Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 1/22 bl. 6-9
  • Wat veroorsaak eetversteurings?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat veroorsaak eetversteurings?
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die kultuur van slankheid
  • Eet en die emosies
  • Eetversteurings—Wat kan help?
    Ontwaak!—1999
  • Wanneer kos jou vyand is
    Ontwaak!—1999
  • Wie kry eetversteurings?
    Ontwaak!—1990
  • Waarom ’n hedendaagse siekte?
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 1/22 bl. 6-9

Wat veroorsaak eetversteurings?

“’n Eetversteuring is nie iets wat ’n mens sommer net kry nie. Dit is ’n simptoom, ’n teken dat iets in ’n mens se lewe verkeerd is.”—Nancy Kolodny, maatskaplike werkster.

EETVERSTEURINGS is niks nuuts nie. Anorexia nervosa is vir die eerste keer in 1873 formeel gediagnoseer, en die simptome is na bewering alreeds 300 jaar gelede waargeneem. Maar dit lyk of die aantal anoreksielyers sedert die Tweede Wêreldoorlog drasties toegeneem het. Die situasie met bulimie is soortgelyk. Die toestand is al eeue lank bekend, maar in die laaste dekades het dit “skielik in die kollig beland”, soos ’n boek hieroor dit stel.

Wat sit agter eetversteurings? Is dit oorerflik, of is dit ’n ongewone reaksie op ’n kultuur wat slankheid ophemel? Watter rol speel die gesinsmilieu? Dit is nie maklik om hierdie vrae te beantwoord nie. Soos maatskaplike werkster Nancy Kolodny sê, is dit “nie so maklik om [’n eetversteuring te definieer] as wat dit is om ’n siekte soos masels of waterpokkies te diagnoseer nie, want met daardie siektes weet ’n dokter presies wat die oorsaak is, hoe ’n mens dit kry, hoe lank die siekte sal duur en wat die beste behandeling daarvoor is”.

Navorsers wys nietemin op ’n aantal faktore wat tot die ontwikkeling van eetversteurings kan bydra. Laat ons ’n paar van hulle ondersoek.

Die kultuur van slankheid

In ryk lande laat die modebedryf plankdun modelle voor jong en ontvanklike toeskouers paradeer en laat hulle glo dat ’n meisie net mooi is as sy maer is. Hierdie verdraaide boodskap dwing baie vroue om ’n liggaamsgewig te probeer bereik wat ongesond sowel as onrealisties is. Dr. Christine Davies sê: “Die gemiddelde vrou is vyf voet vyf duim [1,65 m] lank en weeg 145 pond [66 kg]. Die gemiddelde model is vyf voet 11 duim [1,8 m] lank en weeg 110 pond [50 kg]. Vyf-en-negentig persent van ons lyk nie so nie en sal ook nooit so lyk nie.”

Ten spyte hiervan sal sommige vroue tot die uiterste gaan om te verkry wat hulle as die ideale liggaam sien. In ’n opname wat in 1997 onder 3 452 vroue gedoen is, het 24 persent byvoorbeeld gesê dat hulle drie jaar van hulle lewe sou prysgee om hulle doelgewig te kan bereik. Vir ’n betekenisvolle minderheid, het die opname gesê, “is die lewe net die moeite werd as jy maer is”. Aangesien 22 persent van diegene met wie daar ’n onderhoud gevoer is, gesê het dat modelle in modetydskrifte hulle liggaamsbeeld beïnvloed het toe hulle jonk was, was die verslag se slotsom: “Dit is nou onmoontlik om die feit te ontken dat die voorkoms van modelle in die media ’n geweldige uitwerking het op die beeld wat vroue van hulleself het.”

Diegene wat alreeds ’n swak selfbeeld het, sal natuurlik makliker deur die media se kunsmatige ideaal beïnvloed word. Soos die kliniese maatskaplike werkster Ilene Fishman sê, “draai alles om selfbeeld”. Daar is opgemerk dat mense wat hulle voorkoms aanvaar selde obsessies oor kos ontwikkel.

Eet en die emosies

Baie deskundiges sê dat daar meer as net kos by ’n eetversteuring betrokke is. “’n Eetversteuring is ’n waarskuwingsteken”, sê die maatskaplike werkster Nancy Kolodny, “wat vir jou sê dat jy moet aandag skenk aan die een of ander situasie in jou lewe wat jy ignoreer of vermy. ’n Eetversteuring vestig die aandag op die feit dat jy nie uiting gee aan enige stres en frustrasies wat jy dalk ondervind nie.”

Watter soort stres en frustrasies? Vir sommige is dit dalk huislike probleme. Geneen Roth sê byvoorbeeld dat kos—veral lekkers—tydens haar kinderdae haar “beskerming teen deure wat toegeslaan word en ’n geskreeu” geword het. Sy sê: “Wanneer ek agtergekom het dat daar ’n rusie tussen my ouers aan die kom is, het ek, so maklik as wat ’n mens van ’n TV-kanaal verander, die fokus van my aandag verander, van die gevoel dat ek aan my ma en pa se genade oorgelewer is na ’n ander wêreld waarin daar niks anders bestaan het as ek en die soet smaak teen my verhemelte nie.”

Soms het ’n eetversteuring selfs dieper oorsake. The New Teenage Body Book sê byvoorbeeld: “Studies toon dat diegene wat seksuele trauma (mishandeling of molestering) ondervind onwetend kan probeer om hulleself te beskerm deur hulle liggaam seksueel onaantreklik te maak en deur hulle aandag op iets veiligs soos kos toe te spits.” Mense moet natuurlik nie sommer die gevolgtrekking maak dat iemand wat aan ’n eetversteuring ly seksueel gemolesteer is nie.

’n Eetversteuring kan in ’n oënskynlik kalm omgewing ontstaan. Trouens, ’n meisie wat in ’n atmosfeer lewe waarin sy nie vry is om enige van haar eie besluite te neem of om uiting te gee aan haar negatiewe gevoelens nie, kan ’n goeie kandidaat vir anoreksie wees. Op die oog af gee sy toe; maar innerlik is sy verward en voel sy dat sy geen beheer oor haar lewe het nie. Sy durf nie openlik in opstand kom nie, en daarom spits sy haar aandag toe op die een deel van haar lewe waaroor sy wel beheer het—haar liggaam.

Daar moet egter gelet word op die feit dat eetversteurings nie altyd die gevolg is van gesinsprobleme of seksuele trauma nie. Party ontwikkel eenvoudig ’n eetversteuring omdat gewig ’n oorheersende kwessie in die gesin is. ’n Ouer is moontlik oorgewig of is gedurig op ’n dieet en veroorsaak dat gesinslede oordrewe versigtig—of selfs bang—is vir kos. Vir ander is die begin van puberteit op sigself ’n faktor. Die liggaamlike veranderinge wat ’n onafskeidelike deel uitmaak van die oorgang tot volwassenheid kan ’n meisie laat voel dat sy vet is—veral as sy vinniger as haar maats ontwikkel. As sy hierdie oorgang angswekkend vind, sal sy moontlik uiterste maatreëls tref om die vroulike kurwes af te weer.

Sommige navorsers sê dat daar behalwe die emosionele faktore ook ’n fisieke faktor by betrokke kan wees. Hulle sê byvoorbeeld dat bulimie weens chemiese reaksies in die lyer se brein kan ontstaan. Hulle beweer dat die deel van die brein wat die gemoedstemming en eetlus beheer betrokke is en dat dit die rede kan wees waarom antidepressante soms help om die bulimielyer se simptome te verlig.

In elk geval, dit is moeilik vir navorsers om ’n enkele faktor te identifiseer wat anoreksie of bulimie veroorsaak. Maar wat kan gedoen word om diegene te help wat met hierdie eetversteurings worstel?

[Prent op bladsy 7]

Anoreksielyers het dikwels ’n verdraaide beeld van hulle voorkoms

[Prent op bladsy 8, 9]

Die media bevorder die idee dat dit mooi is om maer te wees

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel