Van ons lesers
Jesus se baard In julle reeks “Jesus—Hoe het hy werklik gelyk? Wat is hy nou?” (8 Desember 1998) gee julle illustrasies te kenne dat Jesus ongehoorsaam was aan die wet in Levitikus 19:27 (NW): “Julle mag julle sylokke nie rondom kort afknip nie, en jy mag die rand van jou baard nie vernietig nie.” Waarom word hy nie in julle illustrasies met ongeknipte sylokke uitgebeeld nie?
C. S., Engeland
Hierdie wet is blykbaar gegee om te voorkom dat die Jode sekere heidense gebruike volg deur hulle baard of hare op ’n sekere manier te knip. Maar God se bevel het nie beteken dat die Jode glad nie hulle baard of gesighare kon knip nie. Die verslag in 2 Samuel 19:24 (NW) toon dat Joodse mans gewoonlik hulle gesighare “versorg”, of geknip, het. Die heersende gebruik het waarskynlik bepaal hoe kort hulle dit geknip het. Argeologiese getuienis toon dat die Jode deur die eeue heen ’n verskeidenheid baardstyle gedra het. Ons kunstenaarsvoorstellings van Jesus met ’n kort, versorgde baard en geknipte sylokke is dus in harmonie met die getuienis.—RED.
Asteroïdebotsing In die nommer van 22 Januarie 1999 was daar ’n artikel met die titel “Asteroïdes, komete en die aarde—Stuur hulle op ’n botsing af?” Baie dankie vir hierdie artikel. Dit het ’n geloofwaardige verduideliking gegee van die moontlike bedreigings vir die aarde. Danksy Jehovah was daar nog geen rampe nie. Ek het die openhartigheid en eerlikheid van die artikel waardeer.
O. R., Finland
Eetversteurings Julle het letterlik my lewe gered met die reeks van 22 Januarie 1999 “Wat sit agter eetversteurings?” Ek het 20 jaar gelede ’n ernstige probleem hiermee gehad. Gedurende die laaste tien jaar was my gewig normaal. Maar ek het onlangs aan depressie gely en vyf kilogram in 16 dae verloor. Ek het begin stik elke keer wat ek iets probeer eet het. Ek was werklik bang vir wat uiteindelik met my sou gebeur. Die artikels het my gehelp om ernstig oor my situasie na te dink en het my vasbeslote gemaak om behoorlike voeding te kry. Ek wil julle uit die diepte van my hart bedank vir julle liefdevolle artikels.
P. M., Verenigde State
Toe ek hierdie artikels gelees het, het ek trane in my oë gekry. Dit was asof dit net vir my geskryf is. Dit het my hart geraak en het my gehelp om te verstaan dat ek van hierdie siekte sal herstel as ek aanhou om op Jehovah te vertrou.
G. G., Puerto Rico
Ek is 14 jaar oud en wil baie dankie sê vir die artikels oor eetversteurings. Ek was in die vroeë stadiums van bulimie. Ek het nie geweet wat om te doen nie, want selfs boeke oor die probleem het my nie gehelp nie. My ouers het gesien wat met my gebeur en het met my oor die artikels gesels. Baie dankie.
N. H., Duitsland
Omtrent ’n jaar en ’n half gelede het ek aan bulimie gely. Ek het gedink ek is vet, al was ek glad nie oorgewig nie. Ek het geweet dat eetvergryping en maaglediging verkeerd is, maar ek kon nie ophou nie. Met Jehovah se hulp en met die aanmoediging van goeie vriende het ek beter geword. Hierdie artikels het my regtig gehelp. Ek sien ek is nie die enigste een wat hierdie probleme gehad het nie.
M. R., Engeland
Ek het die Bybel vir twee jaar saam met Jehovah se Getuies gestudeer, maar het as gevolg van depressie opgehou. Ek ly aan bulimie. Aangesien ek voordurend mediese sorg ontvang, is ek van plan om hierdie tydskrif onder my dokters en medepasiënte te versprei. Ek hoop om weer my Bybelstudie voort te sit.
V. K., Tsjeggiese Republiek