Hy hakkel nie meer nie!
DIE Ontwaak! help sy lesers al byna agt dekades lank om alledaagse probleme die hoof te bied. Soms vestig dit hulle aandag op nuwe ontwikkelings en sienswyses op mediese gebied, wat ’n groot invloed op hulle lewe kan hê, soos die volgende verhaal toon.
Matthew is in 1989 in die noorde van Engeland gebore. Tot op tweejarige ouderdom was hy ’n normale seuntjie. Toe, terwyl hulle met vakansie was, het hy ewe skielik erg begin hakkel.
“Ek en my man het na ons plaaslike spraakterapiekliniek gegaan”, verduidelik Margaret, sy moeder, “en hulle het vir ons gesê dat hulle niks vir hom kan doen voordat hy sewe is nie, want tot op daardie ouderdom kan kinders nie hulle stembande beheer nie. Maar toe Matthew skool toe is, was dit vir hom moeilik om die ander kinders se tergery te verduur, en hy het erger begin hakkel. Hy het niks daarvan gehou om tussen baie mense te wees nie, en hy het teruggetrokke geraak. Dit was later selfs ’n uitdaging om vergaderinge by die Koninkryksaal by te woon.
“Toe het ons die berig ‘Hoop vir dié wat hakkel’ in ‘Ons beskou die wêreld’ in die Ontwaak! van 8 April 1995 raakgesien. Dit het ’n kort beskrywing gegee van die werk van ’n span spraakterapeute in Sydney, Australië, wat jong kinders wat hakkel met welslae behandel het.
“Ons het aan die Universiteit van Sydney geskryf en ’n vriendelike antwoord van dr. Mark Onslow ontvang, en hy het voorgestel dat ons hom bel. Aangesien ons aan die ander kant van die wêreld woon, het sy span spraakterapeute besluit om ‘langafstandbehandeling’ te probeer. Ons, as Matthew se ouers, is per telefoon, faks en met bandopnames die span se metodes geleer. Die behandeling is spesifiek by Matthew se behoeftes aangepas. Ek het by hom gesit en hom op ’n ontspanne, informele manier gehelp om woorde waarmee hy sukkel reg uit te spreek. Ek het hom gereeld geprys en beloninkies gegee wanneer hy vlot gepraat het.
“Ses maande later was Matthew nie meer ’n introvert wat in sy eie wêreldjie geleef het nie, maar ’n normale, gelukkige, vriendelike kind. Hy antwoord nou by gemeentelike vergaderinge en geniet dit baie om die Bybelleestoespraak by die Koninkryksaal te behartig. Hy het ook ’n betekenisvolle aandeel aan die huis-tot-huis-bediening. Hy praat nou normaal!
“Hoe dankbaar is ons tog vir daardie brokkie nuus in die Ontwaak! wat ons seun se lewe verander het!”—Bygedra.