Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 11/8 bl. 20-22
  • ’n Taktvolle koningin wat ’n slinkse biskop uitoorlê het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Taktvolle koningin wat ’n slinkse biskop uitoorlê het
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Slinkse biskop
  • Op die pynbank gemartel
  • ’n Wyse, taktvolle koningin
  • Die Engelse Hervorming—’n tyd van verandering
    Ontwaak!—1998
  • Godsdiensonverdraagsaamheid nou erken
    Ontwaak!—2000
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1999
  • “Ek het nog nooit sulke liefde ervaar nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 11/8 bl. 20-22

’n Taktvolle koningin wat ’n slinkse biskop uitoorlê het

Deur Ontwaak!-medewerker in Suid-Afrika

IN DIE geselskap van haar getroue hofdames voel koningin Catherine Parr van Engeland veilig. Koning Hendrik VIII se siekte, sowel as die intriges van die lewe aan die hof, druk swaar op hom. Terwyl die koningin met ’n vriendin gesels, kom een van haar hofdames met ’n vel papier in haar hande ingehardloop. Uitasem gee sy die vel vir Catherine. Die koningin is verontrus deur die hofdame se besorgde frons en neem die vel papier huiwerig by haar. ’n Amptenaar het dit klaarblyklik per ongeluk buite die koningin se kamers laat val.a

Catherine word bleek terwyl sy lees. Haar ongeloof verander in afgryse. Dit is ’n lys aanklagte van kettery teen haar, wat deur die koning onderteken is. Sy gil en sak byna inmekaar, maar haar vriendinne ondersteun haar. Sy probeer haarself kalmeer, om helder te dink, maar sy is te ontsteld. Gelukkig help haar hofdames haar om in die bed te kom.

Sy gaan lê, maar sy kan nie rus nie. Haar gedagtes bly terugkeer na al die gebeure tydens haar huwelik met koning Hendrik VIII. Sy was 31, het albei haar vorige mans aan die dood afgestaan, en sy het daaraan gedink om met die aantreklike Thomas Seymour te trou. Maar die koning het ander planne gehad. Hy het haar om haar hand gevra. Hoe kon sy weier? Dit was beslis ’n eer, maar ’n eer wat met probleme gepaardgegaan het. Sy het op 12 Julie 1543 sy sesde vrou geword.

Hendrik was nie meer so aantreklik en atleties soos in sy jong dae toe hy aan toernooie deelgeneem het nie. Op die ouderdom van 52 was hy baie oorgewig en buierig, en hy het so las gehad van oop sere aan sy bene dat hy soms skaars kon loop en in ’n stoel gedra moes word.

Maar Catherine het van haar aansienlike intelligensie en talente gebruik gemaak om die huwelik te laat slaag. Sy het ’n maat geword vir sy drie kinders uit vorige huwelike. Sy het hard probeer om ’n goeie vrou te wees. Wanneer sy bene gepyn het, het sy sy aandag afgelei met haar lewendige gesprekke, dikwels oor godsdienssake. Sy het ’n mate van rustigheid in die koning se latere jare gebring.

Sy probeer nou terugdink aan haar lewe saam met die koning. Wat het sy verkeerd gedoen? Sy dink na oor ’n onlangse besoek aan hom. Daardie aand was sommige van sy howelinge teenwoordig, en hy was blykbaar in ’n goeie bui. Oudergewoonte het sy ’n godsdiensvraag geopper wat hulle voorheen bespreek het. Hy was nors en het haar kortaf in die rede geval. Sy was verbaas, maar het dit aan sy buierigheid toegeskryf. Gewoonlik het hy sulke besprekings geniet en het nie beswaar gemaak teen haar belangstelling in godsdienssake nie.

Sy dink nou terug aan wie by daardie geleentheid teenwoordig was. Haar gedagtes keer aanhoudend terug na een man—Stephen Gardiner, ’n bekende vyand.

’n Slinkse biskop

Gardiner, Biskop van Winchester en ’n koninklike raadgewer, is ’n invloedryke man en ’n teenstander van godsdienshervorming. Weens Catherine se belangstelling in godsdiensveranderinge sowel as haar invloed oor die koning, kan hy haar nie verdra nie.

Toe Hendrik se hoofraadgewer, Thomas Cromwell, dit so bewerk het dat Gardiner sy posisie as die koning se vernaamste minister verloor het, het Gardiner ’n geleentheid gesoek om wraak te neem. Hy was betrokke by die komplot wat tot Cromwell se ondergang en teregstelling gelei het. Gardiner was ook gefrustreerd omdat Hendrik hom oor die hoof gesien het en die betreklik onbekende Thomas Cranmer, wat die Protestante goedgesind was, as Aartsbiskop van Kantelberg aangestel het. Hendrik het gelukkig ’n komplot gedwarsboom wat Gardiner en ander teen Cranmer gesmee het.

Die gevaar vir Catherine en haar hofdames word beklemtoon deur ’n ander onlangse plan van biskop Gardiner. ’n Jong vrou, Anne Askew, was ’n uitgesproke voorstander van godsdienshervorming. Sy was in die tronk in afwagting van haar teregstelling vir kettery. Maar Gardiner het om ’n ander rede in haar belanggestel. Hy wou bewyse hê dat sy in aanraking was met invloedryke hofdames, wat ook die koningin kon inkrimineer. ’n Kollega van Gardiner, Thomas Wriothesley, een van die koning se belangrikste raadgewers, het Anne Askew gaan ondervra.

Op die pynbank gemartel

Wriothesley het Anne ’n ruk lank ondervra, maar het nie die inkriminerende getuienis gekry wat hy wou hê nie. Hy het uiteindelik opdrag gegee dat sy op die pynbankb vasgemaak moes word, al was dit onwettig om hierdie martelwerktuig op ’n vrou te gebruik. Toe dit haar ook nie laat praat nie, het Wriothesley en ’n ander raadgewer self die pynbank gedraai en haar gerek sover hulle kon, maar hulle het nog steeds nie die inligting gekry wat hulle wou hê nie.

Die gedagte aan Anne Askew se lyding dryf Catherine tot trane. Sy is daarvan bewus dat iemand die vertrek binnegekom het. Een van haar hofdames kom nader en sê vir haar dat die koning se dokter, dr. Wendy, deur die koning gestuur is om haar te ondersoek. Die gawe dokter vra hoe dit met haar gaan en sê dat die koning besorg is oor haar gesondheid.

Die dokter verduidelik hoe die koning hom in sy vertroue geneem het en hom van die komplot teen haar vertel het en hom laat belowe het om dit geheim te hou. Dr. Wendy vertel haar nietemin alles—dat die koning daardie nag, nadat sy daar weg is, sarkasties gesê het dat dit baie vertroostend vir hom was om op sy oudag “deur [sy] vrou geleer te word”.

Gardiner het sy kans gesien en dit waargeneem. Hy het gesê dat die koningin skuilplek verleen het aan ketters en dat haar bedrywighede haar aan verraad skuldig gemaak het en ’n bedreiging vir die koning se gesag inhou. Hy het gesê dat hy en ander persone bewyse hiervan aan die koning kon voorlê indien hulle tyd gegun sou word. Die woedende koning het ingestem om ’n akte van beskuldigings teen haar te onderteken.

Nadat dr. Wendy haar van hierdie gebeure vertel het, spoor hy haar aan om so gou moontlik na die koning te gaan en nederig om sy vergifnis te vra. Dit is die enigste manier waarop sy haar vyande kon uitoorlê, wat nie sal rus voordat sy ’n gevangene in die Toring van Londen is en hulle genoeg bewyse het dat sy as gevolg daarvan ter dood veroordeel sou word nie.

Catherine sien die wysheid van hierdie raad in, en laat een nag, toe sy hoor dat die koning in sy kamer is, trek sy haar met sorg aan en oefen wat sy sal sê. Haar suster en ’n vriendin, lady Lane, gaan saam met haar.

’n Wyse, taktvolle koningin

Die koning sit en maak grappies saam met party van sy kamerhere. Hy verwelkom sy vrou met ’n glimlag. Dan stuur hy die gesprek na godsdienssake. Hy vra Catherine om ’n paar punte vir hom op te klaar. Catherine herken die strik onmiddellik. Sy probeer haar bes om opreg en eerlik te antwoord.

Sy sê dat God die vrou ná die man geskep het—ondergeskik aan hom. Sy gaan voort: ‘Aangesien God dan so ’n natuurlike verskil tussen man en vrou daargestel het, en u majesteit so wys is en ek in alle aspekte so ver ondergeskik aan u is, hoe kan u majesteit dan, in sulke ingewikkelde godsdienssake, blykbaar mý oordeel nodig hê?’ Sy erken dan dat hy in alle opsigte haar hoof is en dat net God meer gesag het as hy.

‘Dis nie waar nie’, antwoord die koning. ‘Jy het ’n doktor geword om ons te leer en nie om deur ons geleer of gelei te word nie.’

Sy antwoord: ‘As u majesteit dit so sien, dan het u majesteit my heeltemal verkeerd opgesom; ek wat nog altyd gedink het dat dit uiters onbetaamlik, en verregaande, is vir die vrou om die rol van leermeester of onderrigter van haar heer en man aan te neem; maar eerder dat sy by haar man leer en deur hom geleer word.’ Sy verduidelik verder dat sy nie haar eie idees probeer bevorder het wanneer sy met hom oor godsdienssake gepraat het en soms ’n mening gelug het nie. Sy het eerder gehoop dat sy sy aandag van die pyn wat hy weens sy siekte ondervind het, sou aflei deur met hom te gesels.

‘En is dit werklik waar, Liefling?’ sê die koning. ‘En het jy niks slegs met jou argumente bedoel nie? Dan is ons nou weer goeie vriende, soos ons altyd tevore was.’ Terwyl hy bly sit, roep hy haar nader, omhels haar innig en soen haar. Hy sê dat dit beter is om hierdie nuus te hoor as om onverwags honderdduisend pond as geskenk te ontvang. Hulle gesels nog heerlik totdat hy haar omstreeks middernag toestemming gee om te gaan.

Die volgende dag wandel die koning soos gewoonlik in die koninklike tuin, vergesel van twee kamerhere. Hy het die koningin laat roep om by hom aan te sluit, en sy kom dan ook saam met drie van haar hofdames daar aan. Hendrik het nie vir Catherine vertel dat dít die tyd was waarop daar vroeër ooreengekom is om haar in hegtenis te neem nie. Hy het ook nie vir Wriothesley, wat haar in hegtenis moes neem, van sy versoening met die koningin laat weet nie. Terwyl hulle hulle wandeling geniet, verskyn Wriothesley met 40 van die koning se wagte om die koningin en haar hofdames in hegtenis te neem.

Hendrik verlaat die groep en roep Wriothesley nader, wat op sy knieë voor die koning neerval. Die res van die groep kan nie hoor wat die koning sê nie, maar hulle hoor wel dat hy woedend die woorde ‘Skurk! Monster! Dwaas!’ uitroep. Hy beveel Wriothesley om hom uit die voete te maak.

Wanneer die koning na haar toe terugkeer, probeer Catherine hom met sagte woorde kalmeer. Sy tree selfs vir Wriothesley in die bres en sê dat wat hy ook al gedoen het, hy dalk weens swak oordeel gedoen het.

Die koning antwoord hierop: ‘Liefling, hy het waarlik soos ’n deurtrapte skurk teenoor jou opgetree, laat hom dus gaan.’

So is Catherine van haar vyande gered, en biskop Gardiner het die koning se guns verloor. Die koningin het die slinkse biskop uitoorlê. Alles was verby.c

[Voetnote]

a Hierdie verhaal is op verskeie bronne gebaseer, waaronder Foxe’s Book of Martyrs.

b “’n Martelwerktuig wat bestaan uit ’n raam met rollers waaraan ’n persoon se polse en enkels vasgemaak is sodat sy ledemate uit lit getrek is wanneer die rollers gedraai is.”—Oxford Advanced Learner’s Dictionary.

c Catherine Parr het Hendrik oorleef en het uiteindelik met Thomas Seymour getrou. Sy is in 1548 oorlede, op 36-jarige ouderdom, kort nadat sy geboorte gegee het. Gardiner is in 1550 van sy amp as biskop onthef nadat hy ’n tyd lank in die tronk en in die Toring van Londen aangehou is. Hy het weer guns gewen onder die Katolieke Maria I (1553) en is in 1555 oorlede.

[Prente op bladsy 21]

Koningin Catherine Parr

Biskop Stephen Gardiner

[Erkenning]

Detail van Catherine Parr: Met vergunning van National Portrait Gallery, London; Stephen Gardiner: National Trust Photographic Library/J. Whitaker

[Prent op bladsy 22]

Hendrik VIII het voor die Koningin Teen Thomas Wriothesley Uitgevaar

[Erkenning]

Portret deur Holbein, uit die boek The History of Protestantism (Dl. III)

[Foto-erkenning op bladsy 20]

Agtergrond op bladsye 20-2: Uit die boek The Library of Historic Characters and Famous Events, Dl. VII, 1895

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel