeu G.J. gebou en beeld ’n episode van die Mahabharata uit.
Die Chinese het geglo dat bose geeste net in ’n reguit lyn kan vlieg, en daarom het hulle ingange gebou wat soos eenvoudige labirinte was om bose geeste uit hulle huise en stede te hou.
In Skandinawië is daar meer as 600 kliplabirinte aan die kus van die Oossee. Daar word gesê dat baie van hulle deur plaaslike vissermanne gebou is wat uit bygeloof daardeur geloop het om ’n goeie vangs en veilige terugkeer te verseker.
Op St. Agnes, ’n klein eiland aan die suidwestelike kus van Cornwallis, Engeland, is daar ’n doolhof wat in 1726 deur ’n vuurtoringwagter opgeknap is op die terrein van ’n vroeëre patroon.
Wat vir baie mense veral interessant is, is die gebruik van die labirint in die kerkgeboue van die Christendom. Neem ’n paar voorbeelde.
Die Christendom se labirinte en doolhowe
Van al die merkwaardige labirinte in die Christendom se godsdienstige geboue is een van die kleinstes sekerlik die 15de-eeuse ronde versiering wat uit hout gesny is en hoog teen die dak van die St. Mary Redcliffe, ’n kerk in Bristol, Engeland, pryk. Dit is goud en swart geverf en het ’n deursnee van net 20 sentimeter. Die beroemdste labirint is in Frankryk se Chartres-katedraal. Dit is in 1235 van blou en wit klip gebou en is 10 meter in deursnee.
Groot vloerdoolhowe is in ander Middeleeuse Franse en Italiaanse katedrale en kerke gelê, insluitende dié in Amiens, Bayeux, Orléans, Ravenna en Toulouse. Die een by Reims is 200 jaar gelede vernietig, en die Mirepoix-katedraal se doolhof bevat ’n sentrale Minotaurus.
Een gesaghebbende skryf oor labirinte in prominente godsdiensgeboue: “Die heidense labirint is deur die Middeleeuse Christelike kerk aangeneem en vir sy eie gebruik aangepas deur Christelike simbole in die ontwerp in te sluit.” Gevolglik is labirinte blykbaar in die Christendom se kerke gebruik om ’n Christen se lewe af te beeld, in ooreenstemming met die mitologie van die antieke Egiptenaars.
Kerkdoolhowe is ook gebruik om die reise wat kruisvaarders na Jerusalem onderneem het, op te voer. Om in die middel uit te kom, het in simboliese sin beteken dat hulle Jerusalem bereik en redding verkry is. Vir party aanbidders was ’n doolhof ’n roete vir boetedoening wat hulle op hulle knieë moes voltooi om vergifnis van sondes te verkry of waardeur hulle as ’n ritueel moes loop in die plek van ’n pelgrimstog na die Heilige Land.
Turfdoolhowe
Doolhowe wat in die grond ingesny is, wat turfdoolhowe genoem word, is in die 12de en 13de eeu gemaak, veral in Engeland. Later is baie ongetwyfeld vir ontspanningsdoeleindes gebruik, maar aangesien dit met die labirinte in kerkgeboue ooreengekom het, het party mense ook ’n godsdienstige betekenis daaraan geheg. Die grootste turfdoolhof ter wêreld, wat volgens party kenners oor die 800 jaar oud is, is in ’n meent in Saffron Walden, in die graafskap Essex. Dit is ongewoon in die sin dat dit vier groot, verhewe hoekbastions het. Al die paadjies saam is amper twee kilometer lank.
W. H. Matthews meld die historiese/mitiese aspek en sê dat godsdienstige doolhowe of labirinte “as ’n simbool beskou kan word van die versoekingslabirint van hierdie wêreldse lewe, waardeur ’n mens slegs veilig kan kom met behulp van die Ariadne-draad van Goddelike genade”.—Mazes and Labyrinths—Their History and Development.
Is jy verbaas dat doolhowe en labirinte, hoewel hulle ’n heidense oorsprong het, in die Christendom gebruik word? Kan die ware Christelike godsdiens met heidense bygeloof versoen word?
Versoenbaar met die Christelike geloof?
Hoewel die geskiedenis van die labirint fassinerend is, is opvattings in verband daarmee nie met die Christelike geloof versoenbaar nie. Die Bybel leer nêrens dat die mensesiel afgeskeie en apart van die liggaam is en voortlewe ná ’n mens sterf nie. Die Bybel leer eerder dat die mensesiel sterflik is. Dit sê: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe.”—Esegiël 18:4.
God se Woord, die Bybel, is kragtig en word met ’n swaard vergelyk, “die swaard van die gees”. Christene gebruik hierdie wapen op ’n bekwame wyse om ’n werklike, bomenslike, onsigbare geesskepsel en sy demone te weerstaan, nie ’n mitiese Minotaurus nie (Efesiërs 6:12, 17). Gevolglik het hulle ’n onoorwinlike geloof en ’n vaste hoop op redding. Dit sal hulle deur die einde van hierdie huidige stelsel van dinge tot in ’n nuwe wêreld van regverdigheid dra—iets wat geloof in mitologie nooit kan doen nie.—2 Petrus 3:13.
[Voetnoot]
a In die eerste eeu G.J. het Plinius, die Romeinse naturalis, gesê dat die Kretensers hulle labirint ’n honderdste die grootte van die Egiptiese een gebou het.
[Venster op bladsy 22]
Doolhowe vir vermaak
Seshonderd jaar gelede is ’n nuwe soort doolhof ontwerp. Dit was vir versiering en het geen godsdienstige betekenis gehad nie. Regdeur Engeland het eenvoudige tuindoolhowe ’n algemene gesig geword. Uiteindelik het die ontwerpe van die doolhowe ingewikkelder geword, en buksbome is langs die paadjies geplant, wat netjies gesnoei kon word.
In onlangse jare het talle moderne, ingewikkelde doolhofontwerpe regoor die wêreld verskyn. Kinders sowel as volwassenes hou daarvan. Dit kan pret wees!
[Venster/Prent op bladsy 24]
Die Christendom se gebruik van die labirint
Londen se Westminster-abdy het onlangs hierdie nuut geborduurde altaardoek begin gebruik. Let op die labirint in die middel met die “A” (alfa, “DIE BEGIN”) en “Ω” (omega, “DIE EINDE”) aan weerskante daarvan. In die middel van hierdie labirintontwerp staan “Ek IS”, wat Jehovah verteenwoordig, die groot “EK IS” waarna Exodus 3:14 verwys. Dit is ’n interessante moderne voorbeeld van die noue verwantskap wat daar vandag tussen die labirint en godsdiens bestaan.
[Erkenning]
Foto: David Johnson
[Prent op bladsy 21]
Munte van die vierde en vyfde eeu v.G.J. wat by Knossos, Kreta, gevind is. Let op die labirintpatroon en die bul se kop, wat die Minotaurus verteenwoordig
[Erkenning]
Copyright British Museum
[Prent op bladsy 23]
Die wêreld se grootste turfdoolhof, in Saffron Walden, Engeland
[Erkenning]
Met vergunning van Saffron Walden-reisburo