“Ek is sewe jaar oud”
Hallo. My naam is Amelia, en ek woon op ’n Karibiese eiland. Ek is sewe jaar oud. ’n Ruk gelede het my ouers, wat arm is, my vir ’n ryk gesin in die stad gegee.
Vanoggend het ek, net soos elke ander dag, vyfuur opgestaan. Ek het by ’n put hier naby gaan water haal. Dit was baie moeilik om die swaar kan op my kop te balanseer, maar ek het dit reggekry—anders sou hulle my vreeslik geslaan het. Daarna het ek vir die gesin ontbyt gemaak en dit voorgesit. Ontbyt was so ’n bietjie laat, en toe het die huisbaas my met ’n leerband geslaan.
Agterna het ek saam met die gesin se vyfjarige seuntjie skool toe gestap. Toe het ek gehelp om middagete te maak en voor te sit. Tussen die etes moes ek op die mark gaan kos koop en allerhande ander dinge doen, die steenkoolvuur aan die gang hou, die werf vee, klere en skottelgoed was en die kombuis skoonmaak. Ek het ook Mevrou se voete gewas. Sy was vandag baie omgekrap oor iets, en sy het my geklap omdat sy kwaad was. Ek hoop sy voel môre beter.
Ek het oorskietkos gekry om te eet—dit was ten minste beter as die mieliemeel wat ek gister geëet het. My klere is stukkend, en ek het nie skoene nie. My eienaars het my nog nooit toegelaat om in die water te bad wat ek vir die gesin bring nie. Ek het gisteraand buite geslaap; hulle laat my soms toe om binne op die vloer te slaap. Dis jammer dat ek nie hierdie brief self kon skryf nie. Ek word nie toegelaat om skool toe te gaan nie.
Ek hoop jy geniet jou dag. Amelia.
ALHOEWEL haar naam nie werklik Amelia is nie, is haar treurige situasie ’n werklikheid.a Amelia is net een van die miljoene kinders wat moet werk—dikwels in die haglikste omstandighede. Kinderarbeid is ’n groot probleem van ons tyd. Dit is ’n ingewikkelde kwessie met geen maklike oplossings nie. Dit het ’n enorme omvang, dit vergiftig die samelewing en het rampspoedige gevolge. Dit is wreed teenoor kinders en tas hulle menswaardigheid aan.
Hoe algemeen is kinderarbeid? Wat is die oorsake van hierdie probleem, en in watter vorme kom dit voor? Sal daar ooit ’n tyd wees wanneer kinders—die gevoeligste en kwesbaarste lede van die mensegesin—nie meer ’n lewe van ellende en uitbuiting hoef te ly nie?
[Voetnoot]
a Haar geval word in The State of the World’s Children 1997 beskryf.