Die donderstorm—die ontsagwekkende koning van die wolke
Deur Ontwaak!-medewerker in Australië
BAIE mense word al van hulle kinderjare af deur wolke gefassineer. Een 80-jarige man onthou hoe hy in sy vroeë kinderjare dikwels op die gras gelê en kyk het hoe die wolke deur “die lug marsjeer”, soos hy dit stel. Hy onthou hoe hy dikwels gewonder het waarvan wolke gemaak is. Was dit katoen? Waarom het hulle almal so verskillend gelyk? Daardie een het soos ’n seilskip gelyk, daardie een soos ’n steierende perd. En toe kom ’n uitdyende kasteel. Hulle het sy kinderlike verbeelding aangegryp terwyl hulle deur die lug gedryf het in ’n immerveranderende verskeidenheid vorme en kleure. Tot vandag toe, sê hy, geniet hy dit nog om die wolke dop te hou terwyl dit lyk of hulle in die lug “charade speel”. Miskien geniet jy ook hierdie eenvoudige vorm van vermaak.
Maar die wolke wat waarskynlik die indrukwekkendste en ontsagwekkendste van alle wolke is, is dié wat kan “praat”. Hulle naam is cumulo-nimbus, of donderwolke. Hierdie wolke is donker en onheilspellend en kan meer as 16 kilometer of selfs hoër in die lug reik, en dit is hulle wat donderstorms bring. Stormwolke kan vanweë die weerlig flikker en waarskuwend met donderslae grom terwyl hulle in die lug saampak. In die aand kan hulle ’n towermooi klank-en-lig-vertoning gee wat enige mensgemaakte vuurwerkvertoning ver oortref. Dit gaan gepaard met sterk winde, reën en hael, en daarna beweeg hulle verder, met net die reuk van vars, skoon reën wat agterbly, dikwels op ’n aarde wat tevore deur droogte geteister is.
Hoe donderstorms ontwikkel
In die laaste jare was die mens in staat om uit die ruimte na die planeet Aarde te kyk. Hy sien ’n wolkekleed wat oor groot dele van die aardoppervlak hang. Die skrywer Fred Hapgood sê vir ons dat “die helfte van die aardoppervlak, 100 miljoen vierkante myl [250 miljoen vk. km], op enige gegewe oomblik bedek is met [wolke]—lakenagtige, geronde, watteagtige, veselagtige, kantagtige, pofferige wolke in alle grade van helderheid en ondeursigtigheid wat regoor die wêreld besig is om te vorm, te versprei, te beweeg en te verdwyn”. Donderstorms vorm ’n deel van hierdie wolkmassa—trouens, daar is elke jaar tot 15 000 000 donderstorms op die aarde, en daar woed te alle tye ongeveer 2 000 donderstorms.
’n Donderstorm ontwikkel wanneer digte koue lug bo-oor vogtige lug inbeweeg wat nie so dig is nie. Verhitting deur die son, frontale weer of stygende terrein veroorsaak dat die warm vogtige lug deur die koue lug begin styg. Lugstrome ontwikkel, en warmte-energie wat in die lug en in die waterdamp gestoor is, word dan in wind- en elektriese energie omgesit.
Die atmosferiese toestande wat nodig is om donderstorms te veroorsaak, is die algemeenste in die laer breedteliggings. Dit verduidelik waarom Suid-Amerika en Afrika die vastelande is wat gereeld donderstorms ondervind en waarom Sentraal-Afrika en Indonesië al lank beskou word as die wêrelddele wat die meeste donderstorms kry. Die erkende rekord is 242 donderstormdae per jaar, wat in Kampala, Uganda, opgeteken is. Maar donderstorms vind ook in baie ander dele van die aarde plaas.
Vuurwerk in die hemel
Die twee kenmerke van ’n donderstorm wat vir almal duidelik is, is donderslae en weerlig. Maar wat veroorsaak hierdie skouspelagtige, dikwels skrikwekkende, verskynsels? Weerlig is eenvoudig die ontlading wat plaasvind wanneer die verskille in elektriese lading in twee plekke groot genoeg is om die isolerende uitwerking van die lug te oorkom. Dit kan binne ’n wolk, tussen wolke of tussen wolke en die grond plaasvind. Weerlig veroorsaak dat lug vir ’n oomblik tot ongelooflik hoë temperature verhit word—tot 30 000 grade Celsius op die oomblik wat die straal sy elektriese lading ontlaai.
Weerlig kan geklassifiseer word as streepweerlig, takweerlig of versluierde weerlig. As die ontlading as ’n duidelike straal sigbaar is, is dit streepweerlig. As die straal sigbaar verdeel of vertak is, word dit takweerlig genoem. As die blits binne die wolk of tussen wolke is, is dit bekend as versluierde weerlig. Kenners sê vir ons dat die meeste van die weerlig wat ons sien wolk-tot-grond-weerlig is.
Weerlig kan lewende dinge skade aandoen—dit kan mense en diere selfs doodmaak of beseer. Mense op strande en golfbane en in die ope lug in plattelandse gebiede verkeer in die grootste gevaar omdat hulle onbeskerm teen die elektriese lading is.—Sien die venster op bladsy 15.
Net ongeveer 30 persent van die mense wat deur weerlig getref word, gaan in werklikheid dood, en min langtermynbeserings word oorgehou wanneer noodhulp onmiddellik verleen word. Maar in teenstelling met wat algemeen geglo word, kan weerlig meer as een keer op dieselfde plek slaan, en dit gebeur ook dikwels!
Weerlig laat baie brande ontstaan. Dit kan groot gebiede vernietig. Ongeveer 10 persent van die bosbrande in die Verenigde State word deur weerlig veroorsaak. Dit brand meer as 35 persent van al die woude en bosveld af wat in daardie land deur brande vernietig word.
Maar weerlig is ook voordelig. Die woude vind byvoorbeeld op verskeie maniere daarby baat. Brande wat deur weerlig begin word, verminder die grondbedekking in laetemperatuurbrande. Dit kan die risiko verminder dat skadeliker hoëtemperatuurbrande die boomtoppe sal bereik. Weerlig kan ook ’n voordelige verandering in stikstofgas teweegbring, wat nie as ’n gas deur plante gebruik kan word nie. Weerlig omskep hierdie gas in stikstofverbindings, wat noodsaaklik is vir die vorming van plantweefsel en die ontwikkeling van saadjies, wat proteïene verskaf wat noodsaaklik vir dierelewe is. Daar is al geskat dat van 30 tot 50 persent van die stikstofoksied wat in reënwater is deur weerlig vervaardig word, en elke jaar word 30 miljoen ton gebinde stikstof wêreldwyd op hierdie manier vervaardig.
’n Storm se grootste nut
’n Donderstorm kan ’n geweldige hoeveelheid water vrylaat. Die hoofrede vir die groot hoeveelhede reën wat binne ’n kort tydjie val, is dat die sterk stygtrek van die hewige storm ’n groot hoeveelheid water vashou en dit dan skielik vrylaat. Tot 200 millimeter reën is al in ’n uur gemeet. Sulke swaar reënval kan natuurlik ’n negatiewe sy hê.
Wanneer ’n storm stadig beweeg, kry net ’n relatief klein gebied die meeste van die reën, en dit kan tot oorstromings lei. Gedurende so ’n storm veroorsaak die oppervlakafloop dat strome en riviere styg. Daar word geskat dat oorstromings as gevolg van donderstorms vir ongeveer een derde van alle stormskade in die Verenigde State verantwoordelik is.
Maar stormverwante reënval hou baie voordele in. Groot hoeveelhede water beland in die grond en in reservoirs en damme. Navorsing het getoon dat donderstorms vir 50 tot 70 persent van alle neerslag in party gebiede verantwoordelik is; gevolglik is stormreën in hierdie plekke noodsaaklik vir lewe.
Wat van hael?
’n Baie skadelike aspek van donderstorms is dat dit dikwels met kwaai hael gepaardgaan. Hael word gevorm wanneer reëndruppels ys en dan groter word terwyl hulle deur styg- en daaltrekke gesirkuleer word. Daar was al party beskrywings van haelstene met ’n ongelooflike grootte en gewig. Daar het volgens berig in 1925 ’n haelsteen in Duitsland geval wat 26 sentimeter by 14 sentimeter by 12 sentimeter groot was. Dit het ongeveer twee kilogram geweeg. Een van die grootste haelstene wat nog in die Verenigde State opgeteken is, het in 1970 in die staat Kansas geval. Hierdie haelsteen se omtrek was 44 sentimeter, en dit het 776 gram geweeg. So ’n groot haelsteen wat van hoog uit die wolke val, kan ’n mens doodmaak.
Gelukkig is hael gewoonlik baie kleiner as dit, en dit sal in die meeste gevalle eerder ongerief veroorsaak as die dood. As gevolg van die aard van donderstorms wat hael bring, is die gebiede wat deur haelskade geraak word ook betreklik klein. Maar verliese aan die wêreld se landbougewasse as gevolg van hael word jaarliks op honderdmiljoene rand gestel.
Tornado’s en donderstorms
Die gevaarlikste gevolg van donderstorms is moontlik die tornado. So te sê alle tornado’s gaan met donderstorms gepaard, maar nie alle donderstorms gaan met tornado’s gepaard nie. Wanneer ’n tornado gevorm word, is dit ’n vinnig draaiende, dun lugkolom, met ’n gemiddelde deursnee van etlike honderde meters, wat van ’n donderwolk af tot op die grond reik. Windsterktes in die hewigste tornado’s kan meer as 400 of 500 kilometer per uur wees. Die gesamentlike aksie van kragtige draaiwinde en die stygtrek in die middel kan geboue in duie laat stort en dodelike puin deur die lug slinger. Tornado’s kom in baie lande van die wêreld voor.
Minder dramaties, maar steeds potensieel skadelik, is die eenrigtingwinde wat met daaltrekke en mikrostorms geassosieer word. Daaltrekke kan skadelike winde op of naby die grond veroorsaak wat ’n snelheid van tot 150 kilometer per uur behaal. Mikrostorms is hewiger en kan meer as 200 kilometer per uur behaal.
Dit is duidelik dat ons ontsag moet hê vir donderstorms en dat ons van hulle gevare bewus moet wees. Hulle is maar net een van die talle fasette van die skepping waarvan ons nog baie moet leer.
[Venster/Prent op bladsy 15]
Voorsorgmaatreëls teen weerlig
Australië se Noodbeheer stel die volgende voorsorgmaatreëls voor gedurende ’n donderstorm.
Beskerming buitenshuis
◼ Soek skuiling in ’n staalkapvoertuig of in ’n gebou; vermy klein strukture, tekstieltente en afgesonderde of klein groepies bome.
◼ As jy buite en weg van beskutting is, gaan op jou hurke (alleen), verkieslik in ’n holte, met jou voete bymekaar, en verwyder alle metaalvoorwerpe van jou kop en liggaam. Moenie gaan lê nie, maar vermy dit om die hoogste voorwerp in die omgewing te wees.
◼ As jou hare regop staan of as jy ’n gegons hoor van nabygeleë voorwerpe, soos rotse en heinings, moet jy onmiddellik na ’n nuwe posisie beweeg.
◼ Moenie vlieërs of modelvliegtuie met beheerdrade vlieg nie.
◼ Moenie lang of metaal voorwerpe, soos visstokke, sambrele en golfstokke in die ope lug vashou nie.
◼ Moenie aan metaalstrukture, draadheinings of draadwasgoedlyne raak of naby dit loop nie.
◼ Moenie perd- of fietsry of in oop voertuie ry nie.
◼ As jy bestuur, moet jy stadiger ry of weg van hoë voorwerpe soos bome en kragdrade gaan parkeer. Bly binne-in staalkapvoertuie en woonwaens, maar moenie aan metaalvoertuigdele raak of daarteen leun nie.
◼ As jy swem of branderry, moet jy die water onmiddellik verlaat en skuiling gaan soek.
◼ As jy op ’n boot is, moet jy so gou as moontlik aan land gaan. As dit onveilig is om dit te doen, moet jy onder ’n hoë struktuur soos ’n brug of ’n pier skuiling probeer vind. Maak seker dat die mas en stutte van ’n seilboot behoorlik geaard is.
Beskerming binnenshuis
◼ Bly weg van vensters, elektriese toestelle, pype en ander vaste metaalvoorwerpe.
◼ Vermy die gebruik van telefone. As ’n noodoproep nodig is, hou dit so kort as moontlik.
◼ Voor die storm begin, moet lugdrade en radio- en televisiekragdrade ontkoppel word. Ontkoppel rekenaarmodems en -kragbronne. Bly dan weg van elektriese toebehore.
[Erkenning]
Uit die publikasie Severe Storms: Facts, Warnings and Protection.