Wat sit agter die geheim van die lewe?
DIE DNS-molekule doen ongelooflike dinge. DNS vervul albei die rolle wat jou selle van genetiese materiaal vereis. Eerstens word DNS noukeurig gedupliseer sodat inligting van sel tot sel oorgedra kan word. Tweedens sê die volgorde van die DNS vir die sel watter proteïene om te maak, en bepaal sodoende wat die sel sal word en watter werk dit sal doen. Maar DNS doen dit nie alles alleen nie. Talle gespesialiseerde proteïene is betrokke.
DNS kan nie lewe op sy eie skep nie. Dit bevat al die instruksies wat nodig is om al die proteïene te maak wat ’n lewende sel nodig het, met inbegrip van dié wat DNS dupliseer vir die volgende geslag selle en dié wat DNS help om nuwe proteïene te maak. Nogtans is die ongelooflike hoeveelheid inligting wat in DNS-gene geberg word nutteloos sonder RNS en die gespesialiseerde proteïene, insluitende ribosome, wat nodig is om daardie inligting te “lees” en te gebruik.
Proteïene kan ook nie lewe op hulle eie voortbring nie. ’n Geïsoleerde proteïen kan nie die geen voortbring wat die kode het om nog van daardie selfde soort proteïen te maak nie.
Wat het mense se pogings om die geheim van die lewe te ontrafel dus aan die lig gebring? Moderne genetika en molekulêre biologie het oorvloedige bewyse voorsien van die hoogs ingewikkelde en onderling afhanklike verhouding tussen DNS, RNS en proteïen. Hierdie bevindinge impliseer dat al hierdie elemente tegelykertyd beskikbaar moet wees vir lewe om te bestaan. Lewe kon dus nooit per toeval en vanself ontstaan het nie.
Die enigste redelike verduideliking is dat ’n hoogs intelligente Skepper die instruksies in DNS geskryf het en terselfdertyd die ten volle gevormde proteïene gemaak het. Die wisselwerking tussen hulle is so goed ontwerp dat hierdie proses, wanneer dit eers in werking gegaan het, sou verseker dat proteïene voortgaan om DNS te dupliseer om meer gene te maak, terwyl ander proteïene gene sou ontsyfer om meer proteïene te maak.
Dit is duidelik dat die wonderlike kringloop van die lewe deur die Meesterontwerper, Jehovah God, aan die gang gesit is.
Wonderbaar gemaak
Hoewel die Bybel nie ’n wetenskaphandboek is nie, werp dit tog lig op die rol van die Skepper, wat die kode van die lewe ontwerp het. Sowat drieduisend jaar gelede het koning Dawid van Israel, wat niks van vandag se vooruitgang in genetiese navorsing geweet het nie, in digterlike taal vir sy Skepper gesê: “Dit is U wat my binneste geskep het, en my in my moeder se skoot aanmekaargesit het; vir al hierdie geheime dank ek U: vir die wonder wat ek is; vir die wonder van U werke. U ken my deur en deur, aangesien U gesien het hoe my bene gevorm word toe ek in die geheim gemaak is, diep in die baarmoeder aanmekaargeweef is.”—Psalm 139:13-15, Jerusalem Bible.
Kyk dus gerus weer goed na jouself in die spieël. Kyk na die kleur van jou oë, die tekstuur van jou hare, jou velkleur en jou basiese liggaamsbou. Dink aan hoe hierdie eienskappe van vorige geslagte oorgedra is en hoe dit aan jou kinders oorgedra word. Dink nou vir ’n oomblik aan die Een wat hierdie wonderlike proses ontwerp het. Dit sal jou moontlik beweeg om die woorde wat deur die apostel Johannes neergeskryf is te herhaal: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.”—Openbaring 4:11.
[Venster/Prente op bladsy 10]
Blinde toeval?
Onlangse bevindinge deur twee Britse wetenskaplikes bevestig dat die genetiese kode nie bloot die produk van blinde toeval is nie. “Hulle ondersoek het getoon dat [die genetiese kode] een van die beste van meer as ’n miljard miljard moontlike kodes is”, sê die tydskrif New Scientist. Van die naastenby 1020 (1 gevolg deur 20 nulle) moontlike genetiese kodes, is net een vroeg in die geskiedenis van lewe gekies. Waarom hierdie spesifieke een? Omdat dit foute beperk wat gedurende die proteïenvervaardigingsproses gemaak word of foute wat deur genetiese mutasies veroorsaak word. Met ander woorde die spesifieke kode waarborg dat die erflikheidswette streng gevolg word. Hoewel party die keuse van hierdie genetiese kode aan “sterk selektiewe druk” toeskryf, het die twee navorsers tot die gevolgtrekking gekom dat “dit hoogs onwaarskynlik is dat so ’n doeltreffende kode per toeval ontstaan het”.