Jongmense vra . . .
Hoe kan ek bespotting die hoof bied?
JONGMENSE wat anders as hulle portuurs optree of aantrek, kan die slagoffers van bittere spot wees. Dit is waar van jong Christene, wie se gedrag dikwels heeltemal verskil van dié van ander jongmense. Het Christus nie van sy ware volgelinge gesê: “As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” nie?—Johannes 15:20.
Hoe raak dit jongmense wat Getuies van Jehovah is? Party van hulle word gespot omdat hulle nie sekere vakansiedae vier nie; ander word gekritiseer omdat hulle nie die vlag salueer nie. Baie van hulle word selfs lastig geval omdat hulle nie dwelms gebruik nie, eerlik is en die Bybel se sedelike standaarde handhaaf.
Hierdie situasie is niks nuuts nie. Trouens, die apostel Petrus het vir Christene wat in die eerste eeu gelewe het, gesê: “Omdat julle nie meer hierdie weg . . . saam met [die mense van die nasies] bewandel nie, vind hulle dit vreemd en hou hulle aan om smadend van julle te praat” (1 Petrus 4:4). Ander vertalings sê dat hulle “julle uitskel” (Knox) of “julle beledig”.—Today’s English Version.
Is jy al ooit gespot weens jou godsdiensoortuiging? Indien wel, skep moed. Jy bevind jou in goeie geselskap! En jy sal bly wees om te weet dat jy kan leer om die onaangename ondervinding om weens jou geloof gespot te word die hoof te bied.
Waarom hulle jou spot
Waarom dryf party die spot met diegene wie se opvattings en gedrag van hulle s’n verskil? Soms is spotters—soos bullebakke—onseker van hulleself. Hulle spot jou dalk om hulle vriende te beïndruk. Min van hierdie moeilikheidmakers sal waarskynlik daarin belangstel—of die moed hê—om jou te kritiseer as hulle alleen is.
Daarenteen vind party spotters jou gedrag moontlik “vreemd”, soos Petrus geskryf het. Ja, dalk verstaan hulle regtig nie waarom jy op ’n sekere manier optree nie. As jy byvoorbeeld een van Jehovah se Getuies is, vind hulle dit dalk vreemd dat jy nie aan bedrywighede deelneem wat met sekere vakansiedae verband hou nie. Hulle het moontlik selfs verkeerde inligting oor die Getuies gekry by mense wat ons werk teëstaan.
Wat die rede ook al is, as jy bespotting moet verduur, sal jy moontlik saamstem met die Bybelspreuk: “Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke” (Spreuke 12:18). Maar onthou dat diegene wat so met jou praat dit waarskynlik nie doen omdat hulle nie van jou as ’n persoon hou nie. Hulle doen heel moontlik presies wat die Bybelspreuk sê—hulle ‘spreek onverskillig woorde uit’.
Spot kan nietemin seermaak, net soos ’n steekwond. Jy kan selfs in die versoeking kom om jou geloof prys te gee sodat al die beledigings sal ophou. Hoe kan jy dus die bespotting weens jou opvattings die hoof bied?
Hoe om jou te verdedig
Die apostel Petrus het Christene aangespoor: “Wees altyd gereed om julle te verdedig voor elkeen wat van julle ’n rede vir die hoop in julle eis, maar doen dit met saggeaardheid en diep respek” (1 Petrus 3:15). As jy jou geloof só wil verdedig, moet jy juiste kennis inneem en die redes vir jou opvattings verstaan.
Maar jy moet ook leer om ander met “diep respek” aan te spreek of, soos The Bible in Basic English dit weergee, “sonder trots”. Jou kennis van die Bybel en die leringe daarin moet jou nie laat voel dat jy beter as ander is nie. Jy moet eerder daarna streef om die gesindheid van die apostel Paulus aan te kweek, wat oor sy bediening geskryf het: “Ek [het] my tot slaaf van almal gemaak, sodat ek die meeste kan wen.”—1 Korintiërs 9:19.
Moenie moed opgee as jy vind dat jy bang is om jou geloof te verdedig nie. Talle jong Getuies het al so gevoel. “Toe ek in die laerskool was”, sê Jamal, “het ek nie geweet hoe om vir ander te verduidelik waarom ek nie vakansiedae vier of die vlag salueer nie of selfs waarom ek in die bediening van huis tot huis uitgaan nie.” Wat het hom gehelp? “My pa het my gehelp totdat ek uiteindelik hierdie dinge kon verduidelik, en dit het ’n hemelsbreë verskil gemaak.” As jy dit moeilik vind om jou opvattings aan ander te verduidelik, kan jy miskien ’n ouer of ’n ander ervare lid van die Christengemeente vra om jou te help om ’n goeie begrip te kry van die kennis van God.—Efesiërs 3:17-19.
’n Sestienjarige Getuie het gesê dat ’n program van persoonlike Bybelstudie haar gehelp het om die moed bymekaar te skraap om haar opvattings by die skool te verdedig. “Tevore, wanneer my klasmaats my geterg het omdat ek ’n Getuie is, het ek nie geweet wat om te sê nie”, erken sy. “As ’n voltydse evangeliedienaar bestudeer ek die Bybel nou baie meer en kan ek my verdedig. Ek lees ook die jongste artikels in Die Wagtoring en Ontwaak!, en dit help my om met my skoolmaats oor my opvattings te praat.”
Alle situasies is natuurlik nie dieselfde nie. Verskillende situasies vereis dus verskillende reaksies. Dit is egter nooit gepas om ‘kwaad vir kwaad te vergeld’ wanneer jy jou vererg oor ’n onvriendelike aanmerking nie (Romeine 12:17-21). ’n Beledigende antwoord, al is dit ook hoe gevat, sal net olie op die vuur wees en kan selfs tot verdere bespotting lei. Party het dit dus beter gevind om die belediging te ignoreer.
In sommige gevalle, soos wanneer iets bloot as ’n grap gesê word, sal dit dalk raadsaam wees om eerder saam te lag oor die opmerking as om jou daaroor te vererg (Prediker 7:9). As die grapmaker sien dat sy woorde min of geen uitwerking het nie, sal hy heel moontlik ophou om jou te teister.—Vergelyk Spreuke 24:29; 1 Petrus 2:23.
Gee ’n verduideliking
Daar is egter tye wanneer jy dalk ’n kort, taktvolle verduideliking van jou opvattings kan gee. ’n Dertienjarige meisie het dit probeer en het baie goeie resultate gehad. “Ek was op pad klas toe”, het sy gesê, “toe ’n hele paar leerlinge met Jehovah se Getuies die spot begin dryf het. Ek het gevoel dat ek iets moet sê, maar hulle het net weggeloop en aangehou om vir my te lag—almal behalwe een.” Die Getuieleerling het verduidelik: “’n Meisie met die naam Jaimee het met my begin praat en gesê dat sy die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewea het. Sy het gesê dat sy die boek amper klaar gelees het en dat sy graag meer inligting oor ons opvattings wil hê. Ek het die Bybel met Jaimee begin studeer.” Die jong Getuie is deur haar ondervinding aangemoedig en het ook met ander jongmense begin praat. “Ek besoek gereeld vier medeleerlinge wat belangstelling getoon het en wat ek seker is binnekort ’n studie sal aanvaar”, het sy gesê.
Jare gelede het ’n student in die Afrikaland Liberië ’n soortgelyke ondervinding gehad. Gedurende ’n sosiologieklas het hy op ’n respekvolle wyse verduidelik dat hy as ’n Getuie van Jehovah in die skepping glo en nie in evolusie nie. Aanvanklik was heelparty van sy klasmaats baie krities. Maar die onderwyser het hom toegelaat om sy opvattings aan die klas te verduidelik, waarna die onderwyser die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?b geneem het.
Nadat die onderwyser die boek gelees het, het hy vir die klas gesê: “Hierdie boek is uniek. Dit is een van die beste wetenskapboeke oor die skepping wat ek nog gelees het.” Toe het die onderwyser verduidelik dat hy van plan is om gedurende die volgende twee semesters die Skepping-boek saam met die klashandboek te gebruik, en hy het vir die klas gesê om eksemplare by die Getuiestudent te kry. Tientalle boeke is versprei, en baie studente het hulle beskouing oor Jehovah se Getuies verander!
’n Beproefde geloof is ’n sterk geloof
’n Mens voel weliswaar soms oorweldig omdat daar so baie is wat nie dieselfde Bybelse standpunt as jy het nie—of dit nie verstaan nie. (Vergelyk Psalm 3:2, 3.) Dit is derhalwe verstandig om die geselskap van diegene te soek wat dieselfde oortuigings en opvattings as jy het (Spreuke 27:17). Maar gestel daar is geen jongmense in jou skool of in jou buurt wat jou opvattings deel nie.
Indien dit die geval is, moet jy onthou dat Jehovah God jou beste Vriend is en dat hy jou kan ondersteun. Hy word al duisende jare lank deur Satan die Duiwel uitgetart. Dit verbly dus sekerlik Jehovah se hart wanneer jy ferm standpunt inneem vir jou geloof. As jy dit doen, bied jy hom ’n geleentheid ‘om ’n antwoord te gee vir Satan, wat hom uittart’.—Spreuke 27:11, NW.
’n Mens moet verwag dat jou geloof van tyd tot tyd beproef sal word (2 Timoteus 3:12). Maar die apostel Petrus verseker ons dat die beproefde hoedanigheid van ons geloof van “baie groter waarde is as goud wat vergaan al word dit deur vuur getoets” (1 Petrus 1:7). Wanneer jy weens jou geloof beledig word, moet jy dit derhalwe as ’n geleentheid beskou om jou geloof te versterk en jou volharding te bewys. Die apostel Paulus het geskryf dat volharding tot “’n goedgekeurde toestand” lei (Romeine 5:3-5). Ja, die begeerte om Jehovah se guns te verkry, is ’n kragtige aansporing om te volhard wanneer jy weens jou geloof gespot word!
[Voetnote]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 13]
Kan jy jou geloof verdedig?