Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 5/22 bl. 10-13
  • ‘Die kinders is swak’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Die kinders is swak’
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verhewe beginsels
  • Hedendaagse werklikhede
  • Die ware antwoord
  • Hoe om jou kinders groot te maak sodat hulle Jehovah liefhet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Hoe om ’n geestelike sterk gesin te bou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Hoe om gelukkige kinders in ’n wêreld vol beroering groot te maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 5/22 bl. 10-13

‘Die kinders is swak’

‘Die kinders is swak; ek sal stadig trek, na die gang van die kinders.’—Jakob, ’n vader van baie kinders, 18de eeu v.G.J.

KINDERMISHANDELING is niks nuuts nie. Antieke beskawings—soos die Asteke, die Kanaäniete, die Inkas en die Fenisiërs—is berug vir die gebruik om kinders te offer. Opgrawings in die Fenisiese stad Kartago (nou ’n voorstad van Tunis, Noord-Afrika) het aan die lig gebring dat tot 20 000 kinders tussen die vyfde en die derde eeu v.G.J. aan die god Baäl en die godin Tanit geoffer is! Hierdie getal is selfs skokkender wanneer ’n mens in gedagte hou dat Kartago in sy glorietyd glo net sowat 250 000 inwoners gehad het.

Maar daar was een antieke gemeenskap wat anders was. Ten spyte van die feit dat die nasie Israel tussen bure gewoon het wat wreed teenoor kinders was, was hulle ooglopend anders in die manier waarop hulle kinders behandel het. Die vader van daardie nasie, die aartsvader Jakob, het die voorbeeld gestel. Volgens die Bybelboek Genesis het Jakob, toe hy na sy vaderland teruggekeer het, die pas van sy hele groep aangepas sodat die reis nie te moeilik vir die kinders sou wees nie. ‘Die kinders is swak’, het hy gesê. Op daardie tydstip was sy kinders tussen 5 en 14 jaar oud (Genesis 33:13, 14). Sy nageslag, die Israeliete, het dieselfde respek vir kinders se behoeftes en waardigheid gehad.

In Bybeltye het kinders ongetwyfeld baie gehad om te doen. Namate seuns groter geword het, het hulle vader hulle praktiese opleiding in die landbou of in ’n ambag, soos skrynwerk, gegee (Genesis 37:2; 1 Samuel 16:11). Terwyl meisies nog in die huis was, het hulle moeders hulle die huishoudelike vaardighede geleer wat hulle as volwassenes nodig sou hê. Ragel, Jakob se vrou, het kleinvee opgepas toe sy ’n jong meisie was (Genesis 29:6-9). Jong vroue het in die wingerd gewerk en tydens die koringoes ook op die landerye (Rut 2:5-9; Hooglied 1:6).a Sulke werk is gewoonlik onder die liefdevolle toesig van hulle ouers gedoen en was ’n deel van kinders se opvoeding.

Terselfdertyd het jong kinders in Israel die vreugde van ontspanning en vermaak geken. Die profeet Sagaria het gepraat van die ‘pleine van die stad wat vol sal wees van seuntjies en dogtertjies wat speel’ (Sagaria 8:5). En Jesus Christus het gepraat van jong kinders wat op die markpleine sit en op die fluit gespeel en gedans het (Matteus 11:16, 17). Wat het tot hierdie waardige behandeling van kinders bygedra?

Verhewe beginsels

Solank die Israeliete God se wette onderhou het, het hulle nooit hulle kinders mishandel of uitgebuit nie. (Vergelyk Deuteronomium 18:10 met Jeremia 7:31.) Hulle het hulle seuns en dogters as “’n erfdeel van die HERE”, “’n beloning”, beskou (Psalm 127:3-5). ’n Ouer het sy kinders beskou as ‘olyfboompies rondom sy tafel’—en olyfbome was baie kosbaar in daardie landbougemeenskap! (Psalm 128:3-6). Die geskiedskrywer Alfred Edersheim sê dat antieke Hebreeus, buiten die woorde vir seun en dogter, nege ander woorde vir kinders gehad het, elk vir ’n ander stadium in hulle lewe. Hy kom tot dié gevolgtrekking: “Mense wat die lewe van kinders met soveel belangstelling dopgehou het dat hulle ’n beskrywende naam vir elke stadium daarvan gegee het, moes beslis baie lief vir hulle kinders gewees het.”

In die Christelike era is ouers gemaan om hulle kinders met waardigheid en respek te behandel. Jesus het ’n uitstekende voorbeeld gestel in die manier waarop hy ander mense se kinders behandel het. By een geleentheid teen die einde van sy aardse bediening het mense hulle kinders na hom toe gebring. Die dissipels het die mense probeer keer omdat hulle klaarblyklik gevoel het dat Jesus te besig was om gepla te word. Maar Jesus het sy dissipels só berispe: “Laat die jong kinders na my toe kom; moet hulle nie probeer keer nie.” Jesus het selfs “die kinders in sy arms geneem”. Sy beskouing van kinders was ongetwyfeld dat hulle kosbaar is en dat hulle verdien om goed behandel te word.—Markus 10:14, 16; Lukas 18:15-17.

Later het die apostel Paulus vir vaders gesê: “Moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie” (Kolossense 3:21). In ooreenstemming met hierdie opdrag sou Christenouers destyds nooit toegelaat het dat hulle kinders slagoffers van gevaarlike werksomstandighede word nie, en hulle sal dit vandag ook nie doen nie. Hulle besef dat kinders ’n liefdevolle en veilige omgewing nodig het om in fisiese, emosionele en geestelike sin te kan floreer. Die ouers se opregte liefde moet duidelik waarneembaar wees. Dit sluit in dat hulle hulle kinders teen aftakelende werksomstandighede beskerm.

Hedendaagse werklikhede

Ons lewe natuurlik in ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1-5). Weens harde ekonomiese werklikhede vind selfs Christengesinne in baie lande dit dalk nodig om hulle kinders te laat werk. Soos reeds genoem is, is daar niks verkeerd met werk wat heilsaam en opvoedkundig vir die kinders is nie. Sulke werk kan ’n kind se fisiese, verstandelike, geestelike, sedelike of sosiale ontwikkeling vooruithelp of bevorder sonder dat dit op noodsaaklike skoolwerk, gebalanseerde ontspanning en die nodige rus inbreuk maak.

Christenouers wil ongetwyfeld hê dat hulle kinders onder hulle eie liefdevolle toesig werk, nie as ’t ware as slawe van wrede, ongevoelige of gewetenlose werkgewers nie. Sulke ouers wil seker maak dat enige soort werk wat hulle kinders doen hulle nie aan fisiese, seksuele of emosionele mishandeling blootstel nie. Hulle wil ook hulle kinders naby hulle hê. Op hierdie manier kan hulle hulle Bybelse rol as geestelike opvoeders vervul: “Jy moet dit [God se woorde] jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”—Deuteronomium 6:6, 7.

Daarbenewens moet ’n Christen meegevoel betoon, geneentheid en tere medelye hê (1 Petrus 3:8). Hy word aangespoor om “aan almal goed [te] doen” (Galasiërs 6:10). As sulke godvrugtige eienskappe aan mense oor die algemeen betoon moet word, hoeveel te meer dan nie aan ’n mens se kinders nie! In ooreenstemming met die Gulde Reël—“alles wat julle . . . wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen”—sal Christene hulleself nooit toelaat om ander se kinders uit te buit nie, ongeag of hulle mede-Christene is of nie (Matteus 7:12). Bowendien is Christene, aangesien hulle wetsgehoorsame burgers is, versigtig om nie regeringswette te oortree wanneer dit kom by die ouderdomsgrens van mense wat vir hulle werk nie.—Romeine 13:1.

Die ware antwoord

Wat van die toekoms? Vir kinders sowel as volwassenes lê daar beter tye voor. Ware Christene is vol vertroue dat die permanente oplossing vir die probleem van kinderarbeid ’n inkomende wêreldregering is wat die Bybel “die koninkryk van die hemele” noem (Matteus 3:2). Godvresende mense bid al eeue lank hiervoor wanneer hulle sê: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:9, 10.

Hierdie Koninkryk sal onder andere die toestande verwyder wat tot kinderarbeid lei. Dit sal armoede uit die weg ruim. “Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën” (Psalm 67:7). God se Koninkryk sal verseker dat almal behoorlike opvoeding ontvang wat op godvrugtige eienskappe gegrond is. “As u [God se] oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.”—Jesaja 26:9.

God se regering gaan ekonomiese stelsels wat ongelykheid bevorder tot niet maak. Diskriminasie op grond van ras, sosiale status, ouderdom of geslag sal dan glad nie meer bestaan nie, aangesien die vernaamste wet van daardie regering die wet van liefde sal wees, onder andere die bevel: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 22:39). Onder so ’n regverdige wêreldregering sal die probleem van kinderarbeid heeltemal opgelos wees!

[Voetnoot]

a Dit het vroue nie tot tweedeklas gesinslede verlaag wat net goed was om in die huis of op die landerye te werk nie. Die beskrywing van die “deugsame vrou” in Spreuke toon dat ’n getroude vrou nie net ’n huishouding kon bestuur nie, maar dat sy ook eiendom kon koop en verkoop, ’n winsgewende boerdery kon behartig en ’n klein sakeonderneming kon bedryf.—Spreuke 31:10, 16, 18, 24.

[Venster op bladsy 12]

’n Bordeeleienares laat haar meisies gaan

CECILIAb het 15 jaar lank bordele op een van die Karibiese Eilande besit en bestuur. Sy het 12 tot 15 meisies op ’n slag gekoop, die meeste van hulle jonger as 18. Die meisies is teen hulle sin daar gehou vir skuld wat hulle gesinne gemaak het. Cecilia het die skuld afbetaal en die meisies geneem om vir haar te werk. Uit wat hulle verdien het, het sy vir hulle kos en onderhoud betaal en ook ’n gedeelte teruggehou as paaiement op hulle oorspronklike koopprys. Dit het hulle jare geneem om hulle vryheid terug te kry. Die meisies is nooit toegelaat om sonder ’n wag die huis te verlaat nie.

Cecilia onthou een spesifieke geval baie goed. Die moeder van ’n meisie wat ’n prostituut was, het elke week gekom om bokse kos te kry—kos wat deur haar dogter se “werk” verdien is. Daardie meisie het ’n seun grootgemaak. Sy kon nie haar skuld afbetaal nie en het geen vooruitsig op ’n lewe van vryheid gehad nie. Op ’n dag het sy selfmoord gepleeg en haar seun aan die sorg van haar eienares toevertrou. Cecilia het die seun saam met haar eie vier kinders grootgemaak.

Een van Cecilia se dogters het die Bybel saam met sendelinge van Jehovah se Getuies begin studeer. Cecilia is aangemoedig om die studie by te woon, maar sy het aanvanklik geweier omdat sy nooit geleer lees of skryf het nie. Sy het egter geleidelik, deur ongemerk na die Bybelbesprekings te luister, begin bewus word van God se liefde en geduld en sy vergewensgesindheid begin waardeer (Jesaja 43:25). Kort daarna het sy begin om te leer lees en skryf omdat sy graag self die Bybel wou bestudeer. Namate sy meer Bybelkennis opgedoen het, het sy besef dat dit nodig is om aan God se verhewe sedelike standaarde te voldoen.

Een dag, tot die meisies se verbasing, het sy vir hulle gesê dat hulle vry is om te gaan! Sy het verduidelik dat wat hulle gedoen het Jehovah baie ongelukkig gemaak het. Nie een van hulle het ooit hulle skuld aan haar terugbetaal nie. Maar twee van hulle het by haar ingetrek. Nog een het uiteindelik ’n gedoopte Getuie geword. Cecilia is nou al 11 jaar lank ’n voltydse Bybelonderrigter, wat ander mense help om van godonterende gebruike weg te breek.

[Voetnoot]

b Nie haar regte naam nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel