Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 6/22 bl. 19-23
  • Van politieke aktivis tot neutrale Christen

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Van politieke aktivis tot neutrale Christen
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Baie jare van opsluiting
  • Kortstondige vryheid
  • Die krygsraad
  • Ander geleenthede om te getuig
  • Bewus van God se hulp
  • Dankbaar vir huidige seëninge
  • Ek Het Geleer Om Op Jehovah Te Vertrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Hoe ek daarin geslaag het om ’n Christengesin groot te maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Ek kon altyd iets vir Jehovah doen
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Ek wag op ’n Koninkryk wat “geen deel van hierdie wêreld” is nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 6/22 bl. 19-23

Van politieke aktivis tot neutrale Christen

SOOS VERTEL DEUR LADISLAV ŠMEJKAL

Nadat ek gevonnis is, is ek weer na my sel geneem. Ek het onmiddellik ’n boodskap in Morsekode vir ’n vriend twee vloere bo my teen die muur begin tik. Hy het gewag om te hoor wat my vonnis was.

“Veertien jaar”, het ek getik.

Hy kon dit nie glo nie. Daarom het hy gevra: “Veertien maande?”

“Nee”, het ek geantwoord. “Veertien jaar.”

DIT was die jaar 1953. Die plek—Liberec, Tsjeggo-Slowakye (nou die Tsjeggiese Republiek). Ek was destyds ’n 19-jarige aktivis wat politieke veranderinge probeer meebring het. As aktiviste het ons ons beskouings bevorder deur pamflette te versprei waarin ons die Kommunisteparty, wat toe aan bewind was, gekritiseer het. Ons bedrywighede is as hoogverraad beskou—dié dat my vonnis so lank was.

Ek was alreeds byna ’n jaar lank in aanhouding voordat ek gevonnis is. Voordat vonnisse uitgespreek is, is gevangenes twee-twee in ’n sel aangehou, en van tyd tot tyd is hulle geblinddoek en geneem om ondervra te word. Omdat ons nie toegelaat is om in ons selle te praat nie, moes ons fluister of deur middel van Morsekode met mekaar kommunikeer.

Ek het gou uitgevind dat baie van die gevangenes Jehovah se Getuies is. In die tronk waar ons was, het ons gewoonlik elke maand of twee ’n nuwe selmaat gekry. Aangesien ek in die Bybel belanggestel het, was ek bly toe ek uiteindelik saam met ’n Getuie in ’n sel gesit is. Mettertyd het ek die Bybel saam met die Getuies begin studeer.

’n Mens kan seker sê dat ons besprekings Bybelstudies was, al het ons nie ’n Bybel of Bybellektuur gehad nie. Om die waarheid te sê, ek het nog nooit in my lewe eers ’n Bybel gesien nie. Maar ons het gesels—die Getuie het Bybelonderwerpe uit die hoof verduidelik—en ek het aantekeninge gemaak van wat hy gesê het. Ons het dit gedoen deur naby mekaar te sit en te fluister.

Al wat ons by ons gehad het, was toiletpapier en ’n kam. Ek het die kam gebruik om aantekeninge op die toiletpapier te maak. Baie van die tekste wat ons bespreek het, het ek gememoriseer. Die Getuies wat met my gestudeer het, het ook vir my Koninkryksliedere geleer. ’n Getuie het vir my gesê: “Nou is jy in die tronk weens politieke redes, maar in die toekoms sal jy dalk opgesluit word omdat jy een van Jehovah se Getuies is.”

Uiteindelik, ná eindelose ondervragings, is ek gevonnis en na ’n strafkamp naby die dorp Jáchymov geneem. Teen daardie tyd was ek daarvan oortuig dat ek eendag een van Jehovah se Getuies sou word.

Baie jare van opsluiting

Toe ek by die kamp kom waar uraan gemyn is, het ek onmiddellik na die Getuies begin soek. Maar ek het gou uitgevind dat hulle na ’n ander plek geneem is. Een van die Getuies het egter agtergebly omdat hy ’n kok was. Hy het vir my ’n baie verslete Bybel geleen wat al op talle plekke versteek was. Ek kon dus tekste lees wat ek reeds uit die hoof geken het. Terwyl ek gelees het, het ek vir myself bly sê: ‘Ja, dis presies wat die broers my geleer het.’

Ongeveer ’n maand later is ek na ’n kamp met die naam Bytiz, naby die dorp Příbram, oorgeplaas. Daar het ek ander Getuies ontmoet. In Bytiz het ons gereeld Bybellektuur ontvang wat ingesmokkel is. Die kampadministrasie het probeer uitvind hoe dit ons bereik, maar hulle het nooit nie. Daar was tot 14 gevangenes wat vir ander getuig het. Die helfte van hulle was gedoopte Getuies, en die ander helfte was soos ek, mense wat terwyl hulle in die tronk was, die Getuies se oortuigings aangeneem het.

Baie van ons wou ons toewyding aan God deur waterdoop simboliseer. Maar weens ’n gebrek aan water—of eerder, omdat daar nie ’n groot genoeg houer met water was nie—was dit nie maklik om gedoop te word nie. Daarom moes baie destyds wag totdat hulle vrygelaat is om gedoop te word. Maar in die Bytiz-kamp was daar groot koeltorings vir die mynkompressors. In die middel-1950’s is ’n paar van ons in een van daardie torings se opgaartenk gedoop.

’n Paar jaar later, in Maart 1960, is ek deur ’n polisiebeampte ontbied wat verantwoordelik was vir politieke gevangenes. Hy het gesê as ek hom sou inlig oor die bedrywighede van die ander gevangenes, hy sou reël dat my straftyd verminder word. Toe ek weier om dit te doen, het hy my begin vloek. “Jy het ’n kans op ’n goeie lewe weggegooi”, het hy geskreeu. “Ek sal sorg dat jy nooit weer huis toe gaan nie! Jy sal hier doodgaan.” Maar twee maande later is ek amnestie verleen, en ná altesaam agt jaar van gevangenskap het ek huis toe gegaan.

Kortstondige vryheid

Die werk van Jehovah se Getuies is sedert April 1949 in Tsjeggo-Slowakye verban; ek het dus gou besef dat om God in sogenaamde vryheid te dien nie heeltemal verskil het van hoe ek dit in die tronk gedoen het nie. Nou, nadat ek vrygelaat is, het ek voor ’n ander probleem te staan gekom. Elke man in die land moes destyds twee jaar lank diensplig doen.

Party mans wat vir sekere staatsondernemings gewerk het, is van militêre diens vrygestel. Daar is onder andere vrystelling verleen aan diegene wat in steenkoolmyne gewerk het. Aangesien ek al in myne gewerk het, het ek werk in een van die myne gekry. Daar is ek hartlik verwelkom. “Moet jou oor niks bekommer nie”, is daar vir my gesê. “Dis vir ons geen probleem om jou uit die weermag te hou nie.”

Toe ek twee maande later opgeroep is, het die mense in die administrasiekantoor my verseker: “Moet jou nie bekommer nie, dit moet ’n fout wees. Ons sal net vir die weermag skryf, en dan sal alles reg wees.” Maar alles was nie reg nie. Later het ’n amptenaar na my toe gekom en verskoning gevra: “Dit is die eerste keer dat so iets gebeur, maar jy sal by die weermag moet aanmeld.” Toe ek, in ooreenstemming met my gewetensbeswaar om oorlog te voer, geweier het om by die weermag aan te sluit, is ek gearresteer en na die naaste militêre eenheid geneem.—Jesaja 2:4.

Die krygsraad

Nadat ek in Januarie 1961 in die dorp Kladno gearresteer is, is daar probeer om my te oorreed om ’n soldaat te word. ’n Militêre offisier wat in bevel was, het ’n vergadering gereël. Ek is na ’n konferensiekamer geneem waarin daar ’n groot, ronde tafel met gemaklike leerstoele was. Kort daarna het die offisiere begin opdaag en om die tafel gaan sit. Die offisier in bevel het hulle een vir een aan my voorgestel. Toe het hy gaan sit en gesê: “Nou, vertel ons ’n bietjie van hierdie geloof waaraan jy behoort.”

Nadat ek ’n skietgebed gedoen het, het ek ’n aandagtige gehoor toegespreek. Ons het kort voor lank oor evolusie begin praat, en hulle het beweer dat evolusie ’n wetenskaplike feit is. In ’n strafkamp waarin ek vroeër was, het ek die boekie Evolution Versus the New Worlda bestudeer. Tot die militêre offisiere se verbasing kon ek dus bewys dat evolusie ’n ongegronde teorie is.

Toe het ’n majoor wat klaarblyklik iets van die Katolieke godsdiens geweet het, gevra: “Hoe beskou jy die Maagd Maria?” “En wat is jou beskouing van die heilige mis?” Ek het sy vrae beantwoord en toe gesê: “Meneer, u is seker ’n gelowige, want u vrae verskil van die ander se vrae.”

“Nee! Nee! Nee! Ek is nie ’n gelowige nie!” het hy heftig beswaar gemaak. In die Kommunistestaat het verklaarde Christene min of geen respek of verantwoordelikheid ontvang nie. Daarna het die offisier nie verder aan die bespreking deelgeneem nie. Ek was so dankbaar dat ek die geleentheid gehad het om aan daardie mans te verduidelik wat Jehovah se Getuies glo.

Ander geleenthede om te getuig

’n Paar dae later is ek na ’n militêre fasiliteit in Praag geneem en onder bewaking aangehou. Die eerste gewapende soldaat wat by my wag gehou het, was verbaas oor die spesiale sekuriteitsmaatreëls. “Dit is die eerste keer dat ons iemand só moet oppas”, het hy vir my gesê. Ek het dus verduidelik waarom ek in die tronk is. Dit het hom so geïnteresseer dat hy, met sy geweer tussen sy knieë, gaan sit en luister het. Ná twee uur het ’n ander soldaat hom afgelos, en hy het ook vrae begin vra, wat tot ’n soortgelyke Bybelbespreking gelei het.

Gedurende die daaropvolgende dae het ek die geleentheid gehad om met die wagte te praat, asook met die ander gevangenes wanneer die wagte my toegelaat het. Die wagte het selfs die selle oopgesluit en die gevangenes toegelaat om vir Bybelbesprekings bymekaar te kom! Ná ’n ruk het ek bekommerd begin raak dat die vryheid wat die wagte my gegee het om met die ander gevangenes te praat, bekend sou word en dit slegte gevolge sou hê. Maar dit het ’n geheim gebly.

Toe ek uiteindelik hof toe geneem is om gevonnis te word, het diegene vir wie ek getuig het my moed ingepraat. Ek is tot twee jaar tronkstraf gevonnis, wat by die ses jaar van my oorspronklike vonnis gevoeg is, wat ek weens die amnestie nie uitgedien het nie. Dit het beteken dat ek ongeveer agt jaar in die tronk sou sit.

Bewus van God se hulp

Ek was dikwels bewus van God se hulp terwyl ek van kamp na kamp en van gevangenis na gevangenis in Tsjeggo-Slowakye oorgeplaas is. Toe ek by die gevangenis in Valdice aankom, het die bevelvoerder my gevra waarom ek daar is. “Ek het geweier om militêre diens te doen”, het ek geantwoord. “Dis in stryd met my oortuiging om aan oorlog deel te neem.”

“As almal maar so gevoel het”, het hy met simpatie gesê. Maar nadat hy vir ’n oomblik daaroor nagedink het, het hy opgemerk: “Aangesien die meeste mense egter nie vandag so voel nie, moet ons jou straf—en swaar straf!”

Ek is in die glassnyafdeling geplaas, wat ’n strafafdeling was. Hoewel ek gevonnis is omdat ek as een van Jehovah se Getuies geweier het om diensplig te doen, is ek nog steeds as ’n politieke gevangene beskou, en daarom het ek swaarder werk gekry om te doen. Dit was veral moeilike werk om glas te sny vir kandelare en ander luukse glasware omdat sulke produkte foutloos moes wees. Gevangenes het dikwels hulle voltooide werk ingegee, en die volgende dag gevind dat die helfte daarvan teruggestuur is vir herstelwerk. Dit was dus baie moeilik om die voorgeskrewe kwota te vul.

Die dag toe ek by die glassnyafdeling begin het, moes ek eers vir die afdelingshoof wag. Toe hy daar opdaag, het hy op die gevangenes begin skreeu wat na sy mening nie hard genoeg gewerk het nie. Hy het deur die afdeling gestap en na my toe gekom en gesê: “En jy? Waarom werk jy nie?”

Ek het verduidelik dat ek ’n nuwe gevangene is. Hy het my na sy kantoor geneem en my die gewone vrae gevra om uit te vind waarom ek in die gevangenis is. Nadat ek my situasie aan hom verduidelik het, het hy gesê: “So, jy is dan een van Jehovah se Getuies?”

“Ja”, het ek geantwoord.

Sy houding het verander. “Moet jou nie bekommer nie”, het hy gesê. “Ons het al baie van Jehovah se Getuies hier gehad. Ons respekteer hulle almal, want hulle is hardwerkende en ordentlike mense. Ek sal sorg dat jy ’n werkkwota kry wat jy sal kan vul.”

Ek was baie verbaas oor hoe die werkopsiener se houding verander het. Ek was dankbaar teenoor Jehovah en daardie onbekende medegelowiges wat verantwoordelik was vir die goeie reputasie wat die Getuies in daardie gevangenis gehad het. Trouens, gedurende al die tyd wat ek in die gevangenis was, was ek bewus van Jehovah se liefdevolle hulp.

Ongeag hoe moeilik my situasie geword het, ek was altyd seker dat ek uiteindelik met my Christenbroers in aanraking sou kom. Dan sou ek hulle vriendelike gesigte sien en deur hulle aangemoedig word. Sonder hulle sou dit baie moeiliker gewees het om my tronkstraf te verduur.

Baie gevangenes het blykbaar aan niks anders gedink as om wraak te neem vir die slegte behandeling wat hulle ontvang het nie. Maar ek het nooit so gevoel nie. Ek het besef dat ek ly omdat ek aan God se regverdige beginsels gehoorsaam is. Ek het dus geweet dat Jehovah my vir elke dag wat ek in die tronk was, eindelose, wonderlike dae van lewe in sy nuwe Paradysaarde kan gee.—Psalm 37:29; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4.

Dankbaar vir huidige seëninge

In Mei 1968, ná meer as 15 jaar in gevangenskap, is ek uiteindelik vrygelaat. Aan die begin was ek huiwerig om met mense te praat, wat nie ongewoon is vir iemand wat ’n groot deel van sy lewe om mense deurgebring het wat tronkklere of uniforms dra nie. Maar my Christenbroers het my gou gehelp om aan die predikingswerk te begin deelneem, wat natuurlik nog steeds verbied was.

Binne ’n paar weke na my vrylating het ek Eva ontmoet. Ondanks kwaai teenkanting van haar familie het sy en haar broer ongeveer drie jaar vroeër ’n moedige standpunt vir Bybelwaarheid ingeneem. Ons het kort voor lank saam aan die predikingswerk begin deelneem. Ons het ook gehelp om Bybellektuur te vervaardig. Dit is in geheime ondergrondse drukkerye gedoen. Toe is ons in November 1969 getroud.

In 1970 is ons eerste kind, Jana, gebore. Later het ek oor naweke as ’n reisende bedienaar van Jehovah se Getuies gemeentes begin besoek om hulle geestelik aan te moedig. Terwyl ek hierdie werk in 1975 gedoen het, is ek gearresteer en weer tronk toe gestuur. Maar hierdie keer is ek slegs ’n paar maande aangehou. Toe, in 1977, is ons seun Štěpán gebore.

Op 1 September 1993 het die Tsjeggiese Republiek uiteindelik amptelike erkenning aan Jehovah se Getuies verleen. Ons dogter, Jana, is die jaar daarna met Dalibor Dražan, ’n Christen- ouer man, getroud. Toe, in 1999, is ons seun Štěpán, ’n bedieningskneg, met Blanka getroud, wat ’n voltydse bedienaar is. Ons is almal nou in gemeentes in Praag. Ons sien almal uit na die tyd wanneer die nuwe wêreld ’n werklikheid sal wees—maar ek sien veral uit na die tyd wanneer daar nêrens meer tronkmure sal wees nie.

[Voetnoot]

a In 1950 deur Jehovah se Getuies uitgegee.

[Prente op bladsy 20]

Ek het ’n kam gebruik om Bybeltekste neer te skryf

[Prent op bladsy 21]

Die Bytiz-kamp, waar ek ’n gevangene was en later gedoop is

[Prent op bladsy 23]

Ons troudag

[Prent op bladsy 23]

Ek en Eva, met Štěpán en Blanka aan die linkerkant en Jana en Dalibor aan die regterkant

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel