Anoreksie en bulimie—die feite, die gevare
“Kos dra ’n baie groter emosionele gewig as enigiets wat in kalorieë [kilojoules] of gram gemeet kan word.”—Janet Greeson, skrywer.
ANOREKSIE en bulimie is die twee algemeenste eetversteurings. Elkeen het sy unieke kenmerke. Maar soos ons sal sien, kan albei gevaarlik wees—selfs dodelik.
Anoreksie—selfverhongering
Anoreksielyers weier om te eet of eet so min dat hulle aan ondervoeding begin ly. Beskou die 17-jarige Antoinette, wat sê dat haar gewig op een tydstip moontlik tot 37 kilogram geval het—uiters laag vir ’n tiener wat 1,7 meter lank is. “Ek het niks meer as 250 kalorieë [1 047 kJ] per dag ingeneem nie, en ek het boekgehou van alles wat ek geëet het”, sê sy.
Anoreksielyers is behep met kos, en hulle sal amper enigiets doen om te keer dat hulle gewig aansit. “Ek het my kos in ’n servet begin uitspoeg deur voor te gee dat ek my mond afvee”, sê Heather. Susan het strawwe oefeninge gedoen om haar gewig te beheer. “Feitlik elke dag”, sê sy, “het ek agt myl [12 km] gehardloop of ’n uur lank geswem, anders het ek uiters angstig en skuldig gevoel. En elke oggend het dit my die grootste vreugde verskaf, gewoonlik my enigste ware vreugde, om op die skaal te klim en seker te maak dat my gewig ver onder 100 pond [45 kg] was.”
Ironies genoeg word sommige anoreksielyers uitstekende kokke en sal hulle heerlike etes voorsit terwyl hulle weier om dit self te eet. “Toe ek op my ergste was”, sê Antoinette, “het ek elke liewe ete by die huis gemaak sowel as elke dag se skooltoebroodjies vir my boetie en sussie. Ek het hulle nie naby die yskas toegelaat nie. Ek het gevoel asof die kombuis net aan my behoort het.”
Volgens die boek A Parent’s Guide to Anorexia and Bulimia word sommige anoreksielyers “obsessief netjies en vereis dalk dat die hele gesin aan hulle onrealisties puntenerige standaarde moet voldoen. Geen tydskrif of paar pantoffels of koffiekoppie mag ooit op die verkeerde plek wees nie. Hulle kan net so ’n kwaai, of dalk ’n erger, obsessie oor persoonlike higiëne en voorkoms ontwikkel en dan ure in die badkamer agter ’n geslote deur deurbring en weier om ander toe te laat om in te gaan om vir skool of werk gereed te maak.”
Hoe ontwikkel hierdie ongewone versteuring wat anoreksie genoem word? In ’n tipiese geval sal ’n tiener of jong volwassene—gewoonlik ’n meisie—begin deur ’n paar kilogram te probeer verloor. Maar wanneer sy haar doel bereik het, is sy nie tevrede nie. Wanneer sy in die spieël kyk, sien sy haarself nog steeds as vet, en sy besluit dus dat dit selfs beter sal wees as sy nog ’n paar kilogram kan afskud. Hierdie kringloop word herhaal totdat haar gewig tot 15 persent of meer onder die normale gewig vir haar lengte val.
Op hierdie stadium begin vriende en familielede hulle kommer uitspreek en sê dat sy uiters maer, selfs uitgeteer, lyk. Maar die anoreksielyer sien dinge in ’n ander lig. “Ek het nie gedink dat ek maer lyk nie”, sê Alan, ’n manlike anoreksielyer van 1,75 meter wie se gewig op ’n stadium tot 33 kilogram geval het. “Hoe meer gewig ’n mens verloor”, sê hy, “hoe meer verwronge raak jou denke, en jy kan jouself nie duidelik sien nie.”a
Met verloop van tyd kan anoreksie tot ernstige gesondheidsprobleme lei, onder meer osteoporose en nierskade. Dit kan selfs dodelik wees. “My dokter het vir my gesê dat ek my liggaam van soveel voedingstowwe beroof het dat ek aan ondervoeding sou gesterf het as ek nog net twee maande met my eetgewoontes sou volgehou het”, sê Heather. The Harvard Mental Health Letter berig dat ongeveer 5 persent van die vroue wat as anoreksielyers gediagnoseer word binne tien jaar sterf.
Bulimie—eetvergryping en maaglediging
Die eetversteuring wat as bulimia nervosa bekend staan, word gekenmerk deur eetvergryping (hulle verorber vinnig groot hoeveelhede kos, moontlik tot 21 000 kilojoules of meer) en dan raak hulle ontslae van die kos in hulle maag (dikwels deur te braak of lakseermiddels te gebruik).b
In teenstelling met anoreksie word bulimie nie maklik herken nie. Die lyer is dalk nie buitengewoon maer nie, en haar eetgewoontes lyk dalk—ten minste vir ander—heel normaal. Maar vir die bulimielyer is die lewe alles behalwe normaal. Trouens, sy het so ’n obsessie oor kos dat enigiets anders onbelangrik is. “Hoe meer ek my aan kos vergryp en opgegooi het, hoe minder het ek vir ander dinge of mense omgegee”, sê die 16-jarige Melinda. “Ek het vergeet hoe om dinge saam met my vriende te geniet.”
Geneen Roth, ’n skrywer en dosent op die gebied van eetversteurings, beskryf ’n sessie van eetvergryping as “dertig minute van waansin, ’n absolute nagmerrie”. Sy sê dat “niks [tydens ’n sessie van eetvergryping] saak maak nie—nie vriende nie, nie familie nie . . . Niks maak saak behalwe kos nie.” ’n Sewentienjarige lyer met die naam Lydia beskryf haar toestand met ’n baie goeie vergelyking. “Ek voel soos ’n masjien wat gemors saampers”, sê sy. “Stop dit in, pers dit saam, gooi dit uit. Oor en oor dieselfde ding.”
Die bulimielyer wil bitter graag keer dat sy die gewig aansit wat gewoonlik op haar onbeheersde etery sou volg. Daarom laat sy haarself onmiddellik ná die sessie van eetvergryping braak, of sy drink lakseermiddels om van die kos ontslae te raak voordat dit in liggaamsvet omgesit kan word.c Hoewel die blote gedagte hieraan dalk walglik is, dink die geoefende bulimielyer nie so nie. “Hoe meer jy jou aan kos vergryp en dan daarvan ontslae raak, hoe makliker word dit vir jou”, verduidelik die maatskaplike werkster Nancy Kolodny. “Jou aanvanklike gevoelens van afkeer of selfs vrees word gou vervang deur die onbedwingbare drang om hierdie bulimiese patrone te herhaal.”
Bulimie is uiters gevaarlik. Wanneer daar byvoorbeeld herhaaldelik van die kos ontslae geraak word deur braking, word die mond aan die bytende maagsure blootgestel, wat die emalje van die bulimielyer se tande kan wegvreet. Die gewoonte kan ook die lyer se slukderm, lewer, longe en hart beskadig. In uiterste gevalle kan braking daartoe lei dat die maag skeur, en dit kan selfs tot die dood lei. Die oormatige gebruik van lakseermiddels kan ook gevaarlik wees. Dit kan dermfunksie tot niet maak en kan ook tot aanhoudende diarree en rektale bloeding lei. Net soos met herhaalde braking, kan die misbruik van lakseermiddels in uiterste gevalle tot die dood lei.
Volgens die Nasionale Instituut vir Geestesgesondheid kom eetversteurings al hoe meer voor. Wat lei daartoe dat ’n jong vrou met die dood flankeer deur haarself te verhonger? Waarom ontwikkel ’n ander meisie so ’n obsessie oor kos dat sy haar daaraan vergryp en ontwikkel sy dan so ’n obsessie oor haar gewig dat sy voel sy moet ontslae raak van wat sy geëet het? Hierdie vrae sal in die volgende artikel ondersoek word.
[Voetnote]
a Sommige deskundiges sê dat ’n verlies van 20 tot 25 persent van ’n mens se totale gewig chemiese veranderinge in die brein kan veroorsaak wat jou waarnemingsvermoë wysig sodat jy vet sien waar daar niks is nie.
b Kompulsiewe ooretery sonder maaglediging word ook deur sommige as ’n eetversteuring gesien.
c Baie bulimielyers doen elke dag strawwe oefeninge om te keer dat hulle gewig aansit. Party van hulle verloor met soveel welslae gewig dat hulle mettertyd anoreksie kry, en daarna wissel hulle moontlik tussen anorektiese en bulimiese gedrag.