Die omgewing—die uitwerking daarvan op jou gesondheid
DOKTER Walter Reed, van die Wêreldhulpbroninstituut, het onlangs op VN-radio gesê dat die mens tans so ’n groot invloed op die aarde se omgewingstelsels uitoefen dat hy “besig is om hierdie kringlope grootliks te ontwrig”. Dr. Reed sê dat hierdie ontwrigting van die omgewing op sy beurt wêreldwyd tot gesondheidsgevare bydra. In ’n artikel wat ’n oorsig van die boek World Resources 1998-99 gegee het, het die tydskrif Our Planet, wat deur die Verenigde Nasies uitgegee word, ’n lys van party van hierdie gesondheidsgevare gegee. Hier volg ’n paar:
□ Binnenshuise en buitenshuise lugbesoedeling is met asemhalingsinfeksies verbind wat elke jaar tot die dood van byna viermiljoen kinders lei.
□ ’n Gebrek aan skoon water en sanitasie bevorder die verspreiding van diarreesiektes wat elke jaar die lewe van driemiljoen kinders eis. Cholera wat byvoorbeeld al lank terug in Latyns-Amerika uitgewis is, het weer daar kop uitgesteek en het in 1997 alleen die dood van 11 000 mense veroorsaak.
Na bewering sterf daar in die armste wêrelddele elke dag meer as 30 000 kinders aan siektes wat met die omgewing verband hou. Probeer jou dit voorstel—elke dag van die jaar 30 000 mense, wat genoeg is om al die sitplekke op sowat 75 makrostralers te vul!
Gesondheidsgevare wat deur die omgewing veroorsaak word, is egter nie net tot die ontwikkelende wêreld beperk nie. Our Planet sê dat “meer as 100 miljoen mense in Europa en Noord-Amerika nog aan onveilige lug blootgestel is”, wat tot ’n opvallende toename in die voorkoms van asma bydra. Terselfdertyd het die toename in internasionale toerisme en handel daartoe bygedra dat sowat 30 nuwe aansteeklike siektes in die ontwikkelde wêreld verskyn het. Daarbenewens het die tydskrif berig dat siektes wat voorheen onder beheer was “met mening teruggekeer het”.
Die tragiese hiervan is dat die meeste van hierdie siektes wat met die omgewing verband hou met bestaande tegnologie en teen ’n betreklik lae koste voorkom kan word. Gesondheid kan byvoorbeeld in groot mate verbeter word as alle mense van skoon water en sanitasie voorsien word. Hoeveel geld sal nodig wees om hierdie doel te bereik? VN-radio berig dat dit volgens die Human Development Report 1998 van die Verenigde Nasies 68,5 miljard rand sal kos om skoon water en sanitasie aan almal te voorsien—dit is minder as wat Europeërs in een jaar aan roomys bestee!
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Foto: Casas, Godo-Foto