Gesondheid het wêreldwyd verbeter, maar nie vir almal nie
VOLGENS The World Health Report 1998, wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) vrygestel is, geniet mense regoor die wêreld gesonder, langer lewens. Die verslag gee ’n paar voorbeelde.
Meer mense as ooit tevore het toegang tot sanitêre geriewe, veilige waterbronne en minimum gesondheidsorg. Daarbenewens is die meeste van die wêreld se kinders nou teen die ses groot kindersiektes geïmmuniseer.a Dit het bygedra tot ’n afname in die aantal kindersterftes. Terwyl 21 miljoen kinders onder die ouderdom van vyf in 1955 gesterf het, het daardie syfer tot ongeveer 10 miljoen in 1997 gedaal. Intussen was daar in onlangse dekades in verskeie nywerheidslande ’n dramatiese vermindering in die sterftes wat deur hartsiekte veroorsaak is.
Die verslag voeg egter by dat almal beslis nie beter gesondheid geniet nie. HIV/vigs is steeds ’n dodelike bedreiging. Vigs, wat voor 1981 onbekend was, het sedert die epidemie begin het ongeveer 11,7 miljoen lewens geëis. En geen verligting is in sig nie. In 1996 is 400 000 kinders onder die ouderdom van 15 met HIV besmet. In 1997 was die aantal nuwe gevalle van besmetting in dieselfde ouderdomsgroep byna 600 000.
Armoede nog steeds ’n gesondheidsgevaar
Dit is veral die honderdmiljoene mense wat in armoede vasgevang is wie se gesondheid weinig verbeter het. Hulle lewe hoofsaaklik in arm lande waar siekte ’n swaar las is, die vooruitsigte sleg is en die lewe kort is. Dr. Hirosji Nakadjima, voormalige direkteur-generaal van die WGO, sê: “Die kloof tussen die gesondheidstatus van die rykes en armes is ten minste so wyd soos dit ’n halfeeu gelede was.” Ongelukkig word hierdie kloof selfs wyer, sê een WGO-deskundige, omdat “ontwikkelende lande deur ’n dubbele slag getref word. Hulle het nie net met nuwe moderne chroniese siektes te kampe nie, maar ook met die oorblywende tropiese siektes.”
En tog is vooruitgang nie onmoontlik nie. Trouens, baie van die miljoene ontydige sterfgevalle is reeds voorkombaar. Byvoorbeeld, “ten minste 2 miljoen kinders sterf elke jaar aan siektes waarvoor daar entstowwe is”, sê dr. Nakadjima. Hy het daarop gewys dat die kloof in die vlak van gesondheid tussen die rykes en die armes oorbrug moet word en gesê: “Dit is tyd om te besef dat gesondheid ’n saak is wat die hele wêreld raak.” Die wêreld het ’n dringende behoefte aan “internasionale samewerking vir gesondheid, wat op maatskaplike geregtigheid, billikheid en eenheid gebaseer is”.
Hoewel dit dalk nog lank sal neem om hierdie samewerking tot stand te bring, kan elke land reeds baie doen om die gesondheid van sy bevolking te verbeter, sê The World Health Report 1998. Hoe? Deur sy mense op te voed om “lewensvaardighede en gesonde lewenswyses” aan te kweek wat siektes voorkom of verminder. Die WGO se Grondwet stel dit so: “Ingeligte mening en aktiewe samewerking aan die kant van die publiek is van die allergrootste belang vir die verbetering van gesondheid.”
[Voetnoot]
a Hierdie ses kindersiektes is masels, polio, tuberkulose, witseerkeel, pertussis (kinkhoes) en klem-in-die-kaak by pasgebore babas.