’n Uitstekende konferensie oor bloedlose chirurgie in Moskou
ALTERNATIEWE OORTAPPINGS TYDENS CHIRURGIE was die tema van ’n internasionale mediese konferensie wat op 6 Oktober 1998 in Moskou, Rusland, gehou is. Meer as 800 dokters was by die Wisjnewskij-instituut vir Chirurgie vir die simposium, wat saam met die Sesde Russiese Kongres van Narkotiseurs en Intensiewe Sorg-spesialiste gehou is.
Professor Andrei Iwanowitsj Worobief, wat die hoofhematoloog by die Russiese Akademie vir Geneeskunde, in Moskou, is, het die dokters verwelkom by, wat hy genoem het, “hierdie simposium wat gewy is aan die soeke na alternatiewe vir bloedoortappings”.
Toe Worobief beskryf het waarom die konferensie noodsaaklik is, het hy verwys na “ernstige rampe as gevolg van bloedoortappings”. Hy het beweer dat die meeste kinders wat bloeiers is in lande soos die Verenigde State, Japan en Duitsland deur bloedoortappings met vigs besmet is. Nadat hy statistiek oor die verspreiding van hepatitis deur bloedoortappings verstrek het, het hy gesê: “Die statistiek is absoluut ongelooflik. Feitlik alle bloeiers is met hepatitis besmet.”
Die mediese mening, het Worobief gesê, was dat iemand wat “’n liter bloed verloor ’n liter bloed moet ontvang”. Maar “dit is verkeerd!” het hy gesê. Hy het sy inleidingskommentare afgesluit deur te sê: “Ons het bloedoortappings ondersteun, en nou sal ons saam van die ou beskouings ontslae raak.”
Baie van die mediese deskundiges wat daarna op die program was, was van Rusland, maar daar was ook sprekers van Frankryk, Swede, België en die Verenigde State. Die dokters het nie net die vooruitgang in die behandeling van bloedverlies met alternatiewe vir bloedoortappings beskryf nie, maar hulle het ook die gevare van bloedoortappings genoem, waaronder die risiko van ernstige immunologiese reaksies.
Televisiedekking
Die Russiese openbare televisiediens, wat meer as 235 miljoen mense bereik, het ’n goeie program oor die konferensie gehad. Die aanbiedster, Elena Malisjewa, het verduidelik: ‘Welbekende en internasionaal beroemde chirurge, narkotiseurs en hematoloë het in Moskou vergader om een vraag te beantwoord: Kan operasies gedoen word sonder om bloed te gee?’
Elena het haar TV-gehoor ingelig oor die siektes wat deur bloed oorgedra kan word en verduidelik: “Dít is wat die dokters na ’n uitweg laat soek het. En dit is gevind. Dit is bloedlose chirurgie genoem. Elke persoon wat ’n operasie gaan hê, kan die metodes van bloedlose chirurgie met sy of haar dokter bespreek.”
Tydens Andrei Worobief se verskyning op die televisieuitsending het hy gesê: ‘Skenkerbloed bevat proteïene wat vreemd aan die liggaam is en onvoorspelbare en onafwendbare reaksies kan veroorsaak. Daarbenewens kan ’n skenker ’n pasiënt met virusse besmet wat hy het en wat ons nie kan opspoor nie, al probeer ons ook hoe hard.’ Hy het dus tot die gevolgtrekking gekom: ‘Ons moet die oortapping van skenkerbloed aan pasiënte verminder.’
Jean-François Baron, hoof van verdowingskunde en intensiewe sorg aan die Broussais-hospitaal, in Parys, Frankryk, het ook op die program verskyn. Hy het verduidelik: “In my inrigting het ons spesiale vloeistowwe ontwikkel wat suurstof kan dra. Hulle het almal die suurstofdraende eienskappe van bloed, maar bevat nie enige rooi bloedselle [wat siektes kan oordra] nie. In die nabye toekoms”, het hy voorspel, “sal hierdie oplossings in roetinebehandeling gebruik word.”
Dit het die programaanbiedster beweeg om van die Russiese professor Felix F. Belojartsef te vertel, wat ongeveer 20 jaar gelede ’n suurstofdraende vloeistof as ’n plaasvervanger vir bloed bekend gestel het. Sy het gesê dat Belojartsef se ontdekking nie destyds deur die mediese gemeenskap verwelkom is nie en dat hy “selfmoord gepleeg het weens die eindelose vervolging wat hierdie ontdekking tot gevolg gehad het”.
Dekking in mediese tydskrifte
Die mediese koerant Meditsinskaja Gazeta het ook van die konferensie verslag gedoen. “Die Simposium se vernaamste gevolgtrekking”, is daar berig, “kan as volg opgesom word: Dit is nodig om alternatiewe vir bloedoortappings in alle moontlike situasies te gebruik en alleenlik op die gebruik van bloed te besluit nadat die individuele risiko’s vir elke pasiënt noukeurig oorweeg is en alleenlik in lewensgevaarlike omstandighede.”
Die koerant het ook verwys na die onwilligheid van party dokters om ’n pasiënt se weiering om bloed te neem te respekteer. Jehovah se Getuies aanvaar byvoorbeeld nie bloedoortappings nie weens die Bybel se opdrag om ons ‘van bloed te onthou’ (Handelinge 15:28, 29). In verband hiermee is Michel de Guillenchmidt, ’n regsprofessor van Frankryk, nietemin aangehaal:
‘Ons behoort dankbaar te wees teenoor Jehovah se Getuies, want deur hierdie kwessie te opper, het hulle nie net die aandag gevestig op hulle eie regte nie, maar ook die hele mediese gemeenskap gehelp om die gevare van bloedoortappings te verstaan. Dit moedig weer wetenskaplikes aan om meer gevorderde metodes van bloedlose chirurgie te vind.’
Een van die artikels in Meditsinskaja Gazeta het begin deur te sê: “Daar is al gesê dat ’n bloedoortapping soos ’n huwelik is: Niemand weet wat daarna gaan gebeur nie.” Nadat die koerant genoem het dat ‘mensebloed soos ’n mens se vingerafdruk is—daar is nie twee identiese afdrukke nie’, het dit gevra: “Is dit vandag moontlik om geheel en al te waarborg dat die pasiënt nie ’n infeksie sal opdoen as gevolg van die oortapping nie?” Dit het geantwoord: ‘Selfs in lande wat indrukwekkende resultate in geneeskunde behaal het, is daar geen doeltreffende beheerstelsel vir bloedprodukte nie.’
‘Te oordeel na die oorvol ouditorium en die duidelike belangstelling van die afgevaardigdes in die probleme wat bespreek is’, het die artikel tot die gevolgtrekking gekom dat ‘dokters besig is om hulle denkwyse te verander’.
Hulle verskaf ’n diens
Jehovah se Getuies het buite die konferensiesaal ’n stalletjie gehad waar hulle aan dokters ’n versameling artikels uit mediese tydskrifte gegee het wat handel oor die gebruik van alternatiewe metodes in die behandeling van bloedverlies. Honderde dokters het dit met graagte aanvaar.
Dit is duidelik dat ingeligte mediese deskundiges stappe doen om die gebruik van bloed in die geneeskunde te verminder.
[Prente op bladsy 26]
Jehovah se Getuies het honderde dokters van artikels met die jongste navorsing oor bloed voorsien