Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w26 Junie bl. 20-25
  • Skenk aandag aan hoe jy luister

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Skenk aandag aan hoe jy luister
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ONTHOU DAT JEHOVAH MET ONS PRAAT
  • HOEKOM MOET ONS MOOI LUISTER BY VERGADERINGE?
  • HOE OM ANDER TE HELP OM BY VERGADERINGE TE LUISTER
  • HOE OM ’N BETER LUISTERAAR TE WORD
  • HOU AAN OM NA JEHOVAH TE LUISTER
  • Dié wat “die regte gesindheid” het, sal reageer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Verbeter jou onderrigvermoë in die bediening
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Besluite wat wys dat ons op Jehovah vertrou
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2023
  • Hoe om die bediening meer te geniet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
w26 Junie bl. 20-25

31 AUGUSTUS–6 SEPTEMBER 2026

LIED 89 Luister en doen wat God sê

Skenk aandag aan hoe jy luister

“Skenk . . . aandag aan hoe julle luister.” – LUK. 8:18.

FOKUS

Hoekom ons gedurende vergaderinge en ander geestelike programme aandag moet skenk en hoe ons dit kan doen.

1-2. (a) Hoe sien Jehovah om na die geestelike behoeftes van sy volk van vandag? (Psalm 23:​1, 2, 5) (b) Wat sal ons bespreek in verband met Christelike vergaderinge?

JEHOVAH voorsien vandag vir ons ’n oorvloed geestelike kos. Ons kan beslis saamstem met Dawid, wat gesing het: “Jehovah is my Herder. Ek sal niks kortkom nie.” – Lees Psalm 23:​1, 2, 5.

2 Een manier waarop Jehovah vandag vir ons geestelike kos voorsien, is deur ons gemeentelike vergaderinge. By hierdie vergaderinge bespreek ons dikwels inligting waarmee ons bekend is. Al “staan [ons] vas in die waarheid”, het ons hierdie herinneringe nodig (2 Pet. 1:12). Maar sukkel jy om aandag te skenk wanneer geestelike programme inligting insluit wat al baie keer bespreek is? Hierdie artikel kan jou help. Ons sal bespreek hoekom ons mooi moet luister by vergaderinge. Ons sal ook sien hoe dié wat in die gemeente onderrig, ander kan help om te luister. En ons sal party voorstelle bespreek wat ons kan help om beter luisteraars te word. Maar kom ons kyk eers wie met ons praat.

ONTHOU DAT JEHOVAH MET ONS PRAAT

3. Hoe praat Jehovah met ons, en hoe maak sy knegte goed gebruik van sy Woord?

3 Jehovah praat met ons deur middel van sy Woord, die Bybel (2 Tim. 3:​16, 17). Jesus het dit verstaan. Hy het God se Woord so goed gebruik dat sy luisteraars beweeg is om te vra: “Hoe is dit dat hierdie man soveel kennis van die Skrif het as hy nie aan die skole gestudeer het nie?” (Joh. 7:15). Opregte mense was opgewonde wanneer hulle gehoor het hoe Jesus God se Woord verduidelik. Eerste-eeuse Christene, soos die apostel Paulus en Apollos, het ook die Skrif baie gebruik wanneer hulle met ander geredeneer het (Hand. 17:​2, 3; 18:​24, 28). Ons, as Jehovah se Getuies, weet dat die Bybel die grondslag is vir ons artikels, Broadcasting-programme, toesprake, sketse en video’s. Baie besoekers is beïndruk deur die manier hoe Jehovah se volk die Bybel by hulle vergaderinge gebruik. Dié wat dele by sulke vergaderinge het, maak God se Woord die middelpunt van hulle onderrigting – nie net deur daaruit te lees nie maar ook deur vir die gehoor te wys hoe om wat dit sê, toe te pas. – Luk. 24:32.

4. Watter idee dra die woorde “hoor” en “luister” oor?

4 Die woorde “hoor” en “luister” word dikwels in die Bybel gebruik om die idee om aan iemand gehoorsaam te wees, oor te dra. So, wanneer Jehovah by ons vergaderinge deur middel van sy Woord met ons praat en ons begin verstaan wat sy wil is, is dit makliker om aan hom gehoorsaam te wees. Ons kan die vertroue hê dat Jehovah bly is wanneer ons na hom luister en in ooreenstemming met wat hy sê, optree. – Spr. 27:11.

HOEKOM MOET ONS MOOI LUISTER BY VERGADERINGE?

5. Wat beweeg ons liefde vir Jehovah ons om te doen? (Johannes 4:​23, 24; 1 Johannes 5:3)

5 Ons luister by vergaderinge omdat ons Jehovah liefhet (Matt. 22:37). Hoe meer ons omtrent Jehovah leer, hoe liewer word ons vir hom. Daardie liefde veroorsaak dat ons graag na hom wil luister, hom wil gehoorsaam en hom wil aanbid op die manier wat hy in sy Woord uiteengesit het. – Lees Johannes 4:​23, 24; 1 Johannes 5:3.

6. Wat leer ons by ons vergaderinge oor hoe om ander te help?

6 Ons luister by vergaderinge omdat ons mense liefhet (Matt. 22:39). By ons vergaderinge leer Jehovah ons hoe om ons broers en susters en dié wat hom nog nie ken nie, te help. Byvoorbeeld, die brosjure Wees lief vir mense – Maak dissipels het ons gehelp om eienskappe te ontwikkel wat ons in die bediening sal help. Sukkel jy om vriendelike gesprekke met mense te begin? As dit die geval is, skenk spesiale aandag aan die manier hoe jou broers en susters daardie vaardigheid gedurende die studente-dele by die vergadering in die week demonstreer.

7. Hoekom is dit noodsaaklik dat ons na Jehovah bly luister?

7 Ons luister by vergaderinge omdat ons die lewe liefhet. Gehoorsaamheid aan God se Woord beteken vir ons lewe, soos dit die geval was vir ware aanbidders in die verlede (Deut. 32:​44-47). Wanneer ons by ons vergaderinge luister, ontvang ons die aanmoediging wat ons nodig het om met volharding te bly wag vir die nuwe wêreld om te kom (Rom. 8:25). Dit is noodsaaklik om nou na Jehovah te luister omdat ons in die laaste dae is en geestelik wakker moet bly. – Matt. 24:​42-44; Op. 1:3.

HOE OM ANDER TE HELP OM BY VERGADERINGE TE LUISTER

8. Hoekom moet broers wat van die verhoog af onderrig, daaraan bly werk om ’n beter spreker te word?

8 Broers wat van die verhoog af onderrig, veral dié wat openbare toesprake gee, moet daaraan bly werk om ’n beter spreker te word. ’n Goed voorbereide Bybeltoespraak het baie potensiaal om mense na die waarheid te trek en om die broers en susters te help om in die waarheid te bly. Daarom moet dié wat dele by die vergadering het, nie onderskat hoe baie hulle ander kan help nie. As jy daardie voorreg het, dink aan hoe jy dalk die volgende punte in jou toesprake kan toepas. Al is hierdie punte veral gerig aan dié wat openbare toesprake gee, kan dit in beginsel toegepas word op enige aanwysing op die program wat ons dalk ontvang. – 2 Tim. 4:2; Tit. 1:9.

9. Hoekom is dit belangrik dat ’n toespraak maklik moet wees om te volg?

9 Berei ’n duidelike struktuur voor. As ’n spreker wil jy hê dat dit maklik moet wees om jou inligting te volg. Die gehoor se aandag kan afgelei word as die inligting te ingewikkeld is. Wat kan jou help om ’n goed gestruktureerde toespraak te gee? Hier is ’n paar stappe: (1) Probeer om dit van die begin af duidelik te maak wat jou hoofpunte sal wees. (2) Bespreek hierdie punte een vir een, en pouseer tussen hoofgedagtes, en sê duidelik wat die volgende hoofpunt is voordat jy aanbeweeg. (3) Hersien kortliks die punte in jou slot.

10. Hoekom is dit belangrik om opgewonde te raak oor die inligting?

10 Raak opgewonde oor die inligting. Jy sal met entoesiasme praat as jy punte ontwikkel waarvoor jy lief is (Spr. 2:​4, 5; Hand. 4:20). Wanneer jy nadink oor die tekste en die toegewese inligting, sal dit jou help om hierdie punte te vind. ’n Broer van die Verenigde State wat in sy 70’s is, onthou ’n toespraak wat hy gehoor het toe hy in sy tienerjare was: “Ek onthou nog hoe die spreker ons aangemoedig het om goed na te dink wanneer ons God se Woord lees. Hy het met oortuiging gepraat en mooi verduidelik hoe om dit te doen. Daardie toespraak was ’n keerpunt in my lewe; dit het ’n uitwerking op my Bybellees sowel as my verhouding met Jehovah gehad.”

11. Hoekom is dit goed om praktiese, spesifieke voorstelle in toesprake te gee? (1 Timoteus 4:​13-16)

11 Dink aan wat jou gehoor nodig het, en gee praktiese voorstelle. Eerder as om algemene inligting aan te bied, gebruik die Bybel om spesifieke aanmoediging en voorstelle te gee. Die apostel Paulus het Timoteus byvoorbeeld ’n aantal spesifieke voorstelle gegee om hom te help om geestelik sterk te bly in sy toewysing in Efese. (Lees 1 Timoteus 4:​13-16.) Dink aan wat jou luisteraars nodig het, en help hulle om te sien hoe hulle die inligting op praktiese maniere in hulle lewe kan toepas.

12. Hoekom is dit beter om op ’n natuurlike manier te praat wanneer jy ’n toespraak gee?

12 Oefen jou toespraak hardop sodat jy op ’n geselstrant kan praat. Wanneer jy op ’n natuurlike manier praat eerder as om jou toespraak woord vir woord uit te skryf en dit te lees, sal dié in die gehoor dit makliker vind om na die inligting te luister en dit te absorbeer. Die brosjure Leer hoe om beter te lees en onderrig sê: “Praat op ’n natuurlike manier en uit die hart. Dit sal wys hoe jy oor die onderwerp voel en oor diegene wat na jou luister.” Wanneer jy uit die hart praat, sal jou toespraak vir jou gehoor lewendiger, interessanter en motiverender wees.

13. Hoekom moet onderrigters in die gemeente ervare sprekers vir raad vra? (Sien ook prent.)

13 Vra ’n ervare spreker vir raad. Hoe kan jy dit doen? Jy kan voor die tyd jou notas met ’n ervare spreker deel en dan sy voorstelle by jou toespraak insluit. En vra hom om te luister terwyl jy die toespraak gee met die doel om vir jou voorstelle te gee oor hoe jy as ’n onderrigter kan verbeter (Spr. 1:5). Ons almal het “blindekolle”, en ons weet dalk nie of ons ons punte op ’n duidelike en goeie manier oordra nie. Ons wil as sprekers en onderrigters verbeter sodat ons ons luisteraars kan help om baat te vind by die geestelike skatte in God se Woord.a

’n Broer oefen sy toespraak by ’n Koninkryksaal voor ’n ervare broer wat notas neem.

Vra ’n ervare spreker om jou te help om as ’n onderrigter te verbeter (Sien paragraaf 13)


HOE OM ’N BETER LUISTERAAR TE WORD

14. Hoekom moet ons die gesindheid van die skrywer van Psalm 119 aankweek? (Psalm 119:​24, 111, 167)

14 Ons sal beter luisteraars word as ons ons waardering vir Jehovah se herinneringe vergroot. Ons het God se herinneringe nodig om uitdagings te hanteer wat algemeen is gedurende hierdie “swaar tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Tim. 3:1). As ons soms voel dat ons dieselfde inligting al baie keer gehoor het, sal dit goed wees as ons nadink oor die gesindheid wat die skrywer van Psalm 119 teenoor God se herinneringe gehad het. – Lees Psalm 119:​24, 111, 167.

15. Hoe kan ons ons waardering behou vir die geestelike kos wat ons by vergaderinge ontvang?

15 Ons moet ’n positiewe beskouing behou van die geestelike kos wat ons ontvang, net soos die Israeliete ’n positiewe beskouing moes behou het van Jehovah se voorsiening van die manna toe hulle in die wildernis was (Eks. 16:​15, 31). Die Israeliete was aan die begin ongetwyfeld dankbaar vir die manna. Dit het van Jehovah af gekom, dit het lekker gesmaak, en dit het hulle aan die lewe gehou. Maar met verloop van tyd het party moeg geword daarvoor om elke dag manna te eet (Num. 21:5). Die les? Ons moet nooit die geestelike kos wat ons ontvang, as algemeen of onnodig herhalend beskou nie. Ons moet eerder in gedagte hou dat Jehovah die Bron is. Ons moet onthou dat dit goed voorberei is deur Jehovah se organisasie. Ons moet ook nadink oor die realiteit dat die wysheid wat ons daaruit kry, ons lewe kan bewaar. – Spr. 3:​13, 16-18; Joh. 17:3.

16. Wat het party broers en susters wat Jehovah al lank dien, gehelp om by vergaderinge aandag te skenk? (Sien ook die venster “Wenke om goed te luister”.)

16 Ons kan beter luisteraars word deur praktiese voorstelle toe te pas. Let op wat party broers en susters wat Jehovah al lank dien, gehelp het om by vergaderinge aandag te skenk. Ashley, wat Jehovah al meer as 30 jaar lank dien, sê: “Voorbereiding is noodsaaklik as jy aandag wil skenk. As ek nie voorbereid is nie, sukkel ek om te antwoord en dwaal my gedagtes.” József, wat Jehovah al 52 jaar lank dien, sê: “Ek geniet dit om na bekende onderwerpe te luister omdat dit my help om die inligting beter te verstaan as dit uit verskillende oogpunte bespreek word.” En hy voeg by: “As ’n broer nie ’n uitstekende spreker is nie, fokus ek op die boodskap wat hy uit God se Woord oordra eerder as op die manier hoe hy die toespraak gee.”

Wenke om goed te luister

Toe broers en susters wat Jehovah al lank dien, gevra is: “Wat help jou om by vergaderinge aandag te skenk?” het hulle die volgende wenke gegee:

  • Suefawn, wat in 1986 gedoop is, sê: “Sit voor in die Koninkryksaal om op die spreker en die video’s gefokus te bly.”

  • David, wat in 1983 gedoop is, sê: “Ek vra Jehovah baie keer in gebed om my te help om te konsentreer, en ek herinner myself daaraan dat dit deel van my aanbidding is om vergaderinge by te woon, te konsentreer en daaraan deel te neem.”

  • Nicolas, wat in 1982 gedoop is, sê: “Stel vir jouself die doelwit om elke persoon op die program te bedank vir ’n spesifieke voorbeeld, idee of illustrasie wat jy in sy deel geniet het.”

  • Augustin, wat in 1988 gedoop is, sê: “Ek sê altyd vir myself dat dit geestelike kos op die regte tyd is as die getroue slaaf beplan het om ’n onderwerp weer te bespreek.”

17. Wat kan jy doen om by vergaderinge aandag te skenk? (Sien ook prent.)

17 Is dit moontlik dat een of meer van die volgende voorstelle jou kan help om aandag te skenk? (1) As jy voor die vergadering eet, sorg dat jy ’n ligte maaltyd eet sodat jy wakker kan bly. (2) Kom vroeg daar aan en vind jou sitplek voordat die program begin. (3) Sit elektroniese toestelle se klank af, en moenie toelaat dat dit jou aandag gedurende die vergadering aflei nie. (4) Dink aan wat bespreek sal word. (5) Bly gefokus op die spreker. (6) Maak kort notas of eenvoudige tekeninge van die hoofpunte. (7) Skenk aandag aan die Bybelverse en probeer dink aan hoe dit met mekaar verband hou. (8) Vra jouself: ‘Hoe kan ek dit gebruik om iemand in die gemeente of in die gebied te help?’ (9) By byeenkomste, kyk vooraf na die dag se tema, die onderwerpe wat bespreek gaan word en die hooftekste vir elke toespraak. (10) Berei jou hart voor deur stil te sit en aandag te skenk aan die musiek en die video’s wat aan die begin van die program gespeel word.

’n Broer stuur vir sy vriend ’n boodskap gedurende die “Wagtoring”-studie.

Hou aan om na God se herinneringe te luister, en moenie toelaat dat elektroniese toestelle jou aandag aflei nie (Sien paragraaf 17)


HOU AAN OM NA JEHOVAH TE LUISTER

18. Hoekom moet ons by vergaderinge aanhou luister?

18 Ons moet by vergaderinge aanhou luister omdat ons deur middel daarvan Jehovah toelaat om ons op “die paaie van regverdigheid” te lei (Ps. 23:3; 31:3). Ons het die raad wat ons ontvang, nodig sodat ons nie van koers af sal dwaal soos ’n boot wat deur die wind van koers af gewaai word nie. Daarom moet ons “aandag [skenk] aan hoe [ons] luister” en die raad wat ons by gemeentelike vergaderinge ontvang, toepas (Luk. 8:18). Dié wat na Jehovah luister, sal nou gelukkig wees en in die toekoms die ewige lewe hê. – Ps. 119:​2, 14.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoekom moet ons by vergaderinge luister?

  • Hoe kan broers wat by vergaderinge onderrig, ander help om te luister?

  • Hoe kan jy ’n beter luisteraar word?

LIED 87 Kom! Word verkwik

a Vir nog voorstelle oor hoe om as sprekers en as onderrigters te verbeter, sien die brosjure Leer hoe om beter te lees en onderrig en die boek Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel