Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 12/22 bl. 17-19
  • Moet ek ’n kredietkaart hê?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet ek ’n kredietkaart hê?
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bereken die koste
  • Verantwoordelike gebruik van ’n kredietkaart
  • Geniet die voordele
  • Kredietkaarte—Sal hulle jou dien of van jou ’n slaaf maak?
    Ontwaak!—1996
  • “Kom ons stuur ’n kaartjie”
    Ontwaak!—1993
  • Nuwe voorsiening om ons te help om ons van bloed te onthou
    Ons Koninkryksbediening—2005
  • Maak jy goed gebruik van die JW.ORG-kontakkaartjies?
    Ons Christelike lewe en bediening — Vergaderingwerkboek — 2016
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 12/22 bl. 17-19

Jongmense vra . . .

Moet ek ’n kredietkaart hê?

“Ek het my eerste aanbod vir ’n kredietkaart in die pos gekry toe ek 16 jaar oud was. . . . Toe ek 18 geword het, het ek omtrent $60 000 [R364 000] geskuld.”—Kristin.

AANVANKLIK het Kristin beplan om haar kredietkaart net in noodgevalle te gebruik—en miskien vir daardie artikel wat sy van tyd tot tyd wou koop, maar nie met kontant kon betaal nie. Toe het dinge hand uitgeruk. “Ek het onbeheers begin koop en goed links en regs uit katalogusse bestel”, erken Kristin. “Ek het goed gekoop waarvan ek nie eens gehou het nie.” Nou het Kristin ’n ander beskouing van kredietkaarte. “Ek het geen benul gehad van hoe daardie plastiekkaartjie my lewe sou deurmekaarkrap nie”, sê sy.—Die tydskrif Teen.

Kristin se geval is nie uniek nie. Al hoe meer jongmense stuur op finansiële moeilikheid af omdat hulle daardie stukkie plastiek, die kredietkaart, gebruik. In sommige gevalle gebruik maatskappye aggressiewe bemarking wat op jongmense toegespits is. Hulle weet heel waarskynlik dat kredietkaarte vir talle gretige kopers “’n finansiële dwelmmiddel” kan word, soos die finansiële raadgeefster Jane Bryant Quinn dit noem. “Hoe meer ’n mens dit gebruik”, sê sy, “hoe moeiliker word dit om op te hou.”

Dit kan weliswaar voordelig wees om ’n kredietkaart te hê—byvoorbeeld in ’n noodgeval of wanneer dit nie wys is om kontant by jou te hê nie. Dit is een rede waarom kredietkaarte so gewild geraak het in die Verenigde State en ook in ander lande. Maar as ’n kredietkaart op ’n onverantwoordelike manier gebruik word, kan dit die gebruiker in ’n finansiële bodemlose put laat beland. Gevolglik het ’n verslag wat in Toronto se Globe and Mail gepubliseer is, gesê dat daar ’n drievoudige toename was “in die aantal skuldbelaaide 20- tot 23-jariges wat hulle tot die Kredietvoorligtingsdiens van Toronto gewend het vir hulp”. Die verslag het gesê dat baie tot $25 000 (R99 000) geskuld het, en kredietkaartrekeninge was een van die hoofoorsake van skuld.

Moet jy ’n kredietkaart hê? Dit is iets waaroor jou ouers moet besluit. As hulle dink dat jy moet wag, moet jy geduldig wees. As jy wys dat jy geld op ’n verstandige wyse uitgee, sal dit dalk nie lank wees voordat jou ouers jou groter finansiële verantwoordelikhede sal gee nie. (Vergelyk Lukas 16:10.) Intussen moet jy besef dat dit nuttig, maar ook gevaarlik kan wees om ’n kredietkaart te gebruik—baie soos om ’n motor te bestuur.

Bereken die koste

Om met ’n kredietkaart te koop, is in wese dieselfde as om geld te leen. Soos in alle situasies waar ’n mens geld leen, moet jy terugbetaal wat jy geleen het (Spreuke 22:7). Maar hoe betaal jy vir goed wat jy met ’n kredietkaart koop?

’n Gedrukte staat word gewoonlik teen die einde van elke maand aan jou gepos, en daarop verskyn alles wat jy met die kaart gekoop het, asook die totale bedrag wat jy skuld. Die staat toon ook hoeveel jy onmiddellik moet betaal. Hierdie bedrag is gewoonlik redelik klein. Gevolglik redeneer jy dalk: ‘Dis nie so erg nie. As ek net elke maand die minimum paaiement betaal, sal my skuld mettertyd afbetaal wees.’ Maar die probleem is dat jy ná ’n uitstelperiode ’n finansieringstarief—rente—op die uitstaande bedrag sal moet betaal. En rentekoerse op ’n kredietkaart kan nogal hoog wees.a

Kyk byvoorbeeld na Joseph, wie se saldo op een maand se staat ongeveer R6 000 was. Joseph moes natuurlik net die minimum paaiement betaal, wat R121 was. Maar toe hy sy staat van nader bekyk het, het Joseph ontdek dat ’n finansieringstarief van byna R103 by daardie maand se saldo ingesluit was! Dit het beteken dat Joseph net R18 op sy skuld van R6 000 sou afbetaal het, al het hy ook die minimum van R121 betaal!

Hoe lank neem dit om ’n kredietkaartrekening af te betaal as jy net die minimum paaiement betaal? ’n Boekie wat deur die Federale Handelskommissie en American Express uitgegee word, het ’n denkbeeldige voorbeeld gegee en gesê: “As jy ’n uitstaande saldo van $2 000 [R12 000] het, met ’n rentekoers van 18,5% en ’n lae maandelikse minimum paaiement, sou dit meer as 11 jaar neem om die skuld af te betaal en jou ’n bykomende $1 934 [R11 720] net aan rente kos, wat die totale koste van jou oorspronklike aankope byna verdubbel.”

Soos jy kan sien, kan jy in groot finansiële moeilikheid beland met ’n kredietkaart as jy nie versigtig is nie. “Ek het in werklikheid byna dubbel vir alles betaal”, sê Kristin. “Toe ek begin sukkel het om my paaiemente te betaal, het die skuldeisers my beboet omdat ek laat betaal het. Ek het glad nie geweet wat om te doen nie.”

Verantwoordelike gebruik van ’n kredietkaart

Kristin het op die harde manier geleer dat dit gevaarlik kan wees om ’n “koop nou, betaal later”-gesindheid teenoor inkopies te hê. Skuld kan soos ’n sneeubal groei, en voor jy jou oë kan uitvryf, dek jou maandelikse minimum paaiement dalk nie veel meer as die rente nie. Hoe vermy verantwoordelike kaartgebruikers dit om in so ’n finansiële strik te trap?

● Hulle hou boek van hulle aankope en ondersoek hulle maandelikse state sorgvuldig om seker te maak dat hulle slegs gedebiteer word vir dinge wat hulle wel gekoop het.

● Hulle betaal hulle rekeninge stiptelik, in die wete dat ’n goeie kredietgeskiedenis waarskynlik later nuttig sal wees—miskien wanneer hulle vir ’n werk of versekering aansoek doen of wanneer hulle ’n motor- of ’n huislening wil aangaan.

● Indien moontlik betaal hulle die volle bedrag wat hulle skuld sodat daar nie hoë rente op die saldo gehef word nie.

● Hulle gee nie hulle kredietkaartnommer en -vervaldatum oor die telefoon nie, tensy hulle weet met wie of watter maatskappy hulle te doen het.

● Hulle leen nooit hulle kredietkaart vir enigeen nie, nie eens vir ’n vriend nie. Dit is per slot van rekening die kredietgeskiedenis van die kaarthouer wat geraak word as die kaart misbruik word.

● Hulle gebruik nie hulle kredietkaart om maklik kontant in die hande te kry, asof dit ’n bankkaart is nie. Onthou, daar word gewoonlik meer rente op ’n kontantvoorskot as op aankope gehef.

● Hulle vul nie elke kredietkaartaansoek in wat hulle kry nie. Vir die meeste jongmense is een kaart genoeg.

● Hulle gebruik hulle kredietkaart versigtig, en wanneer hulle iets daarmee koop, vergeet hulle nooit dat hulle nog steeds werklike geld uitgee nie, al gebruik hulle nie note of muntstukke nie.

Geniet die voordele

Hetsy jy nou ’n kredietkaart het of beplan om in die nabye toekoms een te kry, jy moet jou deeglik vergewis van die voordele sowel as die gevare. Vra jou die volgende vrae af: Waarom voel ek dat ek ’n kredietkaart nodig het? Is dit bloot om materiële dinge te koop, om die nuutste modes te hê, om my vriende te beïndruk? Moet ek leer om meer tevrede te wees met die basiese dinge, met wat die Christenapostel Paulus “voedsel, klere en onderdak” genoem het? (1 Timoteus 6:8). Sal kredietkaartskuld tot swaar finansiële laste lei wat my van die belangriker dinge in die lewe sal laat vergeet?—Matteus 6:33; Filippense 1:8-11.

Dink na oor hierdie vrae, en bespreek dit met jou ouers. As jy dit doen, sal jy die finansiële leed vermy wat baie oor hulleself gebring het, ongeag of jy ’n kredietkaart het of nie.—Spreuke 22:3.

[Voetnoot]

a Jy kan uitvind hoeveel rente ’n spesifieke kredietkaartmaatskappy hef deur te kyk na die jaarlikse persentasiekoers (JPK) wat op die aansoekvorm of die maandelikse staat verskyn.

[Venster op bladsy 19]

Die waarde van ouers se toestemming

Baie jongmense kry vir die eerste keer die geleentheid om hulle eie kredietkaart te kry wanneer hulle ’n aansoekvorm in die pos ontvang. Trouens, met verloop van tyd kry party ’n hele paar aansoekvorms. “Daar is hewige kompetisie onder maatskappye om kredietkaarte in die hande van jongmense te kry”, verduidelik Jane Bryant Quinn, “omdat studies toon dat ons geneig is om die kaart te hou wat ons heel eerste kry.”

’n Ouer of ’n ander volwassene met ’n goeie kredietgeskiedenis moet gewoonlik die kredietkaartaansoekvorm teken sodat die maatskappy wat die kaart uitreik ’n mate van versekering het dat daar vir aankope wat met die kaart gedoen word, betaal sal word. Ongelukkig maak talle jongmense van bedrog gebruik om hierdie stap te omseil. Een jong meisie het sonder haar ouma se medewete haar ouma se naam neergeskryf as die hoofaan­soeker en haar eie naam as die gesamentlike aansoeker. Stel jou haar ouma se verbasing voor toe sy uitvind dat sy tienduisende rande skuld!

Om die handtekening van ’n ouer of ’n ander volwassene op ’n aansoekvorm vir ’n kredietkaart te vervals, is oneerlik, en oneerlikheid word deur God veroordeel (Spreuke 11:1; Hebreërs 13:18). As jy dus ’n kredietkaart wil hê, moet jy met jou ouers daaroor praat. Dit is op die lange duur baie beter vir jou om hulle toestemming te hê. Onthou, jou ouers het waarskynlik ondervinding in die afbetaling van skuld, en hulle kan jou goeie raad gee. Praat dus met hulle, en moet nooit oneerlike maniere gebruik om ’n kredietkaart te bekom nie.

[Prent op bladsy 18]

Die onverstandige gebruik van ’n kredietkaart kan tot ’n finansiële ramp lei

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel