Jongmense vra . . .
Hoe kan ek konsentreer?
“Ek het jare lank vergaderinge bygewoon en nie veel daarby baat gevind nie. My gedagtes het heeltyd gedwaal.”—Matthew.
HET jy al ooit in ’n klaskamer of in ’n Christelike vergadering gesit en skielik besef dat jy geen benul het van wat bespreek word nie? Wel, as jou gedagtes soms geneig is om te dwaal, is jy nie die enigste een nie. Soos ’n vorige artikel getoon het, kan jongmense oor die algemeen nie baie lank konsentreer nie.a Maar met ’n bietjie inspanning en aanpassing in jou gesindheid kan jy leer om jou konsentrasievermoë te verbeter.
Toon belangstelling
Dink aan ’n goed afgerigte atleet. “Elkeen wat aan ’n wedstryd deelneem, beoefen selfbeheersing in alles”, sê die apostel Paulus. As ’n atleet toelaat dat sy aandag selfs net ’n oomblik lank afgelei word, kan dit hom die spel kos. As hy wil wen, moet hy leer om te konsentreer—om geen notisie te neem van die geraas van die juigende skare nie, om sy pyn en moegheid te ignoreer, om die blote gedagte aan mislukking uit sy kop te sit. Maar presies wat beweeg atlete om hulle so kragtig in te span? Volgens die apostel Paulus doen hulle dit sodat “hulle ’n verderflike kroon kan kry”—die trofeë en lof wat aan oorwinnaars gegee word.—1 Korintiërs 9:25.
Jy moet eweneens gemotiveerd wees om aandag te skenk! Die boek Study Is Hard Work, deur William H. Armstrong, sê: “Dit is die verantwoordelikheid van die student om belangstelling te toon. Niemand kan namens jou belangstelling toon nie, en niemand kan jou belangstelling laat toeneem tensy jy dit so wil hê nie.” Deur middel van kennis kan jy die wêreld om jou verstaan. Hoe meer jy weet, hoe meer kan jy leer. “Vir die verstandige is kennis maklik”, sê Spreuke 14:6. Jy onthou dalk nie alles wat jy op skool leer nie, maar op sy allerminste help die skool jou om denkvermoë aan te kweek en verder te ontwikkel. (Vergelyk Spreuke 1:4, NW.) As jy verstandelike dissipline asook konsentrasievermoë het, sal dit regdeur jou lewe vir jou nuttig wees.
Verveelde en vervelige onderwysers
Party tieners kla egter dat selfs hulle onderwysers nie veel belangstelling toon nie. ’n Jongmens met die naam Jesse sê: “Onderwysers staan voor in die klas, sê iets, gee vir jou jou huiswerk en verdaag dan die klas. Ek dink hulle is besig om hulle werklus te verloor. Die onderwysers tree nie op asof dit belangrik is nie, en daarom dink ons nie dis nodig om aandag te skenk nie.”
Moet jy dan tot die gevolgtrekking kom dat dit ’n vermorsing van tyd is om aandag te skenk? Nie noodwendig nie. Baie onderwysers is dalk net in ’n bose kringloop vasgevang. ’n Tiener met die naam Collin verduidelik: “Niemand skenk aandag aan die onderwysers nie; die onderwysers dink dus dat niemand wil leer nie. Dan gee hulle nie meer klas met veel lus en entoesiasme nie.”
Glo dit as jy wil, maar jy kan help om hierdie patroon te verander. Hoe? Bloot deur aandag te skenk. Net een leerling wat belangstelling toon, is dalk al wat nodig is vir ’n verveelde onderwyser om hernieude belangstelling in sy werk te toon. Dit is wel so dat party onderwysers net nie die vermoë het om die aandag van ’n klas te boei nie. Maar voordat jy begin dagdroom, vra jou af: ‘Ken hy sy vak?’ Indien wel, moet jy jou voorneem om iets by hom te leer. Luister aandagtig—konsentreer! Raak betrokke by klasbesprekings. Vra toepaslike vrae. Die boek How to Study in High School sê: “Baie leerlinge vind dat dit nuttig is om diagramme, woorde, kaarte, definisies en hoofgedagtes neer te skryf wat die onderwyser op die bord skryf of andersins beklemtoon.”
Skenk “meer as die gewone aandag”
Daar is egter baie meer op die spel wanneer dit kom by hoe ons by Christelike vergaderinge luister. Jesse erken: “Soms skenk jongmense nie aandag aan dinge soos vergaderinge nie omdat hulle nie besef hoe belangrik die vergaderinge is nie.” In Hebreërs 2:1 word ons beveel om “meer as die gewone aandag [te] skenk aan die dinge wat ons gehoor het, sodat ons nooit sal wegdryf nie”. Kan jy, nadat jy ’n gemeentelike vergadering bygewoon het, iets uit elke deel op die program onthou? Of vind jy soms dat jy nie eers kan onthou wie op die program was nie?
Dit kom weer eens daarop neer dat ’n mens moet besef hoe belangrik die dinge is wat jy leer. Ja, jou léwe is daarby betrokke! (Johannes 17:3). Hier is nog ’n punt waaroor jy moet nadink: Wanneer jy aangaande die Bybel leer, leer jy om soos God self te dink! (Jesaja 55:8, 9). En wanneer jy toepas wat jy leer, beklee jy jou met wat die Bybel “die nuwe persoonlikheid” noem (Kolossense 3:9, 10). As jy daarenteen nie aandag skenk nie, sal jy dalk nie die nodige verbeteringe in jou lewe aanbring nie; jy sal jou eie geestelike vordering belemmer. Jehovah weet dat ons almal geneig is om ons gedagtes te laat dwaal. Daarom smeek hy: “Luister aandagtig na My . . . Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe.”—Jesaja 55:2, 3.
Hoe om meer by vergaderinge baat te vind
Dit sal nietemin aan die begin dalk moeilik wees om met onverdeelde aandag by vergaderinge te luister. Maar navorsers sê: Hoe meer ons oefen om te konsentreer, hoe bedrewener word ons brein daarin. Matthew, wat aan die begin aangehaal is, het die neiging te bowe gekom om sy gedagtes gedurende vergaderinge te laat dwaal. Hy sê: “Ek het gevind dat ek myself moet dissiplineer om aandag te skenk. Ná ’n ruk word dit beter, en jy kan vir langer tye aandag skenk.” Matthew wys ook op die grootste faktor wat vergaderinge vir hom aangenaam maak. Hy sê: “Ek berei voor.” ’n Jongmens met die naam Charese sê ook: “Wanneer ek voorbereid is, voel ek meer deel van die vergadering. Die toesprake is vir my boeiender en sinvoller.”
Dit is ook belangrik om gedagtes wat die aandag aftrek uit ’n mens se kop te sit. Daar is weliswaar dalk ’n paar dinge waaroor jy tereg bekommerd is: daardie toets wat jy volgende week moet skryf, ’n persoonlikheidsverskil wat vir jou spanning veroorsaak, die een of ander koste wat jy nog moet dek. Maar Jesus het hierdie raad gegee: “Wie van julle kan deur besorg te wees een el by sy lewensduur voeg? Wees dus nooit besorg oor die volgende dag nie, want die volgende dag sal sy eie sorge hê. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad” (Matteus 6:27, 34). As jy by gemeentelike vergaderinge aandag skenk, sal dit nie jou probleme laat weggaan nie, maar dit sal jou help om jou geestelikheid te hernieu sodat jy probleme beter kan verwerk.—Vergelyk 2 Korintiërs 4:16.
As jy aandagtig luister, kan dit jou ook help om te konsentreer. Matthew sê: “Ek probeer vooruit dink wat die spreker gedurende die toespraak gaan uitbring en sien dan hoe hy dit doen.” Vra jou af: ‘Wat is die hoofpunte wat bespreek word? Hoe kan ek gebruik wat vir ons geleer word?’ As jy vooruit dink oor wat die spreker volgende gaan sê, kan dit jou ook help om nie jou gedagtes te laat dwaal nie. Probeer om sy redenasie te volg. Let op die skriftuurlike argumente wat hy gebruik. Dink na oor sy hoofpunte en som dit op. Maak kort, sinvolle aantekeninge. Wanneer ’n deel gehoordeelname vereis, neem gerus deel! Dit kan jou help om te konsentreer en keer dat jou gedagtes dwaal.
Daar moet toegegee word dat dit ’n uitdaging kan wees as ’n sekere spreker nie entoesiasties is nie of ’n eentonige toespraak hou. Dink aan wat party eerste-eeuse Christene gesê het oor wat hulle van Paulus se spraakvermoë gedink het: “Sy persoonlike teenwoordigheid is swak en sy spraak [is] veragtelik” (2 Korintiërs 10:10). Maar Paulus het op sulke kritiek gereageer deur te sê: “Selfs al is ek onbedrewe in spraak, is ek beslis nie in kennis nie” (2 Korintiërs 11:6). Ja, as sy luisteraars net verder gekyk het as Paulus se spraakvermoë en gekonsentreer het op wat hy gesê het, kon hulle baie van “die diep dinge van God” geleer het (1 Korintiërs 2:10). Jy kan eweneens selfs van ’n “eentonige” spreker leer as jy konsentreer en luister. Wie weet? Hy meld dalk selfs ’n fyn betekenisverskil of pas dalk ’n teks toe op ’n manier waaraan jy nog nooit gedink het nie.
Jesus se woorde in Lukas 8:18 som alles mooi op: “Skenk dus aandag aan hoe julle luister.” Dit is waar dat dit inspanning en oefening gaan verg om te leer om aandag te skenk—en om jou gedagtes nie te laat dwaal nie. Maar mettertyd sal jy voordeel daaruit trek. As jy leer om te konsentreer, kan dit beter punte en, nog belangriker, geestelike vooruitgang beteken!
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Jongmense vra . . . Waarom kan ek nie konsentreer nie?” in ons nommer van 22 Julie 1998.
[Prent op bladsy 20]
As jy belangstelling ontwikkel in wat jy hoor, sal dit jou help om aandag te skenk