Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 9/22 bl. 20-23
  • “Julle dogter het diabetes!”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Julle dogter het diabetes!”
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • In die hospitaal
  • ’n Tyd van aanpassings
  • Hoe gaan dit nou met ons?
  • Die uitdagings van behandeling
    Ontwaak!—2003
  • Diabetes—Kan jy die gevaar verminder om dit te kry?
    Ontwaak!—2014
  • Suikersiekte—“Die stille doder”
    Ontwaak!—2003
  • Hoe die Bybel suikersiektelyers kan help
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 9/22 bl. 20-23

“Julle dogter het diabetes!”

DIE impak van daardie woorde van die dokter sal nie gou vergeet word nie. My dogter, Sonya, was toe tien jaar oud. Sy was die toonbeeld van gesondheid, vol energie—soms het sy selfs te veel energie gehad. Die laaste keer wat sy vir ’n siekte behandel is, was toe sy vyf was.

Maar die dae net voor hierdie besoek aan die dokter was moeilik. Sonya het nie gesond gelyk nie. Sy was baie dors, en wanneer sy iets gedrink het, moes sy amper onmiddellik na die badkamer gaan—soms elke 15 minute. Snags het sy ten minste drie keer opgestaan. Aanvanklik het ek haar simptome probeer wegpraat—dit was net ’n blaasinfeksie, en sy sou weer gesond raak. Maar ná ’n paar dae het ek gedink dat sy waarskynlik antibiotika nodig het om van die infeksie ontslae te raak.

Dit is toe dat ek haar na die dokter geneem het. Ek het verduidelik wat ek gedink het haar makeer. Hy het ’n urinemonster gevra, en ek het opgelet dat die urine in die houertjie vol fragmente was, amper soos klein sneeuvlokkies. Die verpleegster het dit ook opgelet. Hulle vermoede is deur ’n eenvoudige bloedtoets bevestig. Sy het Tipe 1-diabetes gehad.

Sonya het verstaan wat dit beteken het. Al was sy net tien jaar oud het sy by die skool van diabetes geleer. Die vrees en verslaenheid wat ek gevoel het, kon ook op haar gesig gesien word. Die dokter het gesê dat sy vinnig by ’n hospitaal moes kom om verdere gevaar te vermy. Hy het reëlings getref om haar in die waakeenheid van ’n hospitaal in Portland, Oregon, VSA, te laat opneem. Sonya was verskriklik kwaad omdat dit met haar moes gebeur. Sy wou nie van inspuitings afhanklik wees om haar aan die lewe te hou nie. Sy het gehuil en het bly vra waarom dit so moes wees. Dit was baie moeilik vir my om my eie gevoelens onder beheer te hou. Toe kon ek eenvoudig nie meer nie. Daar sit ons toe langs mekaar in die wagkamer en huil terwyl ons Jehovah smeek om ons hierdeur te help.

In die hospitaal

Die dokter het my toegelaat om Sonya huis toe te neem om ’n paar dingetjies te kry, en ek het my man, Phil, gebel en gereël dat iemand ons seun, Austin, by die skool gaan haal. Binne ’n uur was ek en my man by die hospitaal met Sonya. Hulle het onmiddellik begin om vloeistowwe binneaars toe te dien sodat die oortollige suiker en ketone uit haar bloed gespoel kon word.a Dit was nogal ’n gedoente. Sonya het weens ontwatering drie kilogram verloor. Gevolglik was dit moeilik om haar are te vind. Die verpleegster het dit uiteindelik reggekry om een te vind, en dinge het bedaar—vir die oomblik. Hulle het ons ’n groot boek en baie ander papiere gegee wat ons moes lees en verstaan voordat ons toegelaat sou word om Sonya huis toe te neem.

Daar was ’n aanhoudende stroom dokters, verpleegsters en dieetkundiges. Ons is geleer hoe om ’n spuitnaald te gebruik en om Sonya die twee insulieninspuitings te gee wat sy voortaan elke dag nodig sou hê. Ons is geleer hoe om die bloedtoets te doen wat Sonya vier keer ’n dag sou moes doen om haar bloedsuikervlakke te kontroleer. Daar was soveel inligting om in te neem! Ons moes ook leer watter kossoorte sy kan eet. Sy sou kosse met ’n hoë suikerinhoud moes vermy, en nie alleen sou elke maaltyd behoorlik gebalanseerd moes wees vir haar groeiende liggaam nie, maar dit sou ook presies die regte hoeveelheid koolhidrate moes bevat.

Binne drie dae is sy uit die hospitaal ontslaan. Sy het my toegelaat om haar in te spuit, maar sy het haar eie bloedtoetse gedoen. Binne ’n maand wou sy self die insulieninspuitings doen, en sy het dit sedertdien nog altyd gedoen. Dit was wonderlik om te sien hoe sy hierdie siekte aanvaar het en geleer het om daarmee saam te lewe. Aan die begin wou sy liewer sterf en in die Paradys wakker word, maar nou is sy bewus van haar liggaam en gevoelens en beperkings en is sy in staat om te sê wanneer sy hulp nodig het.

’n Tyd van aanpassings

Die eerste paar maande was baie moeilik. Elke gesinslid moes ’n verskeidenheid gevoelens verwerk. Ek het soveel probeer doen dat dit die punt bereik het waar ek net gevoel het ek wou wegkom. Die strawwe roetine was vir my die ergste, veral wanneer dit met Christelike vergaderinge en ons predikingswerk gebots het—om nie eens van die daaglikse skoolroetine en vakansies te praat nie. Maar deur baie gebede het ek en my man geleer om van dag tot dag te lewe en het ons ons nuwe verantwoordelikhede begin aanvaar.

Ons het ’n wonderlike dokter gevind wat in endokrienkunde spesialiseer, en hy is altyd beskikbaar om ons met ons probleme te help en bly selfs deur middel van E-pos met ons in aanraking. Ons besoek hom gereeld as deel van ons roetine. Wanneer ons hom elke drie maande besoek, bly ons nie net op hoogte van Sonya se toestand nie, maar dit verseker ons ook dat ons alles doen wat ons kan.

Soos ’n mens kon verwag, was dit vir ons seun moeilik om te aanvaar dat sy suster soveel aandag kry. Ander in die gemeente sowel as sy onderwyseres by die skool het dit raakgesien en hom gehelp om besig te bly en te sien dat aanpassings nodig is. Nou help hy baie om ’n ogie oor Sonya te hou. As haar ouers was ons soms geneig om oorbeskermend en te bekommerd oor haar welsyn te wees. Ons het gevind dat die beste manier om hierdie vrese te vermy, is om navorsing oor die siekte te doen en te leer wat dit eintlik aan die liggaam kan doen.

Hoe gaan dit nou met ons?

Ons praat dikwels oor Jehovah se beloftes en oor die tyd wat binnekort gaan aanbreek wanneer siekte net ’n vae herinnering sal wees (Jesaja 33:24). Tot dan is dit ons doel as ’n gesin om besig te bly in ons diens aan Jehovah en soveel as moontlik te doen in die werk om met ander oor die seëninge van God se Koninkryk te praat. Ons probeer ook ons bes om gereeld by gemeentelike vergaderinge te wees.

’n Paar jaar gelede is my man ’n tydelike, sekulêre werk in Israel aangebied. As gevolg van Sonya se mediese situasie het ons die skuif versigtig oorweeg en daaroor gebid. Ons het besluit dat so ’n skuif dalk selfs geestelike seëninge kon meebring as ons goed daarvoor voorberei, wat sou insluit dat ons die regte dieet vir Sonya moes vind. Ons het ’n jaar en ’n half lank die voorreg gehad om ’n deel van die Engelse gemeente in Tel Aviv te wees. Ons het ’n heeltemal ander vorm van velddiens geniet, en dit was ’n ondervinding waaruit ons gesin baie geleer het.

Die paar eenvoudige woorde “Julle dogter het diabetes!” het ons lewe drasties verander. Maar pleks van moed op te gee, het ons die fisiese welsyn van ons dogter ’n gesinsprojek gemaak, en dit het ons selfs nader aan mekaar laat kom. Jehovah, “die God van alle vertroosting”, het ons gehelp om te volhard (2 Korintiërs 1:3).—Soos vertel deur Cindy Herd.

[Voetnoot]

a “Onbehandelde diabetes lei tot ketose, die ophoping van ketone, verbrandingsprodukte van vet in die bloed; dit word gevolg deur asidose (ophoping van suur in die bloed) wat met naarheid en vomering gepaardgaan. Namate gifstowwe opbou as gevolg van ’n versteurde koolhidraat- en vetmetabolisme, gaan die pasiënt in diabetiese koma.”—Encyclopædia Britannica.

[Venster op bladsy 21]

Wat is diabetes?

Ons liggaam sit die kos wat ons eet om in energie wat ons kan gebruik. Hierdie funksie is so noodsaaklik soos om asem te haal. In die maag en ingewande word kos afgebreek in eenvoudiger elemente, insluitende ’n soort suiker, glukose. Die pankreas reageer op die suiker deur insulien te vervaardig, wat die suiker help om in die liggaamselle opgeneem te word. Dan kan die suiker verbrand word vir energie.

Wanneer iemand diabetes het, vervaardig sy pankreas nie genoeg insulien nie of sy liggaam maak nie goed gebruik van insulien nie. Gevolglik kan die suiker in die bloedstroom nie deur die liggaamselle opgeneem word om gebruik te word nie. Die boek Understanding Insulin Dependent Diabetes verduidelik: “Die bloedsuiker styg dan tot ’n hoë vlak en word deur middel van die niere in die urine afgeskei.” Diabete wat nie behandel word nie, kan vind dat hulle baie urineer en ook ander simptome het.

[Venster op bladsy 21]

Tipe 1-diabetes

Hierdie soort diabetes het voorheen as juveniele diabetes bekend gestaan, omdat dit die soort is wat meestal onder kinders en jong volwassenes voorkom. Maar mense van enige ouderdom kan dit kry. Hoewel die oorsaak van diabetes onbekend is, is daar verskeie faktore wat party meen met Tipe 1-diabetes verband hou:

1. Erflikheid (geneties)

2. Outo-immuniteit (die liggaam word allergies vir een van sy eie weefsels of tipe selle—in hierdie geval in die pankreas)

3. Omgewingsfaktore (virusse of chemiese stowwe)

Dit is moontlik dat virusinfeksies en ander faktore die eilandselle (die groepe selle binne die pankreas waar die insulien vervaardig word) beskadig. Namate al hoe meer eilandselle vernietig word, vergroot die gevaar dat iemand diabetes sal ontwikkel.

Diabete het ’n aantal simptome:

1. Hoë urienfrekwensie

2. Intense dors

3. Is dikwels honger; die liggaam soek die energie wat dit nie kry nie

4. Gewigsverlies. Wanneer die liggaam nie suiker in sy selle kan opneem nie, verbrand dit sy eie vette en proteïene vir energie, wat tot gewigsverlies lei

5. Prikkelbaarheid. As die diabeet gereeld snags opstaan om te urineer, kan hy nie goed slaap nie. Dit kan tot gedragsveranderinge lei

In Tipe 1-diabetes vervaardig die pankreas min of geen insulien nie. In sulke gevalle moet insulien daagliks geneem word, gewoonlik deur middel van ’n inspuiting (insulien word in die maag vernietig as dit deur die mond ingeneem word).

[Venster op bladsy 21]

Tipe 2-diabetes

Dit moet nie met Tipe 1-diabetes verwar word nie en is ’n toestand waarin die liggaam nie genoeg insulien vervaardig nie of dit nie reg gebruik nie. Dit is die algemeenste soort onder volwassenes bo 40 en ontwikkel gewoonlik geleideliker. Oorerflikheid speel ’n rol by hierdie siekte, en dit word dikwels vererger deur ’n verkeerde dieet of oorgewig. In baie gevalle kan pille, ten minste in die begin, gebruik word om die pankreas te stimuleer om meer insulien te vervaardig. Die pille is nie insulien nie.

[Venster op bladsy 22]

Gevare van diabetes

Die liggaam het brandstof nodig om dit aan die gang te hou. As dit nie glukose kan gebruik nie, begin dit liggaamsvette en -proteïene afbreek. Maar wanneer die liggaam vet verbrand, word afvalprodukte wat ketone genoem word, gevorm. Ketone bou op in die bloed en word in die urine afgeskei. Omdat hierdie ketone meer suur as gesonde liggaamsweefsel bevat, kan hoë ketoonvlakke in die bloed tot ’n ernstige toestand lei wat ketoasidose genoem word.

Dit is ook gevaarlik vir ’n diabeet wanneer sy bloedsuiker tot onder die normale vlak daal (bloedsuikertekort). Die diabeet ondervind onaangename simptome wat hom bewus maak van hierdie toestand. Hy voel dalk bewerig, sweterig, moeg, honger, prikkelbaar of verward, sy hartklop is moontlik vinnig, hy het dalk dowwe sig, hoofpyne, gevoelloosheid of ’n tinteling om die mond en lippe. Hy kan selfs stuipe kry of flou word. Die regte dieet en vaste etenstye kan dikwels sulke probleme voorkom.

As die simptome voorkom wat hierbo genoem word, kan die inname van eenvoudige suikers, miskien vrugtesap of glukosepilletjies, die bloedsuiker tot ’n veiliger vlak herstel tot ander kos geëet kan word. In ernstige gevalle moet glukagon deur middel van ’n inspuiting toegedien word. Dit is ’n hormoon wat die vrystelling bevorder van suiker wat in die lewer gestoor word, wat die bloedsuikervlak sal verhoog. As jy ’n ouer met ’n diabetiese kind is, sal dit goed wees om sy skool en busbestuurder of dagsorgsentrum van sy toestand in kennis te stel.

[Venster op bladsy 22]

Langtermynkomplikasies

’n Persoon met diabetes sal moontlik langtermynkomplikasies ondervind, soos ’n hartaanval, beroerte, oogprobleme, niersiekte, voet- of beenprobleme en sal dikwels infeksies kry. Hierdie komplikasies word veroorsaak deur beskadigde bloedvate en senuwees, asook die onvermoë om infeksies te beveg. Nie alle diabete ontwikkel egter hierdie langtermynprobleme nie.

As die bloedsuikervlak na aan normaal gehou word, kan die skadelike gevolge van hierdie komplikasies vertraag of verminder word. Daarbenewens kan die risiko’s doeltreffend verminder word as ’n mens jou gewig en bloeddruk normaal hou en nie rook nie. Die diabeet moet baie oefen, reg eet en aanhou om sy voorgeskrewe medikasie te gebruik.

[Prent op bladsy 23]

Die Herd-gesin

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel