Deur die geswoeg van kinders
“Kinders, wat nou by die vervaardigingsproses betrokke is, word soos ekonomiese goedere behandel en nie soos die toekoms van die samelewing nie.”—Tsjira Hongladarom, direkteur van die Instituut vir Mannekrag, Thailand.
WANNEER jy weer vir jou dogtertjie ’n pop koop, onthou dan dat dit moontlik deur klein kindertjies in Suidoos-Asië gemaak is. Wanneer jou seun weer ’n sokkerbal skop, dink dan na oor die feit dat dit dalk deur ’n driejarige dogtertjie aanmekaar gewerk is wat, saam met haar ma en vier susters, net R4,50 per dag verdien. Wanneer jy weer ’n tapyt koop, dink dan daaraan dat dit moontlik deur die behendige vingertjies van sesjarige seuntjies geweef is wat dag na dag lang ure in haglike omstandighede werk.
Hoe algemeen is kinderarbeid? Wat doen dit aan kinders? Wat kan gedoen word om die situasie reg te stel?
Die omvang van die probleem
Volgens die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) word daar geskat dat 250 miljoen kinders tussen die ouderdomme van 5 en 14 jaar in ontwikkelende lande werk.a Vermoedelik is 61 persent van hulle in Asië, 32 persent in Afrika en 7 persent in Latyns-Amerika. Kinderarbeid kom ook in nywerheidslande voor.
In die suide van Europa doen baie kinders werk waarvoor hulle betaal word, veral as seisoenarbeiders op plase en in klein werkswinkels. Kinderarbeid het onlangs in Sentraal- en Oos-Europa toegeneem ná die oorskakeling van Kommunisme na kapitalisme. In die Verenigde State word die aantal kinderarbeiders amptelik op 5,5 miljoen gestel, maar dit sluit nie al die kinders onder 12 in wat onwettig werk in plekke waar hulle net ’n hongerloon betaal word nie, en ook nie dié wat as seisoen- en trekarbeiders op groot plase werk nie. Hoe word hierdie miljoene kinders deel van die arbeidsmag?
Die oorsake van kinderarbeid
Uitbuiting van armoede. “Die grootste oorsaak van kinders wat gevaarlike, uitputtende werk doen, is die feit dat armoede uitgebuit word”, sê The State of the World’s Children 1997. “Die klein bydrae wat ’n kind se inkomste lewer of sy hulp in die huis wat die ouers kans gee om te werk, kan vir arm gesinne die verskil beteken tussen hongerte en om net genoeg te hê.” Die ouers van kinderarbeiders is dikwels werkloos of hulle het te min werk. Hulle sal enigiets doen om ’n vaste inkomste te hê. Waarom kry hulle kinders dan die werk pleks van húlle? Omdat kinders minder betaal kan word. Omdat kinders gewilliger en meer gedwee is—baie van hulle sal enigiets doen wat hulle gesê word, want hulle bevraagteken selde gesag. Omdat daar ’n kleiner moontlikheid is dat kinders georganiseerde weerstand teen onderdrukking sal bied. En omdat hulle nie terugbaklei wanneer hulle fisies mishandel word nie.
Gebrek aan skoolopleiding. Soedhir, ’n 11-jarige seun van Indië, is een van die miljoene kinders wat skool vroeg verlaat en begin werk het. Waarom? “Die onderwysers het nie goed klas gegee op skool nie”, antwoord hy. “As ons hulle gevra het om ons die alfabet te leer, het hulle ons geslaan. Hulle het in die klas geslaap. . . . As ons iets nie verstaan het nie, het hulle ons nie geleer nie.” Wat Soedhir van skool sê, is tragies genoeg die waarheid. In ontwikkelende lande het besnoeiing in maatskaplike begrotings veral die onderwys swaar getref. ’n VN-opname wat in 1994 in 14 van die wêreld se mins ontwikkelde lande gedoen is, het ’n paar interessante feite aan die lig gebring. Byvoorbeeld, in die helfte van hierdie lande het klaskamers vir graad een net vir 4 uit elke 10 leerlinge banke gehad. Die helfte van die leerlinge het nie handboeke nie, en die helfte van die klaskamers het nie swartborde nie. Dit is dus geen wonder dat baie kinders in sulke skole op die ou end gaan werk nie.
Tradisionele verwagtinge. Hoe gevaarliker en swaarder die werk is, hoe waarskynliker is dit dat etniese minderhede, die laer stande, die minderbevoorregtes en die armes dit sal moet doen. Die Verenigde Nasies-kinderfonds sê oor ’n Asiatiese land dat “dit nog altyd die beskouing was dat sommige mense gebore word om te heers en met hulle verstand te werk terwyl ander, die oorgrote meerderheid, gebore word om met hulle liggaam te werk”. In die Weste is gesindhede gewoonlik nie veel beter nie. Die oorheersende groep wil dalk nie hê dat hulle eie kinders gevaarlike werk moet doen nie, maar hulle sal hulle geensins daaroor bekommer as jongmense van rasse-, etniese of ekonomiese minderheidsgroepe sulke werk doen nie. Byvoorbeeld, in die noorde van Europa is kinderarbeiders waarskynlik afkomstig uit Turkye of Afrika; in die Verenigde State kom hulle dalk uit Asië of Latyns-Amerika. Die probleem van kinderarbeid word vererger deur ’n moderne samelewing wat behep is met verbruikersartikels. Die aanvraag na goedkoop produkte is groot. Min mense gee blykbaar om dat hierdie produkte dalk vervaardig word deur miljoene naamlose kinders wat uitgebuit word.
Vorme van kinderarbeid
In watter vorme kom kinderarbeid voor? Oor die algemeen is die meeste kinderwerkers huishulpe. Sulke werkers is al “die wêreld se mees vergete kinders” genoem. Huiswerk hoef nie gevaarlik te wees nie, maar dit is dikwels. Kinders wat huishulpe is, word gewoonlik maar min betaal—of hulle word glad nie betaal nie. Die voorwaardes en toestande waaronder hulle werk, is geheel en al in die hande van hulle eienaars. Hulle kry nie liefde nie, hulle gaan nie skool nie, hulle speel nie en hulle het geen sosiale bedrywighede nie. Hulle is ook kwesbaar vir fisiese en seksuele misbruik.
Ander kinders is dwangarbeiders of in pand gegee as gevolg van skuld. In Suid-Asië, sowel as in ander gebiede, word kinders wat dikwels net agt of nege is deur hulle ouers aan fabriekseienaars of hulle agente in pand gegee in ruil vir klein lenings. Die lewenslange slawerny van die kinders betaal nooit eers ’n deel van die skuld af nie.
Wat van die kommersiële seksuele uitbuiting van kinders? Volgens skatting word daar jaarliks ten minste eenmiljoen meisies regoor die wêreld in die sekshandel ingelok. Seuns word ook dikwels seksueel uitgebuit. Die fisiese en emosionele skade wat deur hierdie soort mishandeling gedoen word—om nie eens van HIV-besmetting te praat nie—maak dit een van die gevaarlikste vorme van kinderarbeid. “Mense sien ons in dieselfde lig as boemelaars”, sê ’n 15-jarige prostituut van Senegal. “Niemand wil ons ken of saam met ons gesien word nie.”b
’n Groot persentasie kinderwerkers word in nywerheids- en plantasiewerk uitgebuit. Hierdie kinders swoeg in myne wat as te gevaarlik vir volwassenes beskou word. Baie ly aan tering, brongitis en asma. Kinderarbeiders wat op plantasies werk, word aan plaagdoders, slang- en insekbyte blootgestel. Sommige is al vermink terwyl hulle suikerriet met kapmesse gesny het. Miljoene ander kinders het die strate hulle werkplek gemaak. Neem byvoorbeeld die tienjarige Shireen, wat ’n bestaan maak uit rommel. Sy het nog nooit skoolgegaan nie, maar sy is gekonfyt in die ekonomie van oorlewing. As sy twee tot drie rand se afvalpapier en plastieksakke verkoop, sal sy middagete hê. As sy minder verdien, sal sy honger bly. Straatkinders, wat dikwels van mishandeling of verwaarlosing by die huis wegvlug, word op straat verder mishandel en uitgebuit. “Ek bid elke dag dat ek nie in slegte mense se hande sal beland nie”, sê Josie, ’n tienjarige wat lekkers langs die strate van ’n Asiatiese stad verkoop.
Verwoeste kinderjare
Weens sulke vorme van kinderarbeid word tienmiljoene kinders aan ernstige gevare blootgestel. Hierdie gevare kan uit die aard van die werk of uit die slegte werkstoestande voortspruit. Kinders en ander jong werkers is gewoonlik in ernstiger werksongelukke betrokke as volwassenes. Die rede hiervoor is dat ’n kind se anatomie anders is as dié van ’n volwassene. Sy ruggraat of bekken kan maklik deur harde werk misvorm word. Kinders ly ook meer as volwassenes wanneer hulle aan gevaarlike chemiese stowwe of aan straling blootgestel word. Daarbenewens is kinders nie fisies geskik om lang ure van inspannende en eentonige werk te doen nie, wat heel dikwels hulle lot is. Hulle is gewoonlik nie van gevare bewus nie, en hulle weet ook nie veel van die voorsorgmaatreëls wat hulle moet neem nie.
Kinderarbeid het ook ’n ernstige uitwerking op die sielkundige, emosionele en intellektuele ontwikkeling van die slagoffers. Sulke kinders kry nie liefde nie. Slae, beledigings, straf deur uithongering sowel as seksuele molestering is iets baie algemeens. Volgens een studie het byna die helfte van die sowat 250 miljoen kinderarbeiders die skool vroeg verlaat. Daar is boonop gesien dat die leervermoë van kinders wat lang ure werk, benadeel kan word.
Wat beteken dit alles? Dat die meeste kinderarbeiders tot lewenslange armoede, ellende, siekte, ongeletterdheid en sosiale wanfunksie gedoem is. Of, soos die joernalis Robin Wright dit gestel het, “lewer die wêreld teen die einde van die 20ste eeu, ten spyte van al sy wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang, miljoene kinders op wat omtrent geen vooruitsig op ’n normale lewe het nie, wat nog te sê om die wêreld die 21ste eeu in te lei”. Hierdie ontstellende gedagte laat die volgende vrae ontstaan: Hoe moet kinders behandel word? Is daar enige oplossings in die vooruitsig vir die probleem van kinderarbeid?
[Voetnote]
a Die IAO stel oor die algemeen 15 jaar as die minimum ouderdom vas waarop kinders mag begin werk—mits 15 nie jonger is as die ouderdom waarop verpligte skoolopleiding voltooi word nie. Dit was nog altyd die algemeenste maatstaf om vas te stel hoeveel kinders regoor die wêreld op die oomblik werk.
b Sien bladsye 11-15 van die Ontwaak! van 8 April 1997 vir verdere inligting oor die seksuele uitbuiting van kinders.
[Venster op bladsy 5]
Wat is kinderarbeid?
IN ALLE gemeenskappe werk die meeste kinders op die een of ander manier. Hulle doen verskillende soorte werk in die gemeenskap na gelang van hulle ouderdom. Werk kan ’n belangrike bydrae tot kinders se opvoeding lewer, en dit kan ’n manier wees waarop noodsaaklike vaardighede van ouers na kinders oorgedra word. In sommige lande werk kinders dikwels in werkswinkels en klein diensondernemings en word hulle geleidelik volwaardige werkers namate hulle ouer word. In ander lande werk tieners ’n paar uur per week om sakgeld te verdien. Die Verenigde Nasies-kinderfonds sê dat sulke werk “voordelig is en dat dit die kind se fisiese, verstandelike, geestelike, sedelike of sosiale ontwikkeling vooruithelp of bevorder sonder dat dit op skool, ontspanning en rus inbreuk maak”.
Kinderarbeid, aan die ander kant, is wanneer kinders lang ure werk teen karige betaling, dikwels onder omstandighede wat nadelig is vir hulle gesondheid. Hierdie soort werk “is ongetwyfeld afbrekend of uitbuitend”, sê The State of the World’s Children 1997. “Niemand sou in die openbaar aanvoer dat dit onder enige omstandighede aanvaarbaar is om kinders as prostitute uit te buit nie. Dieselfde kan gesê word van ‘kinderarbeid in pand’, die term wat oor die algemeen gebruik word om te beskryf hoe kinders so te sê as slawe werk om skuld terug te betaal wat hulle ouers of grootouers gemaak het. Dit geld ook vir nywerhede wat berug is vir die verskriklike gesondheids- en veiligheidsgevare wat hulle inhou . . . Dit kan eenvoudig nie geduld word dat enige kind gevaarlike werk doen nie.”
[Venster/Prent op bladsy 8, 9]
“Daar moet nog baie gedoen word”
DIE Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) neem die voortou met die werk om ’n einde aan die ergste vorme van kinderarbeid te maak. Die IAO spoor regerings aan om wette aan te neem wat verbied dat kinders jonger as 15 werk. Dit staan ook nuwe konvensies voor wat kinderwerkers jonger as 12 onaanvaarbaar sal maak en die gevaarlikste vorme van uitbuiting onwettig sal maak. Om meer oor die sukses van sulke pogings uit te vind, het Ontwaak! met Sonia Rosen, direktrise van die Internasionale Kinderarbeidsprogram van die Amerikaanse Departement van Arbeid, gepraat. Sy het al ten nouste met verskeie IAO-programme saamgewerk. Hier volg ’n uittreksel uit daardie bespreking.
V.: Wat is die doeltreffendste manier om kinderarbeid te beveg?
A.: Daar is nie net een regte antwoord nie. Maar die kwessies wat ons al op internasionale vlak bespreek het, is sleutelkwessies, naamlik voldoende wetstoepassing tesame met universele laerskoolopleiding, wat verkieslik verpligtend en gratis moet wees. Dit is beslis ook noodsaaklik dat daar genoeg werk vir die ouers moet wees.
V.: Is u tevrede met die vordering wat al in die stryd teen kinderarbeid gemaak is?
A.: Ek is nooit tevrede nie. Ons sê dat net een kind wat in slegte omstandighede werk reeds een kind te veel is. Ons het goeie vordering gemaak deur die programme van die IAO. Maar daar moet nog baie gedoen word.
V.: Hoe reageer die internasionale gemeenskap op pogings om kinderarbeid uit die weg te ruim?
A.: Ek weet nie meer hoe om daardie vraag te beantwoord nie. Regoor die wêreld bestaan daar nou ’n mate van eenstemmigheid dat kinderarbeid iets is waarvan werk gemaak moet word. Ek dink op hierdie stadium is die vrae eintlik: Hoe, en hoe vinnig? Wat is die beste instrumente wat ons kan gebruik om sekere soorte kinderarbeid aan te spreek? Ek dink dit is ons eintlike uitdaging.
V.: Wat kan kinderwerkers in die toekoms verwag?
A.: Al die lande van die wêreld staan op die punt om vanjaar na Genève terug te keer om ’n nuwe konvensie oor die ergste vorme van kinderarbeid te sluit. Dit hou werklik groot belofte in—al die lande, sowel as die werkersorganisasies en die werkgewersorganisasies. Hopelik sal dit ’n nuwe struktuur tot stand bring wat daarop gemik is om van die ergste vorme van kinderarbeid ontslae te raak.
Nie almal is so optimisties soos Sonia Rosen nie. Charles MacCormack, voorsitter van Red die Kinders, het sy bedenkinge. “Die politieke wil en openbare bewustheid om dit te laat gebeur, bestaan nie”, sê hy. Waarom nie? Die Verenigde Nasies-kinderfonds sê: “Kinderarbeid is dikwels ’n ingewikkelde kwessie. Dit word deur kragtige invloede in stand gehou, onder meer deur baie werkgewers, groepe wat daardeur bevoordeel word en ekonome wat sê dat die mark ten alle koste vry moet bly, sowel as deur tradisionaliste wat glo dat kinders van sekere kastes of klasse nie regte behoort te hê nie.”
[Prent]
Sonia Rosen
[Prente op bladsy 5]
Die hartseer geskiedenis van kinderarbeid vertel van ’n geswoeg in myne en katoenfabrieke
[Erkenning]
U.S. National Archives photos
[Prent op bladsy 7]
Hulle tel rommel op,
[Prent op bladsy 7]
swoeg om vuurmaakhout bymekaar te maak,
[Erkenning]
UN PHOTO 148046/J. P. Laffont-SYGMA
[Prent op bladsy 7]
werk in ’n fabriek waar garing gespin word
[Erkenning]
CORBIS/Dean Conger
[Prent op bladsy 8]
Kinders wat straatverkopers is, werk vir net 40 sent per dag
[Erkenning]
UN PHOTO 148027/Jean Pierre Laffont
[Prent op bladsy 8]
Kinderarbeid in ’n skrynwerkerswinkel
[Erkenning]
UN PHOTO 148079/J. P. Laffont-SYGMA
[Prent op bladsy 9]
Hulle voer ’n sukkelbestaan
[Erkenning]
UN PHOTO 148048/J. P. Laffont-SYGMA