Van ons lesers
Eeu van gruweldade Vandag het ek die Ontwaak! van 8 Augustus 1998 in die pos ontvang. Toe ek die voorblad sien, moes ek eenvoudig gaan sit en “’n Eeu van gruweldade—Is dit tyd om te vergeet?” lees. Dit maak my waarlik hartseer om die soort euwels te sien wat mense veroorsaak. Hoe sien ek tog uit na die tyd wanneer die hele mensdom in ware vrede sal lewe!
T. D., Verenigde State
Hierdie tydskrif het vrae beantwoord wat ek al ’n geruime tyd het. Ek voel dat God deur julle publikasies werk om mense soos ek te help.
T. C., Verenigde State
Latyns-Amerikaanse musiek Baie dankie vir die artikel “Die wêreldwye aantrekkingskrag van Latyns-Amerikaanse musiek” (8 Augustus 1998). Ek hou baie daarvan om te dans en is lief vir musiek. Dankie dat julle van die moontlike gevare uitgelig het, soos die musiek wat narco corrido genoem word. Ek sou hierdie inligting nêrens anders gevind het nie. Ek het dit baie waardeer.
J. B., Verenigde State
Geheimsinnigheid omtrent Shakespeare “Wonderlik” is die enigste woord waaraan ek kan dink om die artikel “Die geheimsinnigheid omtrent William Shakespeare” (8 Augustus 1998) te beskryf. Ek leer laer- en hoërskoolleerlinge die Portugese taal en letterkunde, en ek gebruik dikwels julle artikels in die klas.
J. S. G., Brasilië
Ek wil julle graag gelukwens met julle artikel oor die skrywerskap van die Shakespeare-toneelstukke. Dit verduidelik waarom soveel mense die ortodokse teorie dat Shakespeare hierdie toneelstukke geskryf het onoortuigend vind.
F. C., Engeland
Indrukwekkende kunswerke Ek het ’n paar jaar gelede ontwerpkuns gestudeer, en ek dink dat die Ontwaak! van 8 Augustus 1998 skitterend was. Die kantlyn van doringdraad wat vervang is deur ’n kantlyn van rose was uitstekend, asook die kleurprente van “Juwele van die Afrikahemel” en die pragtige foto’s aan die binnekant van die agterblad.
S. K. C., Engeland
Reklame My dogter is nie een van Jehovah se Getuies nie. Aangesien sy in die reklameveld werk, het ek vir haar die nommer van 22 Augustus 1998 met die reeks “Reklame—Hoe raak dit jou?” gepos. Sy was vol lof daarvoor en het gesê dat julle skrywers die wese van die oorredingskuns goed weergegee het.
R. S., Verenigde State
Smaak Van kleins af het my 13-jarige dogter geweier om nuwe voedselsoorte te probeer. Ek is dus baie dankbaar vir die artikel “Smaak—’n geskenk van ’n liefdevolle Skepper” (22 Augustus 1998). Ek het veral julle wenke op prys gestel om kinders te help om nuwe voedselsoorte te leer eet. Ek het my dogter gevra om my te help om sekere voedselsoorte waarvan sy vroeër nie gehou het nie smaaklik voor te berei. Julle wenk het gewerk! Nou eet sy voedsame voedselsoorte waarvan sy vroeër nie gehou het nie.
B. M., Pole
Satan se skuld? Ek is 17 jaar oud en het onlangs die Ontwaak! vir die eerste keer gelees. Nou hou ek daarvan om dit te lees! Dit het waardevolle inligting gehad, soos “Die Bybelse beskouing: Moet ons Satan vir ons sondes blameer?” (8 September 1998). Voordat ek dit gelees het, het ek gedink dat ek hom kon blameer wanneer ek gesondig het. Hoe dit ook al sy, julle tydskrif is uitstekend, en ek beveel dit by almal aan. Pos dit asseblief gereeld aan my!
M. M., Verenigde State