Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 9/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die selibaat—Waarom?
  • Slagting deur treilvissery
  • Chemiese stowwe in speelgoed
  • Gemeentes sonder priesters
  • Al hoe meer bankrotskappe
  • Reukvrye klere?
  • Meer waterprobleme
  • Amerika se groeiende gevangenisbevolking
  • Weddenskappe op Armageddon
  • Chemiese stowwe—Vriend en vyand?
    Ontwaak!—1998
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1998
  • Speelgoed—Vandag en in die verlede
    Ontwaak!—2005
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 9/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Die selibaat—Waarom?

“Die konflik oor die selibaat in die Katolieke Kerk is een van die priesterdom se grootste uitdagings”, berig die tydskrif Veja. “In 1970 was daar 10 000 priesters wat afstand gedoen het van hulle posisie sodat hulle kon trou. Vandag is daar 120 000—12 keer soveel. In Brasilië het die aantal priesters wat hierdie besluit geneem het in dieselfde tyd twintigvoudig toegeneem.” Hoewel hulle argument onskriftuurlik is, verdedig kerkleiers in Rooms-Katolisisme die toepassing van die selibaat deur te sê dat dit die priester toelaat om “meer aandag aan God te gee” en op sy werk te konsentreer. “Maar die ware argument waarop die selibaat gegrond is, is eintlik wêrelds”, sê Veja. “Die idee het sy ontstaan gehad in die Middeleeue om die materiële erfgoed van die kerk te bewaar deur te voorkom dat afstammelinge grond en ander besittings verkry.”

Slagting deur treilvissery

“Elke jaar word ’n deel van die wêreld se seebodem wat groter as die hele Kanada is, getreil”, sê ’n berig in The Globe and Mail. “Met treil- en sleepnetvissery word swaar nette oor die seebodem getrek, en sodoende word visse en diere wat op die bodem lewe en belangrik is vir die oseaan se voedselketting voor die voet doodgemaak. Baie spesies wat die vissermanne nie wil hê nie, word ook in die nette gevang en doodgemaak.” Navorsers skat dat daar “vir elke garnaal wat deur treilvissers gevang word 10 of meer klein tarbotte of jong kabeljoue in die nette gevang word en doodgaan”. Waar die seebodem getreil is, het feitlik al die sponse, mossels en skaaldiere verdwyn, sê die berig. Les Watling, ’n professor in oseanografie aan die Universiteit van Maine, verduidelik: “’n Mens hoef nie ’n marinebioloog te wees om te besef dat hierdie visvangmetodes baie skadelik vir seediere is nie. Niks wat mense aan die see doen, rig groter skade aan nie.” Bioloë vergelyk hierdie vernietiging met ontbossing op land en vra dat sekere gebiede as marinereservate verklaar moet word.

Chemiese stowwe in speelgoed

“’n Groep chemiese stowwe wat dikwels gebruik word om kinderspeelgoed sag te maak, is amper 20 keer gevaarliker as wat voorheen gedink is”, berig The Independent, ’n Londense koerant. Navorsing in Nederland toon dat ftalate—versagmiddels van harde plastiek, soos polivinielchloried—in tanderinge en ander speelgoed gevind word waaraan jong kinders kou en dat hierdie chemiese stowwe maklik in speeksel vrygestel word. Toetse het getoon dat groot dosisse van twee algemene ftalate “lewer- en nierkanker kan veroorsaak en testikels kan laat krimp”. Jong kinders is veral in gevaar omdat hulle “klein gewig, ontwikkelende liggaam en moontlik langdurige blootstelling daaraan hulle heelwat sensitiewer vir chemiese stowwe maak”, sê die artikel. Professor James Bridges, ’n Britse wetenskaplike wat die probleem vir die Europese Kommissie ondersoek, het veral sy kommer uitgespreek oor “kinders wat in institute is, byvoorbeeld in ’n swak dagsorgsentrum of hospitaal, omdat hulle geneig is om speelgoed te kou aangesien hulle niks anders het om te doen nie”. Ses lande het alreeds die gebruik van hierdie chemiese stowwe in speelgoed verbied, en nog vier is van plan om dit te doen.

Gemeentes sonder priesters

Baie Katolieke gemeentes in Italië—3 800 om presies te wees—het nie ’n inwonende priester nie, volgens ’n opname verlede jaar deur die kerk se Pastorale Oriëntasiesentrum. En dit is nie net gemeentes in plattelandse of afgesonderde gebiede nie. Volgens die koerant La Repubblica “is daar dikwels selfs nie in mediumgrootte stedelike sentrums (tussen een- en drieduisend inwoners) ’n ‘inwonende priester’ nie”. Om hierdie tekort weg te steek, word groepe gemeentes gewoonlik aan die sorg van een priester of aan ’n groep priesters toevertrou. “Maar nou”, verduidelik die koerant, “het die priester nie meer persoonlike en daaglikse kontak met sy gemeentelede nie en . . . word priesters gedwing om hulle van een plek na die volgende te haas.” Daar word op verskeie maniere aandag gegee aan hierdie tekort. Groot stede soos Rome het buitelandse priesters gewerf. Ten minste twee Italiaanse gemeentes is nou aan leke toegewys, wat nie die mis kan opdra nie en net in noodgevalle die Kommunie kan gee of doopplegtighede kan behartig.

Al hoe meer bankrotskappe

“Amerika is in die middel van ’n bankrotskapkrisis”, sê die Amerikaanse senator Charles Grassley. Sedert Amerikaanse bankrotskapwette ’n eeu gelede gemaak is, het sowat 20 miljoen Amerikaners hulle bankrot verklaar, en meer as die helfte van hulle het dit sedert 1985 gedoen. Teen die middel van 1998 was daar ’n rekord aantal bankrotverklarings van 1,42 miljoen vir die voorafgaande 12 maande. Waarom neem dit so geweldig toe? Volgens die voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserwebank, Alan Greenspan, kan die dramatiese styging in die aantal bankrotskappe gedeeltelik toegeskryf word aan veranderinge “in die stigma wat aan bankrotskap kleef”. Nog ’n faktor is blykbaar “die opkoms van ’n kredietkultuur waarin verbruikers daaraan gewoond geraak het om al hoe meer skuld te hê”, sê The Wall Street Journal.

Reukvrye klere?

“Tekstielkenners is al die afgelope twee jaar bewus van die belangrikheid van bio-aktiewe materiaal, wat as antibakteries . . . of antireuk gemerk word”, sê die Franse koerant Le Monde. Die mark vir antibakteriese materiaal groei. Hoewel hierdie materiaal hoofsaaklik in bedlinne gebruik word, word dit nou ook gebruik om sokkies en onderklere te maak. Maar nie almal is so gretig om materiaal te gebruik wat fenole en swaar metale bevat wat die manier wysig waarop bakterieë werk nie, aangesien baie bakterieë voordelig vir mense is. “Ons vel het al sy natuurlike gaste nodig om sy werk behoorlik te doen”, sê Le Monde. “Vervaardigers van antibakteriese tekstiele moet ’n oplossing vind vir ’n werklike probleem”—hoe om die groei van skadelike bakterieë te beperk sonder om die bakterieë dood te maak wat nodig is om infeksie te beveg.

Meer waterprobleme

“Ons drinkwater is nie net vol plaagdoders nie, maar dit lyk nou of dit ook vol medisyne is”, sê New Scientist. Die medisyne kom van verskeie bronne. Medisyne word soms in die toilet weggespoel om daarvan ontslae te raak. Medisyne word ook deur die urine uitgeskei. “Tussen 30 en 90 persent van ’n dosis van die meeste antibiotika wat aan mense en diere toegedien word, word saam met die urine uitgeskei”, sê Bent Halling-Sorensen, van die Koninklike Deense Apteekskool. Plaasboere gebruik gereeld diereurine en -mis op hulle lande. Wanneer medisyne die omgewing bereik, is dit moontlik in sy oorspronklike vorm of, omdat dit deur die liggaam verander is, is dit in ’n meer reagerende of giftiger vorm as die oorspronklike, en dikwels is dit ook meer oplosbaar in water. “Medisyne is een van die min groepe chemiese stowwe in water wat ons nie kontroleer nie”, sê Steve Killeen, van Brittanje se Omgewingsagentskap.

Amerika se groeiende gevangenisbevolking

“Daar is meer gevangenes in Amerika as in enige ander demokrasie, en daar is meer as wat selfs die meeste totalitêre regerings ooit probeer aanhou het”, sê The Economist. “Verlede jaar was een uit elke 150 [Amerikaanse] burgers (kinders inkluis) agter tralies.” Daar is 20 keer meer gevangenes as in Japan, 6 keer meer as in Kanada en tussen 5 en 10 keer meer as in Wes-Europese lande. Die aantal gevangenes in die Verenigde State het sedert 1980 verviervoudig. Meer as 400 000 van diegene wat nou gevange gehou word, is daar weens dwelmverwante oortredings, en tog het die aantal mense wat dwelms misbruik sedert 1988 onveranderd gebly. The Economist vra: “Hetsy gevangenisse as ’n instrument vir misdaadvoorkoming werk of nie, hoe lank kan Amerika dit nog bekostig om soveel gevangenes te hê?”

Weddenskappe op Armageddon

Elke week plaas tientalle mense in Brittanje “weddenskappe op Armageddon”, berig The Guardian. ’n Opname onder 1 001 volwassenes het getoon dat 33 persent dink dat die einde van die wêreld die gevolg van ’n wêreldoorlog sal wees, terwyl 26 persent dink dat die einde deur aardverwarming veroorsaak sal word. Ander spekuleer dat ’n botsing met ’n asteroïde die oorsaak sal wees. Trouens, 59 persent van diegene met wie ’n onderhoud gevoer is, “dink dat daar ’n groter moontlikheid is om die einde van die wêreld te sien as om die staatslotery te wen”, sê The Guardian. Waarom spekuleer mense so oor Armageddon? Mense word “waarskynlik beïnvloed deur die Millennium en die gevoel van verdoeming wat daarmee gepaardgaan”, sê die koerant.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel