Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 4/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Nuwe rol vir nikotien?
  • ’n Stad wat sink
  • Onverskillige kinders
  • Verwoestende orkaan Mitch
  • Oorkom skaamheid
  • Gevolge van lae geboortesyfer
  • Woordeboek uitgestel
  • Olierige dieet
  • Al hoe minder slaap
  • Ongelukke—nie die noodlot nie
  • Waarom jou liggaam slaap nodig het
    Ontwaak!—1995
  • Slaapskuld—’n Groeiende probleem?
    Ontwaak!—2004
  • Gered uit ’n verwoestende storm!
    Ontwaak!—1999
  • Tabak se verdedigers stuur hulle warmlugballonne op
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 4/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

’n Nuwe rol vir nikotien?

Farmaseutiese maatskappye bemark kougom wat nikotien bevat en pleistertjies wat nikotien deur die vel vrystel as ’n korttermynhulpmiddel om op te hou rook. Hoewel hierdie produkte nie bedoel is om langer as 6 tot 12 weke gebruik te word nie, gebruik baie rokers dit jare lank, berig The Wall Street Journal. Nou probeer farmaseutiese maatskappye regeringsregulasies verander om die bemarking van middels wat nikotien vrystel vir langtermyngebruik toe te laat. Party maatskappye gee nie om dat baie gebruikers aan nikotien verslaaf sal bly nie, hoewel farmaseutiese maatskappye nie dieselfde reputasie as die tabakbedryf wil kry wat hulle wins uit verslawing maak nie. Nietemin sê David Sachs, direkteur van Kalifornië se Palo Alto-sentrum vir Longkwaalvoorkoming: “Feitlik elke farmaseutiese maatskappy sien ’n groot sakegeleentheid hier.”

’n Stad wat sink

“Mexikostad is besig om te sink”, sê The New York Times. “Soveel water is uit die waterhoudende grondlaag gepomp om in die behoeftes van die metropolis se 18 miljoen inwoners te voorsien dat die grond teen ’n ongelooflike tempo insak.” Wat die probleem vererger, is die feit dat “Mexikostad een van die watertoevoerstelsels met die meeste lekplekke in die wêreld het. Ongeveer ’n derde van elke liter vars water wat in die stelsel gepomp word, lek uit.” Dit beteken dat meer uitgepomp moet word en dat die stad verder sink. Herstelspanne maak elke jaar meer as 40 000 barste reg, maar baie lekplekke word nie aangemeld nie. Mexikostad is natuurlik nie die enigste stad wat sink nie. Venesië, Italië, het byvoorbeeld gedurende die 20ste eeu 23 sentimeter gesak. Maar Mexikostad het nege meter gesink!

Onverskillige kinders

’n Opname onder 16 262 Amerikaanse tieners het bevind dat ongeveer 1 uit 5 ’n wapen dra en dat 1 uit 10 al selfmoord probeer pleeg het, berig The New York Times. Leerlinge van 151 skole regoor die land het aan die opname deelgeneem. Vertroulike vraelyste is gebruik om inligting te kry oor die leerlinge se fisiese en seksuele bedrywighede, asook hulle gebruik van dwelms, alkohol en tabak. Laura Kann, van die Nasionale Sentrum vir die Voorkoming van Chroniese Siektes en Gesondheidsbevordering, sê: “Die les hier is dat te veel jongmense hulle aan gedrag skuldig maak wat hulle aan gevaar blootstel—beserings of die dood nou en chroniese siektes later.”

Verwoestende orkaan Mitch

Op 27 Oktober 1998 het orkaan Mitch Sentraal-Amerika getref, wat tot die dood van meer as 11 000 mense gelei het. Daarbenewens is duisende vermis en vermoedelik dood, en ongeveer 2,3 miljoen is volgens berig dakloos gelaat. Honduras en Nicaragua is die swaarste getref. Meer as ’n meter reën het op plattelandse landerye geval en het gelei tot wat beskryf is as die gebied se ergste natuurramp in twee eeue. Tientalle dorpies is letterlik deur modderstortings verswelg of deur stygende vloedwaters weggespoel. Die president van Honduras, Carlos Flores Facusse, het gesê: “In 72 uur het ons verloor wat ons geleidelik oor 50 jaar opgebou het.” Die sterftes en verwoesting is deur die afsondering vererger. Daar was nie elektriese en telefoonverbindings na die meeste van die klein dorpies wat in die pad van die storm was nie. Honderde paaie en brûe is weggespoel, met die gevolg dat oorlewendes dae lank sonder voedsel, skoon water of medisyne gestrand was. Noodlenigingsorganisasies het genoeg voedsel gehad, maar geen manier om dit te versprei nie. Benewens die materiële verliese het die meeste mense hulle werk verloor. Tot 70 persent van die belangrikste piesang-, waatlemoen-, spanspek-, koffieboon- en rysoeste is vernietig. “Orkaan Fifi in 1974 was niks in vergelyking hiermee nie”, het die visepresident van Honduras, William Handal, gesê. “Dit het 12 tot 14 jaar se harde werk geneem om ná Fifi te herstel. Hierdie een sal 30 of 40 jaar neem.”

Oorkom skaamheid

Volgens Kanada se Toronto Star “is ongeveer 13 persent van volwassenes uiters skaam”. Die koerant berig dat dit “hulle verhinder om ’n vol lewe te lei”. Kenners het wenke gegee om skaamheid te oorkom: “Dink aan maniere om gesprekke te begin deur oor nuusgebeure, tydskrifartikels, boeke, stokperdjies of rolprente te praat.” “Oefen mondelinge en niemondelinge kommunikasievaardighede, soos om oogkontak te maak [en] aandagtig te luister.” “Dwing jouself om dinge te doen waarvoor jy bang is.” “As jy ’n ouer van ’n skaam kind is, is dit belangrik om baie geleenthede vir jou kind te skep om met ander om te gaan.” Die aanmoediging was om nie moed op te gee nie, want ondervinding toon dat dit makliker word om skaamheid te oorkom hoe meer jy jou daarop toelê.

Gevolge van lae geboortesyfer

‘Lae geboortesyfers het nou ’n rede tot groot kommer in die nywerheidswêreld geword’, berig die International Herald Tribune van Parys. Waarom? Omdat dit beteken dat daar uiteindelik nie genoeg jongmense sal wees om na ’n bejaarde bevolking om te sien nie. ’n Aantal Europese lande het byvoorbeeld bevolkings wat die punt bereik waar meer mense bo 60 as onder 20 jaar is. Van die redes wat vir ’n bejaarde bevolking gegee is, is die neiging onder egpare om nie gou kinders te hê nie sodat hulle kan reis, ’n loopbaan kan volg of hulle opvoeding kan verbeter. Ander redes wat gegee is, is ekonomiese druk, wat dit “’n las” of “’n ongerief” maak om kinders te hê, asook die feit dat mense langer lewe as tevore.

Woordeboek uitgestel

Nederlandse en Vlaamse leksikograwe het onlangs ’n woordeboek voltooi wat glo die grootste in die wêreld is. Die Dictionary of the Dutch Language, wat 45 000 bladsye in 40 dele bevat, het 147 jaar geneem om te voltooi, berig die Reuters-nuusdiens. Die woordeboek was “bedoel om ’n model vir alle moderne Nederlandse woordeboeke te wees”. Dit het dus inskrywings van woorde wat uit 1500 dateer. Die enigste probleem, sê die berig, is dat die woordeboek by 1976 ophou en “alreeds verouderd” is. Reuters sê: “Selfs as hulle dit gaan bywerk, toon die geskiedenis dat dit onwaarskynlik is dat vandag se lesers hier sal wees om ’n tweede druk te sien.”

Olierige dieet

In Maart 1978 het die olietenkskip Amoco Cadiz aan die kus van Bretagne, Frankryk, gestrand en 230 000 ton ru-olie uitgestort en ongeveer 350 kilometer van die kuslyn besoedel. Wat is die skade vandag? Sedert 1992 het die gevolge van hierdie besoedeling heeltemal verdwyn, selfs in die diepste sand op die strande, sê professor Gilbert Mille van die wetenskapfakulteit in Marseille. Hierdie ongelooflike herstel is te danke aan bakterieë wat natuurlik daar voorkom en koolwaterstof verteer. Hierdie mikrobes word bygestaan deur weekdiere en wurms wat die sand voortdurend omkeer sodat enige olie na die oppervlak beweeg word, waar dit deur die honger bakterieë verteer word.

Al hoe minder slaap

Amerikaners “slaap tot ’n uur en ’n half minder per nag as wat [hulle] by die eeuwisseling gedoen het”, sê Newsweek, “en die probleem sal waarskynlik vererger”. Waarom? “Mense het slaap beskou as ’n gerief waarsonder hulle kon doen”, sê Terry Young, ’n professor in voorkomende geneeskunde aan die Universiteit van Wisconsin. “Dit is as ’n teken van harde werk en vordering beskou om min slaap te kry.” Maar ’n tekort aan slaap kan talle newe-effekte hê, waaronder kwale wat wissel van depressie tot hartprobleme. Rotte wat nie toegelaat is om te slaap nie, het ná twee en ’n half weke doodgegaan. “Jy sal waarskynlik nie op dieselfde manier dood neerval nie”, sê Newsweek, “maar ’n tekort aan slaap kan indirek jou lewe kos wanneer ’n uitgeputte dokter die verkeerde dosis voorskryf of ’n lomerige motoris in jou baan inry.” Die slaapnavorser James Walsh sê: “Mense moet geleer word dat die betroubaarste maniere om wakkerheid agter die stuurwiel en by die werk te bevorder, is om genoeg tyd toe te laat om te slaap en op die regte tyd te dut.”

Ongelukke—nie die noodlot nie

Ten minste 22 000 kinders en adolessente sterf elke jaar in Brasilië as gevolg van ongelukke, berig die Brasiliaanse Departement van Gesondheid. Verkeersongelukke eis die meeste lewens. Maar die president van die Brasiliaanse Vereniging van Kindergeneeskunde, Lincoln Freire, het gesê: “Ongelukke kan vermy word en kan nie langer aan die noodlot toegeskryf word nie.” Daarbenewens het Tereza Costa, koördineerder van ’n nasionale ongeluksvoorkomingsveldtog, gesê dat ‘regeringsoptrede in die laaste 15 jaar sterftes weens diarree, asemhalingsinfeksies en besmetlike siektes verminder het’ en dat ongeluksvoorkoming gevolglik ook lewens kan red.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel