’n Kykie na die eeue oue prag van hout
Deur “Ontwaak!”-medewerker in Nieu-Seeland
HOUT, veral inheemse hout, is vinnig besig om seldsaam te word. Woude word op baie plekke in die wêreld teen ’n onrusbarende tempo uitgedun. Tekorte in die houtvoorraad lei tot buitensporige pryse vir hout, een van die basiese en eens oorvloedige verbruiksartikels in die wêreld.
Hier in Nieu-Seeland is daar ironies genoeg florerende plantasies radiata-denne, wat in die dertigerjare hierheen gebring is, maar die plantasies inheemse bome, soos rimugeelhout, kauri-denne, beukebome en kahikateageelhout, word al hoe kleiner.
Die tydlose bekoring van soliede hout
Duisende jare lank al geniet die mens dit om allerhande nuttige artikels van hout te maak. Die kleur, kenmerkende grein en selfs die reuk wat die meeste houtsoorte afgee, het mense al dikwels vreugde verskaf. Artikels met verskillende gebruike het al jaar na jaar en, in sommige gevalle, eeu na eeu, genot gebring.
Van die vroegste tye af word meubels van soliede hout in huise gebruik. Mans en vroue het hulle aanleg en vaardigheid getoon deur basiese artikels soos tafels, bakke, bankies, vate, kiste en stoele met primitiewe gereedskap te maak.
Vandag dra moderne tegnologie daartoe by dat hierdie artikels baie vinniger gemaak kan word. Kraggereedskap, soos sae, bore, skawe en skuurmasjiene, kan onbewerkte hout doeltreffend in meubels van soliede hout omskep, al gaan dit met heelwat geraas gepaard. Die meeste lande het skrynwerkersfabrieke wat spesialiseer in die massaproduksie van meubels teen redelike pryse.
Maar sulke meubels is dikwels nie so duursaam nie omdat (1) plaasvervangers (houtfineer, spaanderbord) vir soliede hout gebruik word of (2) die tegnieke waarmee die dele aanmekaar gelas word tydbesparend moet wees en kramskieters of hegspykers gebruik word.
Hulle gebruik weer die dissel
In ’n poging om die skynbare tekortkominge van moderne tegnologie te bowe te kom, gebruik sommige nou weer ’n oeroue stuk houtwerkgereedskap—die dissel. Dit word beskryf as “’n stuk snygereedskap wat ’n dun, geboë lem het wat teen ’n regte hoek aan die hef vas is en wat hoofsaaklik gebruik word om hout te vorm”. In Nieu-Seeland het die Maori’s dissels van jade gebruik om kano’s uit te hol en pale te vorm waarop snywerk gedoen moes word. Maar vandag word die meeste dissels van metaal gemaak.
In vorige eeue het timmermanne die dissel gebruik om die raamwerk van huise en skepe haaks en gelyk te maak. Hulle het planke tussen hulle voete vasgeknyp en dit bewerk deur die geboë lem van die dissel te gebruik om skulpwerk of induikings in die oppervlak van die hout uit te sny.
Die dissel se maat—die trekmes
’n Ander noodsaaklike stuk gereedskap wat saam met die dissel gebruik word om die natuurlike bekoring van die artikel wat gemaak word te vergroot, is die trekmes. Dit word gebruik om die kante of oppervlak van hout te vorm. Die dissel sowel as die trekmes moet vlymskerp gehou word.
Wanneer jy hierdie gereedskap aangeskaf het, is die volgende stap om geskikte onbewerkte materiaal te soek en om dit daarna in die meubelstuk van jou keuse te omskep. In hierdie opsig het ’n outydse, ongekunstelde styl van meubelvervaardiging volgens timmermanne aansienlike voordele bo die konvensioneler vervaardigingstegnieke.
Ruwe houtplanke kan in stewige sowel as pragtige meubels omskep word solank dit droog is en nie skeef of krom getrek het nie. Sulke planke kan uit verskillende bronne verkry word: meubels wat weggegooi is (hangkaste, beddens se kopstukke, tafelblaaie), ou houtkratte, balke uit gesloopte geboue en ou heiningpale.
Herwonne hout—kry nuwe lewe
Ou hout wat nie houtwurms het of verrot is nie, kan in die hande van ’n vakman weer warmte, prag en lewe kry.
Vlekke, spykergate en duike kan ’n unieke effek skep in die herwonne hout wat vir meubels gebruik word. Hetsy jou handgemaakte artikel in sy natuurlike vorm gelaat of gekleur en gepoleer word, dit sal tevredenheid en plesier verskaf as iets wat goed gemaak en duursaam is.
Soos die tuinier wat die grond bewerk, die pottebakker wat die klei brei en die spinner wat die natuurlike vesel spin, vind die timmerman wat ’n stuk hout met ’n dissel of ’n trekmes bewerk dat dit die meeste bevrediging verskaf. Ja, dit is harde werk. Ja, dit gaan baie langer neem as moderne metodes. Maar die wete dat jou harde werk vir jou ’n bron van bevrediging sal wees en dat jou handgemaakte meubels jare lank nuttig sal wees vir diegene wat dit ontvang, dra by tot die eeue oue vreugde van houtwerk.
Wenke in verband met tegniek
Nie alle houtsoorte kan suksesvol met ’n dissel bewerk word nie. Die lem van die dissel gaan gewoonlik moeilik deur die vesels van tropiese hardehoutsoorte. Die dissel sal gewoonlik beter werk op ’n sagter houtsoort. Kwaste is nie noodwendig ’n probleem nie. Jy kan dit met ’n guts (’n geboë beitel) uitsny of uithol en sodoende ’n interessante effek skep in die oppervlak wat jy voorberei.
Party van die mooiste kleure word dikwels in planke gevind wat uit die kern van ’n boom gesaag is. Meubels wat hiervan gemaak word, hoef selde gekleur te word. Maar as jy graag warmte en karakter aan gewone hout wil verleen, is daar ’n wye reeks kleurmiddels beskikbaar om by jou persoonlike voorkeur te pas.
Selfs hierdie proses hoef nie duur te wees nie. Party mense het ghries in hout met ’n ligte kleur ingevryf en het gevind dat dit die handgemaakte artikel baie mooi laat lyk.
Daar is ’n verskeidenheid poliuretaanprodukte en vernisse wat jy aan die meubels kan spuit of verf om die laaste afrondingswerk aan jou skepping te doen. Vir ’n natuurliker afwerking wat eerder die hout voed as om dit te verseël, kan jy ’n politoer in die hout invryf wat uit die volgende bestanddele bestaan: vyf dele asyn, vier dele terpentyn, twee dele rou lynolie en een deel brandspiritus. Los ’n bietjie byewas in die mengsel op en laat dit ’n paar dae lank in die hout intrek.
Vakmanskap wat bevrediging verskaf
Unieke meubels van soliede hout wat jy met jou eie hande gemaak het, sal altyd ’n bekoring inhou waar dit in jou gunstelinghoekie in jou huis staan, hoe beskeie dit ook al is. Regoor die wêreld, in herehuise en kothuise, kan ’n mens talle fassinerende voorbeelde, wat soms eeue oud is, van meubelmakers se handewerk vind. Dít getuig beslis van die vaardigheid, ywer en geduld van sulke mense. Hulle het tevredenheid en genot geput uit die vervaardiging van artikels wat nuttig en pragtig is as dit op liefdevolle wyse bewaar word. Hulle verleen ’n mate van individualiteit aan die huise wat hulle versier.
In hierdie eeu, wat al hoe meer deur plastiek en uitgedrukte kunsharsprodukte oorheers word, is ons Skepper se gawe van die boom nog steeds baie nuttig. Een van die wonderlikste dinge omtrent hierdie gawe is dat dit onbewerkte hout voorsien wat die ywerige vakman se hande laat jeuk om dit in pragtige houtmeubels te omskep.
[Prente op bladsy 23]
Rimugeelhout
Tawa
Eikehout
Kwasterige radiata-dennehout
Verniste dennehout
Geoliede dennehout
Donker gekleurde dennehout
[Prente op bladsy 24]
Hoe die dissel
en die trekmes gebruik word
[Prent op bladsy 25]
Handgemaakte kombuiskas
[Prent op bladsy 25]
Hoekrak