Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 11/11 bl. 4-6
  • Ondersoek die bewyse

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ondersoek die bewyse
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Komplekse inligting sonder ’n skrywer?
  • Wie het die “biblioteek” saamgestel?
  • Is dit werklik “rommel”?
  • Wat die “rommel” doen
  • Waar het die instruksies vandaan gekom?
    Vyf belangrike vrae oor—Die oorsprong van lewe
  • Jou selle​—⁠Lewende biblioteke!
    Ontwaak!—2015
  • “Rommel”-DNS?
    Ontwaak!—2005
  • Wat sit agter die geheim van die lewe?
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 11/11 bl. 4-6

Ondersoek die bewyse

JY IS op ’n afgeleë, onbewoonde eiland. Terwyl jy op die strand stap, sien jy ’n rots waarop “John 1800” gegraveer is. Sal jy aanneem dat wind- of watererosie daarvoor verantwoordelik moet wees, aangesien die eiland afgeleë en onbewoon is? Natuurlik nie! Jy kom tereg tot die slotsom dat iemand daardie inskripsie gemaak het. Waarom? Eerstens, ’n reeks duidelik geskrewe letters en syfers—selfs in ’n vreemde taal—ontstaan nie vanself nie. Tweedens, die inskripsie bevat betekenisvolle inligting, wat dui op ’n intelligente bron.

In ons alledaagse lewe kom ons inligting teë wat in talle verskillende vorme weergegee word—soos braille of letters van die alfabet, sowel as diagramme, musieknote, gesproke woorde, handseine, radioseine en rekenaarprogramme wat geskryf is in binêre kode, wat uit nulle en ene bestaan. Die medium waardeur die inligting oorgedra word, kan feitlik enigiets wees, van lig- tot radiogolwe tot papier en ink. Hoe dit ook al sy, mense verbind betekenisvolle inligting altyd met ’n intelligente verstand—tensy hierdie inligting in ’n lewende sel gevind word. Hierdie inligting, sê evolusioniste, het net vanself ontstaan en het geen skrywer gehad nie. Maar is dit die geval? Ondersoek die bewyse.

Komplekse inligting sonder ’n skrywer?

’n Verstommende kode wat deoksiribonukleïensuur (DNS) genoem word, word veilig bewaar in die kern van byna elke lewende sel in jou liggaam. Dit kom voor in ’n lang dubbeldraadmolekule wat soos ’n spiraalvormige leer lyk. Jou DNS is soos ’n resep, of ’n program, wat die vorming, groei, instandhouding en verdeling beheer van die biljoene selle waaruit jou liggaam bestaan. Die basiese eenhede waaruit DNS bestaan, word nukleotiede genoem. Hierdie eenhede word A, C, G en T genoem, afhangende van hulle chemiese basis.a Soos letters van die alfabet, kan hierdie vier letters op baie maniere gekombineer word om “sinne” te vorm—die instruksies vir replisering en ander prosesse in die sel.

Die hele inligtingspakket wat in jou DNS geberg word, word jou genoom genoem. Die volgorde waarin party van die letters in jou DNS voorkom, is eie aan jou, aangesien DNS jou erflikheidsinligting bevat—jou oogkleur, velkleur, die vorm van jou neus, ensovoorts. Eenvoudig gestel, jou genoom kan vergelyk word met ’n groot biblioteek met resepte vir elke deel van jou liggaam, en die eindproduk is jy.

Hoe groot is hierdie “biblioteek”? Dit bestaan uit omtrent driemiljard “letters”, of nukleotiede (basisse). As dit op papier neergeskryf sou word, sou dit ’n boek vul wat so dik is soos 200 telefoonboeke met 1 000 bladsye elk, volgens die Menslike Genoom-projek.

Hierdie feite herinner ’n mens aan ’n merkwaardige gebed wat sowat 3 000 jaar gelede opgeteken is. Dit word gevind in die Bybel in Psalm 139:16, waar dit sê: “U oë het selfs my embrio gesien, en in u boek was al die dele daarvan opgeskrywe.” Die skrywer het natuurlik nie die wetenskap in gedagte gehad nie, maar het in eenvoudige taal ’n verbasend akkurate konsep oorgedra om God se ontsaglike wysheid en krag toe te lig. Hoe verskil dit tog van ander eertydse godsdiensgeskrifte, wat vol mitologie en bygelowe was!

Wie het die “biblioteek” saamgestel?

As gesonde verstand vir ons sê dat “John 1800” deur ’n intelligente persoon op ’n rots gegraveer is, moet dieselfde dan nie geld vir die oneindig komplekser en betekenisvoller inligting wat in DNS gevind word nie? Inligting is immers inligting, ongeag waar dit gevind word of die medium waardeur dit oorgedra word. Die rekenaar- en inligtingswetenskaplike Donald E. Johnson het gesê dat komplekse inligting of stelsels wat hierdie inligting verwerk, nie volgens die wette van chemie en fisika toevallig kan ontstaan nie. En dit spreek vanself: Hoe komplekser die inligtingspakket is, hoe meer intelligensie was nodig om dit te skryf. ’n Kind kan “John 1800” skryf. Maar net ’n bomenslike verstand kon die kode van lewe geskryf het. Wat meer is, “dit wil voorkom of die kompleksiteit van biologie geweldig toeneem” met elke nuwe ontdekking, sê die tydskrif Nature.

Om die komplekse biblioteek van inligting in DNS aan blinde, toevallige prosesse toe te skryf, bots met gesonde verstand sowel as menslike ondervinding.b Dit verg ook geloof wat buite die grense van redelikheid is.

In hulle pogings om God heeltemal buite rekening te laat, het evolusioniste al gevolgtrekkings gemaak wat later verkeerd bewys is. Kyk byvoorbeeld na die beskouing dat 98 persent van ons genoom “rommel” is—’n biblioteek met resepte wat miljarde nuttelose woorde bevat.

Is dit werklik “rommel”?

Bioloë was lank van mening dat DNS ’n resep is vir die vervaardiging van proteïene en niks anders nie. Maar later het dit duidelik geword dat net sowat 2 persent van die genoom kodes vir proteïene bevat. Wat is die doel van die ander 98 persent van die DNS, oftewel die niekoderende DNS? “Daar is onmiddellik aangeneem dat [hierdie raaiselagtige DNS] evolusionêre rommel is”, sê John S. Mattick, ’n professor van Molekulêre Biologie aan die Universiteit van Queensland in Brisbane, Australië.

Die wetenskaplike wat blykbaar vorendag gekom het met die term “‘rommel’-DNS”, is die evolusionis Soesoemoe Ohno. In sy verhandeling, “Soveel ‘rommel’-DNS in ons genoom”, het hy geskryf dat die oorblywende DNS “die oorblyfsels is van onsuksesvolle eksperimente van die natuur. Die aarde is vol fossieloorblyfsels van uitgestorwe spesies; is dit dan verbasend dat ons genoom ook vol oorblyfsels van uitgestorwe gene is?”

Watter uitwerking het die konsep van “rommel”-DNS op die studie van genetika gehad? Die molekulêre bioloog Wojciech Makalowski sê dat hierdie beskouing “veroorsaak het dat vooraanstaande navorsers nie daarin belanggestel het om niekoderende [rommel-]DNS te bestudeer nie”. Net ’n handjie vol wetenskaplikes “doen navorsing op ongewilde gebiede ten spyte van die moontlikheid dat hulle bespot sal word. Danksy hulle het die beskouing van rommel-DNS . . . in die vroeë 1990’s begin verander.” Nou, voeg hy by, beskou bioloë dit wat eens rommel genoem is, “as ’n genomiese skat”.

Volgens Mattick is die rommel-DNS-teorie ’n tipiese voorbeeld van hoe wetenskaplike tradisie “’n objektiewe ontleding van die feite in die wiele ry”. “Die versuim om die volle implikasies hiervan te besef”, sê hy, “sal moontlik as een van die grootste foute in die geskiedenis van molekulêre biologie beskou word.” Dit is duidelik dat wetenskaplike waarhede vasgestel moet word op grond van bewyse, nie die gewilde mening nie. Wat openbaar onlangse getuienis dus oor die rol van “rommel”-DNS?

Wat die “rommel” doen

’n Fabriek wat motors vervaardig, gebruik masjiene om die verskillende dele van die motors te maak. Ons kan die dele met die proteïene in ’n sel vergelyk. Die fabriek het ook toestelle en stelsels nodig wat hierdie dele stap vir stap aanmekaarsit en ander wat as beheerapparate, of regulators, op die monteerbaan dien. Dieselfde geld vir die bedrywighede in die sel. En dit is volgens navorsers juis die rol wat “rommel”-DNS speel. ’n Groot deel daarvan bevat die resep vir ’n klas komplekse molekules wat regulerende RNS (ribonukleïensuur) genoem word, wat ’n sleutelrol speel in hoe die sel ontwikkel, volwasse word en funksioneer.c “Die blote feit dat hierdie uitsonderlike regulators bestaan”, sê die wiskundige bioloog Joshua Plotkin in die tydskrif Nature, “gee te kenne dat ons begrip van selfs die eenvoudigste dinge . . . uiters oppervlakkig is.”

’n Doeltreffende fabriek moet ook doeltreffende kommunikasiestelsels hê. Dieselfde geld vir die sel. Tony Pawson, ’n selbioloog aan die Universiteit van Toronto in Ontario, verduidelik: “Die oordrag van inligting in selle vind via netwerke plaas en nie via eenvoudige afsonderlike paadjies nie”, wat die hele proses “oneindig ingewikkelder” maak as wat voorheen gedink is. Ja, soos ’n genetikus aan Princeton-universiteit gesê het, “is baie van die meganismes en beginsels wat inter- en intrasellulêre werking beheer, nog steeds ’n raaisel”.

Elke nuwe ontdekking oor die sel dui op selfs hoër vlakke van orde en kompleksiteit. Waarom klou so baie mense dan nog vas aan die idee dat lewe en die gesofistikeerdste inligtingstelsel wat aan die mens bekend is, produkte is van ’n toevallige evolusionêre proses?

[Voetnote]

a Elke nukleotied het een van vier chemiese basisse: (A) adenien, (C) sitosien, (G) guanien en (T) timien.

b Evolusie vind glo plaas as gevolg van mutasies, wat kortliks in die volgende artikel verduidelik word.

c Onlangse navorsing toon dat lang niekoderende RNS redelik kompleks is en dat dit in werklikheid noodsaaklik is vir normale ontwikkeling. Navorsers het gevind dat foute in die werking van lang niekoderende RNS verband hou met baie siektes, soos verskeie kankers, psoriase en selfs Alzheimer se siekte. Wat voorheen as “rommel” beskou is, bevat moontlik die sleutel tot die diagnosering en behandeling van verskeie siektes!

[Venster op bladsy 5]

HOE LANK IS JOU DNS?

As die DNS in een sel van jou liggaam in sy volle lengte uitgelê sou word, sou dit sowat twee meter lank wees. As jy die DNS uit al die biljoene selle in jou liggaam kon haal en die drade in een lang lyn kon sit, sou die totale lengte volgens sekere skattings byna 670 keer die afstand van die aarde na die son en terug wees. Om hierdie afstand teen die spoed van lig af te lê, sou ongeveer 185 uur neem.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel