Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 9/22 bl. 15-17
  • Die kliploerie—’n Juweel van die Amasonewoud

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die kliploerie—’n Juweel van die Amasonewoud
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Grensgeskille en rusies oor erfgrond
  • En die wenner is . . .
  • Die volgende geslag
  • Voëlkykery—’n Fassinerende stokperdjie vir almal?
    Ontwaak!—1998
  • “Die pragtigste woudbewoner”
    Ontwaak!—2000
  • Vere—’n wonder van ontwerp
    Ontwaak!—2007
  • Net om mooi te lyk?
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 9/22 bl. 15-17

Die kliploerie—’n Juweel van die Amasonewoud

Deur Ontwaak!-medewerker in Brasilië

SELFS objektiewe natuurkenners word digterlik wanneer hulle die Guianese kliploerie beskryf, ’n pragtige, onbekende voël van die Amasonereënwoud.a “’n Groot, skitterende vlam”, het ’n natuurkenner geskryf. “’n Vlammende komeet”, het ’n ander gesê. “Moeilik om in . . . absolute aantreklikheid te oortref”, was die gevolgtrekking van ’n derde. Hulle almal stem saam dat dit ’n onvergeetlike skouspel is. Maar wat maak hierdie voël, wat so groot soos ’n duif is, so merkwaardig? Om maar een ding te noem, sy kleurryke voorkoms.

Die mannetjie spog met ’n oranje kuif wat soos ’n waaier lyk en sy hele snawel wegsteek. ’n Kastaiingbruin streep, al langs die rand van die kuif, beklemtoon die volmaakte halfsirkelvormige vorm daarvan. Van sy kuif tot by sy kloue is die voël oorwegend met oranje vere bedek. Sy vlerke, swart met ’n tikkie wit, is bedek met ’n donserige laag goud-oranje vere, wat hom laat lyk asof hy in ’n tjalie toegedraai is. “Hulle vorm en voorkoms”, sê die boek Birds of the Caribbean, “is onbeskryflik treffend.” Nogtans steek daar meer agter hierdie voël as wat ’n mens dink. Sy vere weerspieël ook sy karakter. Hoe?

Wel, jy sal saamstem dat ’n helderoranje uitrusting nouliks die kleur is om te dra as jy met die donkergroen reënwoud wil saamsmelt. Maar hierdie laventelhaan van die oerwoud wíl raakgesien word. Hy gebruik sy swierige voorkoms om mededingers te verdryf en om bewonderaars te lok.

Grensgeskille en rusies oor erfgrond

Vroeg in die jaar, gedurende die paartyd, gaan die mannetjies na duidelik afgebakende gebiede in die woud wat in Engels leks genoem word en wat ’n verhoog is vir die voëls se jaarlikse hofmaakdanse. Hierdie woord lek kom waarskynlik van die Sweedse werkwoord att leka, wat beteken “om te speel”. Trouens, natuurkenners het jare lank gedink dat die voëls se hofmaakkaperjolle bloot ’n spel is—’n aangename vertoning op die woudvloer. Maar nou onlangs het hulle uitgevind dat ’n lek nie net ’n dansvloer is nie, maar ’n stoeikryt sowel as ’n vertoonkamer. Waarom?

Nadat ’n groep kliploeriemannetjies ’n lek ingeneem het, merk elke voël sy stukkie van die woudvloer as sy privaat gebied af deur van al die blare op die grond ontslae te raak. Hy maak ook aanspraak op die takke bokant die stuk grond sodat sy gebied ’n silinder vorm wat ongeveer 1,5 meter breed en 2 meter hoog is. Met nagenoeg 50 voëls wat in een lek saamgebondel is, sê die navorser Pepper W. Trail, is hulle gebiede “die digste opmekaar van al die voëls wat ’n lek gebruik”. Die gevolg? Grensgeskille en rusies oor erfgrond.

Hulle grensgeskille lyk soos geesdriftige maar onskadelike oorlogsdanse—’n uitbarsting waarin hulle hulle koppe knik, met hulle snawels hap, hulle vlerke klap en hulle vere ritsel, wat deur ’n skril gekraai en hoë spronge onderbreek word. Ná ’n minuut of twee, wanneer elke voël meen dat hy die ander beïndruk het, gaan hulle albei terug tot binne die grense van hulle gebied. Maar wanneer twee voëls elkeen ’n ogie op dieselfde stukkie gesogte woudvloer het wat nou beskikbaar is weens die dood van ’n ander voël, word die geskil ’n tipiese stryd oor erfgrond.

“Die voëls gryp mekaar met hulle kragtige kloue vas, slaan mekaar met hulle vlerke en gryp soms mekaar se snawels vas. Sulke gevegte”, skryf Trail in die tydskrif National Geographic, “kan tot drie uur duur en laat die stryders uitasem.” As die uitslag ná hierdie eerste rondte gelykop is, rus die voëls, maar daarna word die hanegeveg hervat en duur dit voort totdat een voël as die enigste erfgenaam uit die stryd tree.

Maar selfs voordat die stof gaan lê het, verander die vurige stoeier in ’n lewende standbeeld, en die lek word ’n vertoonkamer. Waarom hierdie nuwe toneel? Die eerste deel van die voël se naam, kliploerie, gee die antwoord.

En die wenner is . . .

Terwyl die mannetjies besig is met hulle gevegte op die woudvloer, is ’n paar valerige voëls besig om stil-stil hulle neste in die beskutte hoekies van nabygeleë rotse te herstel. Ja, hulle is die wyfies van die kliploeries. Anders as die mannetjie sal die wyfie nie tot die finale rondte van ’n skoonheidskompetisie vir voëls deurdring nie. Sy is, skryf die navorser David Snow taktvol, “’n voël wat baie anders is”. Op haar kop is ’n kroontjie, “’n onderontwikkelde weergawe van die mannetjie se pragtige kuif, wat die kop eintlik net ietwat belaglik laat lyk”. Haar kort beentjies met groot voete dra ’n vaalbruin lyf wat “taamlik swaar en lomp is”.

Maar vir ons laventelhane van die oerwoud is sy ’n wenner. Wanneer sy na die takke bokant die lek vlieg en ’n skril kiuoou-roep gee, laat sy elke kop met sy oranje vere draai, en sy veroorsaak ’n vertoning wat “onder die interessantste en indrukwekkendste hofmaakvertonings in die voëlryk” tel (The Life and Mysteries of the Jungle). Wat gebeur? Navorser Trail sê dat “die lek skielik ’n mengelmoes van kleur, beweging en geluide word” wanneer die wyfie vir die eerste keer opgemerk word, terwyl elke mannetjie die ander probeer oortref en die aandag van die besoeker probeer trek. Daarna spring die mannetjies van hulle takke af en kom met ’n plofgeluid en ’n gekrys op hulle gebied te lande. Hulle klappende vlerke boei die aandag van die wyfie en waai ook die blare van die grond af weg. Ewe skielik hou die oorverdowende lawaai dan op. Die beslissende oomblik het aangebreek.

Elke mannetjie buig stram, met sy pronkvere ten volle oopgesprei, en staan botstil asof hy in ’n beswyming is. Sy oopgespreide kuif verberg sy snawel terwyl sy donserige vere die vorm van sy lyf wegsteek, wat hom soos ’n oranje blom laat lyk wat op die woudvloer geval het. “’n Pronkende kliploerie lyk so vreemd”, sê een bron, “dat dit met die eerste oogopslag moeilik is om te glo dat dit ’n voël is.”

Die wyfie ken egter ’n blom en ’n minnaar uitmekaar en beweeg laer af na drie of vier mannetjies wat bewegingloos staan, met hulle lyf plat gemaak en hulle rug na die wyfie toe. Maar hulle kop is so gekantel dat een oog opkyk, gerig op die prys. Minute gaan verby terwyl die wyfie haar besluit oorweeg, maar uiteindelik kies sy die wenner. Sy land agter haar gunsteling, wip nader aan hom, leun vorentoe en pik aan die donserige punte van sy vlerkvere. Dan begin die mannetjie weer beweeg. Hulle paar op sy gebied of op ’n nabygeleë tak. Daarna vlieg die wyfie weg. Sy keer dikwels na dieselfde mannetjie terug wanneer die volgende paartyd aanbreek.

Tot die volgende paartyd vergeet die oerwoudlaventelhaan van sy maat, en hy bekommer hom ook nie oor die versorging van die kleintjies nie. Hy berei hom sorgeloos voor vir die volgende vertoning terwyl die wyfie die kleintjies op haar eie grootmaak. Jy’s reg, dit klink na ’n onregverdige verdeling van die werklas, maar dit is beter vir die wyfie en haar kuikens dat die mannetjie wegbly. As jy ’n oranje voël rondom jou nes het, kan jy maar net sowel ’n neonteken hê wat na jou wegkruipplek wys.

Die volgende geslag

Die wyfie se vaal vere is ’n volmaakte bedekking vir die twee gespikkelde, bruinerige eiers wat sy in ’n enorme moddernes lê wat deur middel van die voël se speeksel teen ’n rotswand vasgeheg is. Nadat die ma vier weke lank op die eiers gesit het, broei die kuikens uit. Hoewel hulle glad nie mooi is wanneer hulle uitbroei nie, is hulle goed toegerus om hulle dae in die nes deur te bring. Kort nadat hulle uit hulle doppe gekom het, verduidelik die navorser Trail, slaan hulle hulle skerp kloue in die voering van die nes in en, met hulle sterk bene, klou hulle styf vas wanneer hulle ma ook al sukkel om ’n vastrapplek te kry.

Die ma voer die kuikens ywerig met vrugte en soms ’n insek of akkedis. Ná ’n jaar is die vere van die jong mannetjie nog steeds bruin, maar sy kop spog alreeds met ’n kuifie. Op tweejarige ouderdom maak sy bruin vere plek vir goud-oranje vere wat hom van gedaante laat verander, soos ’n natuurkenner geskryf het, in “een van die mooiste voëls ter wêreld”.

Ten spyte van die vernietiging van die kliploerie se woudtuiste, hoop natuurliefhebbers dat die mens nie hierdie kleurryke toneelspeler van die Amasone sal beroof van sy kans om sy fassinerende dans van die lewe voort te sit nie.

[Voetnote]

a Hierdie spesie verskil van die Peruaanse kliploerie, wat op die hange van die Andesgebergte in Bolivia, Colombia, Ecuador en Peru voorkom.

[Venster op bladsy 17]

ID-kaart van die kliploerie

Wetenskaplike naam: Rupicola rupicola, oftewel “bewoner tussen rotse”

Familie: Cotingidae

Tuiste: Noordelike deel van Suid-Amerika, in en om die Amasonebekken

Lengte: Ongeveer 30 sentimeter

Nes: Van modder en plantmateriaal gemaak wat deur speeksel aanmekaar gehou word en byna vier kilogram weeg

Kleintjies: Gewoonlik twee eiers per jaar; broeityd is 27 tot 28 dae—“een van die langste, bekende tydperke vir ’n lid van die Passeriformes”

[Kaarte op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Waar die Guianese kliploerie woon

[Prent op bladsy 16]

SUID-AMERIKA

[Erkenning]

Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Foto-erkenning op bladsy 15]

Kenneth W. Fink/Bruce Coleman Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel