Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 9/22 bl. 24-25
  • Standvastig gedurende die Nazi-besetting van Nederland

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Standvastig gedurende die Nazi-besetting van Nederland
  • Ontwaak!—1999
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Slagtingsgedenkmuseum en Jehovah se Getuies
    Ontwaak!—1993
  • Moedige handhawers van onkreukbaarheid seëvier oor Nazi-vervolging
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Sigbare bewyse van die Slagting
    Ontwaak!—1993
  • Kan die Slagting weer plaasvind?
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 9/22 bl. 24-25

Standvastig gedurende die Nazi-besetting van Nederland

DIE Verenigde State se Slagtingsgedenkmuseum (VSSGM) stel die wêreld se grootste versameling artefakte en films ten toon wat bewyse voorsien van die misdade wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog deur die Nazi’s gepleeg is. Die museum het in 1993 sy deure vir die publiek geopen, en sedertdien het sowat 12 miljoen besoekers hierdie toenemend gewilde uitstalling in Washington, DC, besigtig.

Die museum vertoon ook dokumentasie van die wrede vervolging wat Jehovah se Getuies onder die Nazi-bewind verduur het. Benewens die beperkte permanente uitstallings het die VSSGM ’n reeks spesiale programme oor Jehovah se Getuies aangebied. Hierdie programme het spesifieke voorbeelde van volharding en onkreukbaarheid deur Jehovah se Getuies beklemtoon. Op 8 April 1999 het die museum ’n spesiale program gereël met die titel “Jehovah se Getuies in Nederland gedurende die Nazi-besetting”. Dit is in die museum se twee groot ouditoriums aangebied.

Die program het begin met inleidingskommentare deur me. Sara Jane Bloomfield, uitvoerende direktrise van VSSGM. Me. Bloomfield het haar opregte belangstelling in die verhaal van Jehovah se Getuies uitgespreek. In ’n onderhoud met Ontwaak! het sy verduidelik dat groot moeite gedoen word om die publiek meer bewus te maak van die onkreukbaarheid van Jehovah se Getuies gedurende vervolging. “Geleenthede soos dié”, het sy gesê, “word op dieselfde manier geadverteer as alle ander belangrike programme wat by die museum aangebied word.”

Verskeie geskiedkundiges was daardie aand teenwoordig en het aan die program deelgeneem. Een van hulle was dr. Lawrence Baron, ’n professor van moderne Duitse en Joodse geskiedenis aan die Staatsuniversiteit van San Diego. In sy toespraak het dr. Baron gesê dat “dit bewonderenswaardig is dat Jehovah se Getuies enige samewerking met die Derde Ryk weerstaan het”. Hy het gesê dat die Getuies “hulle geloof in God bo die eise van die Nazi-staat gestel het. Hulle het die leierskapskultus van Hitler as ’n sekulêre vorm van aanbidding beskou en geweier om sy vergoddeliking te ondersteun deur die Nazi-saluut te gee of ‘Heil Hitler’ te sê. . . . Hulle het geweier om militêre diens te doen omdat God hulle beveel het om hulle naaste lief te hê en nie ander mense dood te maak nie . . . Toe die Derde Ryk hulle verbied het om te vergader, was die tipiese reaksie van die Getuies: ‘Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.’” As gevolg hiervan is baie Getuies van etlike Europese lande na konsentrasiekampe toe gestuur, gemartel en selfs tereggestel.

Die VSSGM het Nederlandse navorsers en ’n groep oorlewendes van die Slagting genooi om voorbeelde aan te haal van die Nazi-vervolging van Jehovah se Getuies in Nederland. Op 29 Mei 1940, kort ná die Nazi’s Nederland beset het, is die werk van die ongeveer 500 Jehovah se Getuies in daardie land verbied. Gedurende die daaropvolgende maande is honderde Getuies in hegtenis geneem. Die owerheid het die name van ander Getuies probeer kry deur diegene wat in hegtenis geneem is te martel. Teen die einde van die oorlog was meer as 450 Getuies in hegtenis geneem. Van hulle het meer as 120 as ’n regstreekse gevolg van die vervolging gesterf.

’n Nederlandse navorser het verduidelik dat die Nederlandse takkantoor van die Wagtoringgenootskap in sy argief “meer as 170 onderhoude op video en 200 geskrewe lewensverhale van Jehovah se Getuies in Nederland het wat die Slagting oorleef het. Dit alles toon dat die Getuies deur liefde vir God en hulle naaste beweeg is.”

Verskeie sprekers het die feit beklemtoon dat die meeste van Jehovah se Getuies, anders as ander groepe wat deur die Nazi’s vervolg is, vrygelaat kon word as hulle bloot ’n verklaring onderteken het wat gesê het dat hulle afstand doen van hulle geloof. Die sprekers sowel as diegene met wie onderhoude gevoer is, het verduidelik dat die oorgrote meerderheid Getuies nietemin ’n beredeneerde en goed ingeligte keuse gemaak het om eerder vervolg te word as om hulle geloof prys te gee. ’n Paar individue het dit onderteken omdat hulle hulle verbintenis met Jehovah se Getuies wou verbreek.

Daar was party wat die verklaring onderteken het omdat hulle verward was. Dit was nooit hulle bedoeling om hulle vorm van aanbidding te verlaat nie. ’n Paar het gemeen dat dit nie sedelik verkeerd is om hulle vervolgers te mislei sodat hulle vrygelaat kon word en weer hulle predikingswerk kon voortsit nie. Die een of ander tyd ná hulle vrylating het hulle besef dat dit verkeerd was om die verklaring te onderteken, ongeag wat hulle beweegredes was.

Hulle oordeelsfout het nie tot verwerping gelei nie. Toe hulle na hulle huise en gemeentes teruggekeer het, het hulle geestelike hulp ontvang. ’n Brief van die Nederlandse takkantoor van die Wagtoringgenootskap, gedateer Junie 1942, het die Getuies in daardie land aangemoedig om die omstandighede te verstaan wat daartoe gelei het dat party die verklaring onderteken het en om barmhartigheid aan hulle te bewys. Hoewel die Nazi’s nog steeds die land beset het, het hierdie voormalige gevangenes gou weer aan die predikingswerk begin deelneem, en dit ten spyte van groot gevaar. Party is ’n tweede keer in hegtenis geneem. Een van hulle is selfs tereggestel omdat hy geweier het om aan militêre bedrywighede deel te neem.

Ondanks baie lyding en jare van spanningsvolle, gevaarlike ondergrondse werk het die aantal Getuies van Jehovah in Nederland toegeneem van sowat 500 in 1940 tot meer as 2 000 toe die Nazi-bewind in 1945 tot ’n einde gekom het. Hulle moed en vasbeslotenheid om God te gehoorsaam, dien tot vandag toe as ’n groot getuienis.

[Prent op bladsy 25]

Navorsers het die vergadering toegespreek

[Prent op bladsy 25]

’n Onderhoud met Nederlandse oorlewendes van die Slagting

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel