Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 9/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Besmette bloeiers kry skadevergoeding
  • Dodelike choleraepidemie
  • Verwaarloosde harte
  • Mans minder vrugbaar
  • ’n “Onsigbare siekte”
  • Griep nog steeds dodelik
  • Die koningvlinder word bedreig
  • Groter bewustheid van kindermolestering?
  • Motormanie
  • Onderwyskrisis
  • Bloeiers ontvang besmette bloed
    Ontwaak!—1994
  • Cholera-epidemie—’n dagboek uit Wes-Afrika
    Ontwaak!—1991
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1991
  • Die wêreldwye gesondheidsituasie—’n groeiende gaping
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 9/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Besmette bloeiers kry skadevergoeding

Die Siviele Hof van Rome het die Italiaanse Departement van Gesondheid aangekla weens “versuim om waaksaam te wees en toesig te hou”, asook “versuim om [besmette] produkte onmiddellik te onttrek” en het hulle beveel om skadevergoeding te betaal aan 385 bloeiers wat hepatitis of die vigs-virus deur besmette bloedprodukte gekry het. ’n Derde van hulle het alreeds gesterf. Volgens die prokureur Mario Lana, president van die Italiaanse Forensiese Vereniging vir die Beskerming van Menseregte, “is hierdie vonnis ’n erkenning dat daar ’n presiese oorsaaklike verband is tussen die nalatige en onverstandige optrede van die Italiaanse regering en die skade wat die bloeiers gely het”. In Italië het sowat 2 000 bloeiers die vigs-virus gekry, en byna 5 000 het hepatitis C opgedoen. Daar is al 1 246 Italianers oorlede omdat hulle hierdie besmette bloedprodukte ontvang het.

Dodelike choleraepidemie

In Februarie het ’n dodelike choleraepidemie die stadsraad van Lusaka, Zambië, genoodsaak om “die verkope van alle vars voedsel op straat” te verbied, berig die Times of Zambia. Hotelle en restaurante is boonop onder “24 uur-waarneming [geplaas], aangesien die dodetal weens cholera in die hoofstad tot 42 gestyg het”, sê die berig. Gesondheidsbeamptes het hulle kommer uitgespreek omdat die diarreesiekte ook “aangehou het om in ander dele van die land toe te neem”. Om die probleem op te los, het amptenare van die Departement van Gesondheid en Onderwys ’n cholera-taakmag op die been gebring om meer vullisverwyderaars aan te stel en om vlak putte, wat maklik deur grondwater besoedel kan word, met chloor te behandel. Daniel M’soka, ’n woordvoerder vir die stadsraad van Lusaka, het gesê: “Ons doel is om die choleraplaag te bekamp.”

Verwaarloosde harte

“Pleks dat Kanadese vroue stappe doen om hulle gesondheid te verbeter, verwaarloos hulle hulle hart verskriklik”, sê die koerant National Post. ’n Onlangse opname onder 400 Kanadese vroue tussen die ouderdomme van 45 en 74, wat deur die Kanadese Hart- en Beroertestigting geborg is, het bevind dat “net 30% ’n gesonde gewig gehandhaaf het, 36% fisies aktief was en 74% gesê het dat hulle gespanne is weens al die pligte wat hulle nou gelyktydig moet behartig”. Die stigting se woordvoerster, Elissa Freeman, het tot die gevolgtrekking gekom dat “vroue beter na die man in hulle lewe omsien as na hulleself”. Volgens die verslag “is hartsiekte en beroerte die oorsaak van 40% van die sterfgevalle onder vroue—meer as 41 000 elke jaar”.

Mans minder vrugbaar

“Die gemiddelde spermtelling van mans in die Verenigde State en Europa het sedert die laat dertigerjare met meer as 50 persent verminder”, berig die tydskrif World Watch. “Die bevinding dra verder by tot voortgesette kommer dat die manlike voortplantingsgesondheid besig is om agteruit te gaan en dat omgewingsbesoedelstowwe moontlik die oorsaak is.” Hierdie gevolgtrekking is gebaseer op 61 studies wat sedert 1938 gepubliseer is en waarby meer as 14 000 deelnemers betrokke was. Sekere chemiese stowwe in die omgewing ontwrig vermoedelik die liggaam se endokriene stelsel en belemmer die vermoë daarvan om groei, ontwikkeling en voortplanting te beheer. Daar is ongeveer 60 chemiese stowwe wat sulke ontwrigting veroorsaak. Maar “baie min van die geraamde 80 000 sintetiese chemikalieë wat vandag gebruik word, is getoets vir uitwerkings wat die endokriene stelsel ontwrig”, sê World Watch.

’n “Onsigbare siekte”

“Na raming het 15 tot 18 miljoen kinders in ontwikkelende lande hoë loodvlakke in hulle bloed”, berig die Omgewingsnuusdiens. In Indië is daar byvoorbeeld ’n verband gevind tussen kinders se intellektuele vermoë en die hoeveelheid lood wat hulle ingeneem het. Volgens dr. Abraham George “verloor [kinders] hulle intellektuele vermoëns . . . aangesien langdurige blootstelling aan lood hulle brein beïnvloed”, berig The Indian Express. Die hoofbron van loodvergiftiging in Indiese stede is motors wat nog steeds loodhoudende petrol gebruik. Omdat loodvergiftiging betreklik min aandag geniet het in vergelyking met probleme soos armoede en honger, noem dr. George dit ’n “onsigbare siekte”.

Griep nog steeds dodelik

Meer as 300 vooraanstaande griepdeskundiges het onlangs by die hoofkwartier van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) in Genève, Switserland, bymekaargekom om te bespreek hoe die dodelike siekte bestry moet word. Ten spyte van groot vooruitgang oor die afgelope 50 jaar is griep nog steeds die oorsaak dat honderdduisende mense per jaar sterf, berig die Verenigde Nasies se Departement van Openbare Inligting. Om griep beter te voorkom en te beheer, gaan die WGO ’n plan publiseer wat ontwerp is om mense te help voorberei op wat die organisasie “’n moontlike grieppandemie” noem. Die direkteur-generaal van die WGO, dr. Gro Harlem Brundtland, het gesê: “Ons het dalk baie min tyd om op te tree—van die eerste identifikasie van ’n nuwe virus tot die begin van ’n grootskaalse pandemie.”

Die koningvlinder word bedreig

Elke herfs migreer miljoene koningvlinders meer as 3 200 kilometer van Kanada af na Kalifornië en die Sierra Madre-berge van Sentraal-Mexiko waar hulle oorwinter. Maar die koningvlinder se toevlugsoorde in Mexiko is in die laaste tyd bedreig deur erosie en die onwettige afkappery van die oyamel-denneboom (’n boom van die Abietaceae-familie). Gevolglik “het die aantal koningvlinders wat hier oorwinter oor die afgelope twee jaar met 70 persent verminder”, berig The News van Mexikostad. Hoewel toerisme vir sommige van die plaaslike inwoners ’n inkomste bied, voer ander ’n bestaan deur snags vragmotorsvol van die beskermde bome weg te neem. “As die vernietiging voortgaan”, sê The News, “kan Noord-Amerika in die somer moontlik geen koningvlinders hê nie.”

Groter bewustheid van kindermolestering?

Volgens El Universal, ’n koerant van Caracas, het die persentasie van kinders in Venezuela wat seksueel gemolesteer is, toegeneem van 1 uit elke 10 kinders in 1980 tot 3 uit elke 10 kinders vandag. In 1980 was die gemiddelde ouderdom van ’n gemolesteerde kind tussen 12 en 14. Vandag is die meerderheid jonger as drie jaar. Veral wie pleeg sulke afskuwelike misdade? Die idee dat hulle onderduimse vreemdelinge is wat by skole se speelterreine skuil en wag om kinders met lekkers te probeer weglok, is eenvoudig onrealisties. El Universal verduidelik dat 70 persent van die oortreders familielede of vriende van die gesin is. Meer as die helfte van hierdie syfer is stiefouers, en die res is gewoonlik iemand in ’n gesagsposisie, soos ’n ouer broer, ’n neef of ’n onderwyser.

Motormanie

Volgens die Amerikaanse Motorvervaardigersvereniging het die Verenigde State onlangs die honderdmiljoenmerk in die vervaardiging van motorvoertuie bereik. “Dit het 25 jaar geneem om die eerste miljoen motors te vervaardig”, berig die tydskrif Compressed Air. Maar vandag “word hulle vervaardig teen ’n tempo van 30 passasiersmotors en tien vragmotors en busse per minuut van elke werksdag”. As jy monteerfabrieke, onderdeelfabrieke, verkoops- en dienspersoneel en professionele voertuigbestuurders in ag neem, werk ongeveer 1 uit elke 7 salaristrekkers by die motorbedryf in die Verenigde State. Na raming is daar tans ongeveer 40 miljoen voertuie in die Verenigde State in gebruik.

Onderwyskrisis

“Die ontwikkelende wêreld het voor ’n onderwyskrisis te staan gekom met 125 miljoen kinders, meestal meisies, wat nie skoolgaan nie en ’n verdere 150 miljoen wat skool verlaat voordat hulle kan lees of skryf”, berig Engeland se News Unlimited. Tans is 1 uit elke 4 volwassenes, oftewel 872 miljoen mense, in ontwikkelende lande ongeletterd. Daarbenewens word die onderwyskrisis vererger wanneer lande met hoë ongeletterdheidsyfers geld by ryker lande leen. Waarom? Omdat geld wat broodnodig is vir die onderwys dikwels gebruik word om skuld te vereffen. Sodoende word die kringloop van ongeletterdheid herhaal, wat weer armoede laat voortbestaan.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel