Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 8/22 bl. 18-23
  • Ek het God gedien ten spyte van doodsgevaar

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het God gedien ten spyte van doodsgevaar
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geseën met ’n goeie skoolopleiding
  • ’n Nuwe godsdiensbeweging
  • Gevangenskap
  • ’n Langverwagte ontmoeting
  • Gebeure wat my doop voorafgegaan het
  • Hernieude vervolging
  • Nege jaar van lyding
  • Vryheid, maar weer gevange geneem
  • Vrygelaat, maar nog steeds vervolg
  • Uiteindelik vry om die predikingswerk te doen!
  • Deel 4—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Van politieke aktivis tot neutrale Christen
    Ontwaak!—2002
  • God is ons helper
    Ontwaak!—1999
  • Van volslae armoede tot die grootste rykdom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 8/22 bl. 18-23

Ek het God gedien ten spyte van doodsgevaar

Soos Vertel Deur João Mancoca

Op 25 Junie 1961 het soldate ons Christelike vergadering in Luanda, Angola, opgebreek. Dertig van ons is tronk toe geneem en so wreed geslaan dat die soldate elke halfuur kom kyk het of enigeen dood was. Party van hulle het gesê dat ons God die ware God moet wees, omdat ons almal dit oorleef het.

NÁ DAARDIE voorval het ek vyf maande in die Sao Paulo-tronk deurgebring. En vir die volgende nege jaar is ek van die een tronk na die volgende geneem waar ek baie meer slae, ontberings en ondervragings verduur het. Kort ná my vrylating in 1970 is ek weer in hegtenis geneem, en hierdie keer is ek na die berugte doodskamp in Sao Nicolau gestuur, wat nou Bentiaba genoem word. Ek is twee en ’n half jaar daar gevange gehou.

Jy wonder dalk waarom ek as ’n wetsgehoorsame burger opgesluit is omdat ek met ander oor my Bybelse oortuigings gepraat het en waar ek die eerste keer van die goeie nuus van God se Koninkryk geleer het.

Geseën met ’n goeie skoolopleiding

Ek is in Oktober 1925 naby die dorpie Maquela do Zombo, in die noorde van Angola, gebore. Toe my pa in 1932 oorlede is, het my ma my gestuur om by haar broer in die Belgiese Kongo (nou die Demokratiese Republiek van die Kongo) te gaan woon. Sy wou dit nie eintlik doen nie, maar sy het nie geld gehad om vir my te sorg nie.

My oom was ’n Baptis, en hy het my aangemoedig om die Bybel te lees. Hoewel ek ’n lid van sy kerk geword het, is my geestelike honger nie bevredig deur dit wat ek geleer het nie, en ek is ook nie beweeg om God te dien nie. My oom het my egter skool toe gestuur en my gehelp om ’n goeie opleiding te kry. Ek het onder andere Frans leer praat. Mettertyd het ek ook Portugees leer praat. Nadat ek skool verlaat het, het ek as ’n radiotelegrafis by die sentrale radiostasie in Léopoldville (nou Kinshasa) begin werk. Later, toe ek 20 was, het ek met Maria Pova getrou.

’n Nuwe godsdiensbeweging

Daardie selfde jaar, 1946, het ek onder die invloed van ’n geleerde Angolese koorleier van die Baptistekerk gekom. Hy was gretig om die Kikongo-sprekende mense wat in die noorde van Angola woon op te voed en te verhef. Hy het ’n Portugese vertaling gehad van die Engelse boekie The Kingdom, the Hope of the World, wat deur die Watch Tower Bible and Tract Society uitgegee en deur Jehovah se Getuies versprei is.

Die koorleier het hierdie boekie in Kikongo vertaal en dit gebruik om ’n weeklikse Bybelbespreking met my en ander Angolese te hou wat in die Belgiese Kongo gewerk het. Later het die koorleier na die hoofkwartier van die Wagtoringgenootskap in die Verenigde State geskryf en nog lektuur gekry. Maar dit wat hy ons geleer het, was met die leringe van die kerke vermeng. Ek kon dus nie duidelik onderskei tussen die ware Christelike godsdiens en die onskriftuurlike leringe van die Christendom nie.

Ek het egter opgelet dat die Bybelse boodskap in die Wagtoringgenootskap se lektuur anders was as enigiets wat ek ooit in die Baptistekerk gehoor het. Ek het byvoorbeeld geleer dat die Bybel groot waarde heg aan God se persoonlike naam, Jehovah, en dat ware Christene hulleself tereg Jehovah se Getuies noem (Psalm 83:18, NW; Jesaja 43:10-12, NW). Verder is my hart geraak deur die Bybelse belofte van ewige lewe op ’n paradysaarde vir diegene wat Jehovah getrou dien.—Psalm 37:29; Openbaring 21:3-5.

Hoewel ek min Bybelkennis gehad het, het ek soos die profeet Jeremia gevoel wat nie sy brandende begeerte kon bedwing om oor sy God, Jehovah, te praat nie (Jeremia 20:9). Lede van ons Bybelstudiegroep het saam met my van huis tot huis begin gaan en met mense oor die Bybel gepraat. Ek het selfs openbare vergaderinge op my oom se werf gehou en getikte uitnodigings gebruik om mense te nooi. Tot 78 persone op ’n keer het die vergaderinge bygewoon. So is ’n nuwe godsdiensbeweging onder die leierskap van die Angolese koorleier gevorm.

Gevangenskap

Ek het nie geweet dat enige beweging wat ’n verbintenis met die Wagtoringgenootskap gehad het in die Belgiese Kongo verbied was nie. Op 22 Oktober 1949 is ’n paar van ons dus in hegtenis geneem. Voor ons verhoor het die regter my alleen gespreek en probeer reël om my vry te laat, aangesien hy geweet het dat ek vir die staat gewerk het. Maar in ruil vir my vryheid sou ek die beweging moes verloën wat as gevolg van ons predikingswerk ontstaan het, en dit het ek geweier om te doen.

Ná twee en ’n half maande in die tronk het die owerheid besluit om al die Angolese in die groep na hulle eie land terug te stuur. Maar toe ons na Angola teruggekeer het, was die Portugese koloniale owerheid ook agterdogtig oor ons bedrywighede en het hulle ons vryheid ingeperk. Nog lede van ons beweging het uit die Belgiese Kongo gekom, en uiteindelik was ons meer as 1 000 mense wat dwarsdeur Angola versprei was.

Mettertyd het volgelinge van die bekende godsdiensleier Simon Kimbangu by ons beweging aangesluit. Hierdie mense het nie daarin belanggestel om die lektuur van die Wagtoringgenootskap te bestudeer nie, want hulle het geglo dat die Bybel slegs deur ’n geesmedium verduidelik kon word. Die meeste lede van ons beweging het ook so geglo, die koorleier inkluis, wat nog steeds as ons leier beskou is. Ek het ernstig gebid dat Jehovah ons met ’n ware verteenwoordiger van die Wagtoringgenootskap in aanraking moet bring. Ek het gehoop dat dit ons hele beweging sou oortuig om Bybelwaarheid aan te neem en onskriftuurlike gebruike te verwerp.

Party lede van die beweging het glad nie van die predikingswerk gehou wat ’n paar van ons gedoen het nie. Daarom het hulle die owerheid van ons bedrywighede vertel en ons daarvan beskuldig dat ons die leiers van ’n politieke beweging is. ’n Paar van ons is gevolglik in Februarie 1952 in hegtenis geneem, onder meer Carlos Agostinho Cadi en Sala Ramos Filemon. Ons is in ’n sel sonder vensters opgesluit. Maar ’n vriendelike wag het vir ons kos van ons vrouens sowel as ’n tikmasjien gebring sodat ons meer eksemplare van die Wagtoringgenootskap se boekies kon maak.

Ná drie weke is ons na Baia dos Tigres, ’n woestyngebied in die suide van Angola, gedeporteer. Ons vrouens het saam met ons gegaan. Ons is tot vier jaar dwangarbeid gevonnis en het vir ’n visserymaatskappy gewerk. Baia dos Tigres het nie ’n hawe vir die vissersbote gehad nie, en gevolglik moes ons vrouens van soggens tot saans heen en weer deur die water loop om swaar vragte vis van die bote af te dra.

Ons het ander lede van ons beweging in hierdie gevangeniskamp gevind en hulle probeer oorreed om voort te gaan met ’n studie van die Bybel. Maar hulle het verkies om Toco, die koorleier, te volg. Mettertyd is hulle Tocoïste genoem.

’n Langverwagte ontmoeting

Terwyl ons in Baia dos Tigres was, het ons uitgevind wat die adres van die takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Noord-Rhodesië (nou Zambië) is en aan hulle geskryf om hulp te vra. Ons brief is na die takkantoor in Suid-Afrika gestuur, en hulle het aan ons geskryf en gevra hoe ons in Bybelwaarheid begin belangstel het. Die hoofkwartier van die Wagtoringgenootskap, in die Verenigde State, is in kennis gestel van ons, en reëlings is getref om ’n spesiale verteenwoordiger te stuur om met ons in aanraking te kom. Hy was John Cooke, ’n sendeling met baie jare se ondervinding in die buiteland.

Ná broer Cooke in Angola aangekom het, het dit hom ’n paar weke geneem voordat die Portugese owerheid hom toegelaat het om ons te besoek. Hy het op 21 Maart 1955 in Baia dos Tigres aangekom en is toegelaat om vyf dae by ons te bly. Sy verduidelikings van die Bybel was baie bevredigend, en ek was daarvan oortuig dat hy die enigste ware organisasie van Jehovah God verteenwoordig het. Op die laaste dag van sy besoek het broer Cooke ’n openbare toespraak met die tema “Hierdie goeie nuus van die Koninkryk” gehou. Daar was altesaam 82 teenwoordig, onder andere die hoofadministrateur van Baia dos Tigres. Elkeen wat daar was, het ’n gedrukte afskrif van die toespraak ontvang.

Gedurende sy verblyf van vyf maande in Angola het broer Cooke met ’n hele paar Tocoïste, hulle leier inkluis, in aanraking gekom. Maar die meeste van hulle wou nie Jehovah se Getuies word nie. Ek en my metgeselle het dus verplig gevoel om ons standpunt aan die owerheid te verduidelik. Ons het dit in ’n formele brief gedoen, gedateer 6 Junie 1956, aan “Sy Eksellensie die Goewerneur van die Distrik Mocamedes”. Ons het gesê dat ons geen verbintenis meer met die volgelinge van Toco gehad het nie en dat ons as “lede van die Genootskap van Jehovah se Getuies” beskou moet word. Ons het ook gevra dat hulle ons godsdiensvryheid gee. Maar in plaas daarvan dat ons vonnis verkort is, is dit met twee jaar verleng.

Gebeure wat my doop voorafgegaan het

Ons is uiteindelik in Augustus 1958 vrygelaat, en toe ons na Luanda teruggekeer het, het ons ’n klein groepie van Jehovah se Getuies gevind. Dit is die vorige jaar georganiseer deur Mervyn Passlow, ’n sendeling wat Angola toe gestuur is om John Cooke te vervang, maar wat reeds gedeporteer was toe ons daar aankom. Later, in 1959, het Harry Arnott, nog ’n sendeling van Jehovah se Getuies, ons besoek. Maar hy is by die lughawe in hegtenis geneem toe hy van die vliegtuig afgeklim het, asook die drie van ons wat gewag het om hom te verwelkom.

Die twee ander, Manuel Goncalves en Berta Teixeira, Portugese Getuies wat kort tevore gedoop is, is vrygelaat nadat hulle gewaarsku is om nie meer vergaderinge te hou nie. Broer Arnott is gedeporteer, en ek is gewaarsku dat ek weer na Baia dos Tigres gestuur sou word as ek nie ’n dokument teken waarin ek verklaar dat ek nie meer ’n Getuie is nie. Ná sewe uur van ondervraging is ek vrygelaat sonder om enigiets te teken. ’n Week later kon ek, sowel as my vriende Carlos Cadi en Sala Filemon, uiteindelik gedoop word. Ons het ’n kamer in Muceque Sambizanga, in die buitewyke van Luanda, gehuur, wat die vergaderplek van die eerste gemeente van Jehovah se Getuies in Angola geword het.

Hernieude vervolging

Al hoe meer belangstellendes het die vergaderinge begin bywoon. Sommige het gekom om op ons te spioeneer, maar hulle het die vergaderinge geniet en later Jehovah se Getuies geword! Die politieke situasie was besig om te verander, en dit het moeiliker vir ons geword ná ’n nasionalistiese opstand op 4 Februarie 1961. Ten spyte van die leuens wat oor ons versprei is, het ons die herdenking van Christus se dood op 30 Maart gevier, en dit is deur 130 mense bygewoon.

Terwyl ek in Junie die Wagtoring-studie gehou het, is ons vergadering deur die militêre polisie opgebreek. Hulle het die vrouens en kinders laat gaan, maar die 30 mans wat daar was, is in hegtenis geneem, soos in die inleiding gesê is. Ons is twee uur lank aanhoudend met houtknuppels geslaan. Ek het vir drie maande daarna bloed opgebring. Ek was seker dat ek sou sterf; trouens, die man wat my geslaan het, het belowe dat ek sou sterf. Die meeste van die ander wat geslaan is, was nuwe, ongedoopte Bybelstudente, en daarom het ek ernstig vir hulle gebid: “Jehovah, sorg vir u skape.”

Met Jehovah se hulp het nie een van hulle gesterf nie, wat die militêre personeel verbaas het. Party van hierdie soldate is beweeg om ons God te prys, wat hulle gesê het ons bewaar het! Die meeste van die Bybelstudente het uiteindelik gedoopte Getuies geword, en sommige dien nou as Christen- ouer manne. Een van hulle, Silvestre Simão, is ’n lid van Angola se Takkomitee.

Nege jaar van lyding

Soos ek aan die begin gesê het, het ek gedurende die volgende nege jaar baie gely en is ek van die een tronk of strafkamp na die volgende geneem. In al hierdie plekke kon ek vir politieke gevangenes getuig, en vandag is baie van hulle gedoopte Getuies. My vrou, Maria, en ons kinders is toegelaat om my te vergesel.

Terwyl ons in die Serpa Pinto-strafkamp was, is vier politieke gevangenes wat probeer ontsnap het, gevang. Hulle is op ’n wrede wyse voor al die gevangenes doodgemartel om hulle bang te maak sodat hulle nie eers daaraan sou dink om te ontsnap nie. Die kampbevelvoerder het my later voor Maria en die kinders gedreig: “As ek jou weer sien preek, sal jy net so doodgemaak word soos dié wat probeer ontsnap het.”

In November 1966 is ons uiteindelik gestuur na wat die verskriklike Sao Nicolau-doodskamp geword het. Toe ons daar aankom, is ek met afgryse vervul toe ek uitvind dat die kampadministrateur mnr. Cid was, die man wat my byna doodgeslaan het in die Sao Paulo-tronk! Tientalle mense is elke maand sistematies vermoor, en my gesin is gedwing om toe te kyk terwyl die wrede moorde gepleeg is. As gevolg hiervan het Maria ’n senuwee-ineenstorting gehad waarvan sy nooit heeltemal herstel het nie. Uiteindelik het ek toestemming gekry om haar en die kinders na Luanda te stuur, waar my twee ouer dogters, Teresa en Joana, vir hulle gesorg het.

Vryheid, maar weer gevange geneem

Ek is die volgende jaar, in September 1970, vrygelaat en het weer by my gesin en al die broers in Luanda aangesluit. Trane het in my oë opgewel toe ek sien hoe die predikingswerk gedurende die nege jaar van my afwesigheid gevorder het. Toe ek in 1961 tronk toe geneem is, het die gemeente in Luanda uit vier klein groepies bestaan. Nou was daar vier groot gemeentes, wat behoorlik georganiseerd was en elke ses maande deur ’n reisende verteenwoordiger van Jehovah se organisasie bygestaan is. Ek was verheug om vry te wees, maar my vryheid was van korte duur.

Eendag het die direkteur-generaal van die destydse Portugese geheime polisie (PIDE) my ingeroep. Nadat hy my voor my dogter Joana gevlei het, het hy my ’n dokument gegee om te teken. Dit was ’n aanbod om ’n PIDE-informant te word en het my talle materiële belonings vir my diens belowe. Toe ek weier om dit te teken, het hy gedreig om my weer Sao Nicolau toe te stuur, waarvandaan, hy gesê het, ek nooit weer vrygelaat sou word nie.

In Januarie 1971, ná slegs vier maande van vryheid, is daardie dreigemente uitgevoer. Altesaam 37 Christen- ouer manne van Luanda is in hegtenis geneem en na Sao Nicolau gestuur. Ons is tot Augustus 1973 daar gevange gehou.

Vrygelaat, maar nog steeds vervolg

In 1974 is godsdiensvryheid in Portugal erken, en daarna is hierdie vryheid tot die Portugese provinsies in die buiteland uitgebrei. Op 11 November 1975 het Angola onafhanklikheid van Portugal verkry. Hoe opwindend was dit tog om in Maart van daardie selfde jaar ons eerste kringbyeenkomste in vryheid te hou! Ek het die voorreg gehad om die openbare toespraak vir hierdie vreugdevolle samekomste by die sportstadion in Luanda te hou.

Die nuwe regering het egter ons neutrale standpunt teëgestaan, en ’n burgeroorlog het regdeur Angola gewoed. Die situasie het so gevaarlik geword dat die blanke Getuies noodgedwonge uit die land moes vlug. Ek en twee ander plaaslike broers is oor die predikingswerk in Angola aangestel, onder toesig van die Portugese takkantoor van Jehovah se Getuies.

Kort daarna het my naam in koerante begin verskyn en is dit oor die radio gehoor. Ek is daarvan beskuldig dat ek ’n agent vir internasionale imperialisme is en daarvoor verantwoordelik is dat Angolese Getuies geweier het om die wapen op te neem. Gevolglik is ek ontbied om voor die eerste goewerneur van die provinsie Luanda te verskyn. Ek het op ’n respekvolle manier vir hom die neutrale standpunt verduidelik wat Jehovah se Getuies wêreldwyd inneem, wat die standpunt is wat Jesus Christus se vroeë volgelinge ingeneem het (Jesaja 2:4; Matteus 26:52). Toe ek vir hom sê dat ek gedurende die koloniale bewind meer as 17 jaar in tronke en strafkampe deurgebring het, het hy besluit om my nie in hegtenis te neem nie.

In daardie dae het dit moed geverg om as ’n Getuie vir Jehovah in Angola te dien. Omdat my huis dopgehou is, kon ons dit nie meer vir vergaderinge gebruik nie. Maar soos die apostel Paulus gesê het: ‘Ons was in elke opsig geknel, maar nie só vasgekeer dat ons nie kon beweeg nie’ (2 Korintiërs 4:8). Ons het nooit onbedrywig in ons bediening geword nie. Ek het in die predikingswerk voortgegaan en as ’n reisende bedienaar die gemeentes in die provinsies Benguela, Huíla en Huambo versterk. Ek het toe ’n ander naam, broer Filemon, gebruik.

In Maart 1978 is ons predikingswerk weer verbied, en ek het uit betroubare bronne gehoor dat revolusionêre fanatici beplan het om my dood te maak. Ek het gevolglik skuiling gevind in die huis van ’n Nigeriese Getuie wat vir die Nigeriese ambassade in Angola gewerk het. ’n Maand later, toe die situasie verbeter het, het ek voortgegaan om die broers as ’n kringopsiener te dien.

Ondanks die verbod en die burgeroorlog het duisende Angolese gunstig op ons predikingswerk gereageer. Omdat soveel mense Getuies geword het, is ’n landskomitee aangestel om, onder toesig van die takkantoor in Portugal, na die predikingswerk in Angola om te sien. Gedurende hierdie tyd het ek ’n paar keer Portugal toe gegaan, waar ek waardevolle opleiding by bekwame bedienaars asook nodige mediese sorg ontvang het.

Uiteindelik vry om die predikingswerk te doen!

Toe ek in die strafkampe was, het politieke gevangenes my dikwels gespot en gesê dat ek nooit vrygelaat sou word solank ek vir ander getuig nie. Maar my antwoord was: “Dit is nog nie Jehovah se tyd om die deur oop te maak nie, maar wanneer hy dit wel doen, sal niemand dit kan sluit nie” (1 Korintiërs 16:9; Openbaring 3:8). Die deur van geleentheid om die predikingswerk sonder beperkings te doen, is ná die ineenstorting van die Sowjetunie in 1991 wyer oopgemaak. Ons het toe groter vryheid van aanbidding in Angola begin geniet. In 1992 het die werk van Jehovah se Getuies amptelik wetlike erkenning ontvang. In 1996 is ’n takkantoor van Jehovah se Getuies uiteindelik in Angola geopen, en ek is as ’n lid van die Takkomitee aangestel.

Gedurende al die jare van my gevangenskap is daar op die een of ander manier altyd vir my gesin gesorg. Ons het ses kinders gehad, en vyf van hulle lewe nog. Ons geliefde Joana het verlede jaar aan kanker gesterf. Vier van ons ander kinders is gedoopte Getuies, maar ons ander kind het hom nog nie laat doop nie.

Toe broer Cooke ons in 1955 besoek het, was ons altesaam vier Angolese wat die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig het. Vandag is daar meer as 38 000 Koninkryksverkondigers in die land, en hulle hou elke maand meer as 67 000 Bybelstudies. Onder diegene wat die goeie nuus verkondig, is daar baie van ons voormalige vervolgers. Hoe lonend is dit tog, en hoe dankbaar is ek teenoor Jehovah dat hy my bewaar het en my toegelaat het om my brandende begeerte te vervul om sy woord te verkondig!—Jesaja 43:12, NW; Matteus 24:14.

[Kaart op bladsy 20, 21]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Demokratiese Republiek van die Kongo

Kinshasa

Angola

Maquela do Zombo

Luanda

Sao Nicolau (nou Bentiaba)

Mocamedes (nou Namibe)

Baia dos Tigres

Serpa Pinto (nou Menongue)

[Erkenning]

Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prente op bladsy 22, 23]

Onder: Saam met John Cooke in 1955. Sala Filemon is aan die linkerkant

Regs: Herontmoeting met John Cooke ná 42 jaar

[Prent op bladsy 23]

Saam met my vrou, Maria

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel