Wanneer kos jou vyand is
Wanneer Jean aan haar tienerjare terugdink, onthou sy goed hoe sy geterg en gespot is. Die rede? Op skool was sy die langste en grootste meisie in haar klas. Maar dit was nie al nie. “Ek was boonop skaam en selfbewus in sosiale situasies, en dít was nog erger as om groot te wees”, sê Jean. “Ek was dikwels eensaam, en ek wou graag iewers inpas, maar die meeste van die tyd het ek soos ’n buitestander gevoel.”
Jean was daarvan oortuig dat haar grootte die oorsaak van al haar probleme was en dat ’n skraal, vietse lyfie alles sou regmaak. Nie dat Jean vet was nie. Inteendeel, met ’n lengte van 1,83 meter en ’n gewig van 66 kilogram was sy nie oorgewig nie. Jean het nietemin vet gevoel, en op 23-jarige ouderdom het sy besluit om gewig te verloor. ‘Wanneer ek maer is’, het sy geredeneer, ‘sal ander mense my in hulle geselskap wil hê. Ek sal uiteindelik voel dat ek aanvaar word en dat ek spesiaal is.’
“Daardie soort dwase logika het daartoe gelei dat ek twaalf jaar lank vasgevang was in ’n strik wat anorexia nervosa en bulimie genoem word”, verduidelik Jean. “Ek het vreeslik maer geword, so maer dat ek amper gesterf het, maar in plaas van ’n gelukkige lewe te lei, het my gesondheid ’n knou gekry en meer as ’n dekade van depressie en ellende veroorsaak.”
JEAN is nie uniek nie. Volgens ’n skatting ontwikkel tot 1 uit 100 Amerikaanse vroue anorexia nervosa as ’n tiener of jong volwassene, en moontlik drie keer soveel ly aan bulimie. “Ek werk al jare lank by skole en universiteite”, sê dr. Mary Pipher, “en ek sien met my eie oë dat eetversteurings nog net so algemeen is as voorheen.”
Eetversteurings verskil ook van mekaar. Daar is vroeër gedink dat dit ’n probleem van die rykes is, maar eetversteurings word nou op alle rasse-, maatskaplike en ekonomiese vlakke as iets algemeens beskou. Selfs die aantal mans wat daarmee gediagnoseer word, neem toe, en die tydskrif Newsweek noem eetversteurings dus nou “’n probleem wat mans en vroue sonder onderskeid tref”.
Wat egter veral kommerwekkend is, is die feit dat dit lyk asof die gemiddelde ouderdom van diegene wat vir eetversteurings behandel word al hoe laer word. “Daar is meisies van jonger as 10, selfs van 6, wat vir behandeling in hospitale opgeneem word”, sê Margaret Beck, waarnemende direkteur van ’n sentrum vir eetversteurings in Toronto. “Daar is nog nie baie nie”, voeg sy by, “maar hulle word al hoe meer.”
Daar is altesaam miljoene wat aan eetversteurings ly—hoofsaaklik meisies en jong vroue.a “Hulle dink nie aan kos of gebruik kos nie soos die meeste mense doen nie”, sê die maatskaplike werkster Nancy Kolodny. “Pleks van te eet wanneer hulle honger is, te eet vir voeding en goeie gesondheid, te eet vir plesier of te eet om die geselskap van ander te geniet, verval hulle in bisarre verhoudings met kos en doen dinge wat nie as ‘normaal’ beskou word nie—soos om vreemde rituele te ontwikkel voordat hulle hulleself toelaat om te eet of om te voel dat hulle onmiddellik van die kos ontslae moet raak wat hulle geëet het.”
Laat ons twee algemene eetversteurings verder ondersoek: anorexia nervosa en bulimia nervosa.
[Voetnoot]
a Aangesien meer vroue as mans aan eetversteurings ly, sal ons in hierdie reeks meestal na die lyer as vroulik verwys.