Die Bybelse beskouing
Wreedheid teenoor diere—Is dit verkeerd?
IN ’N sportarena in Sentraal-Amerika is alle oë op twee hane vasgenael. Die een is rooi, die ander wit. Die skare juig wanneer die rooi haan, met ’n vlymskerp lem aan sy been vasgebind, die witte skop. ’n Skeidsregter tel die twee voëls op. Die witte is nou slap, dood, en die bloed drup uit hom uit. Die hanegeveg is verby.
In die suidelike deel van die Filippyne moet twee hingste teen mekaar veg. Toeskouers kyk na die grusame vertoning terwyl die perde mekaar aan die ore, nek, snoet en ander liggaamsdele byt. Alhoewel albei moontlik die geveg sal oorleef, sal ten minste een van hulle dalk vermink of verblind wees of beserings opdoen wat uiteindelik tot die dood sal lei.
Twee honde in Rusland val mekaar aan. Binne ’n kort tydjie beweeg hulle op verminkte bene rond met oë wat uitgeruk en ore wat geskeur is en bloed wat uit gapende wonde stroom.
Mense laat diere al eeue lank teen mekaar veg in die naam van sport, en dobbelary was dikwels die dryfkrag daarvoor. By die lys word stiergevegte, jakkalsjagte en selfs spinnekopgevegte gevoeg. Daarbenewens ly baie diere in die naam van die wetenskap. Verder veroorsaak die nalatigheid van hulle eienaars, hetsy dit opsetlik is of nie, dat baie diere ly.
In sommige lande is daar wette wat die behandeling van diere beheer en wat wreedheid verbied. Reeds in 1641 het die Massachusettsbaai-kolonie “Die Liggaam van Vryhede” geformuleer wat gesê het: “Geen mens mag enige tirannie of wreedheid uitoefen teenoor enige dier wat gewoonlik vir die mens se gebruik aangehou word nie.” Sedertdien is wette uitgevaardig en verenigings gestig om wreedheid teenoor diere te voorkom.
Nogtans dink baie mense wat die bogenoemde gevegsportsoorte ondersteun nie dat hulle skuldig is aan wreedheid teenoor diere nie. Party sê dat hulle lief is vir die diere wat hulle so wreed laat ly of laat sterf. Liefhebbers van hanegevegte sê dat hulle voëls langer leef as die gemiddelde hoender wat vir die pot bestem is—inderdaad ’n skrale troos!
Waarom is wreedheid verkeerd?
God laat ons toe om die diere te benut. Bybelbeginsels laat ons toe om diere dood te maak om voedsel en klere te voorsien of om onsself teen hulle te beskerm (Genesis 3:21; 9:3; Exodus 21:28). Maar lewe is vir God heilig. Ons heerskappy oor die diere moet op ’n gebalanseerde manier uitgeoefen word wat respek vir lewe openbaar. Die Bybel verwys op afkeurende wyse na ’n man met die naam Nimrod, wat blykbaar diere, en moontlik mense, vir die blote opwinding daarvan doodgemaak het.—Genesis 10:9.
Jesus het die volgende van God se besorgdheid oor diere gesê: “Vyf mossies word vir twee muntstukke van geringe waarde verkoop, nie waar nie? Tog word nie een van hulle voor God vergeet nie” (Lukas 12:6). Toe God besluit het om nie ’n stad vol goddeloses wat berou getoon het te vernietig nie, het hy self gesê: “Mag [Ek] Ninevé, die groot stad, nie spaar nie waarin meer as honderd-en-twintigduisend mense is . . . , en baie vee?” (Jona 4:11). Klaarblyklik sien hy nie diere as bloot wegdoenbare artikels, as iets wat na willekeur weggegooi kan word nie.
Toe God wette aan die Israeliete gegee het, het hy hulle geleer hoe om behoorlik vir diere te sorg. Hy het van hulle vereis om ’n verdwaalde dier aan sy eienaar terug te besorg en om diere te help wat in nood verkeer (Exodus 23:4, 5). Diere moes net soos mense by die Sabbatsrus baat vind (Exodus 23:12). Daar was wette wat die behoorlike behandeling van plaasdiere beheer het (Deuteronomium 22:10; 25:4). Diere moes klaarblyklik versorg en opgepas word, en nie uitgebuit word nie.
Spreuke 12:10 (NW) sê duidelik wat God se beskouing is: “Die regverdige sorg vir die siel van sy mak dier, maar die barmhartighede van die goddeloses is wreed.” ’n Bybelkommentaar vertaal hierdie vers soos volg: “’n Regverdige man se goedhartigheid sluit selfs sy diere in, maar die goddelose man is wreed, selfs wanneer hy dink dat hy baie vriendelik is.”—Believer’s Bible Commentary, deur William MacDonald.
Die regverdige man behandel diere met goedhartigheid en probeer uitvind wat hulle behoeftes is. ’n Goddelose persoon sê dalk dat hy lief is vir diere, maar sy “barmhartighede” is hoogstens wreed. Sy optrede verraai die selfsugtige beweegrede wat hy in gedagte het. Hoe waar is dit tog van diegene wat een dier teen ’n ander laat veg omdat hulle hoop om geld te wen!
Uitkoms vir die diere
God se oorspronklike voorneme was weliswaar dat die mens “oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip”, moet heers (Genesis 1:28). In daardie voorneme word daar geen voorsiening gemaak vir wreedheid teenoor diere nie. Die wrede behandeling van diere sal nie vir ewig voortduur nie. Ons het rede om te glo dat God alle onnodige lyding gaan beëindig. Maar hoe?
Hy belowe om goddelose en wrede mense uit die weg te ruim (Spreuke 2:22). Hosea 2:17 sê oor die diere: “Ek [sluit] in dié dag ’n verbond met die wilde diere van die veld en met die voëls van die hemel en die kruipende diere van die aarde; . . . en Ek sal hulle in veiligheid laat rus.” Hoe wonderlik sal dit tog wees om gedurende daardie tyd te lewe, wanneer nie net opregte mense by die vreedsame toestande baat sal vind nie, maar ook die diere!
[Prent op bladsy 26]
“Stiergeveg in ’n dorp”, deur Francisco Goya