‘Hierdie Ontwaak! is spesiaal vir ons geskryf’!
DIE voorbladartikels van die Ontwaak! van 22 September 1998 het die onderwerp “Alzheimer se siekte—Hoe om die pyn te verlig” bespreek. Baie lesers het hulle diepe waardering uitgespreek vir die nuttige wenke wat hierdie artikels bevat het. Hier is van hulle kommentare.
“Daar is meer as twee jaar gelede vasgestel dat my man Alzheimer se siekte het, en ek het sedertdien al baie oor die onderwerp gelees. Die Ontwaak! het die beste inligting gehad. Dit het alles wat ek al gelees het mooi saamgevat. Ons het eksemplare daarvan gegee aan die dokters en ander by die hospitaal waar my man ’n pasiënt is.”—M. L., Verenigde State.
“My ma is twee jaar gelede op 83-jarige ouderdom oorlede. Sy was sedert 1937 ’n getroue Getuie. Dit was pynlik om te sien hoe haar geheue en liggaam agteruitgaan. Dankie vir hierdie nuttige en bemoedigende inligting. Hierdie artikels sal van onskatbare waarde wees om lyers en hulle versorgers te help om ’n tragiese en skrikwekkende situasie te hanteer.”—D. C., Verenigde State.
“My ma en haar suster het volgens hulle dokter en ander gesondheidsdeskundiges Alzheimer se siekte, en daarom het ek die tydskrif vir my oom gestuur. Sy reaksie was: ‘Met behulp van die rekenaar het ek baie inligting oor AS [Alzheimer se siekte] gevind—soveel dat ek nie genoeg tyd het om alles deur te lees nie. Ek het die Ontwaak!-artikels oor AS wat jy gestuur het, gelees en ek kan eerlik sê dat hulle net die regte hoeveelheid inligting bevat, en dit is boonop op ’n verstaanbare manier geskryf! Gee jy om as ek dit vir ander in die gesin gee nadat ek dit weer gelees het?’”—B. E., Kanada.
“Ek is ’n vierdejaarstudent in verpleegkunde, en ek wil julle graag bedank vir julle reeks oor AS. Dit het baie van die jongste wenke bevat wat met ons lesings oor Gerontologie en Alzheimers ooreengestem het. Ek beplan om hierdie artikels te gebruik wanneer ek na my pasiënte omsien en ek hulle versorgers help.”—G. L., Verenigde State.
“My ma is op 18 Augustus 1998 oorlede. Ek het hierdie tydskrif daardie selfde week ontvang. AS is ’n baie pynlike siekte, veral aan die einde—nie net vir die slagoffers nie, maar ook vir hulle geliefdes. Die artikels het sonder twyfel bewys dat Jehovah sien wat ons deurmaak. Hoe waardeer ons tog sy liefdevolle sorg!”—M. S., Verenigde State.
“Ek wil julle van harte bedank vir hierdie artikels. Ek studeer om mense te help wat hierdie siekte het. Die inligting is regtig nuttig.”—T. N., Italië.
“My ouma, wat aan demensie ly, woon al die afgelope jaar saam met my. Sy het agteruitgegaan en het vyandig en uiters bitter teenoor my geword. Ek het gevoel asof ek my gesin en Jehovah in die steek gelaat het. Nadat ek julle artikels gelees het, kon ek sien waar ek foute gemaak het en hoe ek my benadering tot haar situasie moet verander. Ek sien nou hoe belangrik dit is om altyd haar beperkings in ag te neem.”—S. S., Verenigde State.
“Ek en my man was baie jare lank pioniers, oftewel voltydse evangeliedienaars. Ons was baie hartseer om daarmee op te hou, maar ons moes na my ma help omsien. Ek het ander boeke en artikels oor Alzheimer se siekte gelees, maar my hart is diep geraak toe nuttige inligting van Jehovah se organisasie gekom het. Ek sal hierdie artikels byderhand hou sodat ek hulle oor en oor kan lees.”—P. M., Verenigde State.
“Ek is 12 jaar oud. Die artikels oor Alzheimer se siekte was vir my interessant omdat my oupagrootjie aan hierdie siekte gely het, en ’n dierbare bejaarde Christensuster wat ek ken, het dit ook. Hierdie artikels het my gehelp om te sien wat ek kan doen, en dit het my gehelp om hierdie siekte beter te verstaan. Hoe bly sal ek tog wees wanneer die dag aanbreek wanneer “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie”! (Jesaja 33:24).—P. W., Verenigde State.
“Ek en my 15-jarige dogter het onmiddellik die hoofpunte van hierdie tydskrif bespreek. Die wenke om ’n vriendelike gesigsuitdrukking en ’n kalm stemtoon te hê, om die lyer sy waardigheid te laat behou deur nie foute reg te stel nie, ensovoorts, was veral nuttig. Ek wil graag hierdie tydskrif onder dagsorgwerkers versprei.”—J. K., Japan.
“Woorde kan nie beskryf hoe dankbaar ons gesin vir julle wonderlike artikels is nie. Toe my skoonma nie meer na haarself kon omsien nie, het ons haar na die Verenigde State gebring om by ons te kom woon. Sy was 80 jaar oud, en die verandering was ’n groot terugslag vir haar. Ons kon nie verstaan waarom haar toestand versleg het nie totdat ons die artikels in die Ontwaak! gelees het. Die deeglike verduideliking van hierdie siekte en hoe om die pasiënt te behandel, het baie vrae beantwoord wat selfs die dokters nie kon beantwoord nie. Baie dankie, en mag Jehovah voortgaan om julle pogings te seën om ons almal te help.”—O. S., Verenigde State.
“Ek wil julle graag bedank vir julle deeglike bespreking van hierdie onderwerp. Dit het op ’n tyd gekom toe ons ons ouma moes versorg. Ons gesin het gevoel dat hierdie Ontwaak! spesiaal vir ons geskryf is omdat dit ons vertroos en gehelp het toe ons dit nodig gehad het. Dankie vir sulke artikels. Hulle kom altyd op die regte tyd.”—R. N., Zambië.