Die Bybelse beskouing
Wat beteken dit om ’n goeie burger te wees?
NÁ DIE Tweede Wêreldoorlog is baie mense in Europa en Japan wat hulleself as goeie, wetsgehoorsame burgers beskou het, verhoor en aan oorlogsmisdade skuldig bevind. Onder hulle was hooggeplaaste militêre amptenare, wetenskaplikes en ander professionele mense. In ’n poging om hulle dade te regverdig, het party van hierdie misdadigers verduidelik dat hulle bloot opdragte uitgevoer het, soos daar van enige goeie burger verwag sou word. Maar hulle selfverklaarde goeie burgerskap het hulle verskriklike misdade teen die mensdom laat pleeg.
Aan die ander kant is daar diegene wat die gesag van die Staat verontagsaam. Party verwerp regeringsgesag openlik, terwyl ander geredelik die wet sal oortree solank hulle nie gevaar loop om gevang te word nie. Daar is natuurlik min mense wat sal sê dat dit onnodig is om aan gesag gehoorsaam te wees, want daarsonder sou wetteloosheid en chaos geheers het. Maar die vraag is: Hoe ver moet die nakoming van burgerpligte en gehoorsaamheid aan die wet gevoer word? Kyk byvoorbeeld na ’n paar basiese beginsels wat die eerste-eeuse Christene gehelp het om ’n gebalanseerde beskouing van hulle verantwoordelikhede teenoor die Staat te hê.
Christelike onderdanigheid aan die owerhede
Eerste-eeuse Christene het hulle gewillig onderwerp aan die wette en regulasies van die “hoër owerhede”—dit wil sê die regering van die dag (Romeine 13:1). Christene het geglo dat dit reg was “om onderdanig en gehoorsaam te wees aan regerings en owerhede as heersers” (Titus 3:1). Alhoewel hulle Christus as hulle hemelse Koning erken het, was hulle ook wetsgehoorsame onderdane van hulle menseheersers en het hulle geen bedreiging ingehou vir die veiligheid van die Staat nie. Trouens, hulle is aangemoedig om te alle tye ‘die koning te eer’ (1 Petrus 2:17). Die apostel Paulus het Christene selfs aangemoedig: “Ek vermaan dus allereers dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word aangaande alle soorte mense, aangaande konings en almal wat ’n hoë posisie beklee, sodat ons kan voortgaan om ’n kalm en stil lewe met volkome godvrugtige toegewydheid en erns te lei.”—1 Timoteus 2:1, 2.
Eerste-eeuse Christene het nougeset enige belasting betaal wat gehef is, al was dit met tye ’n swaar las. Hulle het die geïnspireerde leiding gevolg wat die apostel Paulus oor hierdie saak gegee het: “Gee aan almal wat hulle toekom: aan hom wat die belasting verlang, die belasting” (Romeine 13:7). In die oë van Jesus se dissipels het die Romeinse regering en sy amptenare met God se toestemming geheers, en in sekere sin was hulle “God se openbare dienaars”, aangesien hulle vir ’n mate van vrede en stabiliteit in die gemeenskap gesorg het.—Romeine 13:6.
‘Gereed vir elke goeie werk’
Eerste-eeuse Christene is aangemoedig om burgerpligte te aanvaar wat die Staat hulle opgelê het. Jesus Christus self het sy dissipels aangeraai om met tye gewillig te wees om selfs meer te doen as die minimum wat deur die burgerlike owerhede vereis word. “As iemand met gesag jou vir een myl kommandeer”, het hy gesê, “gaan twee myl saam met hom” (Matteus 5:41). Deur hierdie raad te volg, het Christene getoon dat hulle nie die voordele om in ’n beskaafde gemeenskap te lewe, wou geniet sonder om iets in ruil daarvoor te gee nie. Hulle was altyd ‘gereed vir elke goeie werk’.—Titus 3:1; 1 Petrus 2:13-16.
Hulle het hulle naaste werklik liefgehad en het na maniere gesoek om hulle te help (Matteus 22:39). Weens hierdie liefde en die feit dat hulle by hoë sedelike standaarde gebly het, was die eerste-eeuse Christene ’n krag ten goede in hulle gemeenskap. Hulle bure het oorgenoeg rede gehad om bly te wees dat hulle langs ’n Christen gewoon het (Romeine 13:8-10). Christene het nie net hulle liefde geopenbaar deur hulle te onthou van wat sleg is nie. Hulle is aangemoedig om vriendelik te wees en ’n daadwerklike belangstelling in ander te toon, om ‘aan almal goed te doen’ en nie net aan medegelowiges nie, net soos Jesus Christus gedoen het.—Galasiërs 6:10.
‘Wees eerder aan God as heerser gehoorsaam as aan mense’
Hulle gehoorsaamheid aan sekulêre owerhede het egter perke gehad. Hulle sou niks doen wat hulle gewete sou skend of hulle verhouding met God sou benadeel nie. Toe die godsdiensleiers in Jerusalem die apostels byvoorbeeld beveel het om op te hou om van Jesus te getuig, het hulle geweier om dit te doen. “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense”, het hulle gesê (Handelinge 5:27-29). Christene het onwrikbaar geweier om by afgodiese keiseraanbidding betrokke te raak (1 Korintiërs 10:14; 1 Johannes 5:21; Openbaring 19:10). Wat was die gevolge? “Veroordelings het gevolg”, sê die geskiedskrywer J. M. Roberts, “nie omdat hulle Christene was nie, maar omdat hulle geweier het om iets te doen wat die wet vereis het.”—Shorter History of the World.
Waarom het hulle in hierdie geval ‘geweier om iets te doen wat die wet vereis het’? Hulle het besef dat God “die hoër owerhede” toelaat om gesag uit te oefen en dat hulle gevolglik “God se dienaar” is deur wet en orde te handhaaf (Romeine 13:1, 4). Maar vir die Christene was God se wet nog steeds die belangrikste. Hulle het onthou dat Jesus Christus hierdie gebalanseerde beginsel daargestel het vir diegene wat sy volgelinge sou word: “Betaal dus aan Caesar terug wat aan Caesar behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Matteus 22:21). Hulle verpligtinge teenoor God moes voorkeur geniet bo Caesar se eise.
Die feit dat dít die regte optrede was, blyk uit die gevolge wanneer talle voorgewende Christene nie hierdie goeie beginsels toegepas het nie. Afvallige leiers van die Christendom het byvoorbeeld “gedweë mans [geword] wat as instrumente van burgerlike owerhede [gebruik is], veral om militêre magte op die been te bring en in stand te hou”, sê die militêre geskiedskrywer John Keegan. Hulle volgelinge het op die ou end kant gekies in oorloë wat die bloed van miljoene onskuldige slagoffers vergiet het. Keegan sê: “Wanneer mense se bloed eers gekook het, het die wet van God op dowe ore geval.”
Die eerste-eeuse Christene het egter ’n ligtende voorbeeld gestel om die regte balans te handhaaf. Hulle was goeie burgers. Hulle het hulle burgerpligte en verantwoordelikhede goed nagekom. Maar hulle het ferm by duidelike Bybelbeginsels gebly en hulle Bybelopgeleide gewete in alle aspekte van die lewe gevolg.—Jesaja 2:4; Matteus 26:52; Romeine 13:5; 1 Petrus 3:16.
[Prent op bladsy 26]
“Betaal dus aan Caesar terug wat aan Caesar behoort”