Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 6/22 bl. 16-19
  • Die Altaiërs—’n Volk wat ons leer liefkry het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Altaiërs—’n Volk wat ons leer liefkry het
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hulle land en godsdiens
  • Die gevolge van spiritisme
  • Christenaanbidding floreer
  • Deelname aan die bediening
  • By ons terugkeer
  • Skattejag in die goue berge van Altai
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • ’n Verborge skat word gevind
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Bly om meer te kan doen
    Ontwaak!—2005
  • Russe stel godsdiensvryheid op prys
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 6/22 bl. 16-19

Die Altaiërs—’n Volk wat ons leer liefkry het

Gedurende die vorige eeu het die Russies-Ortodokse priester en kloostervader Makarios die “Ou Testament” van die Bybel in Russies vertaal. Maar voordat hy dit gedoen het, het hy ’n opdrag van die kerksinode ontvang om die Christelike godsdiens aan die Altaiërs bekend te maak. Wie is die Altaiërs? Waar woon hulle? Wat is hulle lewenswyse?

EEN van die streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies wat verlede Julie in Rusland gehou is, is deur ongeveer 40 Altaiërs bygewoon. Dit is in Barnaoel, die grootste stad in Rusland se Altai-Krai, gehou. Die byeenkoms is deur 1 730 bygewoon. Ek het van St. Petersburg af saam met vriende daarheen gevlieg, ’n vlug van byna 6 500 kilometer, om hierdie driedaagse byeenkoms by te woon.

Gedurende ons paar dae in Barnaoel het ons die Altaiërs wat ons ontmoet het, leer ken en baie lief vir hulle geword. Ons is veral diep geraak toe ons uitgevind het dat baie van hulle nagenoeg 650 kilometer per bus oor bergpasse gekom het en dat hulle nie eers daaraan gedink het om terug te draai toe ’n vallende rots die voorruit van hulle bus flenters gebreek het nie. Toe ons van hulle land en kultuur hoor, was ons gretig om hulle in hulle huise en dorpies te besoek. Ná die byeenkoms het ons dus ’n fassinerende reis van meer as 1 500 kilometer deur die land van die Altaiërs onderneem.

Hulle land en godsdiens

Die meeste van die sowat 70 000 Altaiërs, die oorspronklike inwoners van die gebied, woon in die bergagtige dele wat nie ver van die grense van Kazakstan, China en Mongolië af is nie. Die landskap daar is asemrowend mooi—pragtige berge, kristalhelder riviere en baie blomme. Die plaaslike mense grawe ’n verskeidenheid wortels uit waarvan hulle ’n heerlike, geurige tee maak. Hulle hou ook daarvan om denneneute te eet.

Party Altaiërs besit plase. Een Getuie het gesê dat sy en haar familielede 75 beeste en 80 skape het. Hulle verkoop die vleis, en hulle verruil wol vir meel en suiker. ’n Ander Christensuster het vir my gesê dat sy vier ramme verkoop het sodat sy en haar dogter na die byeenkoms kon gaan. Sewe ander mense met wie sy Bybelstudies hou, het saam met haar gekom! By die byeenkoms het een van hulle vir my gesê: “Daar is vir ons net een lewensweg—God se weg.”

Hoewel dit ’n afgeleë streek met asemrowende skoonheid is—besoekers noem dit die tweede Switserse Alpe—het die lewe selfs hier dramaties verander. Een bejaarde man het vir my gesê: “As iemand ’n paar jaar gelede vir my gesê het dat ek my joert [ronde koepelvormige huis] sou moes sluit voordat ek gaan slaap, sou ek hom nie geglo het nie. Maar nou doen ek dit elke aand.” Hierdie “kritieke tye” het baie beweeg om profesieë in die Bybel te ondersoek.—2 Timoteus 3:1-5.

Die Altaiërs is oor die algemeen trots op hulle ou tradisies en vorm van aanbidding. Die meeste glo aan rivier- en berggeeste—vir hulle is ’n berg die simbool van hulle gode. Hulle aanbid ook diere en teken selfs afbeeldings van ’n konyn op ’n wit doek en hang dit dan teen ’n muur van hulle joert. Wanneer die eerste donderstorm van die reënseisoen kom, voer hulle ook ’n ritueel voor die afbeelding van die konyn uit en besprinkel dit met tee, melk of ’n alkoholiese drank wat arak genoem word. Maar hulle aanbid veral wat hulle glo geeste van die dooies is.

Hulle godsdiensleiers word sjamane genoem. Gedurende die lente sowel as die herfs voer die sjamane rituele uit by ‘heilige plekke’ op die toppe van die berge of teen die berghange. Tydens sulke rituele bind die sjamane wit lappe aan boomtakke vas, en baie bome word so bedek. Hulle glo dat hulle daardeur die berggeeste sal paai en dat die geeste hulle sal beskerm teen teëspoed terwyl hulle reis.

Die gevolge van spiritisme

Wat my en my vriende egter die meeste beïndruk het, was die mense en hulle hartlike opregtheid. Ons het Swetlana en haar dogter Toeloenai in Barnaoel ontmoet, en hulle het toe gasvryheid aan ons bewys in Oestʹ-Kan, ’n dorpie met ongeveer 3 000 inwoners. Swetlana is deur haar ouma grootgemaak volgens plaaslike tradisies en in noue samewerking met die sjamane. Trouens, Swetlana het geleer om te kommunikeer met wat sy geglo het die geeste van die dooies was. As gevolg van haar spesiale kennis het Swetlana ’n gesagsposisie gekry, waarvan sy gehou het.

Maar sy het baie probleme begin ondervind. “Die demone het my geteister”, het sy vir my gesê. “Ek kon nie ’n goeie nagrus geniet nie.” Sy was soms in ’n halfhipnotiese toestand. “Eenkeer”, het sy verduidelik, “het ek my ses maande oue babadogtertjie Toeloenai in die gedaante van ’n varkie gesien wat na my toe gekruip het. Ek wou dit verwurg. Maar Toeloenai het hard begin huil. Ek is met afgryse vervul toe ek weer by my sinne kom en besef dat ek my baba kon vermoor het.” Swetlana het oor die identiteit van hierdie geeste begin wonder.

Toe, in 1991, het ’n Altaïese vrou Bybellektuur wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word na Oestʹ-Kan geneem. Elke keer wat Swetlana die brosjure “Kyk, Ek maak alles nuut” begin lees het, het sy slaperig geraak. “Ek het by myself gelag”, het sy vertel, “en gesê dat die Getuies vir my iets beters as ’n slaappil gegee het.” Maar sy het nog steeds ontstellende gesigte in die nag gehad en het gevolglik ’n opregte gebed gedoen: “Jehovah, as u so magtig is, help my asseblief om van hierdie verskriklike nagmerries ontslae te raak.” ’n Paar sekondes later was alles reg en het sy normaal gevoel.

Swetlana het begin om in die aand voor sy gaan slaap het te bid, en tot haar verbasing het sy vinnig aan die slaap geraak. “Dit was ongelooflik dat ek soos ’n normale persoon kon slaap”, het sy gesê. Sy het besluit om die Bybel ernstig te bestudeer met behulp van publikasies van die Wagtoringgenootskap, en in 1992 het sy haar toewyding aan Jehovah God deur middel van waterdoop gesimboliseer. “Ek het geleer dat niks onmoontlik is as jy Jehovah volkome vertrou nie”, het sy my vertel.—Filippense 4:13.

Christenaanbidding floreer

Teen 1993 is ’n gemeente van Jehovah se Getuies in Oestʹ-Kan gestig, en sowat 70 mense het die vergaderinge daar bygewoon. In April 1998 was daar 120 by die herdenking van Christus se dood. Die dorp Jakonoer, ’n paar kilometer noord van Oestʹ-Kan, is vroeër as die middelpunt van sjamanisme beskou. Maar ’n man met die naam Sjamit het gesê dat die sjamane hulle mag verloor het toe die Getuies daar begin getuig het. ’n Groep Getuies is nou bedrywig in hierdie dorpie, en baie mense toon belangstelling in die Bybel.

In die dorp Tsjagan-Oezoen, wat 90 kilometer van die Mongoolse grens is, lees die meeste van die sowat 500 inwoners blykbaar ons publikasies. En in Gorno-Altaisk, die hoofstad van die Republiek van Altai, is daar twee gemeentes met ongeveer 160 Getuies.

Vroeg in 1994 is baie Getuies, onder andere diegene van Oestʹ-Kan, egter beveel om in die hof in Gorno-Altaisk te verskyn. Daar is belaglike beskuldigings teen hulle ingebring, soos dat hulle kinderofferandes bring. As gevolg van die teenkanting het party Getuies hulle werk verloor en is hulle uit Altai verban. Maar mettertyd het dit duidelik geword dat die beskuldigings teen die Getuies vals is. Gevolglik het die Republiek van Altai se Departement van Justisie Gorno-Altaisk se gemeenskap van Jehovah se Getuies, in Mei 1994, wetlik geregistreer. Vandag is die Getuies en hulle Bybellektuur goed bekend regoor Altai.

Deelname aan die bediening

Gedurende ons besoek aan Oestʹ-Kan kon ons saam met die plaaslike Getuies aan hulle openbare bediening deelneem. Trouens, die nuus is versprei dat besoekers op pad was. Toe ’n verslaggewer van die plaaslike koerant ons dus in die bediening sien, het hy ons groep genader en gesê: “Ek het gehoor dat daar belangrike mense is wat hierheen kom. Hoe kan ek met hulle in aanraking kom?”

Hoe verras was hy tog toe hy hoor dat ons die sogenaamde belangrike mense is! Hy was verbaas dat ons saam met die plaaslike mense besoeke by die huise van sy bure gedoen het. Tydens ons gesprek met hom het hy opgemerk: “Ek sien dat julle nie base het nie. Julle is net doodgewone mense wat nie dink dat julle spesiaal is nie. Dit is waarlik merkwaardig! Julle is ware Christene, en ek is aan julle kant.”

Ons besoek het alte gou tot ’n einde gekom. Toe ons vertrek, het ons vriende trane in hulle oë gehad. Hulle het teenaan mekaar gestaan, skouer aan skouer, sodat hulle ’n muur gevorm het. Dit is ’n tradisionele Altaïese manier om goeie vriende te groet. In die paar dae wat ons saam met hulle deurgebring het, het ons baie lief vir mekaar geword. Ons het ware vriende geword. Waarom? Omdat Jehovah, die onpartydige God, die een is wat ons verenig het.—Handelinge 10:34.

By ons terugkeer

By ons terugkeer na Barnaoel het ons by ’n winkel in ’n klein dorpie in die berge gestop. Die winkelklerk, wat alleen was, was baie bly om ons te sien. Nadat ons ’n bietjie gesels het, het ek haar gevra: “Het jy al ooit die naam Makarios gehoor?”

“Nee, ek het nie”, het sy na ’n rukkie geantwoord.

Ek het dus vir haar ’n eksemplaar van die Makarios-vertaling van die Bybel gewys en verduidelik: “Dit was hier in Altai dat Makarios, gedurende die vorige eeu, aan hierdie vertaling gewerk het.” Toe het ek vir haar die Bybel as ’n geskenk gegee.

Die vrou het dit dadelik begin lees terwyl ons verder rondgekyk het. Ons het gesien hoe haar oë skielik begin vonkel. Toe ons gereed was om te gaan, het sy vir ons gesê dat sy baie vriende en familielede het wat in die Bybel sal belangstel. Voordat ons dus finaal gegroet het, het ons heelwat Bybellektuur by haar gelaat.

Hoewel dit meer as 150 jaar gelede is sedert Makarios onder die Altaiërs gewoon en aan sy Bybelvertaling gewerk het, hoe verblydend is dit tog om te weet dat baie Altaiërs vandag by daardie Bybel baat vind!—Bygedra.

[Kaart op bladsy 17]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

RUSLAND

Altai

Gorno-Altai

Kazakstan

China

Mongolië

[Prent op bladsy 16, 17]

Altaiërs by die byeenkoms in Barnaoel

[Prente op bladsy 16, 17]

Natuurskoon in Altai

[Prent op bladsy 17]

Baie glo dat hierdie lappe reisigers beskerm

[Prente op bladsy 18]

Predikingswerk in Oestʹ-Kan

[Prent op bladsy 18]

Swetlana en haar dogter

[Prent op bladsy 19]

Makarios-bybel

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel